kategorieë: VerhoudingsJou lewe

Egskeiding hoef jou nie te breek nie

Dis verby. Jy is geskei. Die verhouding wat jy so blinkoog aangepak het, is amptelik beëindig.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Om die brokstukke op te tel en ’n nuwe toekoms te bou is makliker gesê as gedaan. Daar is die praktiese aspekte soos waar jy gaan woon, reëlings oor kinders en jou geldsake. Alleenloper- of enkelouerskap is dalk ’n uitdaging, en jy moet verhoudings met familie en vriende herdefinieer. Miskien wroeg jy omdat jy nie jou huwelik kon laat werk soos die samelewing verwag nie. Emosioneel moet jy vrede maak met wat tussen jou en jou eks gebeur het en die droom van ’n toekoms saam laat vaar. Intense emosies soos verwyt, selfverwyt, verwarring en wanhoop moet verwerk word. Dié spanning kan ook tot gesondheidsprobleme lei.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Egskeiding is uiters traumaties en word saam met die dood van iemand ná aan jou as die stresvolste ervaring gemeet,” sê Nellie Prinsloo, kliniese sielkundige, mediator en meewerkende egskeidingspesialis van Alberton. “Die skade wat dit aanrig, hang baie van jou persoonlikheid af – én van hoe jy kies om dit te hanteer.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Die skade wat dit aanrig, hang baie van jou persoonlikheid af – én van hoe jy kies om dit te hanteer”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Nellie noem verskeie faktore wat mense se hantering van ’n egskeiding beïnvloed:

“Die twee partye is dikwels nie ewe voorbereid nie. Een dink geruime tyd reeds aan skei en het al emosioneel afstand geskep. Wanneer hy of sy dan sonder waarskuwing wil skei, word die ander een onkant betrap, en dring soms vergeefs op die voortsetting van die huwelik aan. Hulle kan selfs probeer om die een wat wil skei van plan te laat verander deur die finansiële kraantjie toe te draai.

Persoonlikheid kleur ook egskeiding in. Onafhankliker mense aanvaar dit as onafwendbaar en stel ’n plan van aksie in werking. Afhankliker mense sal tot elke prys aan die huwelik probeer vasklou en pleit of opstandig raak. Dit kan ’n teenaanval uitlok en tot geweldige konflik lei.

“Of die paartjie gelyke rolle in die huwelik gehad het, is ook ter sake. As een die dominante, besluitnemende rol ingeneem het, gaan hy of sy nie daarvan hou dat die ander een selfgeldend optree nie. As dit ’n gelyke, respekvolle verhouding was, is die kans beter dat hulle die egskeiding ook so gaan hanteer.

“Ons vorige ervarings, hetsy as kind of in ons volwasse jare, dra tot ons belewing van stressituasies soos ’n egskeiding by. As jou ouers geskei het, gaan jy óf presies soos jou rolmodel optree óf – indien jou rolmodel jou teleurgestel het – die teenoorgestelde rigting inslaan. Jou optrede hou moontlik meer verband met jou gevoelens oor egskeiding as met die optrede van jou maat.

“Een van die belangrikste faktore is waardes en godsdiensbeskouings. As jy glo jy behoort die ander wang te draai, kan jy die egskeiding só benader. Dieselfde geld iemand wat die beginsel van ’n oog vir ’n oog voorop stel. Paartjies met dieselfde waardes en godsdiens-opvattings kan steeds intense konflik ervaar. Daarom is dit verstandig om professionele mense soos mediators, sielkundiges en prokureurs te kry om met die egskeiding te help.

“Wanneer een of albei partye voel die ander se optrede is nie regverdig en menslik nie, bemoeilik dit ’n egskeiding. As jy iemand in ’n hoek dryf, kan hulle net met weerstand uit daardie hoek kom.

“Mense het soms onrealistiese verwagtings. ’n Man kan dink sy vrou is nou vir altyd uit sy lewe, maar solank hulle kinders het, gaan hy waarskynlik steeds met haar in aanraking kom. Verwagtinge oor onderhoud kan tot baie konflik lei. Sommige ouers reken hulle kan hul kind ‘afteken’ terwyl hulle in werklikheid wettiglik vir die kind verantwoordelik is tot hul eie of die kind se dood.

“’n Slagoffermentaliteit word deur persoonlikheid bepaal en sluit baie passiewe aggressie in. As ek my in die slagofferrol plaas, moet my huweliksmaat en ander my jammer kry. Die persoon wat my los, moet skuldig voel oor dit wat hy of sy aan my gedoen het. In ’n sekere sin weier slagoffers om met hul lewe aan te gaan. Partykeer dra hulle die trauma van ’n egskeiding soos ’n kroon op die kop.”

My eks het ’n maat!

Hoe benader jy dit wanneer jou eks ’n volgende verhouding aanknoop, of weer trou terwyl jy nog in die roufase is? Dis pynlik om te aanvaar dat jul verhouding nou onomkeerbaar afgesluit is, en sy viering van die liefde beklemtoon jou hartseer en vrees dat jy alleen gaan oud word.

“Dis algemeen dat ’n paartjie op verskillende tye na volgende verhoudings begin kyk,” sê Nellie. “Dit hang af van hoe betrokke hulle was in die huwelik wat verby is. Ongelukkig is dit net in
sepies waar iemand gedwing kan word om ons lief te hê en by ons te bly.

“Ongelukkig is dit net in sepies waar iemand gedwing kan word om ons lief te hê en by ons te bly”

Die tyd wat dit neem om oor ’n egskeiding te kom wissel van mens tot mens. Hoe beter iemand se emosionele gesondheid is, of indien hulle hul vroeër reeds emosioneel afgesluit het, vind dit gouer plaas. Daar is geen ‘tydsbeperking’ nie maar wanneer die verwerkingstydperk oor jare strek, is professionele hulp nodig.”

Hoe gemaak as jy voel jou eks floreer terwyl jy krepeer?

“Die eerste stap is om eerlik aan jouself te erken jy cope nie. Tweedens moet jy besef net jy kan verantwoordelikheid vir jou lewe en lewensgehalte aanvaar. Jy het die mag om te kies hoe jy oor die situasie dink en hoe jy dit wil hanteer.

“Jy het die mag om te kies hoe jy oor die situasie dink en hoe jy dit wil hanteer”

“Dis soms vreesaanjaend om ‘voor te begin’. In een of ander stadium was jy nie in ’n verhouding nie, of het jy ’n nuwe fase aangepak. Die eienskappe wat jou toe gehelp het, is steeds daar.

“Put krag uit dié besef, asook uit die steunstelsels in jou lewe: vriende, familie, sielkundiges, beraders – maak net seker terapeute is by die HPCSA geregistreer. Daar is werkwinkels vir geskeides, asook gemeenskapsgroepe soos sadsa.co.za of divorcecare.org

“Party mense is bang dat professionele hulp in ’n hofsaak rakende ouerlike toesig teen hulle kan tel. Dis nié die geval nie. As jy verantwoordelik genoeg is om hulp te kry wanneer jy dit nodig het, tel dit in jou guns.”

Ek is daardeur

Estelle* was elf jaar getroud met twee jong kinders toe Louis*, haar man, onverwags aankondig dat hulle gaan skei.

“Daar was lank reeds ’n stramheid in ons verhouding, in so ’n mate dat ek ingestem het om saam met hom ’n sielkundige te gaan spreek. Die sessies het gefokus op maniere om nader aan mekaar te beweeg. Daar was geen sprake van egskeiding nie.

“Een aand ná ’n kuier by vriende het Louis gesê ons huwelik is verby. Dit was ’n geweldige skok. Die volgende oggend is hy na ons ouers om te sê ons huwelik is op die rotse en niks kon dit red nie. Hy het gesê dis sy skuld, maar het my pa – en my – verseker daar is niemand anders nie.

“Die kinders mag niks geweet het nie, want ons moes hulle ‘reg benader’. Weke lank het ons nog ’n bed gedeel. Louis het gesê ons moes na dieselfde prokureur gaan, maar ek het gou besef die verdeling van ons bates is in sy guns. Toe ek na ’n ander prokureur is, het hy gedreig dat dit my meer sou kos as wat ek besit het.

“Louis het die kinders vertel ons skei ‘omdat Pappa en Mamma te veel baklei’ en daarna uitgetrek. Ons het die vorige jaar van Kaapstad na Johannesburg verhuis en ek het min mense geken. Dit was ’n uiters traumatiese, eensame tyd.

Dit was ’n uiters traumatiese, eensame tyd

“Huisvriende van ons in Kaapstad was ook besig om te skei. Ons vriend het gebel en wou my kom sien. Toe Louis dit hoor, het hy gevra hoe ek ’n affair sou definieer. ‘Wanneer jy aandag wat jou huweliksmaat toekom aan iemand anders gee,’ was my antwoord. ‘In daardie geval ís daar iemand anders in my lewe,’ het hy gesê.

“Ons huisvriend het bandjies gehad van telefoongesprekke tussen my man en sy vrou wat deur ’n privaat-speurder opgeneem is. Ek het ’n angsaanval gekry toe ek besef hoe lank die verhouding reeds aan die gang is.

“Ons is in Julie geskei. Die kinders het by my gebly en was gereeld by Louis. Hulle sou die Desembervakansie saam met hom Kaap toe gaan en Kersfees by my deurbring. Toe ek die tweetjies op die lughawe kry, sien ek my dogtertjie se hare is kort gesny. Haar lang hare was haar trots. Om haar aandag van my geskokte gesig af te trek, vra ek of die blomme in haar hand vir my was. ‘Dis van Pappa se troue!’ het sy huilend gesê.

“In die motor het my seuntjie van sewe hartstogtelik begin snik en van die troue vertel. Hy het gesê: ‘Ek wil nooit weer die woord “liefde” hoor nie.’ Sy sussie se hare is afgesny omdat dit glo te veel gekoek het.

“Ek en die kinders is dadelik na my ouers vir Kersfees.

My ma was woedend om van die troue te hoor. Sy het my kinders bly vertel watter sonde hul pa gedoen het.

Ek het gevoel ek moes hom beskerm – hy was immers hul pa, en ’n goeie pa daarby. Ek kon nie my eie seer wys of oor die nuus van die troue rou nie.

“Ek was lank depressief, maar moes regop bly ter wille van die kinders. Omdat ek glo ’n kind het ’n pa én ’n ma nodig, het ek Louis na skoolgesellighede en die kinders se verjaardae bly nooi. Bitterheid tussen geskeide ouers kan ’n kind se lewe ondraaglik maak.

Bitterheid tussen geskeide ouers kan ’n kind se lewe ondraaglik maak

“Ek het besluit om my eks en my vriendin te vergewe, en terapie gekry. Dit was nie maklik nie. Dit het lank geneem om my eiewaarde en vertroue in die liefde te herstel. Ek is later weer getroud en het vandag ’n vol lewe. Dis regtig die moeite werd om jou kinders se geluk voor jou eie seer en wrokkigheid te stel.”

*skuilname

Lees ook: Beplan onderhoud vir jou kinders na ’n egskeiding

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.