kategorieë: Ons menseBekendes

Karen Zoid rock

Om gemaklik in jou eie vel te leef is vir seker ’n persoonlike versugting vir elkeen van ons. Vir gewone, onbekende siele soos ons is dit ongetwyfeld makliker as vir iemand wat deurentyd in die kollig, op die verhoog, voor gehore, op televisie, radio en op iPods is.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Karen Zoid het, op haar eie en eiesinnige manier, terug in haar vel geklim. En dit is ’n lieflike gebeurtenis om te aanskou.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Om eerlik, geloofbaar en egoloos in die vermaaklikheidsbedryf te blom, is byna ongekend. Wat is haar geheim? En hoe het sy dit reggekry? ’n Deel van die resep is familie. Geloof. Balans. Sekerheid sonder skroom. Ons het haar ’n bietjie gepols.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Karen Zoid was nog altyd ’n enigma

Sy’t haar in haar swart Voortrekker-gewaad aan ons bekend gestel – rok, kappie en al – op maat van die rock-weergawe van die ou FAK-liedjie, “Afrikaners is plesierig”. Die lirieke is net ’n bietjie aangepas, om die minste te sê. Voor ’n geskokte, onthutste en histeries-opgewonde skare by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Dit is byna 15 jaar gelede al. En sy was destyds maar ’n brose 21 jaar oud.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Trouens, haar impak op die psige van die (Suid-)Afrikaanse jeug was destyds so groot dat daar na hulle in die media verwys is as die “Zoid-generasie”. Sy het die onmoontlike reggekry: Om die Afrikaanse sowel as die Engelse mark met eweveel sukses te oorrompel.

Intussen het sy al wat ’n grens is, verskuif. Haar gedrewenheid, energie en spontaniteit tref ’n aar wat skaars op ons musiek-horisonne is. En haar lirieke is eweneens roerend en rasend. Daar is ’n emosionele vorteks wat haar aanhou stu, en dié emosies word in die woorde van haar songs herhaal.

Sy was al op die verhoog saam met internasionale reuse soos John Mayer, Seal, Annie Lennox, Metallica, Simple Plan, Hothouse Flowers en UB40. Daar was ook optredes by presidente Mbeki en Zuma se inhuldigings. En die groot Madiba-konsert in 2005.

Sy’s ons grootste (lees “suksesvolste”) rock chick. Sy het sommer nou die dag tussen alles deur nóg ’n nuwe CD bekend gestel: Drown out the Noise, haar eerste Engelse album in sewe jaar – en binne ’n dag was dit die top-album op iTunes Suid-Afrika. Haar ou vriend, mede-musikant en vertroueling, Theo Crous, het soos gewoonlik die produksiewerk gedoen. Voor Noise was daar nege albums.

Sy skryf van die hardste, kwaadste en eerlikste rock tunes wat jy seker in Afrikaans sal hoor. Tussendeur raas sy oor die geraas om ons. Drown out the Noise is juis ’n album wat die dualiteit van ons moderne lewe aanraak.

“Die album lewer kommentaar op wat ek noem die ‘destructive seduction’ van die oormaat inligting waarmee ons in die moderne lewe te make het.

“Dis moeilike tye – maar dit beteken nie ons moet heeltemal onttrek om te oorleef nie! Ons moet op ’n manier weer by onsself uitkom. Ons moet as ’t ware in ons eie velle terugklim”

“Ek beleef dit ook. Ek het agtergekom jy moet eers stil word sodat jou insig jou optrede kan bepaal … En van daar af moet jy die lewe heelhartig aanpak, maar op jou eie voorwaardes. En behoeftes.”

Dis juis daarom dat sy ook van die sagste, roerendste ballades kan skryf – dink aan “Engel” en “Die Meisie wat haar Potlood kou”. Karen is in 1978 in België (Brussels) gebore – haar pa was ’n diplomaat. Sedertdien het sy tot in 2010 in Johannesburg gewoon en gewerk tot sy net ná die geboorte van haar seun, Ben Francis, Stellenbosch toe getrek het.

“Ouerskap verander ’n mens se hele uitkyk op die lewe. Jy is is nie meer die fokuspunt nie. En jou keuses word uiteindelik hoofsaaklik deur daardie bril gesien en gemaak.”

Met ’n loopbaan wat oor meer as ’n dekade strek, het sy al verskeie akkolades ingesamel. Benewens die feit dat al haar albums goue (verkoop)status bereik het, het sy Samas gewen, harte verower en kan sy eenvoudig nie van ’n verhoogvertoning wegbly nie.

“Toe ek nog in die destydse vroue punk-band gespeel het, of op die strate vir sente ge-busk het, of wanneer ek nou voor ’n groot gehoor op ’n verhoog klim en ek tel die kitaar op … die gevoel bly dieselfde. Om plate te maak, die onderhoude, die video’s … dis werk.

“Om voor ’n gehoor op die verhoog te wees? Dis die tyd! Dis wanneer ek voel ek leef. Dis wat ek liefhet”

Sy skryf poetry en maak pret. “Dit maak nie regtig saak nie,” kom by jou op.

Sy lag vir ons, sy lag vir die lewe. En sy lag vir haarself.

En nou het sy haar eie televisie-kletsprogram, Die Republiek van Zoid-Afrika. ’n Program wat in sy eerste seisoen verlede jaar só gewild was dat kykNET besluit het om nog ’n reeks te vervaardig – en wie weet, dalk nóg een … Trouens, Karen is tans so besig dat dit byna onmoontlik is om by haar uit te kom, selfs net vir ’n halfuur lange vrae-sessie.

“Dit beteken dit gaan goed, nie so nie?” Werksgewys was sy lank laas, indien ooit, so besig.

Facebook-foto’s van haar ateljee-sessies saam met al wat ’n groot naam in die Suid-Afrikaanse bedryf is, wys hoe maklik en gemaklik sy met die grotes op haar program omgaan en hulle met haar kenmerkende, ontwapenende selfvertroue sover kry om ontspanne te gesels, hulself te wees en ’n ander eerliker, oper kant te wys as wat jy gewoonlik sien.

Samewerkings met ander musikante is ook deesdae deel van haar palet. Sy en Francois van Coke – van F*fpolisiekar-faam – se onlangse duet, “Toe Vind Ek Jou”, het al digby ’n miljoen-trefslae op YouTube gekry, ’n eerste vir ’n Afrikaanse rock-ballade.

Sy’t ’n spanspeler geword. Die televisieprogram, die musikale samewerkings, haar huislike lewe – alles gebeur deesdae in spanverband.

“Dit is die gemak wat saam met die ‘in-jou-eie-vel-leef-bena-dering’ kom – jy hoef jouself nie meer te bewys nie. Wat nie beteken dat jy minder hard werk of minder gee nie, inteendeel. Dit is net dat jy jou eie tyd moet koester, soms moet wegkom, van ’n afstand af na goed moet kyk om perspektief te kry. En dit sluit noodwendig die ander mense in – by jou, om jou, in jou ‘span’.”

Sy beskerm steeds haar persoonlike lewe met mening, en jy kan dit verstaan, want dis haar grootste prioriteit om haar seun, wat sy ’n “ou siel” noem, teen oornuuskierige en indringerige aandag te beskerm.

“Om in die openbare oog te wees, is deel van my werk. Wat by my huis aangaan, is nie. Dis mos eenvoudig.”

Die geheim is, weer eens, balans. “My lewe is tans hectic. Iewers tussen die woeste rondshol van verhoog na verhoog, opname-ateljee na optrede, albums maak en media-onderhoude toestaan, is daar ’n hawe van rus en vrede. En by daardie hawe moet jy gereeld uitkom, daar waar dit net jy en joune, jou mense, jou gedagtes is.”

Die “President van Zoid-Afrika”, het eintlik niks meer om te bewys nie. Die eertydse straat-busker van Johannesburg is nou ’n hoogs suksesvolle televisiepersoonlikheid, sy is op die kruin van haar musikale loopbaan en sy is ’n diepdenkende, toegewyde ma.

Sy hoef haarself nie meer te verduidelik nie. Trouens, sy gee ander mense nou die kans om hulself – via haar program en ander samewerkingsprojekte – te verduidelik, te bewys.

Karen Zoid het tuisgekom.
Sy leef nou gemaklik in haar eie vel.

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.