Enkelma’s: Pas jouself op

Deur Corné Coetzee

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Die stres en gebrek aan ondersteuning wat enkelma’s se daaglikse bestaan kenmerk, is oorweldigend. Baie sukkel met basiese lewensbehoeftes. Hulle is oormoeg, vol kwellings, maar ontdek ook dat dit ’n sterk vrou is wat dié laste dra

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Kind grootmaak was nog altyd vrouewerk. Dit was mos maar van altyd af die mans wat knuppel, roer, graaf of aktetas in die hand êrens heen op pad is, en vroue wat by die huis, grot, pondok, paleis bly en kinders versorg.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Maar ’n ma wat heeltemal alleen staan, se las word verdriedubbel. Eerstens beteken enkel-ouerskap gewoonlik dat daar hartseer, verydelde drome, vertrapte verwagtings, woede of bitterheid is.

Tweedens is sy alleen verantwoordelik vir die daaglikse take rondom die huishouding en die versorging van die kinders wat gewoonlik by haar werk ingepas moet word. En derdens is daar hande vol kwellings wat sy alleen moet dra.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Enkelma’s het ’n veertig persent groter kans om aan depressie te ly as ander vroue, volgens navorsing wat in Amerika gedoen is. Dit word toegeskryf aan meer stresfaktore en minder ondersteuning.

In die meeste gevalle is geskeide vroue met kinders ná die egskeiding finansieel slegter daaraan toe as voorheen. Baie sukkel met basiese lewensbehoeftes.

Daar is dikwels druk van familie en vriende om die verhouding nog kans te gee. Sommige godsdienstige gemeenskappe beskou dit as sonde om te skei. In swart gemeenskappe kan haar eie familie haar verstoot omdat die lobola-ooreenkoms verbreek is en sy die familie in die verleentheid stel.

Die ouderwetse opvatting dat enkelouergesinne die rede vir kinders se probleemgedrag is, sterf swaar uit. Maar onlangse navorsing wys dat inkomste ’n belangriker rol as enkel- of dubbelouerskap speel as dit by oorsake vir skoolkinders se antisosiale gedrag kom. Wangedrag kom oral voor, maar die meeste wangedrag kom voor waar daar die minste sosio-ekonomiese ondersteuning is.

As ’n enkelma lang ure moet werk, moet óf haar loopbaan óf haar kinders soms aan die kortste ent trek. Dit plaas haar in ’n onmoontlike situasie en is geweldig stresvol.

As getroude ma’s skuldig voel oor ’n honderd en tien goed, voel enkelma’s skuldig oor ’n duisend en tien:
“Ek voel soms oorweldig en dan haal ek my frustrasies op die kinders uit.” “Ek is saans te moeg om behoorlik te luister, stories te lees, te help met huiswerk …” “Ek wil ’n lewe hê! Ek voel soms wrewelrig teenoor my kinders.”

Hulle moet die verantwoordelikheid van afhanklike kinders alleen dra en soms neem hulle – synde menslik – die verkeerde besluit. Dan is dit of ’n enkelma geen genade met haarself het nie.

Wanneer ’n vrou haar mede-ouer verloor sonder dat sy dit so wou gehad het, is die aanpassing veel moeiliker. Dis hulle wat dikwels jare lank hartseer of wrokkig voel. Hoe meer emosionele bagasie sy saamdra, hoe swaarder die las van enkelma wees.

En tog hoor ’n mens by talle enkelma’s:

“Ek moes sterk wees vir kinders. En toe stel ek vas ek is sterker as wat ek gedink het.”
“Dit was ’n verligting om my eie paadjie in te slaan.”
“My lewe is moeiliker op ’n praktiese vlak en geld is altyd ’n probleem. Maar ek is beter af.”
“Ek rapporteer aan geen man nie.”
“Ek het geestelik gegroei.”

Nokuzola, mikro-sakevrou, vyf jaar lank alleen

Nokuzola loop mank; sy het haar been sleg gebreek toe sy vyf jaar gelede uit ’n venster op die tweede verdieping geval het. Dis geen wonder dat sy haar balans verloor het toe sy daar probeer uitklim het nie: sy was sewe maande swanger, en voos van haar man se herhaalde loesings en aanrandings.

Sy was in die destydse Pietersburg in die hospitaal toe sy besluit het: “Laat ek liewer weg, hierdie man gaan my nog doodmaak.”

In ’n rolstoel, swanger, met ’n driejarige dogtertjie en met geld ’n groot skaarste, het sy haar toevlug tot familie in Gauteng geneem. Die staat het haar ’n klein ongeskiktheidstoelaag betaal. Maar die innerlike krag om die skynbaar onmoontlike aan te pak, het deur haar geloof gekom.

Wonderbaarlik is die baba volmaak gebore. Nokuzola het haar eerste dogter, wat toe 12 jaar oud was en by familie in die Oos-Kaap gewoon het, laat kom. Dit was nog ’n mond om te voed, maar sy het haar ma baie gehelp.

Van die begin af was dit ’n uitgerekte verhaal van herhaalde pogings om haar man sover te kry om onderhoud vir sy twee kinders te betaal. Die onderhoudshof se meule maal stadig en nie altyd doeltreffend nie. Nokuzola het weer en weer teruggegaan. Sy het nie moed opgegee nie, want daar was baie dinge wat haar kinders kort- gekom het.

Die toelaag het intussen weggeval; sy maak ’n bestaan deur gordyne en klere te verkoop, “maar besigheid is stadig in Kliptown”. Sy droom daarvan om ’n onderneming te begin wat ’n bestendige inkomste sal inbring.

“God maak vrede in jou hart. Ek het niks meer teen my man nie, ek wil net geen verhouding met hom hê nie.

“My verhouding met my kinders is goed; hulle verstaan ek het nie altyd alles wat hulle wil hê nie. Ek gee hulle pak as ek moet, nie om hulle te mishandel nie, maar om hulle te leer.

“Ek sê nie ek sal nooit ’n ander man vat nie, want ons weet nie wat gaan gebeur nie, maar ek wil nie sommer enige man hê nie. My lewe is goed. Ek is baie gefokus. Daar is altyd ’n oplos-sing as jy op God vertrou.”

Marie*, boekhouer: vier jaar lank alleen

“Ek sal dit maar sê, want dis die waarheid: ek haat my eksman. Sy nuwe gesin is alles en ek en my kinders moet maar opsnork.”

Haar kinders was elf en sewe toe haar man haar verlaat het.

“Ek moet hom lek vir elke sent. Hy betaal ’n belaglike bedrag vir onderhoud, en selfs dit gun hy my nie. Ek is elke nou en dan in die hof oor hy nie wil betaal nie, of met die een of ander slenter kom. Sy nuwe vrou ry met ’n nuwe kar maar my kar is vodde. Ek is die een wat die kinders elke dag moet skool toe vat. Dokter toe. Hiernatoe en daarnatoe. In die nag partytjies toe. My kollegas moet my die hele tyd help om die ding garage toe te vat en te gaan haal. Ek voel al so verleë.

“Ek haat dit om so te sukkel.

“En as die kinders na hom toe gaan vir ’n naweek, speel hy Vader Krismis. Dan is dit uiteet en bederf en hulle mag doen net wat hulle wil. En ek is die nare ou heks wat maar altyd moet sê: ’nee, jy kan nie so maak nie, of jy kan nie dat kry nie.’

“My seun het leerprobleme ontwikkel van al die spanning van die egskeiding en nou lyk dit of my dogter aan depressie ly. Ek ly self ook aan depressie.

“Ek is bekommerd oor haar, want ek vertrou nie haar kêrel nie. Maar ongelukkig is ons verhouding nie baie goed nie. Sy praat baie lelik met my. Hulle kort altwee ’n pa wat sy voet kan dwars sit, ek kan nie alles behartig nie.
“Dis maklik om te sê jy moet iemand vergewe. Woorde is goedkoop.”
* skuilnaam

Linda: onderwyseres, negentien jaar lank alleen

“Dit was op een manier traumaties om tot die insig te kom dat ek nie op die baba se pa kon staatmaak nie. Maar toe ek eers besluit het ‘dis nou net ons twee’ was dit bevrydend. Dit het my geweldig gefokus gemaak.

“My baba was ses maande oud; ek het die eerste keer begin skoolhou, pas in Johannesburg aangekom en met ’n meestersgraad begin.

“Dit was soms verskriklik. Soos die paar kere toe ek regtig baie siek was. Een keer was op sy verjaardag. Verjaardagpartytjie gereël gehad, kinders is uitgenooi … groot opwin-ding … ballonne … verjaardagkoek half gemaak, toe ek een van daardie verskriklike griepaanvalle kry wat jou binne ’n dag hondsiek maak. Ek het omtrent nie geweet waar ek is van die koors nie toe my skoonsuster soos ’n engel van die plaas af hier aangery kom en net kom oorvat. Ruimtetuigskipkoek klaargemaak, die hele partytjie by my oorgeneem.

“Dit was soms baie eensaam. My sosiale lewe was baie beperk – ek was baie kere net te moeg. Om te date was bloot nie die emosionele energie werd nie. As ek gevoel het ek raak depressief, het ek in my tuintjie gewerk.

“Dis vandag nog moeilik om enkelma te wees en ’n loopbaan te hê – dis onbeskryflik wonderlik noudat my seun kan bestuur! Werkgewers en ander kollegas – vroue ook – het dikwels nie ’n benul wat ’n enkelma moet deurgaan sodat sy laat of oor naweke kan werk nie.

“Die Britse romanskrywer A. S. Byatt praat êrens van ’n ‘hard experience’. Sy bedoel solied, kliphard, nie sag nie. My seun was die mees amazing ding wat nog ooit met my gebeur het. Om hom alleen groot te maak, was ’n soliede ervaring.

“Ek glo nie daarin om soos ’n slagoffer te voel nie. Ek is nie arme Linda nie.”

Pas jouself op

  • ’n Pretoriase sielkundige wat self onlangs ’n enkelma geword het, se raad aan alleenouers is: pas jouself op en bou aan jou ondersteuningsraamwerk. Sy sê enkelma’s kan gerus die volgende ter harte neem:
  • As jy matig tot ernstig depressief voel, kry hulp.
  • Vergewe jouself en ander mense, insluitende jou kind se pa.
  • Moenie te trots wees om hulp te vra of te aanvaar nie. Sien ook raak wanneer daar fisieke of emosionele ondersteuning uit ander bronne kom.
  • Leer kitsmaniere om te ontstres, soos om diep en stadig asem te haal terwyl jy vir die ketel wag om te kook of die rekenaar om te laai.
  • As jy oor niks anders gedissiplineerd is nie, leer net een ding: hou ’n dagboek om jou te help onthou wat alles gedoen moet word en bestee elke aand vyf of tien minute om die volgende dag te beplan.
  • Rig ’n roetine in rondom maaltye, badtye en selfs prettye, sodat argumente met jou kinders tot die minimum beperk kan word. As huistoekomtyd ’n nagmerrie is, maak dit ’n gulde reël dat
  • almal eers gaan sit en rustig ’n krag-happie eet voor enigiets anders gebeur.
  • Moenie te veel vir jou kinders doen nie. Probeer dié: stel ’n tydhouertjie en laat almal saam huiswerk doen – binne vyftien minute kry ’n mens verbasend baie uitgerig.
  • Sluit aan by infrastrukture en ondersteuningsnetwerke. Al is dit net om te weet wie se hulp jy kan vra as die kalf die dag in die put val.
  • Vestig ’n goeie verhouding met jou dokter, apteker, loodgieter, elektrisiën en motorwerktuigkundige. Hierdie mense is goud werd in jou lewe.
  • Die kerk, Sondagskool of skoolaktiwiteite bied jou kind waardevolle geleenthede om te kan behoort.
  • Lag ’n slag. Gaan kyk ’n komedie as daar niks in jou eie lewe is om oor te lag nie.
  • Kry finansiële advies van iemand wat regtig weet wat sy doen.
  • Moenie jou kosbare energie op kommer mors nie. Maak ’n lys van jou stresfaktore. Werk aan dié waaraan jy iets kan doen, en laat vaar of “oorhandig” die res in die geloof.

Lees ook: Maak kinders met goeie waardes groot

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Is jy ’n perfeksionis? Hoe vind jy balans?

Deur Maretha Botes Perfeksionisme is ’n tweesnydende swaard. Aan die een kant motiveer dit jou…

12 hours Gelede

Besoek Stellenzicht se unieke ekowyn-pod vir ’n uitsonderlike wynproe-ervaring

Soos jy aankom, word jy deur welige wingerde en groen heuwels begroet. Die wyn-“pod” self…

14 hours Gelede

Geurige roerbraairys

Hierdie geurige roerbraairys kry die lekkerste dadel-en-sjerrie-hoender by.

17 hours Gelede

Die beste gebruik van herfsblare in jou tuin

Die helder skakerings van oranje, rooi, geel en bruin blare gedurende die herfs is werklik…

19 hours Gelede

Leer jou breipatrone beter verstaan

Ons deel breilesse uit ons argiewe.

2 days Gelede

Gebruik oogomlyner vir langer wimpers

Nie almal is geseënd met lang wimpers óf weet hoe om vals wimpers aan te…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.