Hoenderpastei is deel van Suid-Afrika se kookkunserfenis en is, saam met bobotie, die perfekte manier om ons heerlike kos met besoekers te deel. Vir my hoenderpastei maak jy die vulsel in ‘n potjie gaar en braai die deeg in ‘n rooster op die kole. Dis nogal ‘n spesiale gereg.
WAT JY NODIG HET
(vir 4 tot 6 mense)
- 1,5 kg heel hoender (effens kleiner vir 4 mense, effens groter vir 6 mense)
- 1 sopie olyfolie
- 2 teelepels sout
- 1 teelepel swartpeper
- 1 groot ui (fyngekap)
- 3 huisies knoffel (fyngekap)
- 2 takkies vars tiemie (net die blare, fyngekap)
- 1 koppie hoenderaftreksel
- 1⁄2 koppie sjerrie (of witwyn)
- 1 lourierblaar
- 3 heel naeltjies
- 1 heel kaneelstokkie
- 1 groot aartappel (in klein blokkies van so 1 x 1 cm gesny)
- 250 g knopiesampioene (in die helfte gesny)
- 1⁄2 koppie vars room (1⁄2 van ‘n 250 ml-houertjie)
- 1 pakkie skilferkorsdeeg (400 g, ontdooi)
LAAT WAAI!
- Laat die skilferkorsdeeg deeglik ontdooi as dit bevrore is. Dit kan nou lê en rus tot hier by stap 7 tot 9 rond (lees die hele resep dan sal jy verstaan).
- Sny die hoender in 6 porsies met ‘n groot, skerp kombuismes. Verwyder en raak ontslae van al die vel wat jy maklik kan afkry. Jy mag maar die boudjie se vel aan los, want dis nie die moeite werd om dit af te haal nie. Maak seker jy sny die driehoekige stukkie vet af wat die gewese stert van die gewese hoender was.
- Verhit die olie in ‘n potjie op ‘n warm vuur en braai die hoenderporsies vir 10 minute tot goudbruin. Gooi nou die sout en peper by.
- Voeg die ui, knoffel en tiemie by en braai vir nog 5 minute tot die ui begin sag word.
- Nou is dit die aftreksel, sjerrie/wyn, lourierblaar, naeltjies en kaneelstokkie se beurt om pot toe te gaan. Wanneer die potjie begin prut, sit jy die deksel op en laat dit vir ‘n uur op ‘n paar kole prut tot die hoender gaar is.
- Voeg die aartappel en sampioene by, roer liggies en laat prut vir nog 30 minute.
- Haal nou die hoenderstukke uit die pot en gooi die kaneelstokkie weg. Gee die hoender 15 minute om af te koel voordat jy dit ontbeen, anders gaan jou vingers nie gelukkig wees nie. Terwyl die hoender afkoel, fokus jou aandag op die vloeistof in die pot (wat waarskynlik te waterig gaan wees). Kry die pot aan die kook sonder sy deksel en kook die vloeistof tot dit ‘n bietjie dikker is. Jy kan ‘n bietjie vuurmaak onder die potjie (letterlik) deur nog ‘n paar kole onder hom in te skuif. Volgende keer wat jy hierdie ongelooflike pastei maak, sal jy weet wat ek bedoel.
- Wanneer die hoenderstukke koel genoeg is om te hanteer, haal jy al die vleis van die bene af. Raak ontslae van die vel en been. Skeur die groot stukke vleis kleiner, sommer met die hand. Sit die vleis terug in die pruttende pot, gooi die room by en roer deeglik. Proe voor jy sout en peper bysit. Dis dalk nie nodig nie.
- Wanneer die vulsel in die pot amper reg is (na omtrent 1 uur se prut, hier by stap 7 rond, terwyl die hoender afkoel), rol jy die skilferkorsdeeg oop. Nou het jy twee keuses: Sny die deeg of in die vorm van die bakkies waarin jy die pastei gaan bedien, of in vierkante wat jy bo-op die vulsel in borde of bakkies gaan sit. Braai die deegvormpies in ‘n geoliede toeklaprooster vir omtrent 20 minute oor baie matige kole. Draai die rooster gereeld en versigtig om totdat die deeg goudbruin en bros is. Moenie te vinnig braai nie, want dan is daar ‘n goeie kans dat jy die kors sal verbrand. Jy kan stap 9 op dieselfde tyd as stap 7 doen of jou braai-assistent vra om jou te help.
- Bedien die pastei deur die vulsel in bakkies of borde op te dis en dan die gebraaide stukke kors bo-op te sit.
