kategorieë: Reis

Indië: fiets-rikshas, kleurvolle sari’s en heilige koeie

Delhi
Jaipur
Agra
Goa

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die woord “Indië” ontlok twee soorte reaksies by mense: “Wonderlike land, wanneer gaan jy?” of “O nee, dis die laaste plek wat ek ooit wil besoek – hoor dis vreeslik vuil en deurmekaar daar.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Laasgenoemde verbaas my elke keer, want as jy in Afrika bly, is jy alles gewoond – dis nou nie asof ons strate met goud beslaan is nie. In die Oos-Kaap kan jy ‘n Getz verloor in een van die vele dongas en net so ‘n draaitjie deur een van die informele woongebiede bied ‘n klassieke voorbeeld van kraaines- elektriese drade wat oral in die lug hang, oor die pad lê of sommer net halflyf tussen die plakkershutte hang. Om dus Indië te besoek, voel vir ‘n Afrika-boorling vreemd, maar ook bekend.

Delhi

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Dis middel Maart as ons op New Delhi se lughawe land. ‘n Krans “marigolds” word om my en die vriendinne se nekke gehang en as die taxi wegspring hotel toe, begin die groot avontuur. Ja, enige rit hier is gratis vermaak vir ‘n adrenalienjunkie, want jy glip voor ander motors in, druk “auto-rikshas” (soortgelyk aan die tuk-tuks in Thailand) van die pad af en leer vinnig dat ‘n wit streep eintlik nog ‘n baan is.

Ons toer van 8 dae, Delhi-Jaipur-Agra- Delhi, sluit ‘n persoonlike taxi en sy bestuurder in wat jou oral heen neem en heeltyd soos ‘n werfhaan oor ons waghou. Sohan lul Shwami is dan ook een van die onverwagse hoogtepunte van die toer. Hy praat goed Engels en het ‘n wonderlike sin vir humor. Nog ‘n bonus is dat hy die god Ganesh op sy “dashboard” het en dit ons, volgens hom, van sorgvrye veilige rite verseker.

Delhi is in die ou gedeelte en die nuwe gedeelte (New Delhi) verdeel, en ‘n dagtoer deur die unieke stad is die beste inisiasie wat ‘n mens kan kry.

Ons eerste afklimplek is die Jama Masjid-moskee waar elkeen summier in ‘n lelike, geblomde oorjurk gedrapeer word en ‘n paar insteekpantoffels kry. Al wat ek nog nodig gehad het was ‘n kruller in die kuif en sigaret in die hand en ek sou met vlieënde vaandels ant Stienie van “Agter Elke Man” se skoene kon vul. Gelukkig lyk die ander besoekers nie veel beter nie en ons “blend” mooi in – die foto’s van ons besoek is natuurlik ‘n ander storie.

Die hele kompleks is pragtig – een van Mogul koning Shah Jahan se laaste argitektoniese opdragte en met sy 3 hekke, 4 torings en 2 minarette van 40 meter elk kan dit tot 25 000 mense in die binnehof huisves. My hoogtepunt is die stapels Korans wat in gekleurde lap toegedraai lê en ‘n ou Moslem wat vir ure gehurk teen een van die mure sit en bid. Daar is ‘n aparte gedeelte waar verwagtende vroue en vroue met ‘n maandstonde moet aanbid en die lyk vir my heelwat meer knus – mens kan mos maar altyd ‘n wit leuentjie vertel, of hoe?

Korans in gekleurde lap


Ons kry elkeen ‘n persoonlike fiets-riksha (‘n waentjie met ‘n fiets vooraan wat iemand verwoed trap) om die strate van Ou Delhi te verken. Dis rye en rye winkels met versierings, klere, krale, armbande en materiaal in strate so nou dat dit voel of jy jou arms kan uitsteek en alkant aan iets raak. Jy en jou riksa kompeteer met voetgangers, nog ander riksas en waentjies vol vrugte, kerriepoeiers, geregte en sap. Die trapper het hom misgis met ons gesonde eetgewoontes. Hy kyk kort-kort swetend om en wys dan bekommerd ‘n stel bruin tande. Oral om jou wapper die helderkleurige pante van sari’s agterop motorfietse en die kakofonie van toeters sorg vir agtergrondmusiek van ‘n ander aard.

Die middag besoek ons die pragtige Outub Minar wat die begin van die Moslemregeringsjare verteenwoordig. Dit is die eerste Moslem-moskee wat in Indië gebou is. Die imposante toring spits 73 meter in die lug en is van sandsteen en marmer. Binne krul die trappe in ‘n duiselende spiraal – nou gesluit vir besoekers. Die kompleks vertel die verhaal van vervloë tye, Moslemheerskappy en ingewikkelde leefwyses.

Ons maak ook ‘n draai by die Lotus Tempel – ‘n Bahaï geloofstruktuur, maar dis gesluit vir die dag. Volgens die geloof moet daar 9 sirkelvormige kante in hul tempels wees, vandaar die slim ontwerp van ‘n lotusblom wat besig is om oop te gaan.

                                                                                                Die Lotus-tempel

Ons laaste stop vir die dag, is ‘n “cottage industries” winkel waar Indiese ware aan toeriste verkoop word teen belaglike pryse. My vriendin koop die eerste van vele lappe, ek ‘n pashmina en ander vriendin ‘n sari. Delhi het ook sy spatsel groot winkelsentrums, maar hier kyk jy net, want dis almal internasionale ontwerpersname wat jy enige ander plek in die wêreld kan vind.

Sohan leer al op dag drie dat hy altyd sy opteltyd soggens ‘n halfuur vroeër moet gee, want drie vrouens, drie tasse en een haardroër is ‘n lelike ding.

Jaipur

Dit is sowat 6 ure se ry na Jaipur – in Indië reken jy ‘n rit volgens hoe lank jy ry, want daar is kameelperde, donkies, vragmotors, mense, optogte en plaastrekkers op elke pad en almal het die reg om êrens te kom – al ry party ook stroomop. Een van my grootste “treats” is die vragmotors wat van koplig tot agtermodderskerm versier is: geverf met die wildste kleure, gesegdes en wapperende tossels om die spieëls. Party se metaaldeure is met metaalsneewerk uitgesny en in die bestuurskajuit kan jy skaars deur die plastiekblomme en diskoligte sien. Een swierige wa het ‘n ou skoen op die modderskerm – baie belangrik vir goeie geluk. Daar is selfs stalletjies met vragmotorversierings langs die hoofpad en ek dwing Sohan om stil te hou vir foto’s. So moet hy ook stilhou by die wa wat deur ‘n kameel getrek word, ‘n vrou wat op ‘n sandhoop sifwerk doen en by twee verskillende matplekke – die ses ure word dus sewe.

                                                                                                   Die Amber Fort

Net buite Jaipur pryk die Amber Fort op een van die hoogste koppies en aan die onderpunt laai ons ‘n toergids op. Die olifante, geverf soos baldadige blombeddings, dra jou al met ‘n nou paadjie tot bo.

Een binnehof van die fort het die mooiste mosaïekwerk van marmer, ingelegde edelgesteentes en klein spieëltjies. Oral op die hoeke is klein uitkyktorings waar elk van die Moghul se vroue saans verskyn het wanneer dit haar beurt was om hom te vermaak. Daar was ook rye kamers vir houvroue. Die man moes definitief op iets sterker as die gewone tabakrolletjie gewees het om vir soveel kans te sien. Ons gids vertel dat die vroue en meisies altyd voor baie helder ligte moes dans sodat hul rokke kon deurskyn. “Men will be men….”

As ons laatmiddag Jaipur inry, staan gedroogde beesmiskoeke toringhoog teen die pad. Dis die vooraand van die Holi-fees en hierdie koeke word gebrand as simbool van die slegte wat vernietig word en more, die eerste dag van Holi ,is die begin van die lente hier – ‘n nuwe begin en ‘n fees van kleur en geur. Ons stop by een van die stalletjies met die helderste, gegeurde poeierverf en elkeen kies sy sakkie vol verf vir die volgende dag se feestelikheid.

Jaipur se pragtige Windpaleis asook die vele stadspoorte is iets ouwêrelds wat jou na ‘n ander tyd neem. Die breë hoofstraat het ‘n laning bome in die middel en langs die straat word van hoenders tot kamme verkoop. Om een van die sirkels pyl ‘n motorfiets reg op my kant van die motor af en terwyl ek gereedmaak vir die slag, swenk ons bestuurder swierig uit en sorg dat ‘n ander motor onverwags tot stilstand gedwing word – nie een van die bestuurders knip ‘n oog nie en almal ry voort asof niks gebeur het nie.

Op die eerste dag van Holi trek almal tradisioneel spierwit aan. Ons drywer en sy vriend stap saam met ons deur die strate. Jy word bestook met gekleurde poeierverf en skote water uit speelgoedwatergewere en al wat ‘n man is het vandag toestemming om jou gelukkige Holi toe te wens met ‘n druk en ‘n soen. Jy leer sommer gou om ‘n wye draai te loop om die vuil ou omies en hul nog vuiler planne. By die poloklub word ‘n spesiale toeristeprogram aangebied met toutrek, olifant-polo en mense wat aangetrek is soos die gode Shiva, Hanuman en Ganesh. Teen laatmiddag steek net ons oë tussen die verfblertse uit, maar dit keer ons geensins om by ‘n mathandelaar langs te gaan en meer as ‘n uur lank te redekawel oor pryse nie. As jy later probeer om dit alles af te was, tref die werklikheid jou in die spieël. Poeierverf, water en blonde hare werk glad nie saam nie. Weke daarna was ek nog blertse groen uit my kuif en die res van die hare het ‘n helder pienk skynsel.

Agra

Die landskap tussen Jaipur en Agra is half-woestynagtig , maar besaai met mosterdvelde. Die mosterd is aangeplant soos koring en staan omtrent dieselfde hoogte. Sohan vertel as jy ‘n jongman is, is dit die plek waar jy jou geliefde skelm ontmoet! Hier is die gesegde seker “mosterd voor die maal…”

Sohan draai van die pad af na ‘n paar huise onder ‘n brug. Hier woon kinderprostitute en as hul die motor sien, stroom hulle na die motor – die meeste is skaars 16 jaar. Die hartseerste is ‘n klein seuntjie van 10 of jonger wat ook sy liggaam daar verkoop terwyl talle kinderma’s met baba’s op die heup loop. Een van die jong meisietjies vra vir my sonbril, maar as ek vir haar ‘n pakkie bindi’s aanbied, klap sy die fyn handjies vrolik. Sohan vertel hierdie groepe prostitute skuif elke maand na die volgende “werkplek” verder af met die hoofpad – ‘n soort van sirkulasieprogram. Die meeste van hierdie kinders kom van Kolkatta, een van die armste gebiede in die land. Hul inkomste hou hele families elders aan die lewe.

Agra is ‘n hoogtepunt waarna ons almal uitsien as gevolg van die Taj Mahal. Maar eers besoek ons Fatepur Sikri. Dit is ‘n blitstoer en al wat ek onthou is dat hier ook ‘n Moghul met vier vroue van verskillende gelowe gewoon het. Elkeen het haar eie kombuis gehad waar haar en haar gevolg se kos voorberei is volgens haar geloof se wette. Een gebou, ‘n tipe raadsaal, het ‘n uiters ongewone boustyl waar die owerstes op die boonste vlak op houtbalke plaasgeneem het vir vergaderings. Dit gee natuurlik nuwe betekenis aan die gesegde “hoog en droog”.

Laatmiddag nader ons die Taj Mahal. Dis ‘n vakansiedag en die mense ryg soos stringe krale deur die groot poort. Eers as jy in die poort self staan, sien jy die perfekte simmetrie van die Taj Mal voor jou met sy pragtige tuine, identiese geboue alkant en die lang, dun dam voor die gebou waarin die ode aan ewige liefde reflekteer. Niks kan jou voorberei op die onvergeetlike gesig van prag, simmetrie en grootsheid nie. Die Moghul Sha Jahan het hierdie kompleks vir sy derde en mees geliefde vrou gebou na haar dood. die gestoei om die graf self te sien is ‘n mors van tyd, want eintlik is dit onder die grond begrawe en ‘n vals graf bo-op gebou in die Taj Mahal. Almal sweet en stoom om rondom die marmertraliewerk te stap en sien net mooi niks. Tog is die inlegwerk in die marmer ongelooflik mooi en die gids vertel dat die kompleks elke Vrydag gesluit is sodat die juweliers van die omgewing gratis restourasiewerk kan kom doen waar edelgesteentes met die tyd uit die marmer geval het.

Ek en my twee vriendinne het in Jaipur vir ons sari’s gekoop en drapeer dit net daar in die beroemde tuin om ‘n foto te laat neem met die Taj Mahal op die agtergrond. Ons staan ook geduldig saam met die menigtes in die ry vir ‘n beurt op Prinses Diana se bankie en verneem dat dit Shah Jahan se geliefde bankie was waarop hy elke dag na sy pragtige handewerk sit en kyk het. Ongelukkig het hy so obsessief geraak dat sy seun hom moes laat opsluit voordat hy die volk se geld verder gebruik het om vir homself ‘n soortgelyke mausoleum te bou.

Die aand neem Sohan ons uit vir ete en ons trek al drie splinternuwe hemde aan wat in Jaipur in twee uur se tyd vir ons gemaak en afgelewer is by die hotel. Om liries te raak oor Indië se kos, speserye en geure klink soos ‘n cliché. Die eenvoudige naanbrood met komynsaad en ghie smelt in jou mond en elke gereg se geure ontplof op jou tong.

Die laaste dag in Agra is my vriendin Wilma se verjaardag, en vroegoggend bring ons drywer vir haar ‘n ruiker hotel toe – met sy eie geld gekoop. Sy motor is vandag met stringe rissies en lemmetjies versier en voor in die motor, om Ganesh se nek, hang ‘n krans van roosblare – net om weer seker te maak alles gaan goed met ons reis. Ons is op pad terug New Delhi toe vir ‘n vlug na Goa, maar is hartseer om ons ondervindinge in die Goue Driehoek agter te laat.

Goa

Goa lê aan die weskus, omtrent twee uur se vlieg van New Delhi. Dit het ‘n tropiese klimaat en plantegroei met ‘n sterk Portugese invloed op die boustyle en geregte wat bedien word.

Ons hotel is ongeveer ‘n uur noord van Goa se lughawe en as jy met die kus langs ry, groet sjokoladebruin kinders jou al hardlopend langs die motor. Ook hier staan villas, bouvalle en opslaanhutte styf teen mekaar. Niemand is te goed om jou buurman te wees nie en elkeen leef sy lewe voluit op straat – vir almal om te sien. Die haarkapper se spieël staan skuins teen ‘n boomstam en ‘n kliënt is toe onder die skeerskuim vir ‘n opkikker en haarsny. ‘n Entjie verder af in die pad is ‘n ou man besig om iemand se ore skoon te maak met ‘n dubbelgevoude draad, en langsaan wei een van die heilige koeie lustig aan ‘n plastieksak.

Ons hotel, Sonesta Inn, is in die dorpie Candolim en het ‘n koloniale boustyl. Dis weggesteek in ‘n nou paadjie sowat 200 meter van die strand. Langs die skoonheidsalon is ‘n piepklein Katolieke kerkie met ‘n baie groot kruis op die muur. Oorkant is daar ‘n lieflike opelugrestaurantjie met poeierblou tafels en die beste kalamari wat ek ooit geproe het – gestop met neute en garnale. Ons eerste aand begin egter met waterige skemerkelkies by een van die vele grasdakstrandrestaurante op die strand en as die son sak brand die beeld van drie mans wat met opgerolde pype in die water staan in my geheue vas.

Elke dag verken ons die area met ‘n taxibestuurder wat ons self kies (tot groot konsternasie, want jy is veronderstel om die eerste in die ry te gebruik). As ek terugkyk op my foto’s sien ek 10 Hinduvroue op ‘n uitstappie by die Donna Paulo Jetty, waar die Mandovi en Zuari-riviere bymekaar vloei, ‘n antieke kassie by ‘n opelugwinkeltjie êrens in die middel van nêrens en die agterkant van ‘n taxi waarop staan “God is good”. Ons besoek ook Die Basilika van Bon Jesus wat die liggaam van Xavier St Francis huisves. Sy liggaam het sonder enige logiese verklaring nooit heeltemal gedisintegreer na sy dood nie, al was dit op twee verskillende plekke begrawe. Die mense beskou hom as ‘n heilige. Xavier Francis was ‘n Portugese priester wat hier kom siele red het, kort van gestalte, maar verewig in die harte van Goa

In die dorpies spandeer ons dae om veelkleurige geboue af te neem en snuisterye te koop, en ek ontdek die allermooiste aandhandsakkies en “bling” sandale. Te gou is ons tyd in Goa verby, en vir oulaas lê ons op die strandstoele terwyl ‘n jong meisietjie ons voete masseer en vir elkeen ‘n enkelkettinkie omhang. Te gou is die soel aande net spookasem, en die oggendontbyte in die tuin ‘n vae gedagte gegeur met frangipanis.

Indië is nie vir sissies nie. Indië is vir mense met ‘n passie vir die lewe en liefde vir die ongewone wat nie omgee om geskud te word uit hul alledaagse bestaan van voorspelbare werksure, McDonalds en die kammawêreld van groot winkelsentrums nie. Gaan eenmaal in jou lewe en verryk jou sintuie, jou uitkyk op die lewe en skud die geykte denke van ‘n Westerling af – al is dit ook net vir ‘n paar dae. Toe, wees dapper!

Deel
Gepubliseer deur
Anelle Tewson

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 weeks Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.