kategorieë: Ons menseBekendes

Elma Smit: vreesloos vooruit

Dinamies. Borrelend. Snaaks. Vol selfvertroue. Gedrewe. Hardwerkend. Besig. Dis Elma Smit. Op 29 spog sy met ’n verbysterende CV, boonop een propvol eerstes: eerste Afrikaanse aanbieder in die geskiedenis van 5FM. Aanbieder by die eerste Afrikaanse ontbytprogram op TV. Eerste vroulike SuperSport-rugbyaanbieder, en meer onlangs, eerste aanbieder en vervaardiger van die nuus op die Afrikaanse aanlynnuuskanaal Netwerk24.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Ons sit en gesels in ’n sonkol by ’n restaurant neffens haar werkplek. Sy is sjiek van kroontjie tot hoëhaktoontjies. Maar moenie dat die fyn vroulikheid en modellyfie jou flous nie – Elma is nie ’n poppie nie. “In ’n stadium vroeg in my loopbaan het ek letterlik sewe dae per week gewerk,” vertel sy oor ’n koppie rooibostee.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Om jou kleim af te steek in die uiters mededingende, vinnig ontwikkelende mediabedryf in Johannesburg, sit nie in elke hierjy se broek nie. Maar Elma het, en dit binne net agt jaar. Wat is haar geheim?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Dis seker omdat ek nie grootgeword het met die idee dat ek toestemming moet vra om ’n uitdaging aan te pak nie. Ek kon vreesloos voortstu.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Sy het op 17 haar radiotande gesny by gemeenskapsradio in die Paarl, haar grootworddorp. Op Maties het sy in haar derde jaar al haar eie program gehad op MFM, die Universiteit van Stellenbosch se radiostasie. Met haar regsgraad in haar sak het sy op 21 die langpad Johannesburg toe aangedurf met net dit wat sy in haar kar kon laai.

“Ek het glad nie gedink dis die begin van ’n lang, roemryke loopbaan in die media nie. Dalk was ek daarom ook nie bang nie, want ek het geweet ek het ander opsies. Ek was gekeur vir ’n honneursgraad in joernalistiek by Stellenbosch en ek kon ook ’n LL.B. gaan doen. Ek was heeltemal onbekend – ek dink meer bekende name voel hulle het ’n reputasie wat dalk daaronder kan ly as hulle ’n fout op TV maak, maar ek het nie daardie probleem gehad nie.”

Haar waagmoed het vrugte afgewerp, en op 21 het sy haar eerste pos as aanbieder by kykNET se musiek-kanaal MK losgeslaan. Terselfdertyd het sy vir ’n honneursgraad in joernalistiek aan Wits ingeskryf. En asof sy nie besig genoeg was nie, as musieksamesteller by 5FM gewerk.

Van haar medestudente en dosente het gevoel sy verkoop haar siel omdat sy kommersiële radio bo ernstige joernalistiek verkies.

“Maar al wat ek nog altyd wou doen, is radio! Op elf het ek al na Sasha Martinengo geluister en nou kon ek saam met hom werk.”

As musieksamesteller het sy saam met al 5FM se groot name gewerk. “Dit was nogal ’n kontras. Op Donderdae het ons opgeneem vir MK – daar was ek hierdie cool Afrikaanse girl. By 5FM was ek niks. Dit was vir almal daar ook taamlik amusant dat ek Afrikaans is.”

Die Engels was nie ’n probleem nie – Elma en haar Engelsman, Richard Maspero, het mekaar tien jaar gelede op Maties ontmoet. Hulle is vanjaar vier jaar getroud. Toe 5FM haar haar eie program aanbied, het sy gespring vir die kans. “Dit was die graveyard shift, tussen vier en sewe soggens op naweke, maar ek het só baie geleer.”

In 2011 het SuperSport die Lady Rugga-kompetisie van stapel gestuur. Hulle was op soek na ’n vroulike aanbieder vir die 2011 Rugbywêreldbeker in Nieu-Seeland. Oudisies was oop vir enige vrou wat gedink het sy weet genoeg van rugby. Elma het die top-16 gehaal. Hul finaletoets was ’n vuurdoop voor ervare TV-aanbieders Ashley Hayden en Elana Afrika en die veteraan-rugbyaanbieders Darren Scott en Naas Botha. Elma glo die joernalis in haar het uiteindelik gehelp dat sy wen.

En natuurlik het dit gehelp dat sy grootgeword het met ’n ma wat nie ’n rugbywedstryd misloop nie en met gesag oor rugby kan saampraat. “Ek moes net inskryf!”

Hoe voel dit om so ’n prominente rol in ’n baie manlike domein te speel? “Ek beskou rugby glad nie as manswêreld nie. Ek weet hoe baie vroue rugby kyk. Die mans by SuperSport het my ook maklik aanvaar en is baie ondersteunend. Ek leer baie by hulle.”

Vanjaar is haar tweede rugby-wêreldbeker voor die SuperSport-kameras en sy is steeds dol op haar werk.

“Ek wou altyd vir ’n bestaan praat. Stories vertel. En ek het geen verhoogvrees nie. Toe ’n skoolmaat my eendag in ons matriekvakansie vra wat ek wou wees, het ek gesê ek sal graag ’n omroeper en TV-aanbieder wil wees. En Mej. Suid-Afrika. En president van Suid-Afrika. O ja, en Elvis. Sy het gesê ek moenie vir my simpel hou nie. Ek het weer gedink daar is geen rede op aarde hoekom ek nie al hierdie goed kan word nie,” vertel sy laggend.

Elma weet nie waar haar liefde vir vermaak en die verhoog vandaan kom nie, maar sê sy aard meer na haar pa Fonnie, ’n sakeman, as na haar ma Elda, ’n aktesekretaresse.  As oudste van twee dogters het sy kleintyd sommer namens haar sussie Minette geantwoord, verklap sy laggend.

“My ma het altyd kleintyd vir my gesê ek moet tog nie so demanding wees nie.”

Sy en Minette, ’n logistieke bestuurder, verskil soos dag en nag. “Op skool het ek aan debat en die eisteddfod deelgeneem, koor gesing … Minette was op haar gelukkigste op die sportveld. Ek het letterlik in die negende of tiende netbalspan gespeel.”

Deesdae bly Minette in ’n woonstel op Richard en Elma se Linden-erf en hulle is beste vriende. En ja, Minette is net so lief vir rugby soos haar bekender sus.

Sy is passievol oor haar nuwe loopbaanrigting. “Om videonuusbulletins op die internet te kan vervaardig en aanbied, is wonderlik. Jy moet vreesloos kan werk en vinnig kan dink. Dis hoe die web werk.”

Hoe sien sy haar toekoms? “Vyf jaar gelede het die werk wat ek nou doen, nog nie bestaan nie. Ek wil aanhou om pionierswerk te doen, te innoveer. Suid-Afrika is ’n baie opwindende plek. Hier hoef jy in niemand se spore te volg nie, jy kan die spore los.”

Sy is nie pessimisties oor die land nie. “Ons land het die tydperk tussen 1990 en 1994 oorleef – daar het nie ’n burgeroorlog uitgebreek nie. Ons is al deur soveel erger, maar ons vergeet maklik waar ons vandaan kom. Ons vergeet watter soort mense ons bewys het ons kan wees. ’n Mens moet onthou dat die wonderlikste goed nie in veilige, voorspelbare omgewings gebeur nie. Maar jy kan ook nie in ’n land soos hierdie bly en dink jy het genoeg gedoen nie. Gelukkig het elke dingetjie wat jy doen om ’n verskil te maak ’n rimpeleffek. En ons moet onthou ons het nog hoop. Hoop is uiteindelik ons grootste bate.”

Deel
Gepubliseer deur
Nicole Kemp

Onlangse plasings

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

3 mins Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.