kategorieë: Bekendes

Harrison Ford: Spitsvondig

Harrison het ’n onverdiende reputatsie as ’n brompot. ’n Onderhoud met hom is deurspek van kwinkslae. Sy antwoorde is pittig en hy het geen geduld met domheid nie. Hy sal opsetlik ’n storie verdraai as hy dink dat hy daarmee reaksie kan ontlok. Hy gee skynbaar nie om wat mense van hom dink nie. As daar ’n foutiewe storie oor hom die rondte doen, sal hy sonder om ’n oog te knip die storie eerder verder opblaas as om die feite reg te stel. En al wat sy speletjie verraai, is ’n sweempie van die bekende, kreukelrige, skewemond glimlag.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Hy was al drie keer getroud: van 1964 – 1979 met Mary Marquardt by wie hy twee kinders het; van 1983 – 2004 met Melissa Mathison wat ET geskryf het en by wie hy ook twee kinders gehad het, en meer onlangs, ná agt jaar saam, met Calista Flockhart, beter bekend as Ally McBeal en Kitty Walker in Brothers & Sisters. Hulle maak saam ’n aangenome seun groot. Die twee het mekaar by ’n Golden Globe-toekenningsaand ontmoet en dis duidelik dat hulle baie vir mekaar omgee. In die laaste twee onderhoude wat ek met hom gevoer het, het hy haar oproepe beantwoord en verduidelik dat hy nie met haar kon praat nie. Die eerste keer het hy hul aandete-planne met haar bespreek terwyl die joernaliste ywerig alles afgeskryf het!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Toe ek hom nou in New York ontmoet vir dié onderhoud oor sy prent, Morning Glory, lyk hy gelukkiger as wat ek hom tot nog toe gesien het. Met ’n ligte sonbruinvoorkoms danksy sy gereelde tenniswedstryde, gestreepte sportkouse nes dié van sy Morning Glory-karakter (hy sê hy dra eintlik nog altyd sulke kouse), ’n oorbel in sy linkeroor en sy hande wat op die tafel rus, is hy tydloos en sjarmant. Harrison Ford is in 1942 in Chicago, Illinois, gebore en toneelspel was nie deel van sy grootworddrome nie. Die 1,85 meter lange man het geen voorliefde vir die akademie gehad nie en het ook nie op die sportveld uitgeblink nie. Hy is universiteit toe maar het nooit klaar gemaak nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hy gee so ’n tipiese, selfverkleinerende antwoord toe hy oor sy aantreklike voorkoms uitgevra word: “Die beste advies wat ek kan gee, is kies jou ouers versigtig. In my geval was dit ’n gelukkige genetiese ongeluk. Ek gaan nie gim toe nie, ek probeer nie versigtig eet nie. Gelukkig hou ek van gesonde kos. Maar ek het nie een of ander geheim wat ek kan verklap nie. Ek is net ’n gelukkige son of a bitch.” En as jy dalk gedink het hy is perfek, is hy so gaaf om dié swakheid met jou te deel: “Ek verstaan niks van sokker nie. Toe my seun vyf  was, het hy begin sokker speel en ek kon hom niks leer nie. Dis jammer, maar gelukkig is sy peetpa Engels en kon hy hom help, maar dis te laat vir my. Die sportgeen het my heeltemal ontwyk.” In Morning Glory speel hy teenoor Diane Keaton en Rachel McAdams. Rachel is die nuwe vervaardiger van ’n oggendgeselsprogram op TV en Harrison en Keaton die aanbieders. Dis ’n oulike storie met ’n lekker romantiese kinkel en sodra Harrison op die skerm verskyn, laat hy sy medespelers skoon vaag lyk. Met sy hare agtertoe gejel is hy wel nie op sy aantreklikste nie, maar ’n mens kan sien hy geniet hom gate uit om die iesegrimmige aanbieder te speel.

Wat doen jy en jou vrou en kind as ’n gesin saam?
Ek hou daarvan om te doen wat enige pa en man sal wil doen. Ek wil my seun betyds by die skool kry. Ek wil seker maak dat hy sy huiswerk doen en sy tande borsel voor hy gaan slaap. Calista en ek bly al tien jaar saam, so dis nie – (sy foon lui, hy kyk na die nommer en lag) – dis juis nou sy op die telefoon, maar ek gaan haar ignoreer. (Hy stuur ’n vinnige SMS.) Alles verloop nog dieselfde as wat dit die afgelope tien jaar verloop het, maar ons is baie gelukkig, dankie.

Jy was al voorheen getroud. Glo jy nog in die huwelik?
Ek glo in Calista. Dis al.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

In die fliek moet jou karakter leer om homself nie so ernstig op te neem nie. Hoe ernstig neem jy jouself op?
Ek dink jonger mense is geneig om weens hul goed bedoelde ambisie te veel op hul werk en loopbaan te fokus. Daar was ’n tyd toe ek ook te hard gewerk het. Ek dink ek het dit ontgroei, of daardeur gegroei. Maar ek neem myself nie te ernstig op nie. Ek is ernstig oor wat ek doen.

Jy is die visepresident van die Internasionale Raad vir Bewaring. Kan jy daaroor praat?
Ek is al twintig jaar lank by bewaring betrokke. Ons doelwit was om ’n kwart van die grondgebied in die wêreld en 15% van die oseaan tot biodiversiteit-bewaringsgebiede verklaar te kry. Op die ou end het ons 17% van die wêreld se grondgebied vir bewaring gekry en 192 nasies het ingestem om 17% van hul lande se oppervlak te beskerm. Ons is nie baie tevrede daarmee nie. Slegs 1% van die oseaan is onder beskerming – en dit terwyl die see vir drie miljard mense ’n groot bron van voedsel is. Ons visbronne is besig om uitgeput te raak weens die tekort aan regulering, en die koraalriwwe word vernietig deur nywerheidsbesoedeling en landbou-gifstowwe wat in die see beland. Ons het toestemming gekry om die biodiversiteit van 10% van die oseaan te beskerm – ons was seker ’n bietjie te ambisieus!

Ek het twee doelwitte gehad: Een was om ons bewaringsdoelwitte te bereik en die ander was om ’n debat te begin oor die feit dat die VSA nie een van die nasies was wat daartoe ingestem het nie. Amerika was altyd die grootste ondersteuner van so ’n projek. Sowat 17 jaar gelede het Bill Clinton die onderneming hiervoor onderteken en dis na die kongres gestuur vir goedkeuring, maar dit  het nooit teruggekom nie. Ek wil hê die president moet dit sy prioriteit maak.

Hoeveel help jou celebrity clout in so geval?
Ek dink nie dit het enigiets hiermee te doen nie. Dit gaan oor verhoudings en die kwessies wat van belang is.

Dink jy al aan aftree?
Ek dink aftree is vir ou mense (lag). Ek is nie afgetree nie. Ek is nog aan die gang.

Jy lyk baie gelukkig, asof jy op ’n goeie plek in jou lewe is. Wat laat jou so gelukkig en tevrede voel?
Al my kinders – ek het vyf – is gesond en gelukkig en vaar goed in hul werk en persoonlike lewe. En ek hou van wat ek doen – buiten dit wat met my sakebedrywighede te make het.

Jou karakter is baie iesegrimmig. Wat maak jou knorrig en baie kwaad?
Ek word nie maklik kwaad nie. Ek kan dalk knorrig lyk maar dit beteken nie ek is kwaad nie. Ek kan nie eens onthou wanneer laas ek regtig kwaad was nie. Knorrigheid kan soms verkeerd geïnterpreteer word. Ek gee dalk net my siening waarmee iemand anders nie sal saamstem nie. Ek was nog altyd baie onafhanklik – as ek knorrig voorkom, noem my maar ’n knorpot. Dis nie ’n probleem nie (lag). Ek is nie nou knorrig nie, is ek?

Het jy ’n troeteldier?
Ek het twee honde. Een waarvan ek hou en wat van my hou, en een wat nie van my hou nie, en van wie ek nie hou nie (lag). Hy is ’n klein brakkie wat dink hy is die beskermer van my negejarige seun. In die aand wanneer ons hom in die bed sit en ek vir hom wil nagsê, probeer die hond my elke keer byt (lag).

Het jy ’n gunstelinghonderas?
Ek het al ’n paar labradors gehad waarvoor ek baie lief was, maar daar is niks fout met ’n brakkie nie. Ek hou van enige soort hond.

Hoe sien jy jouself?
Knorrig.

Ons het pas Kersfees gevier. Is dit belangrik in jul huishouding?
Wel, ek is Joods …

Wat het julle gedoen?
Inkopies gedoen, nes die res (lag). Nee, ek maak ’n grappie. My ma was Joods en my pa Rooms-Katoliek. So volgens die Talmoed is ek ’n Jood. Ek is tevrede daarmee maar Kersfees is vir my ’n kommersiële storie en nie wat dit veronderstel is om te wees nie. Maar die kinders is mal daaroor, en my negejarige ook. Ons versier ’n boom en die familie kuier saam.

Is Calista Joods?
Nog nie (lag). Jy grap nou, maar mense sal dit glo. Ja, ek weet, en ek gee nie om as jy dit gebruik nie. Dalk sal dit help. Dit laat my interessanter klink.

Wat is jou geheim om nog so jonk te lyk?
Ek doen nie vreeslike fisieke oefeninge nie. Ek speel graag tennis. Ek oefen so nou en dan. Ek dink dis maar gene. Ek eet gesond, want dis vir my lekker. Ek het ’n jong kind, so ek wil so lank leef as wat ek kan. Ek wil hom sien grootword. Ek het kleinkinders wat nog baie jonk is. Die lewe is vir my lekker, daarom wil ek hier wees solank as wat ek kan.

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.