kategorieë: Bekendes

Betty White: Immerjonk

Jy ken dalk nie haar naam nie, maar die gesig is bekend, want vyftig jaar al sien ons Betty White gereeld op televisie. Onthou jy nog vir Rose in The Golden Girls, die een met die onskuldige gesiggie, maar stoute sêgoed? En nou op negentig, ja, jy het reg gelees, negentig! is sy steeds hard aan die werk en was tot onlangs toe nog te sien in The Bold and the Beautiful, My Name is Earl, The Practice, Boston Legal, 30 Rock en as gasspeler in die gewilde Saturday Night Live. Sy het in ’n klompie rolprente gespeel en was ook onlangs die oulike ouma in die fliek The Proposal met Sandra Bullock in die hoofrol. Sy was deel van televisie toe dit in die jare veertig begin het. Betty was destyds al ongewoon omdat sy die meeste van haar programme self vervaardig het, en dit sommer vroeg-vroeg in haar loopbaan toe vroue in hierdie bedryf nog nie gereken was nie. Sy het in Beverly Hills grootgeword en haar lewe lank daar gewoon. Sy was twee keer getroud en geskei voor sy haar derde man, die liefde van haar lewe, Allen Lunden ontmoet het. Sy was ’n gereelde gas op sy televisieprogram Password. Hy is in 1981 oorlede. Sy het nooit haar eie kinders gehad nie, en is baie na aan Allen se drie kinders.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }
Hoekom dink jy is mense so mal oor Hot in Cleveland?
Dis vir mense soos macaroni en kaas. Dis trooskos. Ek en die ander aktrises is baie lief vir mekaar en ons het ’n fantastiese draaibroek. Jane Leeves wat die rol van Joy vertolk, laat my skaterlag. Sy het ’n baie droë sin vir humor. Soms sal haar neusvleuel net op die regte oomblik vibreer, en dan is ons stukkend gelag.

Jy is seker een van die besigste akteurs in Hollywood?
Is dit nie ongelooflik nie? Ek kan nie glo ek werk steeds nie. En op my ouderdom! Die tyd sal my seker inhaal, maar solank hulle my werk aanbied, sal ek nie nee sê nie.

Dink jy die ouderdom bring wysheid?

Ons sou graag so wou dink, en ons sê dit vir mekaar, maar ek dink nie so nie. Ek wil alle ouer mense aanmoedig om die wêreld om hulle te waardeer. Bly liewer stil voor jy kla. Dit klink dalk afgewater, maar probeer om aan iets vroliks te dink. Dis aansteeklik. Dis beter om ’n positiewe ingesteldheid te kweek as om heeltyd te loop en mor. Ons dink ook dat ouer mense meer konserwatief word. Maar jy is ’n vars briesie, altyd opgewek en reg met ’n stoute grappie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Was jy nog altyd so?
Sêgoed met dubbele betekenisse fassineer my. Dit wat jy nie sê nie, is wat snaaks is. Jy sinspeel op iets en diegene wat dit snap, sal lag, en as iemand dit nie snap nie, is geen skade aangerig nie. Soms gaan ek te ver. Ek moet my dikwels in toom hou.

Jy doen glo graag blokkiesraaisels om op en wakker te bly. Hoeveel doen jy per dag?

Ek het vier in my handsak. As jy dit gereeld doen, weet jy later vinnig wat hulle met ’n definisie bedoel. ’n Salamander is ’n koggelmander en ’n koggelmander is ’n salamander. Dit maak my mal as ek ’n paar oop blokke het wat ek nie kan invul nie. Ek dink soms woorde uit. Die volgende dag gaan ek terug en omkring die verkeerde woorde.

Het jy ’n troeteldier?

Ek het ’n apporteerhond, Pontiac. Hy is sewe en is ’n opgeleide gidshond. Nadat ons mekaar ontmoet het, is ek eers huis toe om te dink of ek hom gaan vat. Waar het jou nou al gehoor jy ontmoet ’n apporteerhond en gaan huis toe om daaroor te dink? Dis onmoontlik! Natuurlik het ek hom gevat. Noudat ek negentig is, trek ek voordeel hieruit. Hy is ’n filter teen die stres en besige wêreld waarin ek my bevind. Hy is soos terapie, ons maak mekaar kalm en is ongelooflik lief vir mekaar. Ek dink dis wat my so goed laat voel. Hy is my hart se punt en my beste vriend. Hy word vreeslik opgewonde wanneer hy sien ek tel ’n blokkiesraaisel op. Hy kry so ’n glinster is sy oë, amper asof hy dink: Jippie, miskien gaan sy nou vir lank stilsit.

Jy het die Groot Depressie beleef. Kan jy dit met die huidige stand van die wêreldekonomie vergelyk?

Ek is in 1922 gebore, so ek was in 1928 en 1929 nog ’n kind. Ek onthou ons het nie geld gehad nie, maar ek was geseënd met ouers wat nie op die negatiewe gefokus het nie. My pa sou iets sê soos: ”Ek het ’n werk. Daar is so baie wat nie dieselfde kan sê nie. Ons moet dankbaar wees.” Ek het sy positiewe houding aangeleer en nou pluk ek die vrugte daarvan. As jy jou lewe lank op die positiewe fokus, is daar nie plek vir negatiewe goed nie. Maar as jou pa nie ’n werk het nie, of wanneer jy jou in ’n finansiële verknorsing bevind, is dit seker moeilik om positief te bly.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hoe gedetailleerd is jou testament?
Ek het wonderlike stiefkinders, hulle is soos my eie kinders en ook my beste vriende. Ek sal natuurlik vir hulle sorg. Ek gebruik nie die geld wat ek nou maak nie, dit gaan alles direk na verskillende diere-organisasies. My testament is vol diere-dinge. Ek wil nie hê mense moet wag tot ek doodgaan nie, daarom gee ek nou soveel ek kan. Ek is mal oor my werk en word goed betaal, hoekom dit nie met ander deel nie? Ek het ’n reuseversameling The Wizard of Oz-boeke. Ek het amper veertig, en in my testament staan daar dat hulle bymekaar moet bly. My sakebestuurder wil hê ek moet ’n lys van my besittings maak en waarheen alles moet gaan. Miskien moet ek dit doen wanneer ek weer lank op ’n vliegtuig sit. (Met ’n stoute glinster in die oog.) Dankie dat jy my herinner het.

Wat is die slegste ding van ouer word?

Wanneer jy ’n gawe, aantreklike man ontmoet en dink, sjoe, dit sal lekker wees as hy my vir ete nooi. En dan besef jy: Betty, jy is negentig! Vergeet dit! (Sy lag.) Dit gaan nie gebeur nie. En wanneer ek saam met vriende kuier en die man vat sy vrou se hand, besef ek dis wat ek mis. Nie seks nie. Die intimiteit.

En die beste deel?
Jy kom met moord weg (sy lag). Almal bederf jou tot in die afgrond. Jy kan enigiets sê, want hulle dink ag siestog, die arme ou ding besef nie wat sy sê nie. Maar sy weet (lag). En jy moet ook heeltyd agter jou kyk, maak nie saak waar jy staan nie. Op Hot in Cleveland se stel is daar byvoorbeeld altyd ’n stoel agter my. Of ek dit nou nodig het of nie. Ek wil niemand se gevoelens seermaak nie, so dan sit ek maar.

Wat weet jy nou, wat jy wens jy in jou twintigerjare geweet het?

My ouers het my geleer om iets te waardeer terwyl dit gebeur. Jy moenie terugkyk en sê “dit was so wonderlik” nie. Ek wens ek het dit toe besef. Wanneer iets goeds met my gebeur, probeer ek dit proe. Tot vandag toe skryf ek ’n wonderlike ondervinding neer sodra ek by die huis kom. Nie om ’n boek te skryf nie, maar om dit in my geheue vas te lê terwyl dit nog vars is. Maar op veertig weet ’n mens nog nie baie nie, en op negentig weet jy alles! Ek het nooit gedink ek sou so oud word nie. Maar ek was ook nie bang daarvoor nie. Ek onthou toe ek in die hoërskool was – en ek weet jy dink ek kan nie so ver terug onthou nie – was daar kinders wat toe reeds oud was. Ek word kwaad vir mense wat sê: “Ek het pas twintig geword. Een van die dae is ek dertig.” Hulle het ’n hele dekade gemis. Dis hulle wat vroeg oud word. Dis net in jou kop. As jy gelukkig genoeg is om besig te kan bly met iets waarvan jy hou, moet jy dit vier. Die jare is glad nie belangrik nie. Geniet net die oomblik.

Wat is op jou bucket list?

Ek was nog nooit in Afrika nie. Ek sou graag wou teruggaan na die High Sierras. As kind het ons daar vakansie gehou. Dit het ons twee dae te perd gevat om daar te kom, met donkies wat al die voorrade moes karwei. Ek sou dit graag weer wou doen. Ek sou ook graag vir Meryl Streep wou ontmoet. Dis so simpel! Ek dink ek sal sprakeloos wees.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Wat van Robert Redford?
Dit het niks met jou te doen nie (lag). Ag, gooi maar vir George Clooney by.

Vertel ons van jou troue?
Ek en my man, Allen Ludden, het mekaar in New York ontmoet. Hy het al sy vrye tyd gebruik om my die hof te maak. Ek het ’n hele jaar gemors waarin ons saam kon wees voordat ek ja gesê het. Ek en hy en my ouers het Las Vegas toe gery om daar te gaan trou, want destyds moes jy drie dae op ’n troulisensie wag. Vanweë my man se game show, waarin ek gereeld verskyn het, het ons byna geen vrye tyd gehad nie. Ons het getrou en dadelik teruggevlieg New York toe en is reguit werk toe. Ek het met so ’n groot blommehoed op my kop teruggevlieg omdat my hare vol krullers was sodat ek dadelik voor die kameras kon inval. Ons was so bly toe die troue verby was.

Hoe voel jy oor die huwelik?

So baie mense bly deesdae net saam.Mense bly nie net saam nie, hulle het selfs twee of drie kinders en dan sê hulle “miskien moet ons trou”. Ek dink elkeen moet doen wat vir hom reg is. Ek het nog nooit die behoefte gehad om vir ander te sê hoe hulle hul lewe moet lei nie. Maar ek sou nie eers drie kinders wou hê en dan trou nie, maar dis my keuse. Die lewe het verander. Om te trou is seker outyds. Ek was bly dat ek dit gedoen het. Elke keer (lag).

Enige onderonsies met aanhangers?
Wel, vanoggend moes ek regmaak vir die onderhoud en my haar- en grimeermense sou na my huis toe kom. Toe my voordeurklokkie lui, neem ek aan dis hulle en maak die deur oop sonder om eers te loer wie dit is. Toe staan daar ses groot jongmans, en ek dink, sjoe, maar ek is gelukkig, maar dit is verspot! Hulle is van Nice in Frankryk, sê hulle, en hulle het heelpad hierheen gekom om my te ontmoet en sal ek asseblief hul foto’s vir hulle teken? Een van hulle het ses foto’s gehad. Ek was nog besig met die handtekeninge toe my haar- en grimeermense opdaag, anders sou ek seker nou nog met hulle moes praat. Hulle was nice en van Nice, maar ek kon hulle nie weer terugkry Nice toe nie! Die probleem is die kinders ken my, hul ouers ken my en die oumas en oupas ken my. En die oues sê “sy’s terug!” maar eintlik was ek nooit weg nie.

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.