Kykers het reeds van die eerste episode van kykNET se splinternuwe koswerklikkheidsreeks gesien dat deelnemers op verskeie vlakke beproef gaan word. Dit gaan oor veel meer as vaardigheid in die kombuis, dit gaan ook oor hoe goed elkeen van die spanne die generasiegaping tussen hulle in spanverband navigeer.
Onthou, elke span se twee lede moet minstens 25 jaar in ouderdom van mekaar verskil.
Die tweede episode se tema was koekies en Andriette Georgiou, eienaar en skepper van Mondvol-koekies, moes saam met Herman Lensing en Yolani Abrahams besluit watter span se koekies koning gaan kraai.
Vir die afskop-uitdaging moes die spanne eers aan ’n koekieraai-kompetisie deelgeneem het. Maar die groter toets was toe die spanne hul hand en talent aan gebak moes waag. Dit was pa Andrew Anderson en sy dogter, Leoné Smit, wat as bakkampioene vir die koekie-proe en -bakuitdaging uit die stryd getree het.
Ronélle de Klerk (39) en haar geliefde tannie, Marianne du Plessis (64), kon ongelukkig nie die bakkuns bemeester nie en het die eerste span in hierdie seisoen geword wat hul voorskote moes ophang.

MARIANNE, 64, ’n afgetrede verpleegster van Kuilsrivier (Wes-Kaap)

Jou betrokkenheid by die Africa Burn Bikers – vertel gerus meer hoe en waar dit gebeur het?
‘n Klasmaat van skooldae, Henk van Niekerk, bestuur die Tankwa Tented Camp en hy was op soek na iemand wat kon help kos maak saam met sy goed-geoliede span kosmakers. En dit was net voor die Tankwa Bike Burn. Intussen het ons reeds die Mountainbikers, ’n troue en die Tankwa Trailrun gedoen. So jy klim op die “off road”-lorrie met al die kosse in koelbokse vervoer. Daar’s geen elektrisiteit by Tankwa nie en boonop is die yskaste maar skraps. Dis ’n veldkombuis en jy moet op jou voete kan dink
Terwyl dit begin lyk het of die generasiegapings bietjie krapperigheid of onsekerheid by van die spanne ontlok het, het jy en Ronélle gelyk of julle tog mekaar beter verstaan het. Wat was vir jou die hoogtepunt van julle twee saam in die Kokkedoor-kombuis?
Die kameraspan het ook die heeltyd vir ons gesê ons lyk so rustig, maar onder die kookwater het die twee eendjies lelik water getrap! Maar ek dink dis juis een van ons twee se sterkpunte – om rustig voor te kom in moeilike tye.
Jy en Ronélle het heerlik gelag toe julle gepraat het oor jou suster wat gaan wakkerlê as sy weet julle moet koekies bak. Wat is eintlik jou sterk punt in die kombuis?
Ja, met die kleinkoekie-spook moes ons dalk minder waaghalsig gewees het – en gebly het by dit wat ons ken. Ek dink nog steeds ons konsep was goed, maar die metodes wou nie so lekker uit werk nie. My sterk punt met kook? Ek hou van “slow cooking”, broodbak en om kos op die oop vuur te maak. Die inlê van produkte is ook een van my sterk punte.
Jy het vir Ronélle as kind met haar sandemmertjie leer ken. Wat van haar as grootmens het jou die meeste beïndruk?
Sy is ‘n ystervrou – en ek praat nie van haar heupvervanging toe sy 29 was nie. Sy is ’n briljante beroepsvrou, ’n wonderlike mamma vir Joost en ook ’n wonderlike vrou vir Jan. Ronélle laat mense glimlag. Sy gaan dit nog ver bring.
Jy’t gesê as julle by die huis kom, gaan julle niks kos maak nie. Wat was die eerste dis wat op jou gewag het – of moes jy maar weer inspring?
Dit was so koud op die dag toe ons by die huis aangekom het. En die hele familie het Struisbaai toe gekom. Ek dadelik ’n lekker pot boontjiesop gekook en brood gebak. Verder het die hele familie almal so lekker saam Kalahari-steaks gebraai, daar is gekook en gelag – sommer lekker lelik gelag – soos net ons kan!
Julle twee sou Drakensberg toe met julle ATKV-prys. Het dit toe gebeur?
Ons het besef dat ons twee se programme nie gaan uitwerk vir die Drakenberge nie. So, ek en my gesin het heerlik by Hartenbos ATKV gaan kuier. Dit was regtig ’n voorreg!
RONÉLLE, 39, ‘n argitek, fotograaf en kunstenaar van Ballito (KwaZulu-Natal)

Die rede hoekom jy saam met Marianne ingeskryf het vir Kokkedoor: Son & see is werklik roerend. Was dit presies, of aansienlik meer, as wat jy van julle ervaring saam verwag het?
Ek het saam met tannie Marianne ingeskryf omdat ek haar droom ernstig opneem. Sy moes al soveel drome groet in haar lewe met Nellie se gestremdheid, dat ek nie wou hê sy moet ook hierdie droom van Kokkedoor los nie. Ek het gehoop op ’n kombinasie van alles wat ek liefhet: familie, kos en Struisbaai, die plek van my kinderjare by die see.
Wat ons gekry het, was in baie opsigte baie meer as wat ek verwag het, mooier en harder op dieselfde tyd. Mooier, omdat ek tannie Marianne op ’n nuwe manier leer ken het, en omdat ons Kokkehane en Kokkehenne binne dae soos familie begin voel het.
Ons het selfs ’n WhatsApp-groep begin waar ons nog steeds resepte, grappies, trane en reünieplanne deel. Die band tussen deelnemers was vir my ’n bonatuurlike verrassing.
Maar dit was ook aansienlik moeiliker. Die druk, die generasiegapings, my eie uitputting en die feit dat ek siek begin word het, het gemaak dat ek soms gevoel het ek verloor myself. Vir maande ná die tyd het ek gedroom ek is terug in die stoor en die klok tel af. Tog, as ek vandag terugkyk, sien ek hoeveel dit my geleer het oor familie, oor myself en oor hoe kos mense bymekaar bring, selfs wanneer dit seer is.
Ons droom al informeel in ons groep oor ’n moontlike Kokkedoor: Son en see-resepteboek met al 16 deelnemers se stories, families en “vakansie-treffer” resepte. Dit is iets waaraan ons nog kou en oor droom, om die warmte en menslikheid van die reeks in boekvorm te deel.
Sal jy weer vir ’n soortgelyke werklikheidsreeks inskryf? En hoekom / hoekom nie?
In hierdie stadium, as ek eerlik dink aan die hele intensiteit en tempo van ’n werklikheidsreeks, sê my lyf nog bietjie: “Eers asemhaal”, maar my hart los tog ’n klein venstertjie oop vir “miskien eendag”. Kokkedoor het vir my gevoel soos army vir mense wat van kook hou. Jy word fisies, emosioneel en kreatief tot op jou grense gedruk. Daar was nagte ná die verfilming dat ek wakker geskrik het en gevoel het ek is weer in die spens, alles moet gelyktydig gebeur en ek kan nie onthou wat in die oond is nie.
Vir weke ná die uitskakeling kon ek nie eers normaal verby ’n tuisgebakte koekie in ’n winkel stap nie. My hart het gejaag en my maag het gedraai. Maar belangrik, my senuwees is nie so erg oor die kamera self nie. Ek het eintlik baie van die kamera-werk gehou en was verras hoe natuurlik dit vir my gevoel het om voor die kamera te praat en stories te deel. Daar is beslis ’n deel van my wat dit graag verder sou wou ontwikkel, of dit nou is deur meer van my werk te wys, of eendag dalk ’n projek saam met Jan wanneer ons seuntjie ouer is.
Op die oomblik is dit meer my kapasiteit en lewensseisoen wat my terughou as vrees vir die kamera. Ek het werk en gesin wat my volle aandag vra, en ek is versigtig om nie te veel op my bord te laai nie.
Ek kan my voorstel dat ek weer iets op televisie sal doen, maar dan in ’n tyd waar my tenk voller is en ek dit rustiger kan aanpak. Vir nou is ek dankbaar vir die ervaring, die mense en alles wat dit my oor myself geleer het, sonder om die deur vir die toekoms toe te maak.
Wat het jy in hierdie tyd van Marianne geleer wat jou verbaas het?
Ek ken tannie Marianne al van my kleintyd af op Struisbaai, maar Kokkedoor het my haar op ’n nuwe manier laat sien. Dit het my opnuut getref hoe bereid sy is om iets heel nuuts aan te durf op hierdie punt in haar lewe, tussen al haar verantwoordelikhede by die huis en met die familie.
Sy is in haar wese warm en vol humor, en sy bring maklik lig in ’n kamer, al is die dag lank en gespanne. Ek het gesien hoe sy, selfs as sy moeg is, nog tyd het vir ’n grappie, ’n storie of ’n bemoedigende woord vir iemand anders. Dit het my herinner hoekom mense so graag by haar kuier.
Ons is baie verskillende mense uit verskillende generasies, so dit was natuurlik dat ons nie altyd dieselfde manier van doen gehad het nie. Daar was beslis oomblikke waar sy haar eie manier in die kombuis wou volg en ek weer meer wou beplan of my eie stempel wou druk.
Sy is iemand wat nogal vinnig oor spanning sis en aanbeweeg, terwyl ek soms langer vat om dinge te verwerk. In plaas daarvan om dit as ’n probleem te sien, het dit my laat besef hoe verskillend ons bedraad is en hoe belangrik geduld en respek in so ’n span is.
Wat my die meeste geraak het, is haar uithouvermoë en lojaliteit. Sy dra al jare lank groot verantwoordelikheid vir Nellie en vir die familie, en tog het sy die moed gehad om hierdie ervaring saam met my aan te pak. Ek het haar opnuut bewonder vir hoe sy gee, hoe sy deurdruk en hoe sy, te midde van alles, steeds bereid is om saam te leer en saam te probeer.
Hoe het dit vir jou gevoel toe julle koekies deur Herman, Yolani en Andriette beoordeel is?
As ek heel eerlik is, koekiedag was net eenvoudig nie ons dag in die kombuis nie. Ons cookie dough het geflop en, figuurlik gesproke, ons koekie het gekrummel.
My ma is ’n ongelooflike koekiebakker. Sy het 3 kilogram koekies gebak en vir my met die koerier gepos, al die pad van die Kalahari tot in Ballito, sodat ek kon oefen om dit te versier. Dit wys hoe ernstig ons dit opgeneem het. Maar my lewe was voor Kokkedoor so ’n gejaag, dat ek nooit soveel kon oefen soos wat ek graag sou wou nie. Koekies was van die begin af op ons lys van goed wat nie juis ons sterkste punt is nie, maar dit was wel naby aan die hart.
Daardie spesifieke dag het ook swaar begin. My tannie het die oggend nuus ontvang dat een van hulle huisvriende oorlede is, so haar hart was swaar. Ek was self reeds besig om siek te raak en het nie heeltemal op my beste gevoel nie. Die kombinasie van emosie, moegheid en hoë druk het beteken dat dinge net nie mooi bymekaar wou kom nie.
Toe ons dan voor Herman, Yolani en Andriette staan, het dit gevoel soos om jou ma se koekblik op nasionale televisie oop te maak. My hart het in my keel geklop. Toe die kritiek kom en ons so vroeg moes groet, was dit seer, want dit het vir my gevoel asof daar nog soveel in my was wat ek nie kon uitleef nie, idees wat ek nie kon beproef en verder ontwikkel nie, kreatiewe draaie wat nog net in my kop bestaan het. Maar dan dink ek aan die ander mense daar. Iemand moes eerste uitval. En toe dit ons is, was daar terselfdertyd ook hierdie vreemde vrede, omdat ek so lief geraak het vir die ander deelnemers. Dit het gevoel asof ons ’n span is, ’n kleurvolle nuwe familie. Ek het dit hulle gegun om nog ’n kans te kry, nog ’n dag in die stoor.
Ja, ons koekie het gekrummel en die dough het geflop, maar een bord koekies op een moeilike dag definieer nie my waardigheid, my ma se koekie-erfenis, of my verhouding met kos nie. Dit bly deel van my leerproses, ’n oomblik met ’n traan en ook ’n klein glimlag.
Die wenners van Kokkedoor: Son & see sal R500 000 ontvang, geborg deur World Sports Betting. Die tweede span gaan wegstap met R180 000, geborg deur Spekko.
Kokkedoor: Son & see word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (Dstv-kanaal 144) uitgesaai.
Lees ook: Is Amerika regtig die beloofde land? Rian van Heerden se nuwe dokkiereeks stel ondersoek in




