kategorieë: In die nuus

Menseslawerny: Klim na vryheid

“Dis vreesaanjaend, maar dis ’n feit,” sê Nico Panagio, voorsitter van Missing Children South-Africa, op Menseregtedag vanjaar. “Mensehandel (trafficking) is, nes dwelmhandel, ’n multimiljoen-rand-bedryf.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Die geleentheid is ’n Vryheidsuitstalling buite Stellenbosch. ’n Byeenkoms van mense wat wil saamstaan teen die berg van onreg wat wêreldwyd veral vroue en kinders se lewe verwoes. Daar is na raming 30 miljoen slawe in die wêreld en dis lank nie net ’n Derdewêreldprobleem nie. Mans, vroue en kinders word deur arm familielede verkoop om teen hul wil as dwangarbeiders of prostitute te werk, dikwels verlei deur beloftes van opleiding en werksgeleenthede elders. Benewens massas seksslawe en kinderbruide, baie uit Afrika en Asië, pluk minderjariges in Oezbekistan steeds daagliks vyftig kilogram katoen in ruil vir kos. En jong meisies in Pakistan weef 17 uur per dag matte in donker vertrekke.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die gemiddelde prys van ’n slaaf is R650. Panagio sê as ’n gelowige is hierdie veldtog teen menseslawerny vir hom die betekenisvolste projek waarby hy tot nog toe betrokke was. “Hoe meer ’n mens weet, hoe ontstellender raak dit. Maar jy begin besef ook hoe ’n ongelooflike seën dit is om vry te wees. Deur betrokke te raak, gun ons dit ook vir iemand anders – al is dit net vir een ander mens – om soos jy vry te wees om te eet en te drink en te gaan waar jy wil.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

’n Week na dié byeenkoms vertrek ‘n internasionale groep van 45 vroue, onder wie nege Suid-Afrikaners, op die tweede Freedom Climb Katmandoe toe. ‘n Bietjie meer as ‘n jaar gelede het 48 vroue uit tien lande Kilimandjaro geklim het as deel van ‘n soortgelyke bewusmakingsveldtog. Hierdie geloofspoging het uiteindelik 400 000 Amerikaanse dollar ingevorder wat in meer as twintig projekte teruggeploeg is en mense se lewe ingrypend verbeter het. Vanjaar was dit die groep se doelwit om van Lukla in Nepal na Everest se basiskamp te stap. Vir aktiewe, sportiewe jongmense miskien nie ‘n buitengewoon groot fisieke uitdaging nie – die Nepalese toergidse laat jou gereeld ná ‘n stywe helling stop om stadig te akklimatiseer sodat jy nie sommer uitasem raak nie. Maar die hoogte van die Himalaja bring altyd ‘n angstigheid mee. Geen vrou kon haarself werklik voorberei op hoe haar liggaam daarop gaan reageer nie. Benewens hierdie onsekerheid en die bedrieglike weersomstandighede moes die groep vanjaar reg in die begin al ‘n groot terugslag oorkom. Die nag voor die vlug van Katmandoe na Lukla (wat as een van die onveiligste lughawens in die wêreld beskou word), tref ‘n uitbraak van diarree en braking feitlik die hele groep, iets wat sommige die hele twaalf dae van die stap beïnvloed. Net drie uit die 45 spring dit vry. Twee klimmers moet later per helikopter van die berg gehaal word en nog twee met perde berg-af vervoer word omdat hulle te swak is.

Vir dr. Ilse Joubert (36), ‘n sportgeneesheer van Kaapstad, word dit ‘n ervaring wat sy nooit sal vergeet nie. Die nag voor die groep vyfuur die oggend na die lughawe moet vertrek, begin haar kamerfoon onophoudelik lui. Teen eenuur die oggend begin sy ook braak toe sy van kamer tot kamer beweeg om almal ingespuit te kry in ‘n poging om die simptome onder beheer te kry. Dis ‘n chaotiese situasie. Hoe kry ‘n mens soveel siek mense op ‘n vliegtuig? “Toe ons vyfuur bymekaarkom, moet ek een van die moeilikste besluite van my lewe neem,” vertel sy later. “Die toergids sê die mediese geriewe in Lukla is beperk. En ek het net twee drip-stelle by my. Maar daar is eers oor vier dae weer ‘n oop vlug en dan sal ons die hele klim moet afstel. Behalwe een stapper wat by die gebedspan in Katmandoe agterbly, klim die res toe maar half onkapabel op die vliegtuig … ”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Daar is tog geluk by die ongeluk. Danksy goeie weer kon hulle opstyg Lukla toe – die eerste vlug in vier dae wat dit kon regkry. Ná hul vertrek sluit die lughawe weer omdat dit te gevaarlik is.
Maar die vlug is ‘n nagmerrie. Die arme lugwaardin moet bontstaan om genoeg braaksakkies te voorsien. Elke vrou weet ook sy sal siek moet begin stap of terugdraai en alles verpas waarvoor sy so lank voorberei het.
Agterna vertel Esmarie Taljaard (33), ‘n geoktrooieerde rekenmeester van Pretoria wat nou heeltyds as die Freedom Climb-koördineerder van die Afrika-span vir die sendingorganisasie Operasie Mobilisasie werk: “In Lukla aangekom, lê die siekes toe oral versprei. Ons wyse staptoerleiers kry darem vir ons ‘n teehuis waar ons kan herstel voor die groot stap wat nou ‘n dag later moet begin. Die paar gesondes moedig almal wat in hul kamers lê en bewe aan om kort-kort ‘n paar slukkies van ‘n elektrolietdrankie te neem. “Maar dit wat ons probeer bereik, rus swaar op ons skouers. Ons bly vasbeslote om ‘n stem te wees vir dié wat nie ‘n stem het nie. Ons was vol moed omdat ons fiks en goed toegerus is, maar die Here het ons nou gelei om meer te identifiseer met die ontmagtiges vir wie ons klim. Die klim sal op die agtervoet moet begin, presies nes iemand wat die lewe arm of wees betree.”

Ilse vervolg: “Al wat ek kon doen, was om te bid. Ons kon op die een of ander manier wel die klim ‘n dag later aandurf, hoewel die pasiënte steeds elke uur meer geword het. Ek moes met hulle stap – stadig, rus-rus, tree vir tree. So het dit ‘n volle agt dae aangehou. Intussen moes ek probeer om die normale voorkoms van sinusitis of brongitis onder beheer te hou met die oog op die hoogtesiekte vorentoe.” In ‘n stadium het dit duidelik geword dat ‘n deel van die groep sal moet terugdraai. Net 26 van die stappers kon ná ‘n emosionele afskeid van die res voortgaan. Die bittereinders moes in sneeu kamp en in stortreën terugloop, maar 24 van hulle kon uiteindelik in uiters winderige omstandighede die Freedom Climb-banier op die kruin by Kalaphatar, 5 545 m bo seespieël laat wapper. Hul beloning was ‘n prag-blik op Everest. Esmarie kry in hierdie oomblikke “’n klein smakie van hoe mense moet voel wat vir die eerste keer vry is. Dis asof die berge sing.” En Ilse, verwonderd oor ‘n God wat haar sterk genoeg gehou het om die ander te help, sê: “Ek weet net waar medisyne nie meer kan nie, kan Hy.” Ander wat moes terugdraai, ervaar soos die psigiater en pastoor Alicia Rawlins (33) van Durban ‘n wonderlike vrede – al kon hulle nie die “Beloofde Land” sien nie. En toe almal uiteindelik weer byeen is, kry hulle die nuus: Tien mensehandelaars is die dag toe hulle die kruin bereik het, in Katmandoe vasgetrek. Freedom Climb se leuse sê mos: ‘n Groot sneeuval begin met een sneeuvlokkie, iets wat uiteindelik die verkeer (trafficking) tot stilstand dwing …

Operasie Mobilisasie (OM) is ‘n internasionale Christen-organisasie wat al meer as vyftig jaar onreg en onderdrukking die hoof bied. Hulle het 6 100 opgeleide werkers wêreldwyd met kennis van plaaslike tale en ‘n verbintenis tot langtermynbediening. Die Freedom Climb word onder hul beskerming aangepak. Die ideaal is om sewe pieke in sewe jaar te klim om ‘n stem te gee aan mense wat nie die vryheid het om uit hul omstandighede weg te breek nie. Die projekte wat hiermee gefinansier word, help om die siklus van armoede, skande en wanhoop te breek. OM werk proaktief deur opleiding, mense in te lig, en finansiering vir klein ondernemings te verskaf sodat weerlose mense ‘n eie inkomste kan genereer. Dit help ook met die langtermyn-rehabilitasie en geestelike ondersteuning van slagoffers in plekke van veiligheid.

Kontak Esmarie Taljaard / Roxanne Rawlings by ForFreedom@om.org of besoek www.thefreedomclimb.blogspot.com / www.thefreedomclimb vir meer inligting oor hoe mense met van voorbidding tot geldinsamelings kan help, of by volgende jaar se klim betrokke kan raak.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.