kategorieë: Ons menseBekendes

Gerrie Nel: ’n man vir die waarheid

Ek sien jy hou óók van Typo?” sê Gerrie Nel toe ek my notaboek uithaal. Wie in sý huis hou dan van Typo, vra ek, verbaas dat hy dit herken. Sy dogter dalk? “Nee, ek! Ek sal my hele salaris daar bestee,” bieg die hardekoejawel-aanklaer wat ’n polisiehoof agter tralies gekry het en Oscar Pistorius in trane laat uitbars het in kruis-ondervraging. En verklap sommer nog iets interessants oor homself: hy skryf al sedert sy skooldae net met ’n vulpen, en hy versamel vulpenne.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Die ys is gebreek, en nou kan ons praat oor Gerrie se verrassende bedanking uit die Nasionale Vervolgingsgesag waar hy een van die bekendste aanklaers was. In sy pienk hemp lyk hy vandag allesbehalwe intimiderend, eerder seunsagtig, skaam selfs. Nie dat hy die afgelope paar dae kon skaam wees nie, want sedert dit bekend geword het dat hy genader is om ’n openbare vervolgingseenheid by Afriforum te vestig moes hy behoorlik bontstaan met media-onderhoude.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Maar dit bly vir hom moeilik. “Jy sal dit dalk nie glo nie, maar ek háát dit om oor myself te praat. En ek sukkel nou nog daarmee dat mense my in die openbaar herken.” Hy gee nie om vir die mense wat jou goedgesind is nie. Maar om in ’n winkel om te draai en te sien mense staan agter jou om te kyk wat jy wil koop, was vir hom een te veel. (Nou gaan hy vroegoggend winkel toe, voordat dit besig raak.) “Ek het omgekyk en gedink: dit kan nie wees nie. Jy weet, sulke goed … Jy moet skielik heeltyd op jou hoede wees, want jy weet nie wie is jou goedgesind en wie nie.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Sy pad tot bekende regsgeleerde – wat vir hom die bynaam Bulldog losgewerk het – was doodgewoon. Op skool was hy die kortbroekseun met die koerant onder die arm wat óf ’n predikant óf ’n regsgeleerde wou word, en baie van nuus gehou het.

Hoekom toe ’n regsgeleerde? “Dit het vir my oor geregtigheid gegaan. Ek verpes onreg, en boelies – boelies in die breë sin van die woord. Dit het vir my gevoel of ’n mens dit net deur die reg kan hanteer.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Ek verpes onreg, en boelies – boelies in die breë sin van die woord”

Sy eerste werksdag by die staat was op 9 Februarie 1981, en 36 jaar later, op 31 Januarie 2017 het hy bedank. Tussen daardie twee datums het hy sy lewe aan geregtigheid gewy, gewoonlik maar iewers in ’n hof in Pretoria of Johannesburg, altyd as aanklaer. Daar was “honderde sake”, skat hy. “Ek het altyd aangebied om in kollegas se sake ook aan te kla – ek wou net in die hof wees.”

Een van sy vroegste kennismakings met die mediakollig was as junior aanklaer in die Chris Hani-moordverhoor (sien onder). Ook as hoof van die Gautengse Skerpioene, ’n spesiale ondersoekeenheid binne die Nasionale Vervolgingsgesag wat in 2009 ontbind is, was hy gedurig in die nuus. Dis juis by die Skerpioene waar hy besef het daar is mense in hoë posisies wat nie noodwendig so gretig op soek is na die waarheid soos hy nie. Hy moes selfs in sy ondersoek na die voormalige hoof van die polisie, Jackie Selebi, ’n nag in die tronk slaap toe hy gearresteer is ná ’n kastige ondersoek teen hom. Die aanklagte teen hom is later teruggetrek.

Laat dit ’n mens nie so ’n bietjie twyfel aan die geregtigheid waarna jy streef nie?

“Dat Selebi wel skuldig bevind is aan korrupsie, het baie van die seer weggevat. Ek het dit nooit gesien as ’n aanval deur die stelsel waarvoor ek werk nie, maar as inmenging deur politici.”

Dit was nie sy lekkerste saak nie, maar beslis die moeilikste. “Ons het in 2006 met die ondersoek begin, en die saak is eers in 2010 afgehandel. Deeglike beplanning en spanwerk is van kardinale belang wanneer jy so ’n saak aanpak. Anders sou ons nie kon slaag nie, veral nie met al die eksterne inmenging wat daar heeltyd was nie.”

Al gee hy toe dat die Skerpioene soms foute gemaak het, glo hy steeds in die konsep dat ondersoekers en aanklaers ten nouste saamwerk om skul-diges aan die pen te laat ry. “Ek dink steeds dis die enigste manier hoe jy ’n groot saak kan oplos.”

Dit was ’n skok toe die Skerpioene in 2009 ontbind is. Daar is wyd bespiegel dat die politieke bewindsverandering ná Polokwane – toe Jacob Zuma vir Thabo Mbeki vervang het en Zuma president geword het – waarskynlik die ware rede vir die ontbinding was. Al die ondersoekers (polisiemanne) is na die Valke toe, en al die aanklaers is terug na die Nasionale Vervolgingsgesag.

Dis vir Gerrie hartseer dat spesialiseenhede binne die polisie ontbind is. “Ek glo steeds jy moet ’n absolute spesialis op jou gebied wees. Ek kan nie ure voor my rekenaar sit en spreadsheets ontleed in ’n korrupsiesaak nie.” Hy hou van blood en guts, skerts hy. “Ek wil ’n lykskouingsverslag lees, die foto’s van ’n moordtoneel sien. Vir my maak dit meer sin. En dan praat ek nog nie eens van die ondersoek van die saak nie. Kom ons neem ’n saak soos die ontbondeling van Saambou. Wat maak die arme polisieman wat dit moet ondersoek as dit nie sy belangstelling of spesialisveld is nie?”

Hoekom fassineer moordsake hom so? “Ek dink dit pas my persoonlikheid. Dit gaan oor feite wat bymekaarkom en onbetwisbare getuienis wat net op een ding dui: moord.” Dis nie die jag van die moordenaar of die raaisel wat hom fassineer nie. “Dis net vir my ongelooflik dat ’n mens by die waarheid kan uitkom, op watter manier ook al. Vir my is dít belangrik.” Of liewer, korrigeer hy homself, so na moontlik aan die waarheid. “Want ’n mens kom seker nooit by die volle waarheid uit nie.”

Hy het nie oornag besluit om by Afriforum aan te sluit nie. “Ek het langer as ’n jaar daaroor gedink.”

Maar hoekom 24 uur kennis gee? “Want as ’n mens eers ’n besluit geneem het … en jy besef as aanklaer dat jy nie meer nuwe sake kan vat nie. Wat doen jy dan?”

Oor mense wat sê hy het loopbaanselfmoord gepleeg deur Afriforum te kies, is hy rustig. “Dis belangrik dat ’n regter steeds in die hof moet kyk na my as ’n regsgeleerde, nie ’n aktivis nie. Ek het die afgelope 36 jaar ’n profiel opgebou, ’n reputasie van integriteit – hoop ek – wat nie oornag gaan weggaan nie. My skuif hierheen was deursigtig. As jy sien ek het een of ander politieke agenda, spreek dit aan!” Hy benadruk weer: die private vervolgingseenheid wat hy vir Afriforum op die been gaan bring, gaan geregtigheid vir alle Suid-Afrikaners najaag. “Kyk eers wat ons doen, oordeel ons dan,” sê hy.

Is hy spyt oor iets? “Net dat ek nooit kans gekry het om ’n saak in die Grondwethof te argumenteer nie, maar dis al, sê hy met ’n glimlag.”

Hy het steeds die volste vertroue in die Suid-Afrikaanse regstelsel. “My raamwerk is nou wel net die strafreg, maar wat dit betref, het ek volle vertroue. Ek het nog nooit Bloemfontein toe gegaan vir ’n appèl en daar weggegaan en nié gedink ons regstelsel is nie op die regte plek nie. Daar’s ’n proses, en die reg loop stadig, maar reg geskied.”

Vier verhore wat voorbladnuus was

Die sluipmoord op 10 April 1993 op die ANC-leier Chris Hani het byna die vredesonderhandelinge vir die nuwe Suid-Afrika ontspoor. Die belangrike taak om Hani se moordenaars, Clive Derby-Lewis en Janusz Waluś, agter tralies te kry, het op die skouers van die legendariese adv. Klaus von Lieres und Wilkau gerus. ’n Junior aanklaer, ene Gerrie Nel, is aangewys om hom te assisteer.

Dertig jaar later, op 14 Februarie 2013, skiet Oscar Pistorius sy meisie, Reeva Steenkamp, en Gerrie Nel is die senior aanklaer in nog ’n saak wat wêreldwyd selfs meer opslae maak. Dit verbaas hom steeds dat die saak soveel belangstelling ontlok het. Hy het gedurende die verhoor stapels korrespondensie van regoor die wêreld gekry. En nie net e-posse nie, outydse briewe,
honderde van hulle, by die hof afgelewer.

“Dit was bloot geadresseer aan Mr Gerrie Nel, Prosecutor, South Africa. Vir my was dít baie interessant,” sê die man wat nog nooit na televisieopnames van die verhoor gekyk het nie, so half verleë.

Om aan die hordes joernaliste in die hof gewoond te raak was die vreemdste ervaring van sy hele loopbaan. “Toe ek daardie eerste oggend by die borgtogverhoor opdaag, was daar glad nie vir my plek in die hof nie. Hulle moes eers joernaliste vra om te skuif.” Die saak bly vir hom “tragies”, en hy het hom nie gesteur aan die kritiek dat hy tydens die verhoor “vir die kamera” gespeel het nie. “Dis so onwaar en vergesog dat ek nie my aandag en  energie daarop kon mors nie.” Hy het – vreemd soos dit ook al mag klink – simpatie met al Oscar se aanhan-gers wat hom so graag sleggesê het. “Hy was vir hulle ’n held. En ek het dit vir myself uitgemaak dat hulle mý nie noodwendig haat nie, maar dat dit vir hulle oor hul eie gevoel gaan. Ek verstaan dit regtig.”

Die interessantste saak waaraan hy tot laat verlede jaar nog gewerk het, is die moord op Chantelle Henning (25) van Pretoria wat voor ’n kleuterskool in Pretoria doodgeskiet is. Gerrie vertel entoesiasties van die “ongelooflike ondersoek” waarin selfoontegnologie en selfs Google Maps as getuienis gebruik is. André Gouws, ’n oud-polisieman, en die voormalige Nigeriese Olimpiese atleet Ambrose Monye het, nadat hulle aan moord skuldig bevind is, erken dat hulle Chantelle vermoor het. Gouws het ter strafversagting getuig dat hy dit gedoen het nadat hy deur haar gewese man, Nico Henning, gemanipuleer is en ’n groot bedrag geld aangebied is. (Die saak teen hom is verlede jaar teruggetrek. “Vir eers,” sê Gerrie.)

In die saak teen Gouws en Monye is onder meer gewerk met foto’s wat Gouws sou geneem het van bakens langs die roete na die kleuterskool om die skieters (Pieterse en Du Plessis) te help om die pad te onthou. Gouws het die foto’s met sy selfoon geneem en later uitgevee. Maar die foto’s is deur kol. Francois Möller herwin. “Dis toe gebruik om ’n kaart saam te stel van die roete wat hulle gery het om haar te gaan skiet. Ons het ook in die hof vir die eerste keer met die hulp van Google Maps inspeksie in loco gehad, en kon vir die regter op groot skerms wys hier is die kruising, daar is die gebou, dis hoe hoog dit is. Die tegnologie in die saak was ongelooflik. Elke keer as daar so ’n nuwe ontwikkeling is, maak dit jou weer opgewonde oor jou werk.”

En sy moeilikste saak? “Beslis die een teen Jackie Selebi.”

*Hierdie artikel het in die April 201-uitgawe van rooi rose verskyn.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

6 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

6 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.