Deur Maryke Roberts
Foto’s Clifford Roberts/Canon R6
Die Hilton-kunstefees het oor die afgelope drie dekades ontwikkel tot die onbetwiste hoogtepunt van uitvoerende kuns in KwaZulu-Natal. Hierdie kultuurfees, wat jaarliks op die prentjiemooi skoolgrond van die Hilton-kollege in die Natalse Middellande plaasvind, het ’n ryk geskiedenis, wat na 1993 terugstrek.
Dit is oorspronklik deur Sue Clarence gestig met die doel om die mees uitstaande Suid-Afrikaanse teaterproduksies na ’n plaaslike gehoor te bring. Sy was geïnspireer deur die energie van die Nasionale Kunstefees in Makhanda en die Hilton-kunstefees het die afgelope 30 jaar gegroei tot die belangrikste Engelstalige teaterfees in die land.
Een van die fees se mees betekenisvolle afdelings is die Jongosi-jeugprogram, waar meer as 2 000 plaaslike leerders die geleentheid kry om saam met professionele kunstenaars te werk. Die naam “Jongosi” is immers deur wyle Johnny Clegg gebruik; ’n speelse, Zoeloe-geïnspireerde vervorming van die Afrikaanse woord “jong os”.
Die fees se program bied ’n wye spektrum van kuns- en kultuurvorms, maar die hartklop van die fees bly sonder twyfel die ernstige teater-aanbiedings. Die feesprogram word gekenmerk deur ’n kragtige verweefdheid van politieke satire, fisieke teater en diep menslike drama wat sowel Suid-Afrikaanse historiese trauma as moderne sosiale kwessies takel.

Carmen Rodriguez se sangvertoning het die gehoor op hul voete gehad en gou is selfone se flitse aangesit. In ware popster-styl is daar saamgesing en dans. Evan Roberts – een van die fees se organiseerders – het haar op die klawerbord begelei.
Onder die mees prominente tradisionele werke op die verhoog is die klassieke protesteaterstuk Woza Albert!, wat die denkbeeldige koms van Jesus Christus na apartheid-Suid-Afrika verken en steeds ’n skerp spieël voor die samelewing hou. Andrew Buckland se bekende fisieke satire, The Ugly Noo Noo, gebruik weer absurde humor en beweging om die paranoïese verhouding tussen mens en vrees te ontleed.
Die fees skroom ook nie weg van swaarder, intieme temas nie. Werke soos Girls & Boys bied ’n deurdringende blik op hoe ’n oënskynlik gewone gesinslewe in tragedie kan verval, terwyl Immortal historiese gebeure gebruik om menslike oorlewingsdrang te weeg. Vir diegene wat na die toekoms kyk, bied die distopiese drama Making Wine in Scotland ’n donker maar deernisvolle blik op liefde in ’n wêreld wat deur klimaatsverandering en sosiale verval bedreig word.
’n Opwindende nuwe mylpaal vir die fees is die bekendstelling van die heel eerste KZN Art Fair, ’n inisiatief wat onder meer deur Angela Shaw gestig is. Hierdie visuele kunsuitstalling vul die tradisionele feesterrein aan deur plaaslike galerye, gevestigde kunstenaars en opkomende ontwerp-talent op die fees byeen te bring.

Midnight in Parys is ’n aangrypende storie oor ’n man wat in Parys stop en sy hart oopmaak teenoor die restaurant-eienaar, wat self haar eie hartseer verlede het. Dit het Paul Slabolepszy en Bianca Amato in die rolverdeling.
Met uitstallings soos Making Ground, wat deur die Pietermaritzburgse maatskappy, Belgotex, geborg is om jong talent te ontgin en aan te moedig, en die deelname van groot name soos Strauss & Co, vestig die kuns-uitstalling KwaZulu-Natal as ’n volwaardige spilpunt vir kontemporêre visuele kuns, ontwerp-kultuur en kunsgesprekke.
Daar was lekker gratis rolprentvertonings, en die kosstalletjies en vlooimark buite onder pragtige wit tente het gesorg dat almal iets kon gaan uitsnuffel om huis toe te neem.
Buite op die skoolgrond was daar verskeie geleenthede vir plaaslike skole om op te tree en feesgangers die kans te gee om gratis vermaak te geniet en die Vrouedag-langnaweek in ’n ware familiefees te omskep.
Volgende jaar word die fees vir die 35ste jaar gehou. Loer by https://hiltonfestival.co.za vir meer inligting.
























