kategorieë: Bekendes

J.K. Rowling en Harry Potter: ’n gedugte paar

Rock bottom.” Dit was waar J.K. Rowling, die topverkoper onder die lewende skrywers in Brittanje haar bevind het toe sy in 1990 voor haar stokou tikmasjien gaan sit en die eerste bladsye van die eerste Harry Potter-boek begin tik het. Die hele boek is volledig vir haar ingegee, het sy later gesê.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Sy het daardie fase van haar lewe só beskryf: “I was set free because my greatest fear had been realized, and I still had a daughter who I adored, and I had an old typewriter and a big idea. And so rock bottom became a solid foundation on which I rebuilt my life.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Dié vaste fondament het tot ’n verkoopsyfer van meer as 400 miljoen boeke in die ikoniese Harry Potter-reeks gelei en sy is vandag die topverkoper onder die lewende skrywers in Brittanje.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Joanne (of “Jo” soos sy dit verkies, hoewel sy onder die name J.K. Rowling en Robert Galbraith skryf) is op 31 Julie 1965 in Yate, Gloucestershire, Engeland gebore. Haar pa, James, is ’n Rolls-Royce-vliegtuigingenieur en ma, Anne, ’n wetenskaplike tegnikus.

Sy het op skool nie juis aandag getrek nie, hoewel haar talent vroeg al sigbaar was – sy het in die St. Michael’s-laerskool in Chepstow, Gwent, reeds fantasieverhale geskryf wat sy vir haar jonger suster, Dianne, voorgelees het. (Die skoolhoofkarakter in Harry Potter trek glo alte veel op haar destydse hoof, Alfred Dunn!) Selfs op hoërskool aan Wyedean Comprehensive, waar haar ma in die wetenskapdepartement gewerk het, het niemand veel ag op haar geslaan nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Haar vroegste literêre invloede, het sy later gesê, was C.S. Lewis se The Lion, the Witch and the Wardrobe en The Little White Horse, ’n fantasieverhaal vir kinders deur Elizabeth Goudge, en Paul Gallico se Manxmouse.

Op 14 het haar groottante vir haar ’n eksemplaar gegee van Hons and Rebels, die biografie van die politieke aktivis Jessica Mitford. Mitford was toe al haar heldin en die belangrikste invloed op haar lewe. Sy beskryf haar as “incurably and instinctively rebellious, brave, adventurous, funny and irreverent; she liked nothing better than a good fight, preferably against a pompous and hypocritical target”. Haar gunsteling-skrywer is Jane Austen en Austen se Emma is haar gunstelingboek.

In 1982 het Rowling sonder enige sukses die Oxford-toelatingseksamen afgelê en toe maar vir ’n B.A.-graad in Frans en Klassieke Kultuur aan die Universiteit van Exeter ingeskryf. ’n Professor in Frans aan dié universiteit, Martin Sorrell, onthou haar as ’n stil student met ’n denimbaadjie en donker hare. Dit het gelyk asof sy op akademiese gebied net die nodige gedoen het.

Rowling onthou dat sy destyds maar goed lyf weggesteek het of soms glad nie gewerk het nie omdat sy eerder na The Smiths se musiek wou luister en Dickens en Tolkien gelees het. Sy het ook ’n jaar lank in Parys gestudeer voor sy in 1986 aan Exeter gegradueer en in Londen navorsingswerk vir Amnestie Internasionaal gaan doen het.

Haar eerste boek het in 1990 “volledig gevorm” in haar kop ontpop. Sy moes vier uur lank in Manchester op ’n trein na Londen wag toe die storie van ’n jong seun wat in ’n skool vir towenaars is, vir haar ingegee is. Terug by haar woonstel in Clapham Junction het sy dadelik aan haar eerste Harry Potter-boek begin skryf.

Sy het hierdie “proses” in ’n 1999-onderhoud op Amazon.co.uk so beskryf: “I’ve no idea where ideas come from and I hope I never find out; it would spoil the excitement for me if it turned out I just have a funny little wrinkle on the surface of my brain which makes me think about invisible train platforms.

Rowling se ma het lank aan verspreide sklerose gelei en sy is in dié tyd oorlede. Haar dood het ’n groot invloed op Rowling se skryfwerk gehad en baie van die hartseer en verlies wat in die eerste Harry Potter-boek te bespeur is, is ’n oorblyfsel daarvan.

Jo het in daardie stadium Engelse klasse in die noorde van Portugal gaan gee waar sy in Oktober 1992 met Jorge Arantes, ’n TV-joernalis getroud is. Hul dogter, Jessica, is in 1993 gebore. Die huwelik het, helaas, nie gehou nie en Jo en die baba is terug Brittanje toe waar sy in Edinburg gaan woon het.

“Haar eerste boek het in 1990 ‘volledig gevorm’ in haar kop ontpop. Sy moes vier uur lank in Manchester op ’n trein na Londen wag toe die storie van ’n jong seun wat in ’n skool vir towenaars is, vir haar ingegee is”

Kliniese depressie is in daardie tyd by Rowling gediagnoseer en sy het selfmoord oorweeg. (Dis juis dié siekte wat die sielsverslindende Dementor-karakters in die Harry Potter-boeke geïnspireer het.) Rowling moes boonop om staatswelsyn aansoek doen. Sy was geskei, ’n enkelma en “so arm soos wat ’n mens in ’n moderne Brittanje kan wees sonder dat jy dakloos is.”

In 1995 het Rowling Harry Potter and the Philosopher’s Stone voltooi en dit via Christopher Little Literary Agents na twaalf uitgewers gestuur. ’n Ieder en ’n elk het die boek afgekeur. ’n Jaar later het Bloomsbury ten einde laas die boek aanvaar – grootliks omdat Alice Newton, die agtjarige dogter van die Bloomsbury-voorsitter, op aandrang van haar pa die eerste hoofstuk gelees en dadelik op ’n vervolg aangedring het.

Twee jaar later is aanvanklik slegs duisend eksemplare van Harry Potter and the Philosopher’s Stone onder die naam J.K. Rowling gepubliseer. Die “K” – dit staan vir Kathleen, haar pa se ouma se naam – is op versoek van die uitgewer bygevoeg omdat hy geglo het ’n vrouenaam sou nie by die teikenmark van oorwegend jong seuns byval vind nie. Daardie aanvanklike eksemplare is vandag tussen £16 000 en £25 000 (sowat R450 000) werd.

Die boek het vyf maande ná publikasie Rowling se eerste groot deurbraak verseker toe dit met die Nestlé Smarties-boekprys bekroon is en in Februarie van die volgende jaar die Britse toekenning vir Kinderboek van die Jaar verower het.

Die Amerikaanse regte vir die boek is vroeg die volgende jaar op ’n veiling in Amerika vir amper R1,5 miljoen verkoop. Jo sê sy was “amper dood” toe sy die nuus hoor.

Van hier af het dinge net beter en beter gegaan. “We have the power to imagine better,” het sy immers later gesê.

Harry Potter and the Chamber of Secrets het in Julie 1998 verskyn en in Desember 1999 was Harry Potter and the Prisoner of Azkaban ook op die rak. Albei van hierdie boeke is met die Nestlé Smarties-boekprys bekroon (Rowling was die eerste skrywer wat die prys drie keer agtereenvolgend gewen het). Sy het die vierde boek in die reeks, Harry Potter and the Goblet of Fire, aan die prys onttrek sodat iemand anders ’n kans kon kry om bekroon te word.

In die opeenvolgende sewe jaar het die volgende vier Harry Potter-boeke wêreldwyd verkooprekords laat spat. Die laaste boek in die reeks, Harry Potter and the Deathly Hallows, is op 21 Julie 2007 bekendgestel en het die verkope van al sy voorgangers oorskry en het die grootste blitsverkoper tot nog toe geword: elf miljoen eksemplare is op die eerste dag in die Verenigde Koninkryk en Amerika verkoop.

Die Amerikaanse rolprentmaatskappy Warner Bros. het in Oktober 1998 die regte vir die eerste twee Harry Potter-boeke teen ’n sewesyferbedrag bekom. Die rolprentweergawe van Harry Potter and the Philosopher’s Stone is op 16 November 2001 bekend gestel en in die volgende tien jaar deur nog sewe Harry Potter-flieks opgevolg. Rowling het ook daarin geslaag om skeppende beheer oor die rolprente te behou en as draaiboekkonsultant op te tree. Sy is ook medevervaardiger van die laaste twee rolprente, Harry Potter and the Deathly Hallows (deel 1 en 2).

Rowling se eerste roman vir volwassenes, The Casual Vacancy, was in 2012 op die rakke. Sowat ’n miljoen eksemplare is verkoop en dis ook as ’n BBC TV-reeks verfilm.

Jo wou nog altyd misdaadrillers skryf en in 2013 het The Cuckoo’s Calling onder die skuilnaam Robert Galbraith verskyn. Die boek is as ’n debuutroman bemark en goeie resensies ten spyt, is daar skaars vyfhonderd eksemplare verkoop. Eers nadat dit uitgelek het dat Rowling inderdaad Galbraith is, het die verkope die hoogte ingeskiet en die uitgewer moes nog 140 000 eksemplare laat druk.

Hierop volg nog twee speurrillers in dieselfde reeks (ook onder die naam Robert Galbraith) The Silkworm (2014) en Career of Evil (2015).
Rowling het in 2001 ’n 19de-eeuse herehuis, Killiechassie, op die walle van die Tay-rivier gekoop. Sy besit ook ’n Georgiaanse huis van sowat £4.5 miljoen (R75 miljoen) in Kensington, Wes-Londen.

Oor die roem wat saam met die rykdom gekom het, sê sy: “The fame thing is interesting because I never wanted to be famous, and I never dreamt I would be famous.

Jo is in 2001 in Killiechassie House met die narkotiseur Neil Michael Murry getroud. Hulle het twee kinders, David Gordon Rowling Murray en Mackenzie Jean Rowling Murray. Die gesin woon sedert 2014 in Skotland.

In Very Good Lives: The Fringe Benefits of Failure and the Importance of Imagination skryf Rowling: “We do not need magic to transform our world. We carry all the power we need inside ourselves already. We have the power to imagine better.

Toekennings

Danksy die geweldige invloed wat sy op veral die leeslus en -vermoë van kinders het, is Joanne Rowling wêreldwyd met ’n magdom literêre en ander pryse en eerbewyse bekroon.

In 2001 is sy vir haar dienste aan kinderliteratuur aangewys as ’n Offisier van Orde van die Britse Ryk. In 2009 het die Franse regering die Légion d’Honneur (die Legioen van Eer) aan haar toegeken.

In 2016 is Rowling se rykdom op die Sunday Times Rich List op £600 miljoen (sowat R10,8 miljard) geskat, wat haar gesamentlik die 197ste rykste mens in die Verenigde Koninkryk maak. Sy is volgens Forbes die eerste skrywer wat met die skryf van boeke ’n dollar-biljoenêr geword het.

Time het haar in 2007 aangewys as die naaswenner van die Persoon van die Jaar-toekenning vir die maatskaplike, morele en politieke inspirasie wat sy vir haar aanhangers is. Toonaangewende tydskrifredakteurs het Rowling in Oktober 2010 as die “Invloedrykste Vrou in Brittanje” vereer.

Sy ondersteun verskeie liefdadigheids-organisasies, soos Comic Relief, One Parent Families, die Britse Vereniging vir Verspreide Sklerose en Lumos.

Bronne: www.jkrowling.com; en.wikipedia.org/wiki/J._K._Rowling; www.brainyquote.com
mentalfloss.com/article/56940/20-wise-and-witty-j-k-rowling-quotes

Hierdie artikel het oorspronklik verskyn in rooi rose se Januarie 2017-uitgawe.

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.