kategorieë: Blogs

Een Panda, drie vroue en sewe tasse

Na ’n jolige vier nagte in Istanbul is dit tyd om ons girls’ roadtrip in Kroasië te begin.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Die small, economic car is al maande terug op die internet bespreek (LW: www.rentalcargroup.com het wonderlike pryse) en al het die prentjies duidelik aangedui dat vier persone en net een tas kan inpas, is ek vol moed dat daar nooit hierdie tyd van die jaar genoeg klein karretjies is vir al die cheapskates soos ek nie en dat hul verseker vir ons ’n groter kar gaan aanbied.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Foutjie…. by Zagreb se lughawe slaan ek en die agent mekaar amper by die verhuringskiosk, want sy beweer extra full insurance dek nie die wiele en die vensters van ’n motor nie. Nouja, na ’n gekibbel en gedreig kom sy af met byna die helfte van die versekeringskoste en oorhandig die sleutel en dokumente wrewelrig.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hier moet ek net noem dat ons baie mooi goedjies in Istanbul raakgeloop het en dat J se mediumgrootte tas al uit sy nate gebars het na die eerste twee dae daar. Dus is ekstra sakke en handbagasietasse bygekoop en ook nou deel van ons trek. Die bagasietotaal is dus: 3 groot tasse, 3 kleiner tasse, 3 handsakke (baie ruim) en ’n bonkige rugsakkie. Die ander probleem is dat nie een van ons die Miss Twiggy-prys sal wen nie.

By die parkeerplek wag die verteenwoordiger van die small, economic car ons in en as hy mik vir die klein rooi Panda Fiat, probeer ek hom liggies stuur na die groot Volvo, maar nee… hy steek vas en sluit oop . Ons kyk vir hom, hy kyk vir ons, hy kyk na ons tasse en weer na ons en ons kyk na die Panda. Hy oorhandig so vinnig as moontlik die kontrak en wys duidelik daarop dat die motor skaars twee weke oud is en nog geen skrapie het of probleme gegee het nie. Voor ons nog kan vra vir hulp met die tasse verdwyn hy soos ’n skim in die dynserige straatligskemerte. Ek en M is nie die handigste girls op aarde nie en as dit nie vir J was nie het ons seker nou nog staan en tasse laai en herlaai.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Dakhoogte en sonder ’n agterruit-visie vertrek ons na die middestad van Zagreb vir ’n oornagslapie. Die ongelukkige passasier wat agter sit word papgedruk deur die tasse wat oorhel en haar uitsig is die kopstuk van die voorste passasierstoel. Daar aangekom tref dit ons dat al hierdie bagasie in die motor moet slaap, want om alles uit te pak en drie blokke ver te dra gaan nie werk nie – nie vir net een nag se slaap nie. Dis ’n nou straatjie voor ’n woonstelblok en die SA paranoia skop in. Ons goed gaan gesteel word; ons kan nie drie keer loop na die woonstelblok nie. More is al ons inkopies van die afgelope paar dae gesteel! Die agent van ons oorslaapwoonstel kraai van die lag en stel ons gerus: “Very safe in Zagreb, nobody steal your luggage or car.” Huh, hoe sê juffrou nou? Ons kyk verlangend vir oulaas na ons bagasie en Panda voor ons aanstap.

Onnodig om te sê – die Panda en al die bagasie het rustig vir ons staan en wag die volgende oggend.

Nou begin die reis na Plitvice Jezera – een van die mooiste natuurverskynsels in die wereld (nee, ek oordryf nie). Ek is die bestuurder en die girls moet beurte maak om te navigeer. Ek kom al vir 12 jaar Kroasië toe, maar die twee se uitspraak van plekke se name maak my so deurmekaar dat selfs ’n dorpnaam wat bekend is, onverstaanbaar raak. J merk vrolik op dat sy nou uiteindelik die oorsprong van Jappafrans gevind het. Gelukkig is daar naamborde langs die pad en terwyl die twee klank dat die sweet aftap kry ek ons by die eerste bestemming – Plitvicemere.

Plitvice Jezera

Die volgende bestemming is Opatija in Istria en as ons vroegaand daar land begin die hele ritueel van oornagplek vind, parkeerplek met agterdog bejeën, panic oor die bagasie in die motor agter ’n scaly gebou en opsleep van kleiner, net so swaar tasse van voor af. As ek so wegstap van die Panda verbeel ek my die klein wieletjies buig almal effens na buite – knock knees van al die gewig…

Opatija

Ons spandeer nog ’n paar dae in Rovinj met sy beeldskone kerkie op die hoogste koppie, poskaartmooi straatjies en Griekse sangers wat teen die riva sing (hul skip seker gestrand op pad Griekeland toe). ’n Dagbesoek aan die truffel-dorpie Motovun verloop amper sonder voorval. Die dorpie is ook bo-op ’n heuweltjie gelee en hier kan jy wit en swart truffels, truffelolie, truffelpatee en selfs kaas met truffels in proe. Toe ’n hewige reënbui uitsak, duik ons by ’n oulike restaurantjie in en ek eet natuurlik…. truffelpasta.

Ons ry laatmiddag terug van Motovun, maar kibbel heelpad oor die regte roete. Party mense sweer hoog en laag dat hulle van die plekke herken en ek sê die pad se oppervlak is dan hobbelrig wat vroeër vandag so mooi geteer was. Later stop ons maar vir aanwysings. Ons het wel die regte pad gevind, maar ongelukkig in die verkeerde rigting gery en amper in Slovenië geland. Die terugdraai beloon ons met die mooiste reënboog wat die oor die hemelruim span en oral word nog gestop vir foto’s van ou huise, mooi plaaslanderye en pophuiskerkies op heuwels.

Motovun

Die Panda gedra haar uitstekend en as ons na 467km in Split land, is sy reg vir ’n bietjie ferrie-ry. Jy parkeer jou motor so vroeg as moontlik in die ry en as die ferrieman die teken gee, mag almal inry. Ons skommel vir twee ure lekker tot in Stari Grad, Hvar-eiland.

Om een of ander rede land ons alewig donker by ’n plek, maar hierdie keer is ek vol bravade want ek ken die dorpie, dis my tweede tuisdorp en ek weet waar elke hoekie of hobbeltjie is.

Jy moet buite die klein nou straatjies aan die buitewyke van die dorp parkeer, maar al ons locals weet jy kan met ’n baie nou (en ek bedoel nou) straatjie ry tot op die kerkplein en eers jou bagasie aflaai voor jy die motor gaan parkeer. Heeltemal af-showerig ry ek voort – ek ken mos die wêreld.

Die volgende oomblik gggggrhhhrsssskrrrtsssshhh iets onder die motor en so met die terugratpoging raak die geluid nog meer vreesaanjaend. Dit klink of die hele onderstel van die Panda afgeskeur word. Ons sit vir ’n oomblik gevries en spring dan uit. J is weereens die buigsaamste en loer handeviervoet onder die motor in. Intussen het die bure ook begin versamel. ’n Stuk metaalpyp wat lyk of dit voorheen platgeslaan was, is nou opgeskroef soos ’n vleismeul se binnekant. Die hobbelrige, hoë middelmannetjie en ’n ysterarm wat eintlik karre moet weghou van die kerkplein het die skade veroorsaak. Ons staan pieringoog rond en al wat ek dink is…. ek moet nou daardie motoragent waarmee ek so gestry het in Zagreb stert tussen die bene bel.

Die volgende oggend is J weer handeviervoet met die selfoonkamera onder die motor in en tussen haar en ’n paar gesoute Kroatiese omies besluit hulle die skade is nie so groot nie. Die metaalpyp is nou wel losgeskeur en hang op die grond en die uitlaatpyp brul soos ’n V8-enjin, maar verder is dit nie te erg nie, aldus die verdere terugvoer van A – dis nou J se man, vir wie ons die fotos en verduidelikings na Suid-Afrika whatsapp het. Ons besluit om liewer nie die agentskap in te lig nie.

Ons vra rond vir hulp by ’n onwillige buurman en as die ander twee girls die dag by Zlatni Rat, Bol se strand gaan deurbring, begin ek na ’n motorwerktuigkundige soek. Die eerste een praat glad nie Engels nie en wys met ’n 180 grade armswaai na die 20+ geroeste bakkies, lorries en motors wat hy nog moet herstel.

’n Kroaat wat in Australië grootgeword het, stap nader en sien hier moet hy uithelp. Hy ry voor my uit na die volgende mechanic. Dis ’n enkelgarage sonder ’n deur – gesaai met blikke, oliekolle, moere, boute en meer rommel as parte en o ja, ook ’n put. Die man is nêrens te vinde en die Aussie roep ’n paar maal hard na hom. Hy kom sleepvoet aangedrentel in sy wessie en sê dat sy ma baie siek is en hy ons nie kan help nie. Gelukkig is George ’n man wat nie vinnig nee vir ’n antwoord vat nie en hy verduidelik dat ek ’n “local” van die dorp is. Net daar sê Rade hy sal my help – so oor twee ure as hy klaar sy middagslapie geneem het. Klokslag twee uur later stop ek weer voor Rade se werkswinkel. Hy het intussen sy buurman wat drie woorde Engels verstaan ook opgekommandeer om te help vertaal en die geselskap aan die gang te hou.

Toe ek noem dat dit ’n huurmotor is en ek groot moeilikheid gaan kry oor die skade, is dit asof daar lig opgaan in albei die manne se oë en hulle spring weg met mening. Enige Kroaat sal werk dat die sweet tap as hul ’n instansie wat “onnodig” jou geld vat kan uitoorlê.

Terwyl ek rustig vir twee ure op ’n olieblik sit en facebook lees, buig Rade die metaalpyp weer plat, las sommer twee stukkies metaal in waar dit kraak, en sweis dit mooi vas onder die motor. As ons die motor aanskakel brul dit nog en hy skud sy kop – sak weer af in die put en sweis ook die gat in die uitlaatpyp toe. Ons aldrie klop mekaar op die skouers en wens mekaar oor en weer geluk met die goeie handewerk en die totale koste van 200 Kuna (ongeveer R385).

Twee dae later word die motor teruggegee by die motorverhuringsmaatskappy – gelukkig die keer op ’n ander plek… Die sweet tap my af toe die agent om die motor loop en onder dit inloer. Met ’n tevrede kopknik teken hy die kontrak met ’n groot regmerk – geen skade, alles is in orde! Gelukkig het ek geen wiele of vensters gebreek.

Intussen het ek ’n brief aan die Fiat-mense in Italië geskryf om te sê dat hulle ons drie girls en die sewe tasse as ’n advertensie kan gebruik en dat ons vir die wonderwerk verrig graag elkeen ’n Panda as skenking vir ons twee matriekkinders sal ontvang.

Foto’s Beatrix Roux

Rovinj

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

4 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

4 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

4 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.