Deur Maryke Roberts. Foto’s: Lauren Rautenbach
Toeval het Martie Walker se professionele pad ná 30 jaar onherroeplik van rigting laat verander. Sy het drie dekades lank in gesondheidsorg gewerk, maar vandag is haar kleurryke ontwerpe van Iconic Designs in meer as 50 boetieks landswyd en selfs sover as Zimbabwe en Namibië beskikbaar.

’n Naweekbesoek met die spoedtrein na Shanghai het tot die begin van haar klere-onderneming gelei. Sy vertel van haar ateljee in Kaapstad: “My stiefseun, Ryan, het vir ’n jaar in Jinan in China studeer en ek het gedurende 2014 verskeie kere by hom gaan kuier. Ek het in ’n hotelrestaurant in Shanghai waar ons oorgebly het, ’n Italiaanse ontwerper ontmoet. Sy het my genooi om saam met haar na die pluismeule te reis, waar sy die lapdrukproses moes goedkeur. Baie van die groot Europese ontwerpers druk hul lap by dié meule. Die helder kleure en mooi lap het my gefassineer. Ek het na die meule teruggegaan en besluit om van die lap – die laaste stukke op die groot rolle – in te voer. Ek het nie eens geweet wat ek daarmee wil doen nie – ek het net geweet ek wil die lap hê,” vertel sy met ’n groot glimlag.
Van haar eerste bestelling van 26 rolle sowat elf jaar gelede, het sy nou tot meer as 1 000 rolle per jaar uitgebrei.
Martie ontwerp self haar reekse en het ’n klein – maar baie doeltreffende – span van vier vroue, waarvan Anneline McMorren, haar regterhand is. Die vervaardiging word na verskeie vervaardigers uitgekontrakteer. Hulle sny, stik en pak ook al haar klere.
Martie stel elke jaar nuwe ontwerpe bekend, maar daar is ’n paar style wat altyd deel is van haar reeks.
Sy vertel: “My eerste ontwerp was ’n eenvoudige en tydlose styl. Ek noem dit die Icon-rok en maak dit ná tien jaar steeds. Dit bly een van die beste verkopers in die reeks. “Ek het nog altyd die ontwerpreeks as ’n plek van klerekasvreugde voorgehou, en die boodskap uitgestuur dat kleur vreugde bring. Die feit dat my klere al hierdie dinge – elegant, tydloos, funky en soms ondeund – is, beteken dat daar iets vir almal is. Elke Iconic- kledingstuk word met liefde gemaak. Ons is beslis nie ’n vinnige modeketting nie!”
Die name van die Iconic-rokke en -patrone is ’n spontane proses en kom uit allerhande plekke. “Ons vind inspirasie in die patroon; tyd van die jaar; of die gevoel van die kledingstukke. Soms kom een van ons modelle met die perfekte naam vorendag. Ander tye kies ons temas. Dit is ’n organiese proses, wat dikwels pret is,” vertel sy. Haar webwerf beskryf die Iconic Designs-etiket as ’n styl wat nie enige reëls of modeneigings volg nie en van iets anders hou. “Iconic Designs neig altyd na die bont en kleurryke, maar het ook al rayon en linne in hul ontwerpreeks, wat stapel-kledingstukke vir elke klerekas verskaf.”
Die ontwerpe is tydloos en gemaklik en sluit bloese en rokke in. “Die Iconic-vrou is sterk, kleurryk en hou daarvan om uit te staan bo die ander, sonder om te uitspattig te wees. Sy volg nie neigings nie en verkies unieke kledingstukke, wat haar figuur vlei. Sy is mal oor kleur en hou van nuwe style en kreatiewe kombinasies – selfs kombinasies wat dalk die norm uitdaag.”
As ek na Martie kyk, vergestalt sy hierdie filosofie perfek. Sy knik instemmend. “Die Iconic-vrou is altyd aan die gang en hou nooit op met leer nie. Ek is vir seker die verpersoonliking van ’n Iconic-vrou!”

Martie, ’n boorling van die Vredefort-distrik in die Vrystaat, vertel: “Om ’n sakevrou te word, was nie op my Bingo-kaart nie,” maar verklap dat sy “nog altyd ’n inherente sin vir styl gehad het. Om helder kleure en gewaagde patrone te dra, verskaf aan my groot vreugde.”
Sy moet mooi dink oor waar haar styl vandaan kom. “My ma was ’n boervrou. Wanneer ek terugdink aan my kinderjare, is my sterkste herinnering dat sy altyd alles vir ander gedoen het. Ek het beslis my werks etiek van haar gekry, maar sy het elke dag haar voorskoot in dieselfde kleure gedra en dit het my iets meer vir myself ten opsigte van styl en voorkoms laat begeer.”
Sy laat klink die afgelope 11 jaar se onderneming bou as moeiteloos. Sy lag, voor sy erken: “My grootste uitdaging was om myself in ’n bedryf waarvan ek niks geweet het nie te vestig. Die klere- en tekstielbedryf is ’n hegte eenheid wat nie sommer ’n nuweling in die binnekring toelaat nie. Voeg daarby die feit dat ek geen kennis van die werking van invoere gedra het nie en die taalbeperkinge van Chinees/Hindi.”
Maar sy voeg by dat dit juis ook haar grootste oorwinning was: om haarself in ’n bedryf te vestig waarin sy nou baie gemaklik is – en ook uiters suksesvol is.
Martie sê: “Ek is selfgedrewe en selfmotiverend, en geneig om alles self te doen. Dus ruim ek nie genoeg tyd vir rus en ontspanning in nie, maar ek leer om te delegeer. Dit is verfrissend om te sien hoe my personeel floreer wanneer ek delegeer. My werk bring my soveel vreugde, maar balans is ook belangrik, so my uitdaging is om op ander te vertrou.” Twee dinge wat sy gou onder die knie gekry het, wat vandag ’n integrale deel van haar sukses is, is ’n sterk sosiale-media-teenwoordigheid en ’n lojaliteitsprogram vir gereelde kliënte.
Iconic Designs se sosiale media word die afgelope agt jaar deur Martie se fotograaf, Lauren Rautenbach, behartig. Martie sê Lauren verstaan die essensie van Iconic. “Só ’n intieme kennis van die klere én die span, is van onskatbare waarde vir sosiale-media- inskrywings, wat werklik die Iconic-storie vertel.
“Die lojaliteitsprogram is my manier om bietjie terug te gee aan die kliënte wat my oor die jare ondersteun het. Daar is so baie vroue wat gereeld terugkeer en op hierdie manier kan ek hulle net ’n bietjie bederf en dankie sê vir die feit dat hulle ’n Iconic-vrou is.”
Sy dink na toe ek vra wat die mooiste kompliment is wat sy al ontvang het. “Wanneer vroue hul gunsteling-ontwerpe in nuwe patrone – wat nie in grootmaat vervaardig word nie – kom koop, weet hulle dat hulle iets spesiaals kry. Wanneer jy ’n Iconic-ontwerp dra, voel jy mooi, waardig, selfversekerd en kragtig. Dit is my grootste kompliment.”
Sy hanteer kritiek goed, verklap sy: “Daar is altyd ruimte om te leer en dit is belangrik om na terugvoering te luister. As ’n kliënt ongelukkig is, doen ek wat ek kan om haar geloof in Iconic te herstel.”

Sy woon die afgelope 20 jaar in Kaapstad en was vir meer as twee dekades met die liefde van haar lewe, Lindsay, getroud en het twee stiefkinders, Ryan en Roxanne. Lindsay is verlede jaar aan ’n hartaanval oorlede.
Sy en Lindsay het ná hul troue in Kommetjie – ’n klein seevoorstad in die diep suide van Kaapstad – kom nesskop en was mal oor die ontspanne atmosfeer daar. “Vroeë oggendwandelinge op die strand met ons worshonde, Marvin en Jamie, en die mooiste sonsondergange, maak hierdie ’n baie kosbare plek om te woon. Ek is steeds daar en kan my nêrens anders indink nie,” vertel sy.
Maar natuurlik is die lewe nie altyd een plat see met potblou hemele en geen wind nie. Soms is die golwe só hoog en die horison onsigbaar. Martie erken vir haar was die ergste stormweer wat totale wanhoop en ’n verlies aan beheer meegebring het, toe haar man oorlede is.
“Dit was ’n oorweldigende tyd vir my en dit het my ’n ruk geneem om weer myself te vind. Ek is ’n positiewe mens en in die algemeen staan ek baie gou op ná ’n terugslag, maar sy dood was anders.”
Ons moet groet, sy vertrek na Jamaika om vir haar broer te gaan kuier, wat onlangs daarheen verhuis het.
“Dit is veronderstel om ’n behoorlike vakansie te wees, maar ek ken myself … so wees binnekort op die uitkyk na ’n Karibiese geïnspireerde versameling …” Martie sê wanneer sy reis, kry sy inspirasie uit die kultuur, kleure, teksture en selfs die musiek van waar sy ook al kuier.
“Sodra die saadjie geplant is, begin ek materiaal soek. Daar is nie tyd om te mors nie.”
Martie se wenke vir entrepreneurs
- My sakementor is die patoloog dr Lourens du Toit. Hy het my geleer om in myself te glo en nie bang moet wees om risiko’s te neem nie. Jou sekuriteit lê in jouself.
- My vyf sakepilare vir sukses: passie, harde werk, selfmotivering, volharding en buigsaamheid. En bly gefokus. Doen iets wat jy liefhet. Wanneer jy weet dat jy ’ n verskil maak in iemand anders se lewe, bly jy gemotiveerd om voort te gaan en nog beter te doen.
- Jy is nooit te oud om iets nuuts te begin nie en jy hou nooit op met leer nie. In my sestigerjare moes ek leer hoe om die sosialemediawêreld te navigeer om my handelsmerk uit te brei.
- Ek vra nie maklik raad nie, maar lees wyd oor sakebeginsels en neem kennis van sakeleiers se advies. My man was ’ n fantastiese klankbord, maar ek het nog altyd na die stemmetjie binne my geluister. Soms was die stemmetjie verkeerd, maar dan het ek waardevolle lesse geleer, wat my weer op ’ n ander manier toegerus het.
Gaan loer by haar ateljee in Helystraat 4, Ndabeni, Kaapstad, in of besoek www.inconicfashion.co.za


Louis Mclaren, uitvoerende vervaardiger
Kyk saam met ons:
rooi rose en ontbytSAKE op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus op ’n reeks – vrouesake.
Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.
Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.
Lees ook: Selena Gomez skitter in speurderprogram: Only Murders In The Building
