kategorieë: VerhoudingsJou lewe

Is jy moeg vir enkellopend wees? Red die situasie

Ja, daar is redes hoekom sekere mense moeiliker ’n pasmaat kry as ander, sê die kenners. Maar is daar ’n bloudruk met duidelike aanwysings wat jy kan volg? Helaas, nee, maar jy kan wel ’n paar sondes uitskakel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

1 Nooit die regte tyd nie

Dr. Helgo Schomer, die vrolike sielkundige op 702-radiostasie, noem dit die “Wanneer ek-sindroom”. Wanneer ek eendag gewig verloor het; wanneer ek minder spanning by die werk het; wanneer, wanneer …

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Dis die dodelikste sindroom vir enkellopers. As jy heeltyd voorwaardes het oor wanneer jy reg gaan wees om mense te ontmoet, maak jy dit bitter moeilik, want jy begrens jou in jou gees en houding. Jy verklaar as ’t ware oorlog teen dating, want dis ’n opportunistiese aktiwiteit en as jou radar afgeskakel is wanneer die regte geleentheid hom voordoen, is die kans verby.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

2 Nie eerlik met jouself nie

“Dis natuurlik veel makliker om ’n pasmaat op skool of universiteit te ontmoet waar daar baie beskikbare metgeselle is. Wanneer jy eers begin werk, word die poel vir lewensmaats kleiner en mense werk dikwels so hard dat hulle minder tyd het om te sosialiseer.”

Dit dwing mense om aanlynafsprake te maak.

“Ongelukkig is mense nie altyd eerlik in hul aanlynprofiele nie en word die waarheid gerek en foto’s gedokter. Baie plaas foto’s van ’n paar jaar gelede omdat dit is hoe hulle hul graag wil sien. Mense hou ook ’n onrealistiese beeld van hulself voor. Hulle skep ’n beeld van die mens wat hulle graag sou wou wees, eerder as die een wat hulle werklik is.

“Maar as jy voorgee, is dit onmoontlik vir iemand om die ware jý te leer ken. Jy wil tog hê iemand moet van jóú hou – nie die fiktiewe beeld wat jy voorgee om te wees en wat nie volhoubaar is nie. As jy nie jouself kan wees nie, kan jy ook nie die regte maat aantrek nie,” sê dr. Schomer.

3 Los die tegnologie

As jy agter jou rekenaar en selfoon skuil en heeltyd slim e-posse en oulike teksboodskappies stuur, gaan jy nie iemand werklik leer ken nie. Jy het ook genoeg persoonlike kontak nodig om deernis vir mekaar te ontwikkel.

4 Onrealistiese standaarde

Sommige mense benader afsprake soos ’n saketransaksie waar elke kandidaat aan ’n stel vereistes moet voldoen. As jy jou afsprake benader met ’n inkopielysie van “lank, donker, aantreklik, universiteitsgraad”, gaan jy nie ver kom nie, sê dr. Schomer. As iemand jou gelukkig maak, is dit die regte een.

“Laat skiet jou standaarde, nie jou waardes nie.”

“Laat skiet jou standaarde, nie jou waardes nie,” sê Theo Malherbe van The Only Social Club. Dis ook ’n goeie idee om ’n slag krities na jouself te kyk. As jy op die uitkyk is na ’n ewebeeld van die Dawidbeeld, maar self meer Rubenesque (ja, sag en mollig) gebou is, is jou vereistes onrealisties. Die Adonis van jou drome het dalk ’n dwelmprobleem terwyl die ou met die gewone voorkoms en min hare die een is wat jou gelukkig gaan maak. “Doen dinge saam, dan word die fokus op voorkoms minder en leer jy om die persoon in sy geheel te waardeer.”

5 Kitsoplossing

Jy verwag nie om ’n beste vriendin op ’n app te ontmoet nie, maar nou wil jy binne ’n enkele afspraak ’n lewensmaat kry. “Ons leef in ’n samelewing waar ons kitsoplossings soek en pas dieselfde tegniek toe om ’n maat te soek,” sê Theo.

“Moenie iemand ná die eerste afspraak summier afskiet nie. Leer mekaar ’n bietjie beter ken.”

Baie gelukkig getroudes sal jou vertel dat hulle aanvanklik nie ooghare vir mekaar gehad het nie.

“Kry plesierige aktiwiteite wat julle saam kan doen. Dit skep gedeelde herinneringe en gee jou ’n goeie grondslag vir ’n verhouding,” sê Fiona Dorse van Corporate Dating. Dis ’n veel gemakliker manier om iemand te leer ken as wanneer julle mekaar soos lammers ter slagting in ’n formele omgewing ontmoet. (Onthou net die gulde reël: ontmoet mekaar op ’n openbare plek as jy die persoon nie goed ken nie.)

Foto: Pexels

6 Klou aan die verlede

“Ek ontmoet gereeld kliënte wat hunker na ’n vorige verhouding wat nie uitgewerk het nie,” sê Theo. Omdat hulle daaraan vasklou, is dit onmoontlik om geluk in ’n nuwe verhouding te kry. Dis belangrik om uit ’n mislukte verhouding te leer, want as jy dieselfde foute maak, gaan jy dieselfde resultate kry. Maar dan is dit tyd om te laat gaan en aan te stap.

7 Ken jy jouself?

“Die eerste ding wat ek vir mense vra wat kom kers opsteek oor hoe om ’n maat te kry is: Weet jy wie jy is?” sê dr. Schomer. “Wat is jou sterk en swak punte? Dan gesels ons oor hoe realisties die beeld is wat hulle van hulself het, en of hulle hou van die mens wat hulle is. Dis belangrik dat jy gemaklik met jouself is, tekortkominge en al, want dis ’n groot rede waarom mense sukkel om suksesvolle verhoudings te hê. As jý nie van jouself hou nie, hoe kan jy van iemand anders verwag om van jou te hou? Dis ’n goeie maatstaf om te kyk of jy by jou maat vir jouself kan lag.”

8 Iemand wat jou voltooi

’n Ander slaggat is dat mense ’n maat soek wat die gebreke in hul eie lewe gaan aanvul. “As jy iemand wil hê wat jou moet voltooi, is die verhouding doodgebore. Jy moet ’n mens uit eie reg wees, net dan kan julle mekaar aanvul. ’n Verhouding is ’n spansport, nie ’n individuele vertoning nie.”

9 Wat wil jy hê?

Wees eerlik oor wat jy werklik in ’n maat soek. Moenie jou blind staar teen dinge soos die uiterlike, die beroep en hoeveel geld hulle verdien nie. Kry ook emosionele maatstawwe, soos iemand wat jou gelukkig maak, wat jou laat lag en jou laat goed voel oor jouself.

“Ek kom ook mense teë wat verslaaf is aan die gevoel om in ’n verhouding te wees,” sê Theo. “Hulle sal met die eerste die beste persoon ’n verhouding aanknoop net om nie alleen te wees nie. Gee ’n tree terug en besluit wie jy is en wat jy uit ’n verhouding wil hê. As jy nie eens self weet wat jy wil hê nie, hoe kan jy die regte maat soek?”

10 Maak oor en oor dieselfde foute

Dr. Schomer sê as jy tot dusver geen sukses gehad het nie, ontleed al jou vorige verhoudings en kyk vir ooreenkomste en ’n patroon. “Gee ’n tree terug en kyk as ’n buitestander na jou verhoudings. Kies jy elke keer dieselfde soort man, maar dit werk nooit uit nie? Niemand hardloop keer op keer in ’n muur vas nie. Hoekom doen jy dit met ’n verhouding?”

Hy stel voor dat jy vriende en familie inspan om jou hiermee te help en ook om te verstaan hoe ander mense jou sien. Dalk kom jy neulerig of aanvallend voor, maar besef dit nie. Dalk is jou stemtoon skerp of temerig.

Foto: Pexels

11 Altyd negatief

“In my bedryf is die stoere enkellopers van nature meer negatief,” merk Fiona op. “Onthou positiewe mense trek positiewe mense aan en dit is wat nodig is vir ’n gelukkige verhouding. As jy negatief is, trek jy baie keer die soort man aan wat jou eerder as ’n voorwerp sien net omdat jy mooi is of jou wil oorheers omdat jou selfbeeld laag is. Dit gaan nooit die grondslag vir ’n gesonde verhouding wees met die potensiaal om in iets blywends te ontwikkel nie.”

12 Is jy desperaat?

Dis moeilik om nie desperaat te voel as die uurglas leeg loop nie, sê dr. Schomer, maar mans voel maklik dat vroue hulle jag.

“Die mensdom funksioneer baie beter in kalm energie as in gespanne situasies. Dis moeilik om jouself te wees as jy desperaat is, en as ’n man voel hy word in ’n drukgang gejaag, is sy eerste instink om die hasepad te kies.”

13 Altyd die “meisie” nooit die trouvrou nie

“Onthou, as jy in ’n permanente verhouding belang stel, gaan jy nie net met iemand uit nie. Jy moet ook by hul familie en vriendekring kan inskakel,” sê Fiona. “As jy by die eerste familiesaamtrek opdaag met ’n lae hals wat niks aan die verbeelding oorlaat nie, gaan jy as die tert eerder as die kersie op die koek gesien word. As jy met die intrapslag ’n vyand van jou skoonma maak, of sy vriende hom teen jou waarsku, is die verhouding gedoem. Dink aan ’n ballerina vir inspirasie. Wees vars en oulik. Hoewel ’n ballerina min klere dra, lyk sy altyd stylvol. Haar grimering en hare is subtiel gedoen, maar tog nie koekerig nie.”

14 Wees ’n goeie luisteraar

Skram jy weg van nuwe ontmoetings omdat jy nie maklik praat nie. “Moenie bekommerd wees as jy nie altyd weet wat om te sê nie; goeie luisteraars is goud werd,” sê Fiona. Is jy die spreekwoordelike grammofoon? Haal ’n slag diep asem en gee hom ’n spreekbeurt.

*Meer inligting:
Dr. Helgo Schomer: www.drschomer.com
Theo Malherbe: theonlysocialclub.co.za
Fiona Dorse: fiona@corporatedating.co.za

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

7 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

7 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

7 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.