kategorieë: ReisOntspanning

Valley of the Rainbow – akkommodasie vir die vredigste naweek-wegbreek

Valley of the Rainbow – akkommodasie vir die vredigste naweek-wegbreek deur Salomé Delport. Foto’s deur Salomé Delport en verskaf.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Valley of the Rainbow – akkommodasie vir die vredigste naweek-wegbreek

Is daar regtig êrens ’n volmaakte vakansieplek? Iewers naby aan Johannesburg/Pretoria maar vér van die stad en al sy gedruis? Êrens waar Moeder Natuur jou koester en jou tog ook uitdaag om te stap. ’n Plek waar jy kan speel en kuier en laat slaap en jou kan verlustig in groenigheid selfs in die Hoëveldse winter? ’n Ruimte waar jou psige ’n diep-vredige sug kan slaak en wegsink in salige oorgawe aan tot-stilstand kom …

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Ek het onlangs Valley of the Rainbow ontdek. En ek moet sê as vrede jou missie is, kry dit tien uit tien. Ek hoor ’n taamlik bekende persoon en sy familie kuier juis daarom gereeld hier.

Net om jou ’n idee te gee van hoe afgesonderd dit is: dit lê tussen twee dorpies waarvan ek nog nooit gehoor het nie: Tonteldoos en Blinkwater. En tog is dit nie ver van Johannesburg nie – twee uur van Oliver Tambo-lughawe, dalk drie uur op ’n besige Vrydagmiddag, en omtrent halfpad Krugerwildtuin toe. Die drie groot dorpe naby Valley of the Rainbow is Dullstroom (Kwêla-finalis vir Dorp van die Jaar), asook Belfast en Middelburg.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Akkommodasie en forel

Sou ons die BBP raakloop? wonder ek vooraf. Waar sal ’n beroemde wil oornag en vakansie hou as hy/sy ‘n dag of wat wil ontkom aan die las van roem? Waar sou ék wou bly as ek beroemd was en ’n bietjie wou wegkruip?

By Valley of the Rainbow is daar vyf opsies, met ’n regte antieke meul as die besonderste slaapplek. Waar anders gaan jy ooit in jou lewe die geleentheid kry om in ’n meul te slaap, langs ’n regte meulwiel met al sy die ratjies en siwwe?

Die meul is outentiek gerestoureer, en selfs die magneetkassie is behou. (Ek het ook moes wonder waarom ’n meul so iets sou hê? Die verklaring is baie logies, verduidelik Jamie van Zyl, die eienaar, wat jy soms hier sal raakloop. Draad en spykers is deel van elke boer se bedrywighede. Soms land dit tussen die koringkorrels en mieliepitte. Daarom word elke sak se inhoud voor dit gemaal word deur die magneetkassie gestoot om sulke stukkies metaal uit te trek sodat dit nie die meulratte beskadig nie.)

Die Witpoort Meul is in die 1890’s kort voor die Boereoorlog gebou. Die meul was hartbloed vir die Boere in die oorlog, en veral vir generaal Ben Viljoen (daardie een oor wie Sonja Loots se boek, Sirkusboere, handel). Dit was so goed weggesteek in hierdie klein valleitjie dat net die Boeremagte geweet waar dit is, en so daarop kon staatmaak vir hul daaglikse brood en pap. Toe was die vallei ’n digbebosde woud, en die Boere het menigmaal die Britte ontduik deur hierlangs weg te glip.

Uiteindelik het die Britte Witpoort ontdek, en  summier die meul laat opblaas. Gelukkig het hulle net een deel daarvan vernietig voor hulle moes padgee. Dit is herstel en het jare bly dien.

Die meul het tot so onlangs as 1996 nog gewerk. Vir net langer as ‘n eeu het die hele omgewing elke jaar net ná oestyd hul sak of tien mielies en koring op waentjies gelaai en kom maal. Met piektye het tot honderd donkiekarretjies per dag die grondpad na die meul toe aangepak.

Die meul werk nie nou meer nie. Die kommersieel groot Blinkwater Meul is intussen opgerig, waar plaaslike groot- en kleinboere kom maal. Maar jy sal nog Witpoort se laaste meulenaar op Valley of the Rainbow raakloop.

Groot Koos Sonakhosa Mahlangu, nou ook al 87, se pa was die eerste meulenaar, en Koos het as seuntjie sy dae om die meul en rivier omgespeel. Dit was net logies dat hy by sy pa sou oorneem. Hy gesels graag – en as hy blinkoog oor die meul beduie, is dit asof jy hom, wit van die meulstof, kan voorstel, besig om groot sakke koring en mielies oor sy sterk, breë rug aan te dra, met sy kennershand te voel of die pitte droog genoeg is, en uiteindelik die fyn wit meel aan die regmatige eienaar daarvan te oorhandig in ruil vir sy loon van R10 per sak vir vars gemaalde kos vir ’n seisoen, van jou eie land af.

Sy raad as jy wil weet hoe hy op 87 nog so sterk en helder is? “Jy moet besig bly. Daai spiere van jou moet elke dag werk! Jou kop moet elke dag dink! Jou mond moet elke dag mooi dinge sê vir jou mense!”

In die gerestoureerde meul dien die antieke wiel as die perfekte agtergrond vir die industriële styl meubels. Die Millroom en The Mill kyk uit op die boonste van vier foreldamme, omring deur sagte groen kweek wat jou nooi om jou te kom neervly. Saans, teen skemer, sien jy kort-kort ’n forel uitspring op soek na ‘n vliegie of twee. Water kabbel verby. Die windjie ruis soms liggies deur die populierbos neffens jou. Dikwels is die water spieëlglad. Dan kaats wolke en die maan en sterre daarin. Dit ís prentjiemooi.

Al het jy ’n minikombuis, is die Manor House naby sodat jy kan aansit vir ontbyt en ’n vyfgangaandete, wat altyd forel insluit.

Maar sou ek hier wou bly, as ek as beroemde wou wegkom van alles en almal? Vir die beroemdes, lyk dit vir my, is dit té naby aan die hoofgastehuis. Of skat ek heeltemal verkeerd? Ek sou sê dit is die ideale akkommodasie vir paartjies en mense wat droom daarvan om heeldag onbeperk te vlieghengel vir forel.

Die Manor House is natuurlik ook ’n opsie vir sjarmante “countryside” of wildernis-akkommodasie. Op die boonste verdieping is daar vier private slaapkamers, heerlik luuks ingerig met van wingback-stoele tot Persiese tapytjies, elkeen met sy badkamer. Ontbyt en ’n vyfgangaandete is ingesluit in jou akkommodasie – ’n moeitevrye vakansie of naweek, met hope tyd vir stap, vlieghengel, slaap of rondhang voor die groot oop kaggel met sy bibliotekie van boeke oor Afrika, wat van forelvangkunsies tot Karen Blixen van Out of Africa-faam se persoonlike dagboek insluit. Jy het niks meer as stapskoene en ’n tandeborsel nodig nie. Was ek beroemd, sou dit uiters aanloklik gewees het, veral in die winter!

Maar as ek sélf beroemd was en regtig wou wegkom, het ek beslis na die drie ander opsies vir akkommodasie dieper in die wildernis in gekyk: die drie luukse- tente op die onderpunt van die foreldamme; die luukse houthutte heel diepste in die vallei in, verby die Country House-plaashuis, self ook ’n opsie.

Watter akkommodasie om te kies?

Die luukse Tented Chalets, diep onder die skaduwee van eeue oue witstinkhoute, kyk uit oor die foreldamme. Jy is so na aan die water dat dit voel asof jy dalk-dalk van die stoep af jou lyn tot in die water sou kon gooi.

As jy die hele kamp uithuur vir jou familie, het jy heerlik private kampeer-akkommodasie wat pragtig geleë is, met jou eie dek waar jy heeldag kan braai en agteroor sit tussen die boomtakke, soos ‘n voëltjie in jou eie nes.

Moet jou nie bekommer dat jou naweekkamp in die wildernis primitief sal wees nie. Dit is ‘glamping‘ of glanskamp op sy beste. Elke tent het sy eie volledige buitekombuis en luukse binnebadkamer. Ek dink my in soel someraande, ná ’n Hoëveldse donderstorm die lug gesuiwer het. Lieflik!

Gepraat van donderstorms: die ruim Country House met sy vyf slaapkamers, elkeen met sy eie badkamer, en breë rooistoepe reg rondom beskerm jou teen die elemente soos net ’n huis kan. Hiér is genoeg akkommodasie vir ‘n BBP se hele familie of groep vriende. Die grasperke gee onbeperkte speelplek vir ‘n span kinders en is ruim genoeg vir pa’s en seuns wat wil bal skop en skrum. Boonop is jy naby aan ‘n dam in die rivier as jy hou van vliegvisvang. Dit is ook nie te ver van die rivierpoel af nie waar jy kan afkoel in die somer. Ek dink dié een sou my keuse wees vir ’n naweekplek, as ek bietjie roem gehad het waarvan ek wou ontsnap vir ’n langnaweek of wat.

Maar dit is nou as ek ’n gesin het. Vir ’n romantiese naweekwegbreek – net jy en jou Suikerbos alleen – bied die luukse Nature Cabins die allerprivaatste akkommodasie, met ’n spierwit pootjiesbad wat lang romantiese aande beloof …

Jy het ’n minikombuis en ’n stoep met ’n Weber-braai én uitsig. Hier word jou pas bepaal deur die son se gang en die riviertjie se kabbelende kronkelloop oor spoelklip en plaat. Vrede! Vrede in oormaat.

Het ek toe daardie BBP raakgeloop? Nee. Hy het mý ook nie raakgeloop nie. Ons was in elke geval te besig. Hy vir seker ook …

Lekker doendinge by Valley of the Rainbow

Valley of the Rainbow laat my aan die ideale venue vir ’n klein, intieme country-troue dink – nie kommersieel nie maar een waar familie en vriende saamkuier en die nuwe band vier. Daar is slaapplek vir veertig gaste, groot stoepe, lieflike grasperke en die mooiste agtergrond vir troufoto’s. Julle kan die hele naweek die plek uitboek en behoorlik makietie hou. Doen jou eie beplanning, of laat ’n beplanner dit vir jou reël.

Van die lekkerste aktiwiteite vir gaste is:

Vang ’n forel of twee

Huur ’n stok, kry vliegaas en kyk of jy ’n gelukkie tref. Daar word elke jaar nuwe forelle in die foreldamme geplaas. Die vang-en-vrylaat beginsel geld maar jy kan jou forel op jou selfoon vasvang en spog met jou vangs op Valley of The Rainbow se Facebook- blad.

Stap

Jy kan om die damme op hul groen kweek stap, en afdwaal in die wildspaadjies tussen die populiere, al langs die kronkelende riviertjie. Of pak die medium-gradering staproete op in die kloof aan. Beplan vir twee, drie uur. Dit is nie té moeilik nie maar vir een deel gebruik jy ’n ketting of twee. Moenie in die somer in die middag stap nie. ’n Donderstorm kan baie onverwags oppak, en julle in die oop veld vang.

Gaan lees die grafstene

Net verby die derde dam is daar ’n klein familiebegraafplaas. Die eerste Willem Jacobus Volschenk wat die meul gebou het, lê hier begraaf – ook sy seun, wat in 1946 ontydig oorlede is. Die rede vir sy heengaan? Hy is met ’n graaf oor die kop geslaan, oor waterbeurte. Water was nog altyd ’n sensitiewe saak …

Neem foto’s

Die ou meul is ’n fotograaf se droom. Sy knalrooi sinkplaatdak bied in watter seisoen jy ook al is skerp weerkaatsings, sterk kontraste en helder aksente teenoor die uitgestrekte hemelruim, die somergroen populiere, teen hul herfskleure en kaal wintertakke. Die rivier met sy klippe, die foreldamme met van spieëlgladde weerkaatsings tot ritmiese rimpelpatrone en die klipvore met hul watervalletjies laat ‘n mens se vingers jeuk van lus om hierdie lieflike foto-materiaal te ontgin. Dit is boonop ’n besondere foto-agtergrond vir van troufoto’s tot kinders wat speel.

(Wenk: Jamie is ’n ervare fotograaf wat op aanvraag fotokursusse aanbied. As hy in die rondte is, vra gerus ’n wenk of twee. Hy is vrygewig met sy kundigheid.)

Voer ’n perd

(Maar moenie hulle ry nie.) Vra ’n wortel of twee by Ontvangs en stap na die perdekamp. Daar is drie, vier perde, waarvan een heeltemal spierwit is. Maar wees juis vir daardie witte versigtig! Hy skop. Skynbaar het ek te min wortel vir hom (of is dit ‘n haar?) gehad, waarop hy/sy omdraai en my ’n taamlike skop toedien. So ’n merrie!

Ry ’n 4×4-roete

Jy het ’n paar opsies: jy kan van die roetes in die omgewing ry – vra by Ontvangs. Of jy kan die 20 km na Dullstroom aanpak. Vir altwee moet jy ’n behoorlike 4×4 hê. ‘n Gewone motor sal nie die kortpad na Dullstroom maak nie.

Gaan kuier op Tonteldoos

Dit is net 10 kilo’s ver, en ook grondpad wat jy liefs met ’n 4×4 aanpak. Gaan drink ’n dop (net een vir die bestuurder – daar is nie ubers nie!) en proe en koop kaas.

Eet pannekoek op Dullstroom … en winkelsnuffel

Vat die teerpad oor Belfast na Dullstroom. Jy sal vir seker iets met ’n storie in die antiekware- en goedjieswinkels raakloop. In Trams Antiques hoor ons dat ‘n klant sowaar haar oorspronklike trourok daar opgespoor het … 34 jaar ná haar troue!

Vir ’n hol kol kan ek Harrie’s Pancakes aanbeveel. Die pannekoeke is aan die stewige kant, en oorgenoeg vir ’n ligte ete, selfs vir die manne. Ons het een met forel en maaskaas en een met heeltemal dekadente groenvy-konfyt, pekanneute en roomys bestel en gedeel … en gesmul. Die appelpannekoek het net so lekker gelyk.

Swem

Ons het in Junie in Valley of the Rainbow gekuier, wanneer swem nie op jou doenlysie is nie. Maar daar is ’n lieflike rivierpoel vir dié wat in die somer wil afkoel.

Kyk rugby of tennis of krieket of …

Sal jy die naweek se rugby of tennis kan kyk? Beslis – en met geselskap. Die Manor House het ’n grootskerm TV en kuierkroeg.

Wenke vir jou vakansie by Valley of the Rainbow

  • Pak stapskoene, sonskerm en ’n hoed in – en iets vir warm vir die aande.
  • Kyk na die weervoorspelling voor jy ry, al is die klimaat van Valley of the Rainbow meer gematig as aan die Rand omdat dit beskut en ook nader aan Nelspruit is.
  • Jy gaan ’n paar kilo’s grondpad ry. Die grondpad oor Belfast/Blinkwater/Stoffberg is goed genoeg dat jy dit met ’n gewone motor kan aanpak.
  • Al is die pad nie te sleg nie beplan om vroeg genoeg te vertrek dat jy voor donker aankom, veral as ’n middagdonderstorm voorspel word. Op ’n besige Vrydagmiddag sal die rit vanaf Johannesburg se lughawe jou sowat twee en ’n half uur neem.
  • Die geheim van grondpad ry, is dat stadiger baie beter werk. So kom jy maklik en sonder skade deur die paar slaggate.
  • As jy stopplek langs die pad soek, is Alzu Petroport net voor Belfast absoluut ’n stop werd. Eintlik is dit ’n móét-stop, of jy petrol nodig het of nie. Nêrens anders kan jy jou motor vol maak terwyl jy gou twee van die groot vyf bekyk nie. Ons tel 12 yslike renosters, waarvan een ‘n kalfie is. ‘n Trop buffels wei langs die dam, saam met verskeie boksoorte. Dit is ook gerieflik vir ’n vinnige langs-die-pad ete by enige van die vyf kettingroep-eetplekke daar.

Laaste minuut voorrade

Stoffberg-Blinkwater se sakekern is ’n belewenis. Die Vasco Da Gama Fishery & Shop verkoop yslike brode, mieliemeel gemaal by die groot Blinkwater Meule en enige laaste-minuut item. Hier is ook ‘n kitsbank, drankwinkel en petrolpomp.

Probeer gerus die slaghuis. Die plek is netjies, die biltong is héérlik en die pryse van vleis hier is regtig billik.

Kontak Valley of the Rainbow

Besoek: www.valleyoftherainbow.co.za Jy kan ook deur Lekkerslaap.co.za of Booking.com bespreek.

Wenk Hou dop vir goeie buiteseisoen aanbiedings, wat beskikbaar is as jy direk by Valley of the Rainbow bespreek op 013 272 7231. Of vra dat hulle jou inteken op hul nuusbrief sodat jy onmiddellik per e-pos hoor as daar weer afslag is.

Deel
Gepubliseer deur
Salome Delport

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

4 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

4 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.