kategorieë: VerhoudingsJou lewe

Egskeiding: Hou ’n oop deur vir Pa

Die situasie

Kinders moet ’n ma én ’n pa hê.” Dit klink so vanselfsprekend. So reg. Tog voel baie ma’s anders wanneer dit hul bepaalde situasie raak. Veral die ma’s van kinders wat in ’n ander huis as hul pa grootword, reken soms dat die kinders beter af is sonder sy betrokkenheid. In sulke gevalle tree ma’s as streng hekwagte op (kassie regs) en beperk of voorkom kontak tussen die kinders en hul pa.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Die besluite wat ’n ma in hierdie verband neem, raak haar kinders intens – en lewenslank. Reinette* is ’n maatskaplike werker wat nie net met hierdie soort problematiek in haar werk te make het nie, maar dit ook beleef het en uit ervaring kan praat.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Reinette het drie dogters alleen grootgemaak. Vandag is hulle in hul twintigerjare, oud genoeg om te sien wat die uitwerking van Reinette se besluite rakende hul pa se betrokkenheid op hul menswees was.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Elke ma stap haar eie pad,” sê Reinette.

Myne was baie keer swaar en pynlik, maar kyk ek terug, sien ek genade op genade. Die totaal van my ervarings het waarlik ten goede in my en my kinders se lewe meegewerk.”

Reinette is in die jare tagtig getroud en kort voor lank het sy en haar man twee kinders gehad. “Ná die geboorte van die tweede enetjie was daar huweliksprobleme. My eksman het ’n buite-egtelike verhouding gehad en uitgetrek, maar ’n jaar later gevra of ons kon versoen. Ek het ingestem en ons het ons huwelik hervat.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Ná die koms van ons derde dogter het hy weer ’n verhouding aangeknoop. Dit het op ’n egskeiding uitgeloop. Daar was ’n toutrekkery tussen die prokureurs en die egskeidingsproses het ’n jaar geneem. Ek het nie gewerk nie, maar kon in die huis aanbly omdat dit aan my ouers behoort het. Die kinders is in my sorg geplaas.”

Finansieel het dit bars gegaan. “Ek het R500 onderhoud vir elke kind gekry – destyds sowat ’n kwart van die gangbare bedrag. Verdere geldelike verpligtinge soos skoolfonds wat in die egskeidingsbevel genoem is, is nie nagekom nie. Die kinders was emosioneel ontwrig en met ’n baba wou ek nie gaan werk nie.

Lees ook: Beplan onderhoud vir jou kinders na ’n egskeiding

“My ouers het gehelp waar hulle kon.”

“Op ’n dag het ek vir my eksman gesê ons kom nie die mas op nie. Sy standpunt was dat ek moes gaan werk. Hy was ook bereid om die kinders in sy huis te neem, maar ek kon dit nie eens oorweeg om hulle te ontwortel en in ’n vreemde huis in ’n ander stad te laat grootword in die sorg van ’n vrou wat hulle nie ken nie. Hulle was baie vas aan my, veral omdat hul pa ’n jaar lank elders gewoon het. Hy het voet by stuk gehou: as ek die toesighoudende ouer wou bly, moes ek geldelik sien kom klaar.

“Mense onderskat maklik die uitwerking van ’n egskeiding op ’n klein kind. Die houe slaan soms baie diep en seer en hulle kan hul verwonding eers op ’n later ouderdom verwoord.

“Weens my eksman se houding oor ons finansies, en omdat hy hul emosionele behoeftes misgekyk het, was dit vir my swaar om hulle elke tweede naweek na hom en sy vrou te laat gaan. Ek het vir elkeen ’n tassie gekoop om die ervaring so maklik moontlik te maak, maar wanneer hulle wegry, het ’n stuk van my hart geskeur.

“Die jongste het nog by my in die kamer geslaap en ek het probeer om haar besoeke tot later uit te stel. Haar pa wou nie verstaan nie en my oudste – toe ses of sewe – het vertel hoe die kleintjie die nagte om huil. Haar ousus het ure lank met haar op en af gestap; die volwassenes het nooit kom troos nie.

“Ná so ’n naweek was die kinders stukkend en seer en ek het probeer om hulle weer heel te maak.”

“Ek was opstandig maar in my was daar ’n tweestryd: hoe graag ek ook al my kinders wou beskerm, het ek gesien hoe hulle na hul pa verlang.

“Ek het besef die kinders moes eenvoudig ’n verhouding met hul pa hê. Maak nie saak hoe hard ek sou probeer nie, ek kon nie ’n ma én ’n pa wees nie. Sekere dele van ’n kind se persoonlikheid ontwikkel net in die teenwoordigheid van ’n ouer van die teenoorgestelde geslag. Die helfte van elke kind is verstrengel in sy of haar pa se menswees.

“My besluit om die kinders se band met hul pa te ondersteun, het bepaal hoe ek die finansiële vraagstuk, my verhouding met my eksman en sy benadering tot die kinders sou hanteer.”

Lees ook: Egskeiding: kinders vir die naweek

Die uitdagings

Reinette was by ’n prokureur oor die onderhoudskwessie. “Hy het gesê die uitkoms van ’n hofsaak sou afhang van die landdros of regter wat die saak hanteer. Ek het besluit verhoudings is belangriker as geld. As my eksman nie uit vrye wil meer wou bydra nie, sou dwang hom net met wrewel vul en my én die  kinders se verhouding met hom versuur. Ek sou maniere moes uitwerk om te oorleef.

“In die jare voor ek weer begin werk het, was my lewe ’n sprekende voorbeeld van die weduwee in die Bybel se kruik. Met ’n inkomste van R1 500 per maand was daar baie keer feitlik niks in die huis nie – en ’n ruk later was daar skielik weer iets.

“Die kontras tussen my en my eks se huise het seer gemaak. Hy is welaf, en die kinders het soms opmerkings gemaak, soos ‘nou’s ons weer in die arm huis waar daar net Weet-Bix vir ontbyt is.’ Dan moes ek op my tande byt en sê dat Weet-Bix gelukkig baie gesond is!

“Ek het gestreef na ’n goeie verhouding met die kinders se pa.”

“Ek het my voorgeneem om nooit voor hulle te laat blyk dat hy geld weerhou, of ’n ander negatiewe opmerking te maak nie. As hulle ongemaklike vrae gevra het, het ek die negatiewe onderspeel. Vandag het hulle waardering daarvoor.

“Ek was verdraagsaam en akkommoderend teenoor hom. Ek glo nie hy het ooit besef hóé akkommoderend nie! Die kinders het goed presteer en ek het hom altyd na die prysuitdelings genooi. Ek twyfel of mense enige spanning tussen ons gemerk het.

“’n Radioprogram het my ’n waardevolle insig gegee. ’n Geskeide man het gesê hy moes leer om ’n onderskeid te tref tussen die vrou met wie hy voorheen in ’n huweliksverhouding was en die ma van sy kinders. Hy moes sy wrewel teenoor die vrou wat hy vroeër bemin het, laat vaar, en haar in ’n positiewe lig sien as sy kinders se ma.

“Om hierdie twee komponente van mekaar te kon onderskei, het my vrygemaak. My wond was gekoppel aan die ‘man’, nie aan die ‘pa’ nie.”

“Ek kon niks verloor as my kinders lekker tye met hom beleef nie. Inteendeel – jy wen as jou kinders hul geheuebanke met goeie ervarings soos vakansies en gelukkige tye saam met hul pa kan vul.”

“Ek praat dikwels met ma’s wat ’n pa van sy kinders wil weghou omdat hulle kritiek het teen die manier waarop hy hulle hanteer. ’n Pa se verhouding met sy kinders hoef nie volmaak te wees nie. Dit is wat dit is – al kyk die pa finansiële, emosionele of ander behoeftes van die kinders mis. Die uitsondering is verwaarlosing of mishandeling; in sulke gevalle moet kontak onmiddellik gestaak word.

“As jy verskil van die manier waar die pa jul kinders behandel, moet jy dit opweeg teen hul behoefte aan en liefde vir hul pa. Dit verg geweldige volwassenheid om die dinge waarmee jy nie saamstem nie, te aanvaar. As hy byvoorbeeld DVD’s uitneem sonder om hom aan die ouderdomsperk te steur, kan jy vra: ‘Wat van die ouderdomsperk?’

“As hy nie gehoor gee nie, berus die verantwoordelikheid by jou om die kind te begelei. Dit maak jou lam, en dit verdubbel jou las! Jy moet deurgaans fyn oplet omdat kinders nie noodwendig kan sê wat skeefloop of wat hulle hinder nie. Jy moet noukeurig na hulle luister sonder om op die ander ouer te spioeneer.

“In my kinders se grootwordjare was daar ook groter sake wat my laat wéns het my eks het dit anders hanteer. Maar as jy mooi daaroor dink, ervaar selfs kinders in ‘gewone’ gesinne frustrasie. Pynlike goed gebeur. Dit vorm ons. My kinders het soveel swaar deurgemaak, maar dit het die mooiste eienskappe in hulle na vore laat kom. Vandag is hulle besonderse mense.”

Lees ook: Egskeiding hoef jou nie te breek nie

Op die ou end

Reinette voel sy kan nie vir enigiets krediet neem nie. “As ek iets reg gedoen het, was dit omdat ek die genade gekry het om te hoor wat reg was en dit gedoen het. Soms het ek die Here gehoor, maar dit nie deurgevoer nie. My agtergrond as maatskaplike werker het ook in my guns getel.

“Die helingsproses van ’n vrou in dié omstandighede is baie belangrik. Wanneer ’n man jou verlaat, ervaar jy die pyn van verwerping. Dan is dit maklik om die leuen te glo dat jy van die begin af nie goed genoeg was nie. Die waarheid is dat jy slegs in die oë van een mens tekortkominge gehad het – daardie situasie definieer jou nie.

“Jy moet doelbewus daaraan werk om jou eiewaarde te herontdek. Vind weer die goeie in jouself en gee erkenning daaraan.”

“Dit neem tyd, maar hoe meer jy aktief daarop fokus, hoe meer kom dit na vore. Sorg ook dat jy rus kry wanneer jou kinders dalk ’n naweek by hul pa is. Dit verg baie van ’n enkelouer om kinders alleen groot te maak.”

Reinette beveel aan dat enkelouers by ’n sielkundige of maatskaplike werker hulp kry. “Iemand wat onpartydig en opgelei is, kan jou help om die groter prentjie raak te sien en deur mediasie baie doen om die ouers se insig te verbreed wat tot die beste besluite vir die kinders sal lei.

“Toe ek voor ’n berg gestaan het,” sê Reinette, “het ek die genade gekry om te klim en te klim. Ek het geweet dat ek een of ander tyd bo sou kom en met die grootste dankbaarheid ’n wonderlike gesig sou beleef.”

Lees ook: Jou kind en egskeiding

Deel
Gepubliseer deur
Nicole Kemp

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.