kategorieë: Bekendes

Naomi Watts: In Diana se voetspore

Naomi Watts is ‘n tingerige vrou. Haar emosies speel oor haar gesig, en mens kry die idee dat as sy haarself daaraan sal oorgee, dat dit haar sal oorweldig. Sy en haar mede-Aussie, Nicole Kidman is goeie vriende, en albei vertolk die rolle van twee van die gewildste prinsesse; Nicole speel Prinses Grace van Monaco, en Naomi, Prinses Diana. Naomi gesels met ons oor die uitdagings om een van die bekendste ikone van ons tyd te vertolk.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Wat het jy van Diana geweet voor jy met die fliek begin het, en wat het die prent jou van haar geleer?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Ek het in Engeland grootgeword en het saam met die res van die wêreld na haar en prins Charles se troue gekyk. Ek het ook al die stories geken wat destyds in omloop was. Toe trek ons Australië toe, en hoewel sy daar ook bekend was, was sy nie elke dag voorbladnuus nie. Ek het nie van haar verhouding met Hasnat Khan geweet nie. Toe ek die draaiboek lees, was dit vir my verbasend dat daar ’n hele hoofstuk van haar lewe was waarvan min mense geweet het. Ek het heelwat navorsing begin doen, ook Kate Snell se boek gelees, en tot die slotsom gekom dat die berigte oor die verhouding waar was. Daarna het ek toegang tot baie inligting en beeldmateriaal gekry en ook met van haar vriende gesels. Hulle het die verhouding bevestig. Dit het my baie gehelp.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Het die navorsing jou siening van haar verander?

Ja. Ek het nie geweet sy het ’n goeie sin vir humor gehad nie. ’n Stoute een. Sy het gereeld die soort grappies vertel wat jy nie van ’n prinses sou verwag nie. En sy was rebels.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Waar was jy toe jy hoor Diana is oorlede?

Ek was in Vancouver besig met die verfilming van ’n fliek of televisiereeks. Ons het aandete in ’n restaurant geëet toe ons hoor van die vreeslike motorongeluk in Parys en dat Dodi Al Fayed dood is. Ons is terug hotel toe en het die tragedie op televisie gevolg. Ek was vreeslik geskok en ontsteld, my vriende moes my eintlik stilmaak, want die kinders het in die kamer langsaan geslaap.

Wat is jou verhouding met die paparazzi?

Hoewel ek al my kwota paparazzi-frustrasie gehad het, is dit nie naastenby wat Diana elke liewe dag van haar lewe moes deur maak nie. Ek weet nie hoe jy dit hanteer nie. Nie net die paparazzi nie, die media ook; die leuens wat hulle versprei; die paranoia wat daarmee gepaardgaan. Dit is te veel aandag en ek weet nie of daar ’n gesonde manier is om dit te hanteer nie.

Het jy Hasnat al ontmoet?

Nee. Hulle het vir ons gesê dit sou nie moontlik wees nie. Hy het nooit in die openbare aspek van hul verhouding belang gestel nie. Hy het net gepraat toe hy moes – die getuienis wat hy ná haar dood gelewer het. Dit het my regtig gehelp.

Wat is dit van Diana wat ’n mens net nie kan vergeet nie?

Sy was die verpersoonliking van soveel goed, ek dink dis wat ons boei. Die blik in haar oë het terselfdertyd krag en kwetsbaarheid uitgestraal. Haar deernis; sy was regtig besorg oor ander mense se welstand. Sy het ook soos “gewone” mense swaar tye en hartseer beleef. Dit het kleintyd begin met haar ouers se egskeiding, en om daarna van haar ma geskei te word. Ek dink haar begrip vir ander se pyn het haar gehelp om haarself te verstaan, en dit het ons gehelp om haar as ’n méns te sien: the people’s princess. Haar skoonheid het ook bygedra om haar onvergeetlik te maak. Sy was lank en grasieus en het soos ’n ware prinses gelyk.

As jy iemand soos Marie Antoinette moet speel, kan niemand jou vertel hoe sy was nie. Maar met Diana het almal hul eie herinneringe en idees. Wat het jy gedoen om ’n helder prentjie in jou kop te kry?

Omdat sy een van die bekendste vroue ter wêreld was, is daar baie inligting oor haar, soveel foto’s, soveel beeld-materiaal. Ek moes alles bymekaarsit en inneem, veral die Martin Bashir onderhoud. Ek het op my iPhone of iPad daarna gekyk of geluister terwyl ek draf, wanneer ek rondslenter … Soms het ek die klank afgeskakel en net op haar liggaamshouding en gewoontes gefokus. Ek het alles bestudeer: haar stem, hoe haar oë en mond beweeg wanneer sy praat, haar haarstyl, daardie skamerige loer-kyk onder haar hare uit. Ek het ure lank gekyk na haar manier van stap, hoe sy lag, hoe sy wuif. Daar was baie om in te neem. Ek was eintlik heel paniekerig tot skuins voor ons moes begin skiet. Maar op ’n dag het ek besef: Jy het dit! Ek het hard gewerk om die karakter aan te neem. Dit was ’n groot verantwoordelikheid om Diana te speel. Omdat sy so ’n bekende openbare figuur was, het almal gedink hulle ken haar. Baie mense het geglo ek was nie die regte aktrise vir die rol nie: ek was te kort, my neus was nie reg nie, ek was ook nie Engels genoeg na hul sin nie. Ek moes al die dinge uit my kop kry en fokus op wat ek moes doen. Toe ons in die paleis begin skiet, was ek gemaklik.

Hoe kry jy en Liev (Schreiber), wat ook ’n akteur is, dit reg om jul lewe stabiel en gelukkig te hou?

Dis harde werk. Verhoudings is nie net maneskyn en rosegeur nie. Ons is altyd eerlik met mekaar. Ons gesin is vir ons die belangrikste ding, maar ons hou ook baie van ons werk. Ons onderhandel en probeer uitwerk wanneer wie waar kan werk. Ons twee kinders is die fokus van ons lewe en hul geluk is die belangrikste.

Wat dink jy van Liev se nuwe TV-reeks, Ray Donovan?

Ek is mal daaroor en mis nie ’n enkele episode nie (lag). Vandat ek gehoor het waaroor dit gaan, het ek gedink dit gaan briljant wees. Die storie kan soveel verskillende rigtings inslaan. Die akteurs is baie geloofwaardig, hulle lyk soos ’n regte gesin.

Prinses Diana het haar roem vir liefdadigheidswerk gebruik. Waarop wil jy meer fokus en wat het roem jou geleer?

Haar nalatenskap is so sterk omdat sy soveel goed op verskillende gebiede reggekry het. Sy het binne ’n kort tydperk baie aandag op landmyne gevestig – meer as wat ander in jare kon doen. Vroeër, toe niemand nog baie van MIV/vigs geweet het nie, was sy een van die eerstes wat siek mense besoek het. Sy het ons help verstaan, en dit het ons gehelp om haar te verstaan. Sy was passievol oor baie dinge. En bowenal was sy ’n goeie ma. Ek het al vigs-werk vir die VN en die New York Academy of Arts gedoen. Ek het ook liefdadigheidswerk in Afrika en Indië gedoen, maar sedert die kinders se geboorte het ek nie tyd om te reis nie.

Hoe het dit gevoel toe jy die eerste keer die pruik opsit?

Dit was ’n groot oomblik (lag). En die neus! Ek het ’n prostetiese neus gedra. Ons het verskillende goed met die neus probeer. Uiteindelik het my neus anders as hare gelyk, omdat haar neus te groot op my gesig gelyk het. Maar die pruik was die belangrikste – haar haarstyl was ikonies.

Was daar slaggate in die rol?

Die fliek is nie ’n biografie nie. Die storie daaragter is egter belangrik. Ek is so bly dat sy ná haar egskeiding weer regtig verlief geraak het. Hasnat was die groot liefde van haar lewe. Sy het ’n kans gehad om vir haar ’n nuwe identiteit te skep toe sy haar titel ná 16 jaar verloor het. Dit moes moeilik gewees het. Diana het haar lewe begin geniet en dit was belangrik dat dié boodskap in die fliek oorgedra word. Die ongeluk was so tragies, veral omdat geluk uiteindelik na haar kant toe gekom het. Ek wou haar nie net na-aap nie. Ja, ek het die Bashir onderhoud obsessief opgeswot, want ek wou die frasering en maniërismes reg gehad het, maar andersins het ek my instink gevolg.

Diana was ’n mode-ikon, hoe voel jy oor mode en stem jul styl ooreen?

Ek dink sy was net voor haar dood op haar mooiste – die meeste vroue is in hul middel- tot laat dertigs op hul mooiste. Dis wanneer jy regtig weet wie jy is en waarvan jy hou. Jy begin ook meer kanse waag. Toe ek van haar bekende uitrustings, soos die ligblou Versace-rok moes dra, het ek gedink, sjoe, die rok is nogal kort – korter as wat ek verwag het, veral met haar lang bene. Sy het mode as ’n uitdrukking van haar persoonlikheid begin gebruik.

Jy is nie ’n prinses nie, maar het roem al in die pad van jou geluk gekom?

Dis nog ’n rede hoekom ons ons met Diana kan vereenselwig. Haar probleme was maar dieselfde as wat ons almal een of ander tyd ervaar, soos die soeke na liefde. Ek was deur ’n paar verhoudings wat skeefgeloop het en weet hoe hartseer en alleen ’n mens tussenin kan voel. Dis inspirerend dat sy ondanks haar ongelukkige huwelik weer ’n spesiale man ontmoet het. Omdat sy haar ouers se egskeiding moes verwerk, wou sy nie haar seuns daardie pad laat loop nie. Sy het nooit gedink dit sou met haar gebeur nie.

Hoekom dink jy het Diana op Hasnat verlief geraak?

Sy het hom vertrou. Hy is intelligent en hulle het gedeelde belang- stellings gehad. Hasnat het standvastigheid uitgebeeld. Diana het op kamera gebieg dat haar verhouding met James Hewitt net mooi die teenoorgestelde was. Hasnat het haar nooit vir eie gewin misbruik nie. Hy het haar aanvaar nes sy is. Sy het geweet sy liefde is eg. Ek dink sy was ná Charles nuuskierig. Verbeel jou jy het vir so lank binne die beperkinge van die koninklike familie gelewe, en skielik is jy vry. Maar sy sou nooit ’n normale lewe kon lei nie, want mense sou altyd in haar doen en late belang stel.

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

7 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

7 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

7 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.