kategorieë: Ons menseBekendes

Kosbare lewenslesse, inperking en die toekoms

Kosbare lewenslesse, inperking en die toekomsDeur Zoë Salzwedel. Hooffoto saamgestel uit Instagram-foto’s

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Van een ding is ons seker: ons leef in vreemde tye… ’n Verwoestende, onsigbare virus beheer ons daaglikse lewe, en skielik is iets soos inperking en “social distancing” die nuwe ‘normaal’. Meeste van ons werk tans van die huis af, hou vergaderings oor ZOOM of Skype en verlaat slegs die huis vir noodsaaklike inkopies. Baie ouers is skielik ook onderwysers, en geliefdes is van mekaar geskei. Ons kan nie gaan stap of gym, salonne besoek of by ons gunstelingrestaurante gaan eet nie. En boonop oorheers rillerstories oor die dodelike COVID-19-pandemie die nuus…

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Hoewel jy dikwels oorweldig voel deur alles wat op die oomblik rondom jou gebeur, is dit belangrik om altyd te onthou dat jy NIE alleen is nie! Ons almal – elke Suid-Afrikaner, elke persoon op aarde – is saam in dié ding. En die enigste manier hoe ons hierdeur sal kom, is om SAAM hierdeur te kom.

Lees ook: 10 Maniere om jou vriendin tydens inperking op te vrolik

Ons het by ’n paar van jou gunstelingbekendes gaan inloer om te hoor hoe hulle die inperking hanteer, waarna hulle uitsien sodra dit verby is, en wat “lockdown” hulle leer.

Karlien van Jaarsveld

Foto: Leana Clunies-Ross

Het die inperking vir jou meer waardering gegee vir dinge wat jy in die verlede as vanselfsprekend ervaar het?

Ek het meer waardering gekry vir tyd – minder tyd vir alles anders en meer tyd vir my gesin. Alhoewel gesinstyd nog altyd my eerste prioriteit is, het ek net weer opnuut besef dat alles wat ek ooit sal wil hê (en die grootste behoeftes wat ek vervul wil hê) almal saam met my onder een dak woon. Die brood wat ons geword het as liggaam van Christus, is vars uit my kinders se monde.

Wat hoop jy leer ons as Suid-Afrikaners (maar ook ons as die mensdom) uit hierdie situasie en die inperking?

Ek hoop dat ons sal sien dat Jesus die voorbeeld was van hoe dit lyk om terug te herstel tot die Ewige Lewe. Ek hoop almal besef nou dat Hy nie woon in kerkgeboue nie, maar in jou as tempel. Ons het tot nou toe dinge in stand gehou wat Jesus nie as voorbeeld gebring het nie – dinge opgebou wat Hy juis kom afbreek het! Ek bid dat elkeen Sy stem sal hoor en met Hom sal praat.

Waarna sien jy die meeste uit as die inperking verby is?

Beslis om my hare te kleur! Dit groei nou lekker donker uit na al my swangerskappe. Dit lyk behoorlik asof ek ’n donkerkop geword het. Oe, maar ek gaan die “naby tyd” saam met my gesin vreeslik baie mis!

Lees ook: Wat om te doen oor gekleurde hare wat nou uitgroei

Elana Afrika-Bredenkamp

Het die inperking jou meer waardering gegee vir dinge wat jy in die verlede as vanselfsprekend ervaar het?

Ek dink die inperking het vir ons almal meer waardering gegee – vir vryheid, familietyd, die feit dat ’n mens ander tye so vrylik kan rondbeweeg. Ek het ook ’n nuwe waardering gekry vir tyd! Die inperking het my ook geleer dat ek my familie se geselskap vreeslik baie geniet, en dat dit heerlik by die huis kan wees saam met my man en kinders. Ek waardeer ook die ekstra tyd wat ek het vir iets kreatief soos lees of verf.

Het jy dalk in hierdie tyd enige kosbare lewenslesse geleer?
Die lewe is gewoonlik ’n gejaag en die inperking het beteken dat baie dinge tot stilstand moes kom. Skielik het ek meer tyd gehad om te kan dink, leef en selfs meer te kan bid. Ek dink nie die inperking was so ’n slegte besluit nie, en dit het beslis vir ons kom leer van gehaltetyd saam met geliefdes.

Waarna sien jy die meeste uit sodra die inperking verby is?

Ek hardloop drie keer per week 7km. En om skielik net 1.5km rondom die huis te kan hardloop was beslis iets om aan gewoond te raak. Ek kan nie wag vir die inperking om verby te wees sodat ek weer vrylik kan gaan draf nie. Ek mis dit ook om my kollegas te sien, so dit sal nogal werklik ’n treat wees!

Charlenè Brouwer

Wat doen julle nou anders as in die verlede danksy die inperking?

Ek en my man was nog altyd bevoorreg om saam te kan werk, en ons was gelukkig genoeg om vir die eerste 16 maande van ons seuntjie se lewe van die huis af te kan werk en dus heeltyd by hom te wees.

Ek dink aanlynvergaderings is iets positief wat uit dié krisis ontstaan het. Dit spaar soveel tyd, moeite en petrolgeld. Dis vinnig en tot die punt, en ek vind dit baie meer effektief as ellelange aangesig-tot-aangesig vergaderings.

Lees ook: 6 Slim mooimaakwenke vir jou video-ontmoeting

Selfs as aktrise moet ons nou almal video opnames stuur vir oudisies. Dit beskerm jou teen  ongelooflik baie emosionele frustrasies beskerm – nou word jy die kans gegun om die beste weergawe in te stuur. Wanneer dit by oudisies kom, is ek baie senuweeagtig. Soms is dit so erg dat ek vir dae lank voor die tyd nie kan slaap nie. Dis absoluut ’n emosionele blok, veral omdat ek op stel (en in my rolle) nooit sulke angs ervaar nie – dit gebeur slegs voor oudisies. Ek dink die vrees vir verwerping vang my. So, die videos is iets wat my soveel meer gerus laat voel.

Het jy dalk enige kosbare lewenslesse in hierdie tyd geleer by jou man en babaseuntjie?

Ek leer elke dag by my seuntjie iets nuuts, reeds van voor die inperking al. Ek dink as dit nie vir hom was nie, sou die hele situasie vir my baie erger gewees het. Daniel se lewenslus en positiewe energie is so aansteeklik. Dié kindjie vind geluk in alles! Selfs uit iets so eenvoudig soos om klippe heen en weer in ons tuin rond te skuif.

Ek het wel geleer dat ek nie moet toegee aan my angs nie. Ek het begin om aanlynvideos te maak om positief te bly, en in dié proses leer ek myself ook beter ken. Dit leer my dat dit oukei is om mens te wees, oukei is om gevoelens te hê, maar ook hoe om te my gevoelens en emosies in iets positiefs te omskep. Dis soms werklik moeilik omdat die realiteit van die virus so oorweldigend is, maar elke kort-kort sit ek net terug en haal diep asem. Al wat nóú saak maak is my geliefdes se gesondheid en dankbaarheid vir alles wat ek het.

Ek het wel – tot my skaamte – agtergekom oor hoeveel luukshede ek as vanselfsprekend aanvaar het. Ek het my kaste begin regpak en op baie goed soos klere en boeke afgekom wat ek nie meer nodig het of gebruik nie. Ek gaan baie van dit skenk aan mense wat dit meer nodig het as ek. Oor die jare het ek soveel dinge opgegaar, maar daar is baie wat baie meer nodig het.

O ja, en ek het ook besef dat ek wel self lekker vegan-koeke kan bak en baie meer kan doen met baie minder geld.

Waarna sien jy die meeste uit sodra dit verby is?

Dis eenvoudig: om my seuntjie na ’n glyplank toe te neem! Dis sy gunstelingaktiwiteit, maar ons het nie ’n klimraam by die huis nie. Hy wys elke dag verlangend na die geel glyplank in sy boek en dan wil my hart breek. Maar ek probeer ook vir hom verduidelik dat ons baie dinge het om voor dankbaar te wees. Sodra die inperking eindig, gaan ek hom na ons omgewing se speelpark neem, en so lank soos hy daar wil speel, sal ons speel.

Ek dink sodra die inperking gelig word, gaan sy ouma en oupa van Pretoria dadelik in hul kar spring en kom kuier. Ons mis mekaar vreeslik en het gereeld saamgekuier al woon ons in verskillende provinsies.

Vir myself sien ek natuurlik die meeste daarna uit om weer te kan gaan draf, en die see weer te kan sien. Maar ek moet erken dat ons wel vir ‘n rukkie sal wag voordat ons weer die huis verlaat sodat dinge net eers kan bedaar.

Rozanne McKenzie

Het die inperking jou meer waardering gegee vir dinge wat jy in die verlede as vanselfsprekend ervaar het?

Beslis! Ek het meer waardering vir die eenvoudige dinge in my lewe, soos om in my kar te klim en net iewers heen te ry, of te gaan oefen by die gym. Ek mis die gym baie! Ek vind dit ongelooflik moeilik om gemotiveerd te bly en by die huis te oefen, maar ek probeer om elke dag darem iets te doen.

Ek het nog altyd ’n groot waardering gehad vir onderwysers – ek was self vir ’n jaar een en het dit glad nie geniet nie. Maar ek het nou selfs ’n groter waardering vir onderwysers! Die moeite, tyd en beplanning wat hulle in hul lesse sit, en die geduld om ’n klas vol kinders te hanteer, is werklik spesiaal. Ons het net twee kindertjies en sommige van ons tuisonderrigklasse is behoorlik ’n sirkus!

Ek wil ook baie graag weer net vir iemand ’n drukkie kan gee.

Wat hoop jy leer ons as Suid-Afrikaners (maar ook as die mensdom) uit hierdie inperking?

Ek hoop ons leer om met minder klaar te kan kom. Daar is soveel fokus op die materialistiese dinge in die lewe, en dis alles goed wat ons in hierdie tyd glad nie kan gebruik nie. Die fokus is nou op ons menswees. Mens besef nou dat jy eintlik ander mense nodig het, en hoe belangrik vriende en familie is. Ek hoop ook ons leer om ons gesondheid ernstiger op te neem, en dít sluit ook ons geestesgesondheid in!

Waarna sien jy die meeste uit sodra dit verby is?

Ek sien daarna uit om iewers in die natuur te gaan stap en dit net te ervaar asof dit my heel eerste keer is – ek wil elke oomblik waardeer en geniet. Ek wil ook graag weer ’n lekker groot burger en tjips met al die trimmings geniet!

Charlize Berg

Wat doen julle nou anders as in die verlede danksy die inperking?

Ek en my gesin spandeer baie meer tyd saam, en dis absoluut amazing! Ons maak self die huis skoon, en met ’n tweejarige voltyds by die huis, is dit beslis ’n missie en ’n half!

Ons hou ons dogtertjie, Aleiah, deur die dag besig met heerlike arts en crafts soos verf, die stoep inkleur met kryte, musiek luister en trampolien spring.

Ek en my man het ons derde huweliksherdenking in kwarantyn gevier, en ek en my sussie ook ons  verjaarsdae. Dit was baie spesiaal – van die fondue en tuisgebakte koekies tot malvalekkers wat in sjokolade gedompel is! En ons het op ons eie manier baie kosbare herinneringe gemaak.

Wat hoop jy leer ons as Suid-Afrikaners (maar ook as die mensdom) uit hierdie inperking?

Perspektief! Ek dink die virus het baie van ons nederig kom maak. Ek het opnuut besef hoe kosbaar familie, vriende, vryheid, gesondheid en die lewe is.

Die Covid-19-pandemie het my kom herinner daaraan om dankbaar te wees vir elke oomblik, vir elke dag wat ons het om ’n verskil te kan maak en net die lewe te geniet.

Ek hoop ook dit leer ons om saam te staan, nie nét as nasie nie, maar ook as mensdom. Ryk of arm, maak nie saak wie jy is of waar jy vandaan kom – almal word hierdeur geraak en ons moet saamstaan om dit te oorkom.

Waarna sien jy die meeste uit sodra dit verby is?

Om weer te kan optree – te kan sing op ’n verhoog. Ek sien daarna uit om te kan braai saam met geliefdes, weer te kan uiteet en in die winkels rond te loop. Ek sien ook baie daarna uit om weer wyn te kan koop en by die gym te gaan oefen.

Marijke Coetser

Het die inperking jou meer waardering gegee vir dinge wat jy in die verlede as vanselfsprekend ervaar het?

Dit het my definitief laat besef dat ’n mens iets so eenvoudig soos om vrylik buite rond te kan beweeg, of om vinnig ’n ou koffietjie saam met ‘n vriendin te gaan drink, as vanselfsprekend aanvaar het. Ek mis deesdae selfs Johannesburg se verkeer!

Het jy dalk enige kosbare lewenslesse in hierdie tyd geleer by jou man en kinders?

Ek het myself die afgelope paar weke forseer om in die oomblik te leef en die situasie te aanvaar soos wat dit is. Ons babadogtertjie het onlangs leer kruip en ook geleer hoe om haarself teen goed op te trek. Sy het selfs al haar eerste tand gesny! Dit was wonderlik om daar te kon wees vir elkeen van dié groot oomblikke en regtig elke oomblik saam met my man en kinders te spandeer.

Met ons oudste, Juwan, se tuisonderrig probeer ek dit so lekker moontlik maak – hy moet byvoorbeeld na elke vak ’n paar keer om die swembad hardloop om “klas te wissel” en vir elke vak sit ons op ’n ander stoel rondom die tafel. Ons speel dat ek sy juffrou en hy die klaskaptein is.

Ek het ook geleer om my volle aandag ten volle aan my gesin te gee, my foon eenkant toe te skuif en net in die oomblik saam met hulle te wees.

Laai dit af: GRATIS aktiwiteitboekie vir kinders

Waarna sien jy die meeste uit sodra dit verby is?

Om saam as gesin ’n heerlike koffiewinkel te besoek, maar ook om weer te kan begin werk. Ek is baie geseënd om ’n werk te kan hê waaroor ek passievol voel. Ek kan nie wag om weer te begin werk nie!

Haidee Muller

Foto: Verskaf

Het jy dalk enige kosbare lewenslesse in hierdie tyd geleer by jou kinders?

My dogtertjie, Maddy, is nog klein (nog nie eers 2 jaar oud nie), maar ek kan wel aanvoel dat sy haar maatjies by die dagsorg mis. Ek dink nie ons kan die lewe soveel pret maak soos ’n maatjie kan nie. Gelukkig is sy ’n kind wat met min tevrede is, en soek net soms ons aandag. Verder speel sy lustig voort op haar speelmat of rustig in haar camping cot.

Deur haar fyn dop te hou, het ek geleer dat sy eintlik maar net soms ons volle aandag soek, maar verder heel gelukkig is op haar eie. Kinders leer ’n mens elke dag iets nuuts. Nes hulle die wêreld om hulle elke dag verken, leer jy meer oor jou kind. Ek is net dankbaar dat sy gesond is en met so min tevrede is. Al kry ek as gevolg van werk nie altyd die tyd om heeltyd met haar te kan speel nie, probeer ek tyd maak om wel ook genoeg aandag aan haar te gee.

Maddy is vrolik, en hierdie kind, hoe klein sy ook al mag wees, se bly en vrye gees inspireer my om aan te hou en uit te hou – al lyk die wêreld daarbuite ook hoe somber. Ek is soms hartseer dat sy in hierdie soort wêreld moet grootword, maar ek dink sy sal oraait wees. Sy verbaas my elke dag. ’n Mens moet nooit ’n kind onderskat nie!

Wat doen julle nou anders as in die verlede danksy die inperking?

Ons het kosbare gesinstyd saam. Ons bly tuis en ry nêrens heen (tensy ons móét winkels toe gaan vir noodsaaklike inkopies) en probeer om elke oomblik saam te koester (dis nou as ons nie werk nie).

’n Mens gesels meer. Maar bowenal, jy leer meer oor jou kapasiteit vir selfdissipline as enigiets anders. Ons leer ken ook ons kind beter, want ons sien haar uiteraard vir langer tye. Ek dink ook ons leer hoe om mekaar beter te verdra, veral in omstandighede wat totaal en al buite ons beheer is. So ek sou verdraagsaamheid uitsonder. Ons stry minimaal, want ons albei besef dat ons móét werk en beurte moet maak om tyd met ons dogtertjie te spandeer sodat elkeen sy werk kan afhandel. Ek dink iets soos dié kan ’n verhouding maak of breek. Maar as julle kommunikasie goed is, leer ’n mens cope, want julle moet saam kan werk as ’n span.

Luister: Kommunikasie en konflikhantering tydens “lockdown”


Waarna sien jy die meeste uit sodra dit verby is?

Om weer om die eetkamertafel te kan sit met ons hegte pelle. Ons onthaal oor die algemeen nie meer groot groepe mense nie, maar ek mis daai samesyn rondom die eetkamertafel. En op die oomblik dien daardie einste eetkamertafel nou as kantoorruimte.

So ek sien baie daarna uit om weer lekker te kan kuier met mense na aan my hart. Ek brand ook om vir my ouers op Oudtshoorn te gaan kuier, want Maddy word so vinnig groot… Maar vir eers moet video-oproepe die ding doen!

Zetske van Pletzen

Het inperking jou meer waardering gegee vir dinge wat jy in die verlede as vanselfsprekend ervaar het?

Ja, beslis! Net om te gaan draf is iets wat ek beslis as vanselfsprekend aanvaar het. Ook die vryheid om enige tyd iewers heen te mag ry, uit te eet of te fliek.

Wat hoop jy leer ons as Suid-Afrikaners (maar ook as die mensdom) uit hierdie inperking?

Ek hoop dat dit vir almal nuwe perspektief sal gee oor dit wat regtig belangrik is in die lewe, en dat mense sal besef dat die “rat race” eintlik net ’n gejaag na wind is.

Waarna sien jy die meeste uit sodra dit verby is?

Ek kan nie wag om weer saam met my vriende en familie te kuier nie! En sien ook uit daarna om weer vir mense te kan drukkies gee.

Deel
Gepubliseer deur
Zoe Salzwedel

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

5 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

6 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

6 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.