In ‘n wêreld vol onsekerheid het mieliepaptert my nog nooit teleurgestel nie. Dis ‘n byna onfeilbare dis. Jy begin met mieliepap, klaar ‘n lekker ete op sy eie. Dan voeg jy ‘n paar addisionele goed by om hom nog lekkerder te maak. Amper soos om ‘n nuwe kar te koop en dan al die ekstras by te sit. Om die mieliepaptert in lae aanmekaar te sit, is in wese soos om lasagne te maak, maar met heel ander bestanddele.
WAT JY NODIG HET
(vir 8 mense)
Vir die stywepap:
- 3 koppies water
- 1 teelepel sout
- 2 koppies mieliemeel
Vir die mieliepaptert:
- 2 sopies olyfolie
- 1 ui (fyngekap)
- 1 pakkie (200-250 g) gerookte streepspek (in stukke gesny)
- 400-500 g sampioene (opgesny)
- 1⁄2 teelepel sout (die spek is klaar souterig)
- 1⁄2 teelepel swartpeper
- 1 blikkie suikermielies
- 2 koppies gerasperde cheddar-kaas (omtrent 200 g)
- 2 koppies room
- (2 x 250 ml-houertjies)
- 2 takkies vars tiemie
LAAT WAAI!
Maak die stywepap:
- Gooi die water en die sout in ‘n pot en kry dit aan die kook op ‘n warm vuur (of stoof).
- Wanneer die water kook, roer jy die mieliemeel by met ‘n houtlepel. Dit behoort jou tussen 1 en 2 minute te neem om dit behoorlik by te meng.
- Sit die pot se deksel op en prut vir 25 minute op baie lae hitte. Op ‘n vuur beteken dit jy moet die pot van die vlamme af wegskuif en dit net op ‘n paar kole sit.
- Jy kan in dié tyd een of twee keer inloer by die pap om seker te maak dit prut (kook is te warm, stil lê is te koud), maar moenie die deksel te veel oplig nie, want dan glip die stoom uit en gaan te veel water verlore. Na 25 minute is die pap reg.
- Jy kan nou die pap netso geniet, maar om dit vir die mieliepaptert te gebruik, moet jy dit van die vuur afhaal en in die pot laat afkoel – ons soek ‘n stywe stuk pap wat ons in stukke kan sny.
Sit die paptert aanmekaar:
- Keer die afgekoelde stywepap in een stuk uit die pot en sny dit op in skywe 1 cm dik, soos jy ‘n brood sal sny.
- Sit die pot terug op die vuur. Voeg die olie, uie, spek en sampioene by. Braai vir so 10 minute totdat die uie goudbruin raak. Gooi die sout en peper oor.
- Haal die pot van die hitte af en gooi sy inhoud oor in ‘n bak. Begin nou om die paptert in lae in die leë pot te pak. Een laag pap (sit ‘n paar snye pap langs mekaar, maar nie te knus nie) en dan ‘n laag uie/spek/sampioene, ‘n paar lepels vol suikermielies en ‘n klompie gerasperde kaas; dan nog ‘n laag pap en so gaan jy aan. Jy behoort so 2 tot 3 lae van elk uit te kry (maar dit is nie ‘n eksakte wetenskap nie). Rond dit af met ‘n laaste laag kaas.
- Gooi die room oor die boonste laag (dit sal insink) en strooi dan die tiemieblare bo-oor.
- Sit die deksel terug. Sit die pot op ‘n klompie kole (nie te warm nie) en pak’n paar kole op die deksel. Laat dit vir 30 minute so bak totdat die gereg prut en die kaas mooi bruin is. Die roomsous sal verdik wanneer die pot vir so 10 minute rus voordat jy opskep.
