kategorieë: Ons menseBekendes

Inspirerende kosvroue

Mariëtte Crafford

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Hoekom inspireer sy ons?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Met haar kookboeke en rubriek in rooi rose, Om die tafel, laat Mariëtte elke woord- en kosliefhebber se tone krul van lekkerkry. Sy het die wonderlike gawe om dít wat ons daagliks ervaar wanneer ons saamkuier en eet in taal te verheerlik. Kortom, sy sit mense se passie vir kos in woorde om, en met haar stories uit haar kinderdae en die daaglikse lewe maak sy ons opnuut bewus van ons kosherkoms.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Wie of wat inspireer haar?

So skryf Mariëtte: “Ons ma se kos het ons van moedersmelk gespeen. Sy maak eerlike kos. Sy sing terwyl sy kook. Sy skryf liefdesbriewe met haar kos. Sy weet wat elkeen van ons se allergunstelingkos is en verwen almal om haar tafel. Sy kook vir haar stoksielalleen met net soveel oorgawe en plesier as waarmee sy ’n tafel vol mense behaag. Sy sien opgewonde uit daarna om nuwe geregte te berei en te proe en sy kook ou bekendes met ’n betroubare hand wat elke keer ’n geliefde gereg presies oplewer soos jy daarvoor lief geword het. Sy sien uit na etenstye. Sy sit aan tafel en bid dankie en dek op ’n gewone weeksdag met haar mooiste lapgoed en breekgoed.

“Toe ek ’n kind was, het die koue ketting nie gestrek tot waar ons tussen die rivier en die rooiduin grootgeword het nie. Daar was ook nie elektrisiteit nie. Soos dit vandag nagestreef word, het ons ma net seisoenaal gekook. G’n geelsout en pienk mayonnaise en bruin souspoeier in haar kos nie. In al haar kos is liefde die hoofbestanddeel. Daarmee laat kom sy al haar ander bestanddele tot hul reg: gestowe, gebraai of gebak. Met bestanddele wat gewissel het van vars uit die akker of van die boom af tot winddroog tot sondroog het sy die seisoene se gawes verheerlik en kos gemaak waarna ons elke dag hunker. Toe ons klein was, kon ons nie wag om van die skool by die huis te kom vir ete nie. Noudat ons groot is, vat ons die langpad vir haar huiskos en feeskos en trooskos. En in ons eie huise sing ons wanneer ons kosmaak – danksy ons ma.”

Jenny Morris

Waarom inspireer sy ons?

Jenny se geesdrif vir veral vars produkte is aansteeklik. Of jy nou haar boek, Rude Food, Good Food, lees, een van haar wêreldkostoere mee­maak, of van haar kookklasse by haar kookskool bywoon, haar entoe­siasme sal jou inspireer.

Wie of wat inspireer haar?

Reis is Jenny se passie, en sy is pas terug ná ’n kostoer in China. Dis hier waar haar filosofie oor kos maak ’n naam gekry het: “Kung Fu”, wat eintlik geduld en oefening beteken. Dit is hierdie filosofie, en haar liefde vir vars produkte, wat Jenny aan haar kosleerlinge oordra.

Woorde van wysheid
“Word geïnspireer deur mense maar moet hulle nie naboots nie. ’n Mens kan wegbreek van die norm en avontuurliker raak met kos. Daar is geen ware reëls nie, eksperimenteer en behou dit wat vir jou werk.”

Vir meer inligting besoek www.gigglinggourmet.com

Ina Paarman

Hoekom inspireer sy ons?

Ina se staatmakerresepte en haar boeke soos Kook met Ina Paarman, het menige aspirantkok tot nuwe hoogtes aangespoor. Haar reeks gehalteprodukte dien as verdere inspirasie, én maak die lewe soveel makliker. Dieselfde dryfkrag wat agter die beproefde resepte in haar boeke lê, lê ook agter die Ina Paarman-produkte. Om mense in die kookkuns op te lei, lê haar na aan die hart (sy was nie verniet ’n onderwyseres nie). Dis vir haar belangrik dat elke resep moet werk en dat dit só oorgedra word dat dit duidelik verstaan kan word. Dit neem haar letterlik ure voor sy werklik met ’n resep tevrede is.

Wie of wat inspireer haar?

Ina se passie om mense te leer het haar aanvanklik geïnspireer om haar gewilde kookklasse te begin. Haar familie bly haar grootste inspirasie, en dit was haar ouma se regte boerekos wat ’n liefde vir kook by haar ge­kweek het. Haar grootouers het ’n melkplaas gehad en dit het Ina bewus gemaak van net die beste vars produkte – elke dag.

Kyk by www.paarman.co.za vir meer inligting.

Letitia Prinsloo

Hoekom inspireer sy ons?

Letitia is die hoof van The Instiute of Culinary Arts (ICA) op Stellenbosch, en dra jaarliks haar passie vir kookkuns aan honderde studente oor. Haar hoë standaarde, perfeksionisme en eindelose energie is legendaries. Letitia glo die grootste gawe is om sonder voorbehoud van jouself te gee, en die grootste geskenk aan jouself is om vir ewig ’n student te bly. Kookkuns is vir haar ’n kombinasie van wetenskap en kuns. Die wetenskap is nodig om bestanddele binne bepaalde riglyne reg te kombineer, en die kuns lê in die speelse kreatiwiteit, altyd volgens die individu se styl, passie en insig. Haar entoesiasme oor elke nuwe projek inspireer almal om haar. Dit bly vir haar een van die grootste plesiere om saam met haar familie om ’n tafel te kuier.

Wie het haar geïnspireer?

Emmarentia Lochner was Letitia se mentor en het haar geïnspireer om verder te studeer en haar as professionele sjef te bekwaam. Emmarentia het haar lewe lank – tot op 90 – ’n student gebly, en omdat sy Letitia op soveel vlakke gemotiveer het, is die biblioteek by die ICA dan ook na haar vernoem. By Letitia se kookskool lê die wortels stewig in die klassieke kookuns en die wetenskap, en dis ’n beginsel wat daagliks uitgeleef word.

Kyk by www.icachef.co.za vir meer inligting.

Lannice Snyman

Hoekom inspireer sy ons?

Lannice het behalwe al haar tydskrif- en koerantartikels, 14 boeke gepubliseer. Met elk van hierdie boeke het sy Suid-Afrikaanse restaurante, produkte en kokke op die voorgrond geplaas. Dit het haar vyf jaar geneem om die bekende Rainbow Cuisine saam te stel, en in die pro­ses is sy kruis en dwars deur die land. Haar ondersteuning van plaaslike sjefs het van haar ’n ikon in die koswêreld gemaak. Sy publiseer steeds plaas­like sjefs se boeke, en werk tans aan haar eie boek wat binnekort op die rakke sal wees.

Wie of wat inspireer haar?

Lannice se kindertydherinneringe aan wonderlike tye om die etenstafel was die begin van haar passie vir kos. Wat haar die meeste inspireer, is die gemeensaamheid van ’n gedeelde ete, of dit nou ’n vinnige happie, ’n braai langs ’n kampvuur of ’n elegante banket is. Deur op dié gemoedelike manier bymekaar te kom, moet, volgens Lannice, een van die intiemste vorme van kommunikasie wees. Sy glo vas dat dit haar en elke kosjoernalis se taak en verantwoordelikheid is om Suid-Afrikaanse kos te bestudeer en vir die nageslag te bewaar.

Vir meer inligting besoek www.lannicesnyman.com

Topsi Venter

Hoekom inspireer sy ons?

Topsi se passie vir ons land se kos inspireer almal wat haar vandag, op 73, nog voor die kospotte sien staan. Daar is al na haar as die grande dame van Suid-Afrikaanse kookkuns verwys, en soos Jacqueline Leuvennink in rooi rose geskryf het: “Topsi se kos is soos sy: onverskrokke, veelkantig en nooit, ooit vervelig nie.”

Wie of wat inspireer haar?

Topsi onthou haar kinderdae as ’n bevoorregte tyd, en haar ma wat van elke maaltyd ’n fees gemaak het, bly haar vandag nog by. Sy sê op eie bodem het mense soos Sannie Smit, Marty Klinzman en Annette Kesler haar deur die jare in haar kookkuns gelei, en verder, oor die water, was dit Elizabeth David en Robert Carrier. Toe kom Renate Coetzee met C. Louis Leipoldt onder die arm, en toe voel sy nóú ervaar sy waarlik eers ons kos. Die eerste restaurant in Kaapstad (Hatfield House) het sy met Alice Walters van Chez Panisse in haar voorskootsak begin. Vandag beïnvloed kosskrywers soos Maggie Beer en Joan Campbell van Australië haar, maar sy gaan elke keer terug na haar groot liefde: Louis Leipoldt. En dít is waar sy wil bly.

Melissa van Hoogstraten

Melissa is die eienaar en stigter van die bekende Melissa’s-koswinkels in die Kaap. Van haar produkte is ook beskikbaar in uitgesoekte supermarkte.

Hoekom inspireer sy ons?

’n Besoek aan ’n Melissa’s-winkel is ’n begeesterende ervaring. Hier skiet jy nie in vir brood en melk nie; jy stap tydsaam deur die volgepakte rakke en verlustig jou in al die wonderlike produkte. Hiér gaan haal jy ook inspirasie voor die groot kook vir ’n spesiale geleentheid. Melissa’s se reeks klaarbereide gehalteprodukte maak dit makliker om te onthaal, maar voorsien ook in die behoeftes van die avontuurlustige kok met produkte soos goeie balsemiekasyn, Maldon-sout, vars vye en bessies.

Wie of wat inspireer haar?

Melissa put inspirasie uit die lewe en haar onwrikbare geloof om net te doen waarvan sy hou. Die daaglikse rituele, soos om blomme te pluk of in die groentetuin te werk, sorg vir eindelose inspirasie wat sy in haar winkels en produkte terugploeg. “My winkels ís ek. Dit is my passie vir die goedheid van ouds wat die voorkoms en reeks produkte in my winkels inspireer.”

Kyk by www.melissas.co.za vir meer inligting.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.