Ja, jy kan meer van jouself hou

Ja, jy kan meer van jouself hou deur Mariette Snyman

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hou meer van jouself

Kan jy jou voorstel hoe dit moet wees om nooit, ooit vies te word vir jouself nie, al maak jy hoeveel foute? Om jou woorde, gevoelens, gedagtes, optrede, voorkoms, keuses – alles wat jou jóú maak – met geite en al te aanvaar?

Baie van ons gee baie min aandag aan die dialoog wat dag vir dag, uur vir uur, in ons koppe plaasvind. Ander kan dit mos nie hoor nie! Maar die kans dat hierdie selfspraak altyd positief is, is skraal.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Sinne soos: “Ek is vet”, “Hoe kón ek so dom wees?” of “Dit was die verkeerde ding om te sê,” is dalk algemener as “Uitstekende werk” of “Vandag lyk ek ongelooflik mooi!”

Jy hoef net ’n eenvoudige eksperiment te doen om agter te kom hoe sag – of wreed – jy met jouself omgaan. Besluit om op ’n gewone weekdag hiperbewus van jou selfspraak te raak. Glip ’n rubberrekkie aan jou arm en “skiet” dit elke keer wanneer jy jou blameer en kritiseer, of dit nou hardop of in stilte is. Dikwels is dié gewoonte reeds jare lank tweede natuur.

Lees ook: Jy mag sê jy’s mooi

Selfaanvaarding

Kenners reken selfaanvaarding beteken dat jy nie net waardering het vir jou goeie eienskappe nie, maar ook begrip vir jou swakhede en beperkinge. Dis natuurlik makliker gesê as gedaan.

’n Praktiese manier om ’n ervaring van ’n minder kritiese blik te kry, is om ’n foto van jou op drie of vier jaar uit te grawe, eenkant rustig daarmee te gaan sit, en met ’n oop hart na daardie kleintjie te kyk.

Wat voel jy wanneer jy op dié mensie fokus? Beleef jy iets van sy of haar uitdaging om in ’n groot, onverstaanbare wêreld altyd die “regte” ding te moet doen? Dink jy hierdie kind sou iemand anders met opset te na kom, of spruit oortredings meestal uit ’n gebrek aan insig en lewenservaring? Hoe rym ’n deernisvoller benadering met die streng en dikwels onsimpatieke hantering van so ’n jong kind?

Sielkundiges bestee baie tyd daaraan om die emosionele wonde wat hul kliënte kleintyd opgedoen het, reg te stel. Dis ’n algemene siening dat kinders van sewe jaar en jonger hulself nie as afsonderlike entiteite beleef nie, maar sonder meer aanvaar dat hulle is wie en wat hul ouers of ander versorgers sê. As hulle gedurig hoor hulle is stout, dom, lelik of wat ook al, glo hulle dit. Hulle het geen objek-tiewe verwysingsraamwerk wat as teenvoeter kan dien nie. Hulle aanvaar hulself slegs in die mate waarin hul ouers dit doen.

Dalk onthou jy maar min van die eerste sewe jaar van jou lewe, maar indien jou ouers nie ’n positiewe beeld na jou teruggekaats het nie, is dit vir jou waarskynlik moeilik om te glo jy is goed genoeg. Hoewel die meeste ouers net die beste bedoelings het, is dit sinvol om jou af te vra of hul optrede jou selfbeskouing onnodig negatief gekleur het.

Lees ook: Probeer jy te hard om gelukkig te wees? Hou nou op daarmee!

Vra jouself af

Die vrae in dié oefening kan hiermee help:

  • Waaroor het ek as kind gereeld raas of selfs ’n pak slae gekry?
  • Waaroor was my ma supersensitief – dalk oor haar voorkoms of die huis se netheid? En my pa?
  • Hoe raak hierdie kleintydkwessies vandag my siening van myself?

Die gedagte is nie om jou ouers te blameer nie, maar bewus te word van die manier waarop beduidende mense jou selfaanvaar-ding beïnvloed het. Dalk was daar voorwaardes vir hul liefde waaraan jy nie kon voldoen nie, en beskou jy jou gevolglik steeds as defektief of ontoereikend.

Gelukkig kan ons elkeen verantwoordelikheid neem vir die ontwikkeling van ons eiewaarde en besluit om meer selfbegrip te ontwikkel. Onvoorwaardelike liefde – en ’n minder veroordelende oog – begin met die besef dat nie net ander nie, maar ook óns nog altyd die beste doen met wat ons is, weet, en het.

Selfaanvaarding begin met die besef dat ons (en ander) nog altyd die beste doen met wat ons is, weet, en het

Voel beter oor jou voorkoms

As jy regtigwaar meer van jouself wil hou en bereid is om ’n bietjie tyd af te staan en moeite te doen, kan die volgende “oefeninge” ten opsigte van jou voorkoms verrassende voordele inhou.

Ons samelewing plaas ’n verstommende hoë premie op hoe ons lyk. Enersyds is ons neurologies bedraad om meer van iemand met ’n aantreklike voorkoms te hou; evolusionêre sielkundiges verduidelik hoe ons intuïtief potensiële maats se voorkoms “lees” om meer oor aspekte soos hul gesondheid en fertiliteit te wete te kom.

Andersyds ontsien die vervaardigers en adverteerders van produkte geen moeite om ons te probeer oortuig dat hierdie fyngeur of daardie horlosie ons persoonlike magnetisme gaan verdriedubbel nie. Die onderliggende boodskap is dat ons nie aantreklik genoeg is nie. En ons word voortdurend met hierdie boodskap gebombardeer.

Die bekende Amerikaanse lewensafrigter Martha Beck, werp lig op vroue se komplekse verhouding met hul voorkoms. “Selfs die aantreklikste vroue wat ek ken, vind fout met hoe hulle lyk,” skryf sy op www.marthabeck.com “Dis eintlik vreemd, want hulle staan nie naastenby so krities teenoor hul vriendinne nie. Hierdie ingesteldheid het te make met ’n diepliggende begeerte na aanvaarding en vrees vir verwerping. Iets in die menslike psige verwar skoonheid met die reg om liefgehê te word. Ons dink: As ek mooi genoeg is, sal ek liefgehê word, of As niemand vir my lief is nie, beteken dit ek is nie mooi genoeg nie.

“Hierdeur plaas ons die mag in ander se hande. Ons selfaanvaarding word bepaal deur ander se reaksie of gewaande reaksie. En pleks van te besef dat ons áltyd kwetsbaar is wat die liefde betref – dit werk gewoon nie so dat elke begeerlike mens wat ons hartkloppings gee, dieselfde oor ons voel nie – lê ons die probleem voor die deur van ons fisieke voorkoms. Ons glo ons skiet te kort ten opsigte van een of ander liggaamlike standaard, en haas ons na die skoonheidsalon, dieetkliniek of plastiese chirurg.

“Maar fisieke veranderinge los nie die probleem op nie. Die probleem lê nie by ons uiterlike nie, maar in ons kop. Ons dink terselfdertyd: ‘Voor ek gelief kan voel, moet ek mooi voel’ en ‘Ek kan net mooi voel as iemand vir my lief is.’ So beland ons in ’n afwaartse spiraal.

“Die oortuiging dat ons aanvaarbaar is, het eintlik min met fisieke voorkoms te make. Kyk jy objektief na die werklikheid, sien jy talle sogenaamd onaantreklike mense in gelukkige verhoudings én sielsongelukkige, aantreklike mense.”

Hoe lyk jou werklikheid?

Martha se voorstel is dat ons met ’n nuwe benadering eksperimenteer. Sit tien minute opsy en skryf jou antwoorde neer op die volgende vrae:

  • Wanneer het iemand jou liefgehad, al het jy dalk nie perfek gelyk nie?
  • Vir watter mense was jy lief, al het hulle nie die volmaakte voorkoms gehad nie?
  • Kan jy aan beeldskone mense dink wie se optrede so aaklig is dat jy hulle as lelik begin ervaar het?
  • Watter bekendes is stralend ondanks fisieke gebreke?
  • Watter vroue is so tuis in hul eie vel dat hulle in jou oë godin-status bereik?

“Herhaal hierdie oefening daagliks tot jy voel hoe die begrippe ‘skoonheid’ en ‘aanvaarbaarheid’ in jou gedagtewêreld van mekaar begin skei.

“Stimuleer hierdie kopskuifproses deur doelbewus meer goedvoelhormone te vervaardig. Jy skei dopamien af deur enigiets te doen wat onbekend en moeilik is, soos om ’n blokkiesraaisel in te vul of ’n ingewikkelde trui te brei. Die hormoon epinefrien word tydens matige oefening vrygestel, en ook wanneer ons ’n kans waag soos om ’n ongewilde mening uit te spreek.

“Gebruik die hupstoot wat dié goedvoelinspuitings jou gee om ’n praktiese ervaring van aanvaarding te kry. Gaan loop in ’n openbare plek rond en verbeel jou vir ’n halfuur jy is lieflik genoeg om liefgehê te word. Dink aan die uitdrukking fake it till you make it!

“Gaan dan na ’n koffiewinkel en drink iets heerliks. Let op na hoe jou liggaam beweeg wanneer jy vertrou dat jy goed genoeg is – nie noodwendig die land se topmodel nie, bloot goed genoeg. Voel die verskil in jou gesigsuitdrukking. Wees bewus van die energie wat jy met ander klante of die kelner uitruil.

“Die belangrikste is dat jy waarneem hoe ander mense teenoor jou reageer.

“As jy die voorafgaande ‘huiswerk’ deeglik gedoen het, mag iets magies begin gebeur. Jy kan dalk agterkom dat die meeste mense aangetrokke voel tot jou. Hoe vinniger jy van jou verdedigende, selfbewuste innerlike kritikus afstand doen, hoe meer glimlagte, hoflikheid en vriendelikheid kry jy van mense. Nie net van mense nie – van genoeg mense!

“Bou hierop voort deur jouself op dié manier te aanvaar wanneer jy met ’n vriendin gesels, dan met ’n kollega, dan met iemand wat jou intimideer. Los liewer jou gesin van oorsprong – dit kan ’n tameletjie wees.

“Om jou nadelige oortuigings oor jou eie sogenaamde gebrek aan skoonheid af te breek, maak jou vry om jouself, jou liggaam en ander sonder voorbehoud te aanvaar. Jou hart gaan oop en jy voel nie meer so bang vir verwerping nie. Hoewel een en elk jou nie gaan liefkry nie, sal jy duidelike en oorvloedige bewys ervaar dat jy lovable is. Dis ’n wonderbaarlike proses.”

Die voordeel van groter selfaanvaarding is dat jy die mense wat jou pad kruis, positiewer hanteer. Hoe minder jy oor jou tekort-kominge loop en broei, hoe vryer is jy om jou volle aandag aan hulle te gee. Jou innerlike dialoog raak gawer, en jy ook. Die nuwe vonkel in jou oog maak jou aantrekliker. En wie weet watter voordelige gevolge dít kan hê …

In voeling met jouself

“Om lank en gelukkig met jouself saam te leef, moet jy vertroue hê in wie jy is en wat jy ervaar.” So sê Annelie Ferreira, bekroonde skrywer van Afrikaanse jeugfiksie wat tans as ’n Martha Beck Coach opgelei word.

“Jy moet veral in voeling met jou lyf wees. Dis ’n belangrike manier om agter te kom wat reg is vir jou en wat nie, want jou lyf jok nooit. Dit kan wel weens kondisionering ‘verkeerd’ reageer: as ’n blou motor jou dalk een keer raakgery het, kan jou lyf panieksensasies ervaar elke keer wanneer jy ’n blou motor sien.

“Jare gelede het trauma veroorsaak dat ek voeling met my lyf verloor het. Trauma het ’n algemene ‘vriesreaksie’ tot gevolg. Dit veroorsaak die onderdrukking van sensasies, maar lei ook tot reaksies soos konstante woede of depressie. Dit hoef nie eens trauma met ’n hoofletter T te wees nie; in ’n grootmenswêreld is kinders baie beïnvloedbaar, en enige onaangename belewenis kan ’n blywende uitwerking hê as dit nie verstaan of deurgewerk word nie.

“’n Ander faktor wat veroorsaak dat jou konneksie met jou liggaam skeef loop, is die reëls van die gesin of samelewing waarin jy grootword. Hierdie voorskrifte kan jou ontmoedig om vas te stel of iets reg of verkeerd voel deur na jou lyf te luister. Dit laat jou met die indruk dat jy bloot moet doen wat jy geleer het reg is. Indien jy by die groep inpas en die reëls ooreenstem met wat jy graag wíl doen, is dit wonderlik. Maar indien dit verskil, raak jou lyf deurmekaar.

“Kultuurreëls is bedoel om mense te help, maar dit word deur mense vasgestel en is arbitrêr. As dit vereis dat jy by ’n rooi verkeerslig stop, volg dit asseblief! Dis in almal se belang dat dit nagekom word. Maar daar is baie ander ‘reëls’ wat ons keer om ons ten volle uit te leef.

“Om ’n gelukkiger bestaan te voer, kan jy bewus word van dit wat jou lyf goed laat voel, soos drumming, dans of spesifieke mense se geselskap. Ons lyf reageer altyd positief of negatief op dit waarmee ons besig is. Maar as ons glo ons het nie ’n keuse nie, leer ons om daardie sensasies te ignoreer.

“Ons het almal die vermoë om ’n gelukkige lewe te lei, behalwe dalk in die geval van mense met erge geestes-versteurings. Soms verloor jy daardie vermoë omdat jy nooit vertroue daarin ontwikkel het nie, omdat jy nie inpas by die heersende oortuigings nie, of omdat negatiewe oordele oor sekere ervarings beliefs geword het wat jou inperk.

Dit kan ook wees dat iets soos ’n ernstige siekte of ’n verlies jou tydelik van koers af gegooi het. Die doel van lewensafrigting is om jou te help om weer die lewe en jouself – jou eie keuses en drome – te vertrou.”

Drie dinge vir geesteskrag

As jy jou innerlike ruimte met suiwer selfvertroue wil vul, moet jy dapper genoeg wees om jou tot drie dinge te verbind, sê Martha Beck:

  1. Onderneem om nooit jouself of ander doelbewus te laat ly nie.
  2. Erken altyd jou foute, en doen jou uiterste bes om hulle te herstel.
  3. Vergewe jouself wanneer jou beste nie goed genoeg is nie.

Lees ook:Bou of breek jy jou kind se selfbeeld?

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.