Episode tien van Op my eish! het met groot afwagting afgeskop toe Minette van haar oornagafspraak terugkeer. Die ander dames was gretig om alles te hoor. Sy het hulle vertel van die spesiale oomblikke wat hulle gedeel het, maar nog voordat die dag behoorlik kon begin, het Ruan besef hy moet twee moeilike besluite neem.
Terwyl die vroue gereed gemaak het vir die dag, het Ruan vir Hermi eenkant toe geroep en haar meegedeel dat hy haar huis toe stuur. Kort daarna het hy vir Jenine vir ’n privaat gesprek gevra en haar ook laat weet sy sal ongelukkig moet groet. Ruan het die nuus met die oorblywende vier dames gedeel voordat hulle na die volgende aktiwiteit vertrek het, deeglik bewus daarvan dat dié twee afskeide die groep se dinamika onmiddellik gaan verander. Saartjie was steeds vir werk weg.
Die dag se uitdaging was ’n speelse weergawe van 30 Seconds, met al die vrae wat oor Ruan gehandel het. As ’n dame ’n vraag reg beantwoord het, kon sy een plek vorentoe beweeg. ’n Verkeerde antwoord het beteken sy moet ’n tree terug gee. Elke deelnemer het net 30 sekondes gehad om so ver moontlik te vorder, maar hoewel almal hul bes probeer het, kon geen dame die wenstreep haal nie.

Daarna was dit Ruan se beurt om vrae oor die vroue te beantwoord. Elke deelnemer kon hom 30 sekondes lank uitvra, maar hy het dit slegs met Charlene reggekry om tot die einde te vorder. Die aktiwiteit is op ’n ligte noot afgesluit met drankies en gelag.
Later het Ruan besluit om uiteindelik alleen saam met Bejanke tyd te spandeer – hul eerste behoorlike alleenafspraak, buiten die vinnige geselsies tydens groepaktiwiteite.

“Ek moet sê Bejanke is baie rustig tot dusver, en sy het nog nie kans gehad nie. Sy het nog niks druk op my geplaas nie, en ek sien al baie uit na haar. Ek het geweet sy gaan hier wees vir ’n tydjie, so dis nou tyd dat ek en sy bietjie sit,” het hy gesê.
Hul afspraak by die boma was romanties en intiem, met ’n vuurtjie, peuselhappies en ’n sonsondergang wat die perfekte atmosfeer geskep het. Die gesprek het vinnig verdiep toe Ruan openlik sy bewondering uitgespreek het.
“Jy’s die perfekte mens wat in my lewe sal pas. Jy het ’n level of maturity waar jy weet wat jy soek, maar jy weet ook wat jy nie gaan toelaat nie. Ek is bly jy het geduldig gebly.”
Die twee het ook oor Bejanke se kinders gesels, en sy het dit duidelik gemaak dat sy en haar kinders as een pakket kom. Ruan het haar gerusgestel dat hy dit verstaan, aangesien hy self ook kinders het.
Bejanke het later vertel: “Ek hou daarvan om in sy oë te kyk. Hy laat my smile, en hy laat my happy voel. En dit was lekker om net saam met hom ’n glasie wyn te kon drink en net te kon chat.”
Die aand het geëindig met ’n groot romantiese oomblik toe Bejanke haar eerste soen gekry het. Ná die afspraak het Ruan erken: “Vanaand het Bejanke ’n spanner in the works gegooi. Ek het besef ek het in groot moeilikheid gekom ten opsigte van… daar is sterk gevoelens.”
Die volgende dag het Saartjie teruggekeer, en die dames het haar vinnig op hoogte gebring van alles wat intussen gebeur het. JP het toe opgedaag om die volgende aktiwiteit aan te kondig: Twister.
Ruan het met elke dame gespeel, en wie ook al verloor het, moes ’n drankie wegslaan. Die speletjie was uitbundig en groot pret, en die groep het daarna saam in die swembad gespring om te ontspan en die oomblik verder te geniet.
Later het Ruan vir Saartjie gevra vir ’n alleenafspraak, waar hulle ’n gesprek gevoer het wat as een van die mees betekenisvolle van haar reis sou uitstaan. Hulle het gepraat oor familietyd, moontlike onsekerhede, hul ouderdomsverskil en die eienskappe wat Ruan in ’n lewensmaat soek.
Saartjie het ná die ontmoeting gesê: “Hierdie was vir my ’n baie suksesvolle en diep afspraak. Ek kan verlief raak op Ruan. Dit gaan my ’n ruk vat, en, soos ek al gesê het, dit vat my ’n ruk om oop te maak, maar hy is ’n gentleman, en ek kan sien hoe hy sy vrou op sy hande sal dra.”
Hermi en Jenine kyk terug op hul reis
Vir Hermi was die afskeid onverwags, maar nie verpletterend nie. “Party dinge tref jou onverwags en los jou vir ’n oomblik stil, maar nie gebreek nie.”
Met tyd en perspektief glo sy dat dinge presies verloop het soos dit moes. “In realiteit sal ek glad nie tweede of derde in die ry staan vir ’n man nie. Ek glo God het vir ons elkeen ’n mooi pad beplan en sal nooit by my wegvat om vir ’n ander te gee nie. Ek is en bly altyd Goddelik gelei en beskerm.”
Volgens haar was daar nie onuitgesproke spanning wat dinge beïnvloed het nie. “Soms is die persoon net nie jou pasmaat nie, en dit is heeltemal oukei.” Tog beskryf sy haar tyd op die program as waardevol. “Ek is ’n ongelooflike mense-mens, en die vriendskappe wat ek gevorm het, sal vir altyd gekoester word.” Sy voeg by dat dit moed geverg het om haar hart oop te maak vir liefde en dat sy trots is op haarself dat sy die kans gewaag het.
Jenine se ervaring was anders. Sy erken dat sy verlig was toe haar reis tot ’n einde gekom het omdat dit moeilik begin raak het om so lank van haar kinders af weg te wees.
Sy glo nie daar was genoeg tyd om ’n werklike konneksie met Ruan te bou nie, maar onthou hom as ondersteunend en vriendelik. Wanneer sy vandag terugkyk, wens sy sy was meer gemaklik voor die kameras en meer haarself.
“Almal was genuinely amazing. Die goed wat ons gedoen het, was ongelooflik. Dit is memories wat ek altyd sal koester,” het sy gesê.
Die ervaring het haar ook laat besef hoe belangrik dit is om tyd vir haarself te maak. Sy vertel die program het haar selfs weer nader aan haar Afrikaanse wortels gebring: “Nou luister ons Afrikaanse musiek by die huis, en my dogtertjie begin dit ook meer praat. Afrikaanse mense is lekker mense!”
Wat liefde betref, sê sy sy fokus tans op haar werk en haar dogters: “God se tyd, nie my tyd nie.”
Met twee afskeide, ’n nuwe romantiese wending vir Bejanke en ’n dieper konneksie wat tussen Ruan en Saartjie begin vorm, het episode tien gewys dat die einde van die reis steeds heeltemal onvoorspelbaar is – en dat elke oomblik nou swaarder weeg.
Op my eish! word Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.
Lees ook: 20 jaar, 2 kinders en steeds verlief: Nico en Christi Panagio vier hul 20ste huweliksherdenking




