kategorieë: Ons menseBekendes

As ek maar tóé geweet het …

Chris Chameleon

Foto verskaf

Chris Chameleon is akteur, sanger, liedjieskrywer (ook bekend vir die toonsetting van Ingrid Jonker se gedigte) en rubriekskrywer.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Lees ook – Chris Chameleon: Jy en Ek en Ek en Jy

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Beste Chris

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Die lewe is rof hê? Ek sien jou wêreld is vol moeilike mense!

Die ouens op skool pik op jou en kan jou nie uitlos sodat jy kan doen en dink soos jy wil nie. Die meisies op skool is ook moeilik en dit lyk of hulle nie van jou hou nie. Die onderwysers is moeilik. Hulle kyk jou aan op ’n manier wat sê: “Jy’s te windgat en ek gaan jou breek, wag net … “ Jou ma is moeilik. Sy skryf voor hoe jy moet dink en wat jy moet doen terwyl jy goed weet wat jy dink en jou eie ding wil doen.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Noudat jy kan sien dat ek darem so ’n idee het van wat in jou lewe aangaan, het ek gehoop ek kan so ’n paar dinge sê wat ek dink die lewe vir jou makliker kan maak.

Eerstens wil ek vir jou sê dat jy jouself onderskat. Sal jy my glo as ek vir jou sê jy dink minder van jouself as wat ander mense van jou dink? Die ouens maak dit vir jou moeilik omdat daar iets spesiaals is aan jou en nie jy of hulle weet wat dit is nie! So, wanneer dinge rof raak, herinner jouself daaraan dat jy ’n skat in jou ronddra. Eendag sal jy sien wat dit is, en dan sal baie dinge skielik baie sin maak, ek belowe!

Meisies hou meer van jou as wat jy dink. Maar as jy hulle sien, raak jy ongemaklik. Hierdie ongemak maak dat jy eintlik minder aantreklik voorkom as wat jy is, so, ontspan net so ’n bietjie as jy naby hulle is.

Die onderwysers kyk jou skeef aan omdat hulle jou nie heeltemal verstaan nie. Maar onthou dat hulle daar is om jou met kennis toe te rus. Elke keer as jy ’n onnie sien, probeer dink: Dankie vir my geleerdheid! Ek weet dit klink simpel, maar glo my, as jy begin om met dankbaarheid aan jou onnies te dink, gaan hul gesindheid ook baie verander.

Jy het dit al baie gehoor, maar dis waar: Jou ma wil net die beste vir jou hê. Sy weet hoe wreed die lewe kan wees en sy is eintlik net bang om jou onthalwe. Wees sag met haar, want sy is broos en as iets met jou gebeur, gaan haar hele lewe in duie stort.

Jy word nou ’n man, Chris. ’n Man moet seker wees, ’n man moet regverdig wees. ’n Man moet genade teenoor sy geliefdes en vyande betoon. ’n Man moet verantwoordelikheid nie net vir homself nie, maar vir sy omgewing en die mense daarin neem. Dis moeilik, maar dis ’n groot eer! En dis iets wat jy kan doen, omdat jy, soos jy in jou hart weet, ’n goeie ou is.

Ten slotte: oor twee jaar gaan jy in ’n kamer met ’n rooi blik verf en ’n vuurhoutjie wees … Wat jy dan ook al wil doen, glo my, moet dit liewer nie doen nie!

Sterkte!

Chris

Laurinda Hofmeyr

Foto: Johan Wilke

Laurinda Hofmeyr was aanvanklik bekend as liedjieskrywer, en nou ’n kunstenaar uit eie reg met drie CD’s. Sy het gedigte van o.m. Breyten Breytenbach, Antjie Krog en Sheila Cussons getoonset.

Liewe Laurinda

Ek is nie so seker of ek jou kan raad gee nie. Miskien kan jy my eerder herinner aan wat jy nou reeds weet. Jy het ’n redelike sterk gut-gevoel oor dinge. My raad kan miskien net wees dat jy genoeg in jouself moet glo, om daardie gevoel te bly vertrou.

Moenie dink die regte lewe gebeur “eendag” nie. Jy, soos jy nou is, en die mense wat op die oomblik na aan jou is, dra gewig, ook in die konteks van jou hele lewe. Daardie liedjie wat jy so pas gemaak het, “Ek het ’n huisie by die see”, gaan nog ’n belangrike rol in jou lewe speel en daar’s ’n ou in jou klas wat jy so pas op ’n kamp beter leer ken het… wel, ek kan maar net sê dat jy baie van die belangrike mense in jou lewe reeds ken. En dis nie om te sê jou lewe gaan saai wees nie. Inteendeel, jy is in vir ’n avontuurlike reis!

Maar Juffrou Craig is reg: jy sien jouself te klein. En dis nie goed of edel nie, dis ongesond. Daardie soort ”nederigheid” kan jou lamlê. ’n Oordrewe bewustheid van wat jy nog nie is nie, dien geen doel nie. Jy is reeds genoeg. Glo in jouself en maak jou foute met oorgawe. Anders gaan jy baie oud moet word om jou hele, vol lewe geleef te kry!

Jy gaan op en af tye hê. Registreer die landskap en wat met jou gebeur sodat jy jou kan verwonder en ervaar hoe dit is om ’n mens te wees. Ja, laat die klem val op verwondering, nie op vrees nie. Op die oomblik is die lewe vir jou oorwegend net pret maar later kan jy ’n aaklige frons ontwikkel. Moenie! Moet jou nie bekommer nie.

Jy hou daarvan om mense tevrede te stel. Maar dis daardie ding in jousélf wat jy tevrede moet stel. Dit gebeur net met harde werk. Begroot genoeg tyd vir wat jy moet doen. Tyd. Ai, foeitog. Onthou maar om jouself te vergewe en elke dag nuut te begin.

Dis waar dat ’n mens dinge moet láát gebeur maar gelukkig (en jy kan jou sterre dank daarvoor!) is dit nie die hele waarheid nie. Dinge gebeur ook mét jou. Wonderlike dinge. Sodra jy die kleinste voel, gebeur iets met jou wat jou weer in ’n positiewe rigting stuur. Jy moet net probeer om min of meer jou neus in die regte rigting te hou. (’n Goeie rigtingwyser is gewoonlik dit wat jou bang maak maar jy tog begeer.)

Eintlik wil ek jou net gerus stel, miskien kan dit die plooie en grys hare so effe uitstel. Oor twee jaar van nou af gaan jou vriend Wallie vir jou sê: “One tends to become what one wants to become.” Met die beperkte ervaring tans tot my beskikking kan ek tog sê: Dis waar. Die lewe van waar ek nou kyk, is asemrowend mooi. En as jy regtig wens en hoop en bid, gebeur die wonderlikste dinge!

Dus, my liewe Laurinda, maak soos daardie teksvers sê: Moenie vrees nie. Glo net.

Lekker leef

Laurinda

Rian van Heerden

Foto Peter Whitfield

Rian van Heerden is aanbieder by OFM, rubriekskrywer en TVpersoonlikheid.

Lees ook – Rian van Heerden: die mag van die woord

Beste Rian

Dit is 21 jaar later en ek sit en kyk na ’n foto van jou. Die eerste ding wat my opval, is al daardie hare van jou! Ek is jammer om vir jou te sê, maar jy sal aansienlik minder daarvan oorhê teen die tyd dat jy my ouderdom bereik. Maar nou ja, soos die Engelsman sê: “In this life you will win some and you will lose some.”

Daar is eintlik ’n baie groot waarheid in daardie gesegde. Sien, as jy altwee werklik al ervaar het, bring dit ’n balans … ’n rustigheid en ’n wysheid en as jy daar is, en besef dat die lewe só uitspeel, dán is jy ’n volwassene.

Ek wil jou vra om meer te ervaar op hierdie ouderdom van jou waar jy foute makliker kan verduidelik. En nee, hiermee bedoel ek nie jy moet met allerhande verbode middels gaan eksperimenteer nie. Nee, kyk of jy in ’n verhouding of twee betrokke kan raak. Jy sien, hoewel jy nou dink dat jy alleen berge kan versit, is dit tog nodig dat iemand jou sal aanmoedig en troos in jou pogings. Jy moet nou al begin leer van die liefde, van sy ongelooflike betowering maar ook sy ongenaakbaarheid. Leer hom ken. Begin nou al sodat hy jou nie later met sy kinkels sal verras nie.

Leer meer dinge waarmee jy mense eendag kan verras. Probeer ’n bedrewenheid met iets aanleer wat jou soms van agter jou boeke sal wegneem.
Word ’n goeie perderuiter of ’n surfer – leer asseblief net eers swem! Leer meer van wat onder ’n kar se enjinkap aangaan en maak tog seker jy let op as Pa hoender braai. Vertrou my met daardie een.

Wees gereed om in die toekoms verras te word. Soms vir die goeie, soms vir die slegte. Ek weet jy maak nou groot planne, maar verstaan dat die lewe in sy eie baan beweeg wat net soms parallel met jou planne loop. Omdat jy ’n deel van ’n legkaart vorm, sal jy geplaas word presies waar jy moet wees. Jy sal langs die pad verskeie tekens kry wat vir jou die rigting daarheen sal aandui – wees bewus van elkeen van hulle.

Jy sal in die toekoms frustrasie ervaar. Beskou dit as deel van ’n manier om duidelikheid oor jou eie vermoëns te kry. En probeer asseblief vinnig besef wanneer iets nie die moeite werd is nie: iewers in jou agterkop sal die gevaarligte flikker.

Moenie jou oor onsinnighede bekommer nie – dit is inderdaad presies soos ’n wyse man gesê het: Die dinge waaroor jy jou bekommer, gebeur byna nooit nie. Dit is altyd dít waaroor jy jou nie bekommer nie, wat oor jou pad kom.

O ja, gaan swot sielkunde pleks van regte. Ek weet dat regte nou baie aantreklik lyk met die status van ’n advokaat en die uiteindelike doel om eendag ’n politikus te word. Maar glo my, dinge in Suid-Afrika gaan sodanig verander dat politiek die kool is wat dalk nie die sous werd is nie. In jou geval die korsie. Ek weet mos hoe mal jy oor kool met ’n korsie is.

Andersins: doen wat jy doen.

Dinge sál uitwerk.

Groetnis
Rian

Rachelle Greeff

Rachelle Greeff is bekroonde skrywer (romans, kortverhale en dramaturg van die trefferverhoogstuk Naaimasjien), tot onlangs Rapport se boekeredakteur en nou uitgewer by Lapa.

Hallo jou pragtige, skamerige babbelbek van ’n sellulietlose dingetjie

Met na-kennis kan ’n mens baie slim wees. Dit – en nog baie ander welkome, sowel as onwelkome dinge – het ek geleer in die 37 jaar sedert ek laas met jou gesels het.

Ek sien jy hou van mooi goeters, van lappe, krale en armbande. Jy’s gek na ballet en musiek maak jou huil of dronk van ligvoetigheid. Jy’s dol op ’n
sexy seunskind, jy verslind boeke. Asook (sug) soetgoed. Jy glo my seker nie, maar wanneer jy “eendag groot is” gaan dit alles presies nog net so wees.

Jy sal net nie nou kan raai dat jy ook lief gaan raak vir eienaardige kos soos soesji nie. Wat’s soesji? Toemaar, een van die triljoene opwindende ontdekkings wat wag.

Terloops, jy bak mos elke Vrydagmiddag ná skool “Tannie Wiehahn se Groot Koek” met die vier eiers. Jou bak-repertoire, soos jou heupe, gaan uitbrei.

Eendag sal jy sit met hierdie resep, geskryf in jou ma se handskrif, en middeldeur breek van die seer. Oor ’n koekresep?

Nee, oor alles wat goed was – en nou vir goed verby is. Soos jou kinderlike geloof dat iets wonderliker onverwags as die hier en nou agter die bult wag. Of om te glo sonder om te twyfel of om vrae te vra. Of dat daar een stunning prins gaan wees wat jou vir altyd en ewig gaan gelukkig maak. Hieroor sal dit voel of jou hart op daardie dag soos ’n koppie op die vloer geval het en in stukke gebreek het. Maar ook van verligting, gelukkig oor al die slegte goed wat verby is.

Die beste nuus? Dat jy die hele liewe lot sal oorleef.

Maar jy sal daardie dag in jou eie kombuis, vol van jou ma se goed, en baie ander dae ook, hartseer wees oor almal wat jy nou so liefhet wat jy langs die pad gaan verloor. Die lewe stuur mense in verskillende rigtings, en die lewe bring die dood. Dirkje Somers gaan dood wees, hoewel ek dit nie eintlik vir jou wil sê nie. Henri Viljoen op wie jy nou so verlief is, die een met die potblou oë, gaan jonk verongeluk. W., ook, ’n ligtekop met blou oë (jou ma sê hulle woon aan die verkeerde kant van die spoor en jy mag nie eintlik daar kom nie), gaan jou knieë lam maak tot lank nadat jy hom eendag met ’n baba op jou heup raakloop. Jy het ’n geneigdheid tot “stout” seuns, ai, my liewe, liewe meisiekind. Maar, toemaar, jou babas – ook ligtekopseuns met hemelblou oë, ook brekers van meisieharte – gaan jy maak met ’n verstandige man en ’n goeie pa. Jy sal soms die regte keuses maak, dikwels die verkeerdes.

Oor party gaan jy spyt wees en goddank oor ander nie.

Jou lewe gaan gepak wees met onherhaalbare mense. Dis ’n geluk en ’n genade.

’n Wenresep vir koek bestaan; vir die lewe nie. Maar hier’s tien helpertjies:
*Lag.
*Leer ook chemie en fisika. Jy gaan later in jou lewe ontdek dis amper soos poësie.
*Leer Latyn. Al bied jou simpel skool dit nie aan nie. Leer Duits, al sny die onderwyser gras op die skooltrekker pleks van klasgee. Leer Italiaans. Leer alles.
*Lag. Sonder skaamte.
*Huil. Ook sonder skaamte.
*Dra altyd, te alle tye, onderklere wat jóú fantasties laat voel.
*Pas jou oë op.
*Moenie tou opgooi nie. Maar soms moet jy. Dan: cut your losses.
*Huil dan. Die lag kom weer.
*Behou jou geloof. Dis al wat jy altyd het. Niemand kan dit van jou wegneem nie. Maar katvoet om vromes en ampsdraers in georganiseerde godsdienste.

Baie liefde, Rachelle

NS Ek hoop jy maak ’n lieflike 82, so oud soos jou immer-lewenslustige ma nou is. Ek sal net een lekker verrassing verklap: sy’t op 81 weer getrou ná jou pa se dood 14 jaar tevore. Terwyl jy dink sy’s klaar met die een voet in die graf en liefde en luste is net vir 16-jariges!

*Hierdie artikel het oorspronklik in die Desember 2010-uitgawe van rooi rose verskyn.

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

2 hours Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.