kategorieë: Bekendes

Hilary Swank: Aanhouer wen

Kleintyd was daar nie sprake van glans en swier in Hilary Swank se lewe nie. Dié meisie uit die staat Washington het in ’n woonwapark grootgeword en toe haar ma, Judy, afsit Los Angeles toe, het ma en dogter noodgedwonge in hul motor moes bly. ’n Vriend het hom later oor hulle ontferm en hulle in ’n leë huis laat bly wat hy besig was om te verkoop. Die twee het op ’n opblaasmatrassie geslaap en moes hulle soggens vroeg uit die voete maak voordat moontlike huiskopers na die huis kom kyk. Toe Judy ’n werkie kry, het sy vir hulle ’n kamer gehuur en het hulle op oorlaaide kredietkaarte geleef totdat Hilary ’n agent gekry het om haar te verteenwoordig. Dié onverskrokke houding is steeds deel van haar en skemer deur in alles wat sy doen. Hilary is ’n natuurlike skoonheid met ’n vol, wye mond, groot swart oë en wangbene waaroor jy liries kan raak. Haar lyf is ongelooflik. Dis onmoontlik om die lang bene, lenige lyf en vol borste mis te kyk. Sy en Chad Lowe, Rob Lowe se broer, was nege jaar lank getroud en in dié tyd het sy beroemd en suksesvol geword terwyl sy loopbaan vasgesteek het. Kort ná die aankondiging van hul egskeiding, is sy gereeld aan die sy van haar agent, John Campisi, gesien.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Ons het by die Four Seasons Hotel in Beverly Hills gesels oor haar fliek, Amelia, die rolprent oor Amelia Earhart, die eerste vrou wat oor die Atlantiese Oseaan gevlieg het en een van die glansvroue van die jare dertig. Richard Gere en Ewan McGregor speel teenoor haar as haar man en minnaar. Mira Nair is die regisseur.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Is jy ’n waaghals?
Ja, ek is avontuurlustig. Ek het al uit vliegtuie gespring – vryvalle gedoen, valskerm gespring – en ook rekspronge gedoen. Ek moes leer vlieg vir die fliek, iets wat ek nog altyd wou doen, en watter beter verskoning is daar as dat jy Amelia Earhart moet vertolk? Sulke dinge maak die lewe opwindend.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Kan jy al alleen vlieg?
Om jou vlieglisensie te kry moet jy alleen vlieg, maar die fliek se versekeringspolis het bepaal dat ek nie alleen mag vlieg nie. Hulle het nie gedink dit sal goed wees as ek op krukke op stel opdaag nie! Ek wil wel die kursus voltooi.

Wat het jy van jouself agtergekom in die vertolking van Amelia?
Ons het soveel dinge gemeen, soos dat ons albei avontuurlustig, waaghalsig en nuuskierig is. Ek was geïnspireer omdat sy nooit verskonings gemaak het oor hoe sy haar lewe lei nie, al was dit in die jare twintig en dertig heeltemal onaanvaarbaar vir ’n vrou om ’n man en ’n minnaar te hê. Dis selfs nou nog moeilik. Sy het my daaraan herinner dat die lewe kort is, dat jy die meeste daarvan moet maak en die pad moet stap wat jy weet reg vir jou is.

Amelia was onkonvensioneel. Deel jy haar siening oor die liefde?
Ek glo aan monogamie. Ek dink tog dis inspirerend dat sy haar lewe geleef het soos sy wou en nie verskoning gemaak het daarvoor nie. Dis ongewoon, in enige tydperk. Hoe maklik is dit regtig vir vroue om vandag te lewe soos hulle wil? In Amelia se tyd was dit net mans beskore om hul drome na te jaag. Nou probeer mense die pad stap wat reg is vir hulle, en dit geld mans ook. Maar dit gebeur dat jy een of ander tyd na jou lewe kyk en dink: dis my ouers se idee van my lewe, of dis my eggenoot se idee van my lewe, of my lewe draai net om my kinders en daar is nie meer plek vir my of my idees nie … Almal van ons het aanvanklik ’n idee van waar ons wil wees en hoe ons wil leef, maar iewers verloor ons koers. Gelukkig is dit moontlik om weer op daardie pad te kom – of ander mense nou dink dis reg vir ons of nie. Maar dis ’n uitdaging.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Hoe lyk jou perfekte dag?
Op ’n perfekte dag kry ek die kans om te doen waarvan ek hou. As ek op ’n rolprentstel is, loop my hart oor van vreugde. Dis vir my ’n perfekte dag.

Sal jy jou lewe waag om jou droom na te jaag?

Ek dink nie ek het al my lewe gewaag nie, maar toe ek Million Dollar Baby gemaak het, het ek ’n blaas onder my voet gehad wat my uiteindelik ’n stafilokokkus-infeksie gegee het. Ek was amper dood, maar toe dit gebeur, het ek nie gedink ek waag my lewe om ’n rolprent te maak nie. Toe ek moes leer vlieg vir Amelia, het ek vir myself gesê dat as ek nou moet doodgaan, sal ek soos Amelia gaan – terwyl ek iets doen waarvan ek regtig hou. Maar daar is beslis ’n perk. Ek sal nie ’n dwelmverslaafde word om een te kan speel nie.

Jy was lank getroud, en dit het gelyk of dit vir jou belangrik was. Sal jy weer trou?
Soos Richard Gere in die fliek gesê het: “Om jou lewe met iemand te deel, maak die lewe uitsonderlik.” Dis ongelooflik as jy jou lewenspad met iemand kan deel wat jou verstaan en jy verstaan hom en julle groei saam en deel al die wonderlike oomblikke wat die lewe bied. Maar dis harde werk. Ek dink as albei bereid is om te werk en op dieselfde pad te bly, kan dit dalk werk – of nie. Dis deel van die uitdaging. Ek weet nie waarheen my verhouding my gaan neem nie. Ek lewe een dag op ’n slag. Ek hou van wat op die oomblik gebeur en hoop om eendag kinders te hê.

Waar kom jou waaghalsigheid vandaan?
Dis van kleins af daar. As kind was ek baie alleen en het my van sekere emosies losgemaak omdat ek daardie gevoelens nie wou ervaar nie. Ek het toe vasgestel dat as ek iets waaghalsigs doen, ek weer iets voel; dat ek weer lewe en nie los staan van alles nie. Ek dink dis waar dit begin het, en later het ek gewoond geraak daaraan.

Ons het mekaar tien jaar gelede ontmoet nadat jy jou eerste Oscar gewen het vir Boys Don’t Cry. Hoe het jou pad sedertdien verloop en wat is nou jou droom?
Ek kan nie glo dis al so lank gelede nie. Maar aan die ander kant kan – ek het in dié dekade soveel wonderlike geleenthede gehad. Dit laat my baie nederig voel. Ek het gedink ’n rol soos dié in Boys Don’t Cry kom net een keer in ’n leeftyd, maar toe gebeur Million Dollar Baby en nog ’n Oscar vyf jaar later. En flieks soos Freedom Writers en Amelia is net so spesiaal. Ek is baie dankbaar vir die geleenthede, dit laat my ’n bietjie rustiger voel, want ek is soms angsbevange dat daar nie nog goeie rolle is nie en dat ek nie reg sal laat geskied aan die uitdagende rolle wat ek hopelik nog sal kry nie. Maar dit beteken nie ek gaan nou op my louere rus nie. Ek wil steeds dinge doen wat my uitdaag en ’n bietjie bang maak. Ek wil aanhou om met rolprentmakers te werk wat my dieper wil neem.

Het jy foute?
Baie. Ek kan die hele onderhoud aan my tekortkominge wy, want ek is net ’n mens. Maar ek dink jy moet uit jou foute en die foute wat jy maak, leer en groei. Ek probeer om nie by flaters van die verlede stil te staan nie, maar iets daaruit te leer en veral om nie weer dieselfde foute te maak nie. Dit help om jou vrese trompop te loop.

Sommige tonele van Amelia is in Suid- Afrika geskiet?
Ja, ons was amper drie weke lank in Suid- Afrika. Ons was ook in Toronto en Nieu- Skotland. Suid-Afrika was die perfekte plek om Amelia se gees vas te vang en hoekom sy so mal oor reis was. Ons was oral in Suid-Afrika en was letterlik elke dag op ’n vliegtuig op pad iewers heen. Die land is eintlik ’n karakter in die fliek, die lieflike uitsigte en lugfoto’s van die land en see is ’n belangrike deel van die rolprent.

Is jy spaarsamig?
Ek is van nature en vanweë my agtergrond ’n spaarsamige mens. Ek waardeer ’n goeie winskopie en afslag! (lag).

Wie is jou helde?
Eerstens my ma. Sy is ’n uitsonderlike vrou. Sy het my in staat gestel om my drome na te jaag en my die moed gegee om nooit tou op te gooi nie. Sy het swaar gekry, maar gesorg dat ek kry wat ek nodig het. Ek is so dankbaar daarvoor. Van my vriende is ook vir my helde, al is hulle gewone mense wat niemand sal herken nie. Hulle herinner my gereeld aan die dinge wat werklik belangrik is. Ek dink dis belangrik om balans te vind en by mense te staan. Amelia het dikwels vir ander vroue opgekom, sy was veral geïnspireer deur hul sterk punte. Ek dink ons het hierdie eienskap verloor; vroue voel dikwels bedreig deur ander vroue se sterk punte. Die lewe is moeilik genoeg, en nog moeiliker as jy ’n vrou is. Daarom is dit belangrik om rolmodelle en goeie vriende te hê wat in jou glo.

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.