kategorieë: VerhoudingsJou lewe

Hoe om nie hierdie vakansie te baklei nie

Hoe om nie hierdie vakansie te baklei nie het oorspronklik in rooi rose verskyn as Rus of rusie? deur Anys Rossouw. Desember 2010.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Rus of rusie?

In gewone gesinne brand die vreugdevure nie noodwendig hoog wanneer die vakansie waarna almal blinkoog uitgesien het uiteindelik aanbreek nie. Om die waarheid te sê, dan kan die vonke woes spat.

’n Scenario soos dié het hom seker al in duisende huisgesinne afgespeel: Jy is blinkgesweet gespook om alles reg te kry vir die vakansie: Die koekies is gebak, die huishulp en tuindienste is gereël, die hondekos gekoop, die sleutels is by die bure, die rekeninge betaal, die tasse gepak. Julle is uiteindelik gereed! Die motor is stampvol: kinders, klere, speelgoed, koekies, Kersgeskenke én die gholfstokke. Alles is in. Behalwe jou man se goeie gemoedstoestand óf sin vir humor!

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Eers mor hy nukkerig oor al die bagasie. “Is al die goed nodig? Sulke groot tasse, al die speelgoed?” Maar hy rep nie ’n woord oor die gholfstokke nie. En ál wat hy hoef te doen, is om dit in die kattebak te laai, want jy het ál die reëlings getref, alles reggekry en ingepak. Én met moeite en geduldige onderhandeling daarin geslaag om die kinders te oortuig dat daar nie plek vir Ouboet se kitaar of Kleinsus se popwaentjie is nie. En dan word die man haastig. Julle moes eintlik al lankal gery het. Die paaie gaan besig wees.

Almal voel die verstikkende atmosfeer, maar niemand waag dit om te sê dat julle amper ’n uur vir hom gewag het om van die werk af te kom nie, maar almal dink dit. En dan wonder jy waaroor dit nou eintlik gaan? Is dit omdat julle na sy skoonmense op pad is? Dalk omdat hy nie meer agter sy werk kan skuil nie?

Natuurlik gaan dit darem nie altyd so nie en alle pa’s is nie ou suurknolle as die vakansie-uittog begin nie. Alte dikwels is dit mammie wat oorstuur en omgeklits is.

Lees ook: Waar is die vrede in jou huis?

Vakansies veroorsaak nie probleme in verhoudings nie, maar dit bring reeds bestaande probleme na die oppervlak.

Vakansies veroorsaak nie probleme in verhoudings nie, maar dit bring reeds bestaande probleme na die oppervlak. Vakansies het die manier om verhoudings te versterk of reeds bestaande verhoudingsprobleme te vergroot. Daarom is dit belangrik dat julle vooraf moet besin oor die moontlike slaggate wat die vakansie vir jul verhouding kan inhou en rustig saam besluit hoe om dit te hanteer.

Mense verskil en hul persoonlikhede, agtergrond en behoeftes verskil. En watter soort vakansies vir hulle lekker is, verskil ook. Daar is so baie dinge wat kan verskil. Winter- of somervakansies? Bly ons tuis en doen sommer ’n slag lekker dinge by die huis? Gaan ons weg? Oorsee, see toe, wildtuin toe? In luukse-akkommodasie, ’n selfsorgeenheid, woonwa of tent? By familie, saam met vriende, alleen? Reis ons van plek tot plek, of bly ons die hele vakansie op een plek? Gaan ons na ’n nuwe plek toe, of dieselfde plek waar ons al soveel keer was? ’n Plek wat dreun met mense en aktiwiteite, of ’n stil en afgeleë plekkie? Reis ons per motor, trein of vlieg ons? Soveel mense soveel behoeftes en moontlikhede.

Onthou, goeie en gelukkige vakansies gaan meer oor die mense en verhoudings as oor die plek en die aktiwiteite.

Jy droom oor ’n vakansie in ’n luukse-oord en sien visioene van jouself uitgestrek op ’n sonstoel met ’n eksotiese mengeldrankie in die hand. Helder blou water, palmbome, die spa, interessante winkeltjies … En hy? Hy droom oor hoe hy iewers in godsverlatenheid langs ’n vuur sit en onder ’n blink sterrehemel na die naggeluide luister. Hy wil wegkom van die stadsverkeer, die kantoor, die lawaai. Jy wil nie sukkel met skottelgoed en wasgoed nie en nie jou skoon, warm bad inboet nie. Jy wil ’n slag langsaam deur die winkels draal sonder om te jaag om kos op die tafel te kry. Hoe gemaak?

Lees ook: Skep só vrede in jou huis

7 dinge wat julle kan doen om lekkerder (en meer vreedsaam) vakansie te hou

  • Wees eerlik met mekaar en onderhandel vooraf oor die soort vakansie wat julle dié keer gaan hou. Maak seker van jou maat se verwagtinge en waarom sy die spesifieke behoefte het. Te dikwels dink jy jy gee vir iemand iets spesiaals en dan ervaar jou maat dit glad nie as ’n bederf nie. Dan voel jy seergemaak en dink jy doen soveel moeite, bestee soveel geld en dit word in jou gesig teruggegooi; of niks wat jy doen, stel hom/haar tevrede nie. Dikwels sou veel minder, maar die regte ding ’n baie positiewe reaksie gehad het.
  • Gee erkenning aan alle partye se behoeftes, voorkeure en vrese en maak ruimte vir mekaar. Gun mekaar alleen-uitstappies en vakansies waarvoor jy nie kans sien nie. Dit moet net op albei partye van toepassing wees. Gun haar die twee dae by die spa saam met ’n vriendin, of gun hom die jagnaweek saam met sy pelle. Maar daar moet ook gedeelde vakansies en saamdoendinge wees.
  • Wees kreatief, welwillend en buigsaam. Soek na kompromieë en hoe om ’n balans tussen die verskillende behoeftes en verwagtinge te kry. Oorweeg dalk ’n kombinasie van saamdoendinge wat almal geniet én geleenthede waar elkeen ’n bietjie sy eie ding kan doen. Of dalk kan naweke gebruik word om by almal se behoeftes uit te kom.
  • Besluit vooraf saam oor ’n klomp dinge: Wie tref die reëlings, doen die besprekings, kry tersaaklike inligting en dokumente? En oor die begroting. En hou daarby. Geld is dikwels die bron van menige geveg.
  • Neem op vakansie saam besluite, en as dit nie moontlik is nie, maak beurte om die dag se program te bepaal.
  • Maak die vakansie wat nie jou keuse is nie vir jou maat lekker en aangenaam. Wees emosioneel daar, geniet wat jy kan. Moenie kla, jou onttrek en jou maat met jou gedrag en houding straf omdat dit nou nie eintlik is wat jy begeer en waaraan jy be-hoefte het nie. Dan sal hy volgende keer makliker instem om ook op jou soort vakansie te gaan. Dis deel van ’n huwelik, volwassenheid en ouerskap om onselfsugtig te word en vir ander ook te gee waaraan hulle be-hoefte het.
  • Verdra mekaar se familie en vriende en gun mekaar die tye saam met die belangrike mense in jul lewe. Word waar moontlik deel daarvan, met rustigheid, verdraagsaamheid en begrip. Bespreek vooraf jul planne met albei die ouerpare sodat hulle weet en nie eise stel of verwagtinge het wat nie realiseer nie.

Lees ook: 8 pakwenke vir jou vakansie

Verskillende persoonlikhede se vakansiebehoeftes

Die ekstroverte

Hulle soek mense en aksie – dit gee hulle energie. Hulle soek iemand om alles mee te deel, om tyd mee saam deur te bring en oor dinge te praat. Hulle wil graag uitgaan en iets nuuts ervaar; hoe meer aktiwiteite hoe gelukkiger is hulle. Hulle hou graag in groepe vakansie en gedy in oorde waar daar mense is om te ontmoet en dinge saam mee te doen. Dit kan soms gebeur dat hul huismense dan afgeskeep voel.

Lees ook: Vakansieskoonheid SOS

Die introverte

Hulle laai hul batterye in stilte en alleenheid. Te veel mense en aktiwiteite maak hulle moeg en voel nie vir hulle soos vakansie nie. Vir hulle klink ’n vakansie op ’n verlate, stil plekkie na hemel op aarde. Vir hulle is minder op vakansie dikwels meer! Hulle soek rustigheid, weg van mense en hou van alleen-aktiwiteite soos lees, ’n video kyk, of om ver ente te stap. Vir hulle klink ’n alleenvakansie met baie eietyd baie aanloklik, ’n kans om te ontspan en te peins … dis kos vir die siel.

Lees ook: Pret aktiwiteite om kinders besig te hou

Die beplanners

Hulle soek in hul vakansie orde, beplanning en voorspelbaarheid. Hulle maak lysies en beplan dikwels lank vooraf in detail wat hulle op vakansie wil doen, sien, die roete en die afstande. Hulle wil vooraf alles haarfyn uitwerk en besprekings maak. Hulle laat min aan die toeval oor. Dit frustreer hulle as gesinslede nie by reëlings hou nie en dinge wat vooraf gereël en beplan is sommer wil verander; of as gesinslede laat kom, hetsy vir etes of as daar iewers heen gery moet word. Dan voel hulle dat hulle nie in ag geneem of gerespekteer word nie. Hulle wil weet wat is wie se verantwoordelikheid en maak gewoonlik roosters van wie wat moet doen.

Lees ook: Maak seker jou lewensdekking is in orde voordat julle vakansie hou

Die buigsames

Hulle soek avontuur en ongewone ervarings en beplan gewoonlik nie vooraf nie. Hulle besluit dikwels op die ingewing van die oomblik of van dag tot dag waarheen hulle volgende gaan of wat hulle volgende gaan doen. Hulle is nuuskierig en bang hulle mis iets. Hulle frustreer dikwels die beplanners omdat hul planne meestal onseker en sonder duidelike rigting is, of omdat hul planne binne minute verander. Maar hulle is gewoonlik gemaklik en pas maklik by ander se planne aan. Tog voel hulle dikwels dat die beplanners ’n bietjie moet ontspan, dat hulle heeltemal te rigied is en hulle wil beheer. Dikwels reageer hulle met rebelsheid hierop.

Lees ook: Systap vakansieskete

Respekteer almal se behoeftes

’n Vakansie is gedoem as een party die vakansie net volgens sy behoeftes, persoonlikheid en voorkeure wil inrig sonder inagneming van ander. En dan boonop die heeltyd ingeloop en verontreg voel en loop en brom of die ander piets met onttrekking en stilstuipe.

’n Mens kan nie elke keer in almal se vakansiebehoeftes oor die plek en die aktiwiteite voorsien nie. Maar jy kan jou geliefdes op enige plek die emosionele dinge gee waaraan hulle behoefte het, en dit kan die verskil maak. Almal wil geliefd en spe-siaal voel; het behoefte aan aanvaarding, omgee, inagneming en waardering. En dis nie plekgebonde nie.

As jy gelukkig is en emosioneel kry waaraan jy behoefte het, maak die plek en omstandighede min saak.

Lees ook: Noodhulp vir bloublasiebrande

Swaai die houding en gemoed van ’n moeilike gesinslid so

  • Moenie dat enige negatiewe gedagtes of gevoelens wat jy jeens hulle het, uitlek in jou houding, stemtoon – of nog erger – by jou mond uitlek tot in hul ore nie. Dis moeilikheid!
  • Maak oogkontak. Luister na hulle met aandag en waardering en reageer met bewondering of empatie op wat hulle sê, al is dit dieselfde storie oor en oor. Almal wil gerespekteer en waardeer voel.
  • Luister na sy stories en stel belang daarin. Vra uit, moenie dit afmaak of die onwaarhede daarin probeer uitwys, of met ’n beter storie of voorbeeld na vore probeer kom nie.
  • Raak aan haar. Liggies, spontaan, terloops en onnodig. Dis ’n kragtige boodskap wat sê: Ek aanvaar jou, jy is oukei!
  • Lag vir sy grappe en jy sal die waardering op sy gesig sien.
  • Gee komplimente en waardering vir dinge wat iemand goed doen, of moontlik maak.
  • Stem saam wanneer jy kan: “Ek dink jy het ’n punt beet; jy was reg, ons moes liewer … “

Om ’n gevoel van nabyheid te hê, beteken nie dat julle elke oomblik in mekaar se teenwoordigheid hoef te wees nie. Om mekaar die ruimte te gee om verskillende dinge te doen, mag almal se behoeftes bevredig en almal gewaardeer laat voel. En later kan julle die ervarings met mekaar oor ’n glas wyn deel.

Gaan om die vakansie te geniet, om mekaar te geniet! Maak dit gehaltetyd en fokus op wat lekker, mooi en goed is. Los ou probleme by die huis. Moenie die vakansie gebruik om oor die probleme van die verlede te wroeg nie, maar om saam nuwe, mooi herinneringe te skep. Oop en eerlike kommunikasie voorkom meestal misverstande en argumente. Doen dinge om dit lekker te maak – vir jouself, vir almal.

Lees ook: Geskei en alleen op Kersdag – hoe gemaak?

Anys Rossouw is ’n sielkundige in Menlopark, Pretoria.

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.