Deur Maryke Roberts. Foto’s: Hanneri de Wet
Skoliose – die abnormale kurwe van die rugstring – kom al hoe meer voor. Labarré Jansen van Vuuren, ’n biokinetikus van Pretoria, fokus op die konserwatiewe behandeling van skoliose, veral by kinders.
Labarré het haar eie biokinetikapraktyk in Faerie Glen. Sy werk saam met twee ander biokinetici wat in oefenterapie vir bejaardes; hidroterapie vir chroniese pyn; en sportbeserings spesialiseer. Die praktyk bied ook kliniese oefenterapie vir ’n groot verskeidenheid toestande en beserings. Sy het onlangs deur ’n Amerikaanse instituut as praktisyn in skolio-pilates gekwalifiseer. Sy kan nou spesifieke skoliose-oefenterapie en -protokol vir kinders en volwassenes met skoliose in werking stel. Sy is tans die enigste Suid-Afrikaner wat hierdie protokol as terapie kan aanbied.

Ter voorbereiding vir ons gesels, het ek eers by die Sportwetenskap Instituut van Suid-Afrika (SSISA) gaan aanklop om mooi agter die kap van die byl te kom en presies te verstaan wat ’n biokinetikus se werk alles behels.
Dit beskryf die beroep as volg: “’n Biokinetikus is ’n gesondheidsorgwerker wat in menslike beweging en oefening spesialiseer om dit as ’n vorm van rehabilitasie en prestasie-verbetering te gebruik. Die primêre fokus van ’n biokinetikus is die voorkoming en bestuur van chroniese siektes en beserings deur middel van oefening en fisieke aktiwiteite, wat op die individu se behoeftes fokus. Hierdie oefeninge fokus op die verbetering van beweeglikheid, buigsaamheid, krag, uithouvermoë en algehele fisieke funksies.”
Labarré is ’n gekwalifiseerde biokinetikus wat by BHF, HPCSA en BASA geregistreer is. Nadat sy haar BSc Hons Biokinetika-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf het, het sy haar biokinetika-internskap by BMW se Biokinetika-afdeling voltooi. Dit het kliniese ortopediese en chroniese toestande-evaluerings ingesluit, sowel as oefenterapie vir hul werknemers by hul eie mediese fasiliteit. Hier het sy ondervinding en insig in industriële- en korporatiewe biokinetika opgedoen, benewens ortopediese rehabilitasie en chroniese toestandbestuur. Labarré het ook ’n graad in sportwetenskap van die Universiteit van Pretoria, sowel as ’n BTech-dansgraad van die Tshwane Universiteit van Tegnologie.
Sy vertel dat sy ’n spesiale belangstelling in skoliose – wat spesifieke oefenterapie, chroniese pyn, Parkinson se siekte, fibromialgie, rumatoïede artritis, osteoartritis en geamputeerde rehabilitasie insluit – het.
Sy verduidelik: “Skoliose is nie net die abnormale kurwe van die rugstring nie, maar is ’n 3D-verandering van die rugstring se werwels, wat rotasie insluit. Die 3D-verandering van die kurwe beïnvloed die spiere, tendons, ligamente en verander hoe die hele lyf funksioneer. Dit alles kantot veelvoudige sekondêre kondisies lei soos hipermobiliteit, neurodiversiteit, hart- en longtoestande en so meer. Die algemeenste simptome wat mense met skoliose ervaar, is chroniese pyn in die nek, skouer, rug en/of heup.
“Nie alle mense met skoliose ervaar pyn nie, maar wel ander simptome wat met van die sekondêre toestande gepaardgaan, soos om kort van asem te wees, spysverterings probleme te hê, en so meer. Natuurlik besef die meeste ouers dat hul kind se rug ’n ‘hobbel’ aan die een kant het of dat hulle klere anders sit, want skoliose verander die natuurlike postuur.
Sy gaan voort: “Skoliosesas ’n diagnose kom meer in meisies as seuns voor, maar is ’n oorerflike siekte en word nie veroorsaak deur ’n swaar tas wat aan die eenkant van die lyf gedra word nie. Baie mense word nie gediagnoseer tot hul pyn begin ervaar nie en die meeste kinders word eers op ’n baie laat ouderdom gediagnoseer, wat die sukses van konserwatiewe terapie verminder. “Daar is verskeie opsies wat behandeling betref, maar ongelukkig is die inligting verwarrend wat op die internet beskikbaar is en dit maak baie ouers van kinders met skoliose deurmekaar. Wanneer ’n diagnose van skoliose wel gemaak word, is dit akkuraatste manier om dit te doen om ’n X-straal te neem en die grade van die kurwe te meet.”

Gelukkig is daar bekwame mense soos Labarré wat kan help. Jare se dans-ervaring het haar toegerus met ’n dissipline om bewegings op die mees doeltreffende en tegniese manier uit te voer. Sy verstaan wat dit verg om na’n spesifieke bewegingsdoel te werk en boonop om altyd na jou liggaam te luister. Dit stel haar in staat om oefenterapie aan pasiënte op ’n maklik verstaanbare manier te bied, maar wat terselfdertyd doeltreffend is om baie toestande te behandel.
Sy vertel: “Ek het vandat ek vier jaar oud was ballet gedoen en soos ek ouer geword het, al hoe meer dansvorms aangepak. Ek het besluit om ná skool dans te gaan studeer en wou aanvanklik ’n professionele danser geword het.
Hoewel dans ’n groot deel van my lewe was, en ek daarteen as ’n loopbaan besluit het, is ek dankbaar vir die dissipline, lewenslesse en bewegingsvermoë wat dans my gegee het.” Sy was nog altyd geïnteresseerd in medies, maar nie seker waar haar passies en talente as loopbaan in plek sou val nie.
“As danser het ek baie beserings opgedoen en het ek baie keer my fisioterapeut besoek. Ek het besef biokinetika is ’n mediese rigting met beweging as die primêre behandelingsmiddel en daarom het ek námy dansgraad biokinetika by die Universiteit van Pretoria gaan studeer.
“My verskeie grade en kwalifikasies stel my in staat om met ’n meer holistiese oog na pasiënte en hul toestande of beserings te kyk en die ‘prentjie’ beter in te kleur voordat ons met terapie wegspring. Dit stel my ook in staat om met ’n groot deel van ons bevolking te werk en dit maak elke dag anders en interessant.
“My dans- en sportgraad het my toegerus om met verskeie atlete te werk; hul doelwitte te help bereik, asook om ná beserings en operasies ons dienste te bied.”
Labarré verduidelik dat sy verstaan watter eise daar in ’n mens se daaglikse lewe aan die liggaam gestel word, asook hoe jou toestand/besering/pyn hierdie eise beïnvloed. “Ek span my kundigheid en passie in om my pasiënte te help om hul doelwitte te bereik, hul toestand/prestasie te verbeter, terwyl die pyn verminder en die risiko vir beserings verminder en operasies voorkom word.”
Sy het haar visier op skoliose – veral by kinders – gestel nadat sy ’n toename in die gevalle van skoliose by hul praktyk ervaar het terwyl niemand met sekerheid kon sê wat die presiese rede daarvoor is nie. “Is dit as gevolg van meer kennis daar buite en ouers wat meer oplettend is? Of is daar meer toegang tot mediese tegnologie soos X-strale en so meer? Ons krap nog kop hieroor.” Sy het al meer kinders met skoliose begin sien wat met chroniese pyn gesukkel het en wat nie tevrede was met ander konserwatiewe behandeling nie.
“Daar was nie baie ander spesialiste wat in konserwatiewe oefenterapie gespesialiseer het nie. Ek het besef my kennis op die veld van skoliose moes verbeter, om seker te maak dat ons vir hulle die beste terapie kan bied wat daar op die oomblik is.”

Labarré verduidelik daar is verskillende tipes skoliose. “Die algemeenste diagnose van skoliose is adolessente idiopatiese skoliose (adolescent idiopathic scoliosis), waarmee meeste kinders gediagnoseer word. Ander sluit in aangebore skoliose (congenital scoliosis), verslegtende skoliose (degenerative scoliosis), neuromuskulêre skoliose (neuromuscular scoliosis), en Scheuermann se Kifose (Scheuermann’s kyphosis).”
’n Mens wonder hoe sy positief bly, te midde van soveel pyn waarmee sy daagliks te doen kry. Sy verduidelik dat dit vir haar belangrik is om werk en pasiënte van haar persoonlike lewe te skei.
“Ek bly bewus van die seëninge in my eie lewe en dit stel my in staat om positief te bly. Dit verg ’n volwasse emosionele besluit om elke dag positief te wees, maak nie saak wat ander se emosionele toestand om my is nie. Om ’n positiewe uitkyk op die lewe te hê, is iets wat ons elkeen in staat stel om ander te help en só te dien,” sê sy.
Labarré geniet dit om aktief en gesond te bly deur gereeld te stap, muurbal te speel, bergfiets te ry en liggaamsgewigoefeninge te doen. Sy glo dat ’n holistiese benadering tot ’n mens se lewe die enigste manier is om langtermyndoelwitte werklik te verbeter en te handhaaf.

Haar praktyk is vanjaar ses jaar oud en sy vertel dat sy en haar span voortdurend by veranderinge in mediese tegnologie en navorsing aanpas. “As ’n mediese werker is dit deel van wat ons doen – om by te bly by die konstante verandering en verbetering van behandeling en die tegnologie wat gebruik kan word. Ons doen elke jaar kursusse wat die jongste navorsing en tegnologie bespreek. So bly ons op hoogte van sake. Hoewel dit moeilik is om alles by te woon en uit te toets, leer ’n mens uit ondervinding wat ’n verskil kan maak. Só kies ons praktyk om in dit te belê wat ons dink van toepassing , haalbaar en volhoubaar is.”
Labarré glo die rol van ’n biokinetikus is om ’n kliniese, bewegingsdiagnose te maak van elke pasiënt wat by hul praktyk inkom. Die data wat versamel word van die kliniese toetse wat gedoen word, help hulle om ’n objektiewe besluit te kan maak vir die oefenterapie wat vir elke individu voorgeskryf word.
“Ons wil ook in die toekoms hierdie data gebruik om vordering te meet en verdere besluite rondom konserwatiewe behandeling te kan maak. Ek glo ons beoefen die rol in ’n professionele en vriendelike manier sodat die pasiënt ons kan vertrou en voorskrif kan volg. Op die ou einde wil ons die doelwitte behaal – om pyn te verminder, spiere te versterk en lewensgehalte te verbeter.”
“Die bevrediging van elke pasiënt wat inkom met die goeie nuus dat hul pyn verminder het; hulle beter beweegbaarheid het; en die simptome verminder het of weg is; is meer as genoeg motivering om aan te hou doen wat ek doen,” vertel sy tevrede. “Selfs die pasiënte wat toestande het, wat onveranderlik is, wat getrou kom en hul lewens met ons deel, is motivering om my beste elke dag te gee.”
Sy gee die volgende raad aan mense wat nie seker is of ’n biokinetikus die antwoord vir hul probleme kan wees: “Bel, stuur ’n e-pos of WhatsApp ons praktyk en vind uit of ons jou kan help. Daar is soveel toestande en behandelings dat die lys nooit sal ophou nie. Wat ek wel kan sê, is dat oefenterapie nie onderskat moet word nie en dit kan baie toestande behandel of verbeter.”


Louis Mclaren, uitvoerende vervaardiger
Kyk saam met ons:
rooi rose en ontbytSAKE op kykNET en kykNET&kie (kanale 144 en 145) fokus op ’n reeks – vrouesake.
Kyk Saterdae om 07:30 met sewe herhalings in die week.
Vir meer inligting, besoek gerus Ontbytsake se webtuiste.
Lees ook: Skok in Skemergrond: Ronnie Maarman se dood ruk Gemoedsdrif
