Kykers het verlede week kennis gemaak met Kokkedoor: Son & see, die opwindende nuwe koswerklikheidsreeks uit kykNET se stal. In hierdie reeks, die tiende aflewering van die immergroen reeks, moet agt spanne mekaar die stryd aansê – maar die stryd is nie net tot die verskillende spanne beperk nie. Daar is ook die generasieverband want elke span moet uit twee familielede bestaan wat minstens 20 jaar in ouderdom van mekaar verskil.
Soos in die verlede met vorige reekse, maak daar ook gereeld gerekende gasbeoordelaars hul verskyning. Behalwe vir hul kundige insette, is hierdie gasbeoordelaars ook van groot inspirasie-waarde vir die deelnemers.
In Donderdag se tweede episode het die Kokkedore die Masterchef South Africa-naaswenner (2022 – toe nog de la Harpe), Instagram-sensasie en die stukrag agter Mondvol, Andriette Giorgiou van naderby leer ken.

Sy’s gedrewe, kreatief en propvol energie. Onlangs het sy tydens ’n onderhoud gesê: “Soos daar ’n ouma van Suid-Afrikaanse beskuit is, sal ek die tannie van Suid-Afrikaanse koekies wees. Hoekom dan nou nie?”
Inderdaad, hoekom dan nou nie?

Jy is ’n Instagram-sensasie en die ma van twee woelwaters (waarvan die jongste so pas gearriveer het). En bakster van formaat. Hoe kry jy alles gebalanseer?
Ek vra vir hulp! En ja, dit is so moeilik om te erken jy het hulp nodig. Veral as vrou is daar die narratief dat jy alles kan doen. Die waarheid is, ek kan nie. My ondersteuningsnetwerk is alles vir my. My ma hou Aimee vas as ek bak, my man, Andrew, hanteer die besigheid saam met my terwyl hy ook vir Annabelle by die skool optel. My span hou die fabriek aan die rol – it truly takes a village.
Jy het so byna-byna met die kroon weggestap tydens die vierde seisoen van Masterchef South Africa. Was dit die oomblik wat die deurslag gegee het om Mondvol tot stand te bring?
Ek wens ek het weggestap met die kroon vir die eerste plek! Maar naaswenner was net so ’n groot prestasie vir my. Die reis by Masterchef het vir my gewys ek kan dit doen – en dit het my geloof in myself gevestig. Die naam Masterchef het verseker vir my baie deure oopgemaak, maar dit is belangrik om te weet jy moet nog self opstaan en aan die deure gaan klop. Ek is diep dankbaar vir elke geleentheid!
Jou Mondvol-reeks bestaan uit meer as 60 geure. Waar kry jy die inspirasie vir die geure, en wat is jou kriteria wanneer jy ’n geur kies?
Ek is mal oor temas! Elke maand het sy eie een en die tema gee vir my ’n blank canvas en inspirasie om met nuwe unieke en vars idees na vore te kom. Die belangrikste kriteria: dit moet lekker proe!
Wat is vir jou die heel lekkerste koekiegeur en hoekom?
Ek is versot op my rooibostee-koekie. Dit proe soos ’n warm koppie tee, gedrink op ’n Sondagmiddag saam met my ouma se sny melktert. Nostalgie op sy beste.
Gee vir ons ’n voorsmake van of die deelnemers jou beïndruk met hul skeppings in Donderdag se episode:
Ek was so beïndruk met al die spanne se kreatiwiteit en braafheid om buite die boks uit te dink! ’n Mens moet kanse waag… Aan die einde van die dag was elkeen se koekies ’n toonbeeld van waag – en soms wen.
Kokkedoor: Son & see word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (Dstv-kanaal 144) uitgesaai.
Lees ook: Is Amerika regtig die beloofde land? Rian van Heerden se nuwe dokkiereeks stel ondersoek in
