kategorieë: Ons menseBekendes

Kunstenaar Hannatjie van der Wat is oorlede

Kunstenaar Hannatjie van der Wat is oorlede. Hooffoto: Hema Patel

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hannatjie van der Wat op 83

Hierdie onderhoud het oorspronklik in die Oktober 2005-uitgawe van rooi rose verskyn. Onderhoud deur Ilse Salzwedel. Foto’s: Ivan Naudé.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Ma, dogter, kleindogter en agterkleindogter … vier geslagte vroue in wie se bloed die skeppingsdrif klaarblyklik polsend klop. Ilse Salzwedel het by skilder Hannetjie van der Wat, dogter Marianne Fassler en kleinkind Hannia Weber gaan kuier.

Foto: Ivan Naudé

’n Tradisie van styl

Dis ’n Woensdagmiddag in die laatwinter toe ons almal by Koos en Hannatjie van der Wat se statige huis in ’n ou, boomryke voorstad van Johannesburg bymekaarkom. Dis ’n vriendelike, groot
plek met ’n binnehof vol orgideë en ’n breë, lang gang met reusevensters, ’n ruimte spesiaal ontwerp vir Hannatjie se moderne, kleurryke skilderye. Die res van die huis is kuierhuis, ’n plek waar ’n ouma en oupa en hul kinders en kleinkinders, en deesdae agterkleinkinders, nog gereeld Sondae saameet en kuier.

Vandag is die huis ’n miernes van bedrywigheid vir ons fotosessie. Die sesjarige Sibella dartel vrolik rond tussen die grootmense. Sy’s vasbeslote om net deel te wees van die fotosessie as sy ’n hond kan wees. Aan die ander kant van die vertrek sus Hannia die jongste toevoeging tot die familie, klein Sophia (ses weke oud), aan die slaap. Op die eetkamertafel staan koffie, tee en mineraalwater vir die dorstiges. Die ryk Brasiliaanse sjokoladekoek het Hannatjie spesiaal vir die geleentheid gebak.

Hierdie huis se vrou, sien jy gou, glo nog aan gasvryheid en elegante stylvolheid, iets wat sy ook oorgedra het aan haar dogter, die bekende modeontwerper Marianne Fassler, en haar kleinkind,
Hannia Weber, ’n dekorstilis en deesdae betrokke by die Sibella-kinderklerereeks wat Marianne ontwerp.

Tussen die grimeerdery kry ek kans om met Marianne te praat. Sy moet terug werk toe ná die fotosessie, want die volgende week is dit Modeweek in Kaapstad, en daar is nog baie om te
doen.

Ná die fotosessie spat almal uitmekaar.

Ek bly agter om met Hannatjie te gesels, en kom eers donkeraand daar weg, diep onder die indruk van die statige vrou se uitsonderlike kunstalent, stylvolheid en hartlikheid.

Eers ma, toe kunstenaar

Vir ’n drie en tagtigjarige vrou is Hannatjie besonder energiek. “Die trappe is ons gimnasium,” merk haar man Koos droogweg op. Die Van der Wats woon al 51 jaar in dieselfde huis, en daar is ’n stewige stel trappe na hul slaapkamer en ook na Hannatjie se ateljee, waar sy nog daagliks skilder.

Haar ateljee is netjies, met tientalle skilderye in rakke geliasseer. Die helder, baldadige kleure tref dadelik die oog. Ek onthou dat Hannia in ’n vorige onderhoud vertel het hoe lief haar ouma en
oupa vir mooi, helder kleure is. (Oupa Koos, ook in die tagtig, praktiseer steeds as ginekoloog, en is wyd bekend vir sy kleurryke strikdasse en dasse.)

Tog is dié profeet nie so geëerd in haar eie land as wat sy verdien nie. Die Brasiliaanse Akademie van Skone Kunste in Rio de Janeiro het haar wel verlede jaar as een van hul tien vroue
van 2005 vereer. Sy was die enigste kunstenaar, en die enigste buitelander. ’n Sonderlinge eer, maar heel gepas vir ’n vrou wat al sedert 1988 deel is van hul Akademie en deur die jare aan
verskeie groepuitstallings daar deelgeneem het.

“Ek het soveel meer bereik as wat ek verwag het,” sê sy beskeie “Maar jy moet die geleenthede gryp wat die lewe jou bied. Want op ’n dag is jou dag verby.”

Sy is ’n paar jaar gelede ook deur die Brasiliane met ’n erepenning vereer – die negende ontvanger in vyftig jaar, en die eerste buitelander.

Sy wens sy kon alles wat sy al geskilder het, net een keer bymekaar sien, mymer sy terwyl ons deur die skilderye kyk. Maar as sy terugkyk, was skilder vir haar nooit so belangrik soos haar
gesin nie. “Ek was eers ma, toe kunstenaar.”

Kleintyd was sy daar vir Marianne en haar tweelingbroer Johan, deesdae ’n ginekoloog, en Koos, ’n oogkundige. En natuurlik vir haar man Koos, met wie sy vanjaar 58 jaar getroud is. En
ook vir elkeen van die elf kleinkinders en twee agterkleinkinders wat mettertyd bygekom het. Sy het veral baie gehelp met Marianne, wat ’n enkelouer was, se twee dogters, Hannia en Marisa.

Vir haar man het sy net lof. “Hy’s ’n lieflike mens wat my in alle opsigte ondersteun. Hy’t my toegelaat om my eie ding te doen. Ek was gelukkig dat ek nooit moes skilder om aan die lewe te
bly nie, maar bloot omdat ek wou.”

Sy het nie kuns op skool gehad nie, maar wou nooit iets anders as ’n kunstenaar word nie. Die kunstalent het sy by haar ma gekry, en dit verder ontwikkel by die Johannesburgse Kunsskool
en later onder Sidney Goldblatt.

As sy terugkyk, onthou sy ’n vol lewe. Reis is ’n groot liefde, veral Indië, Egipte en Brasilië.

Sy’t ook gesorg dat elkeen van haar kleinkinders minstens een oorsese reis saam met haar en oupa Koos meemaak.

Haar familie is steeds die heel belangrikste, en almal woon ’n klipgooi van mekaar in dieselfde deel van Johannesburg. Daar’s min dae wat sy nie kontak het met almal nie. Hulle is ’n “sentimentele” lot wat baie oor en weer kuier. “Hulle moet weet hulle behoort aan ons.”

Foto: Ivan Naudé

“Dit het sy my geleer …”

Hannatjie:
“Ek het al my kinders geleer om ’n ding goed te doen as hulle dit doen. En om hulle passie uit te leef. Jy moet jou kinders inspireer, hul behoeftes en talente raaksien en help om dit te ontwikkel – dis ’n ouer se voorreg.

“Ek het my kinders respek probeer leer – vir mekaar, vir ons as ouers en vir tradisie. Respek is vir my amper groter as liefde, en beslis belangriker as rykdom. “Ons is almal deel van ’n ketting, en ek het my kinders geleer om die heel sterkste skakel te wees wat hulle kan. Jy wil tog nie bekend wees as die swak skakel nie. Uiteindelik kom dit alles terug na selfrespek.

“Ek het by Marianne volharding geleer. Sy is ’n wonderlike ma wat in moeilike omstandighede die beste vir haar kinders en vir ons as ouers gegee het. En ek het natuurlik eindelose bewondering vir haar asemrowende kreatiwiteit. Hannia is ’n besonder begaafde kunstenaar, en ek weet sy sal ook daarby uitkom as sy eers haar kindertjies grootgemaak het.”

Marianne:

“My ma het my onvoorwaardelike liefde geleer, maar ook hoe belangrik dit is om deftig, ordentlik en smaakvol te wees. “Ek het ook by haar geleer hoe jy jou werk en jou familie moet balanseer. Ek dink sy het haar gesin soms te veel gegee. Sy kon dalk selfs nog meer erkenning gekry het vir haar kuns as sy nie so onbaatsugtig was nie.

“Ek het vir Hannia en Marisa, wat ’n ekonoom is, probeer leer om daar te wees vir mense en om lief te hê. Ook om bestendig te wees.”

Hannia:

“My ma en ouma het my geleer jy doen ’n ding behoorlik. By my ouma het ek die belangrikheid van familiebande geleer. Sy was my lewe deur nog altyd daar vir ons – toe ek heel klein was, het ek haar selfs vir ’n rukkie ‘Mamma’ genoem!

“Sy is steeds daar vir ons almal. Toe ek onlangs met ’n pap baba in ’n nuwe huis ingetrek het, het sy kruideniersware en etes gebring, en vir die eerste paar weke elke week ’n koek.

“Ek onthou van heel vroeg af haar koestering en liefde en warmte. My ouma was nog altyd die een wat ons uitgebreide familie so half omhels en bymekaartrek. Sy laat elkeen in die familie spesiaal voel, en is baie trots op elke kind en kleinkind.

“Ek het by sowel my ouma as my ma geleer van goeie gehalte. My ouma het byvoorbeeld toe ek klein was vir my Italiaanse skoene gaan koop omdat ek ’n baie smal voet het. Toe ek gaan kuns studeer, het sy altyd gesorg dat ek goeie toerusting het – die beste verf, die beste kwasse.

“Albei is baie kreatief en het dit by my aangemoedig. Ek bewonder hulle albei vir hul lewenslus en konstante energie vir nuwe dinge, nuwe mense, nuwe kuns.

“Ek bewonder my ouma baie vir haar geloof. Dit was nog altyd vir haar baie belangrik, en sy het ons altyd aan die belangrikheid daarvan herinner. ’n Mens het so iemand nodig.

“My ma en ouma put albei baie genot en inspirasie uit hul reise. Verder is albei baie lief vir kos maak. My ouma het seker gemaak dat ek ’n Kook en Geniet het, dat die basis reg is. Maar sy dra ook vir my nuwe resepte aan wat sy van die BBC Food-kanaal kry.

“Ek sou my ouma seker kon beskryf as ’n tradisionalis met ’n twist. Sy’t byvoorbeeld my dogtertjie Sibella se naam gekies. Dis ’n familienaam wat kom van ’n dogtertjie wat in die Engelse konsentrasiekampe dood is. Die sussie wat oorleef het se naam was Sophia, die naam van my babadogtertjie.

“Albei het my geleer om nie ’n modeslaaf te wees nie. Ek bewonder hul individualiteit as dit by mode kom – nie een van hulle neem hulself te ernstig op nie. Hulle lyk eenvoudig nooit soos ander mense van hul ouderdom nie. Albei het my ’n liefde vir kleur geleer. Beige bestaan nie in ons verwysingsraamwerk nie.

“Dis vir my wonderlik om te sien die lewe hoef nie op ’n sekere ouderdom op te hou nie – dis vir my ’n inspirasie om te sien dat jy op 83 nog ’n toekenning vir jou kuns kan kry.”

Marianne oor hul styl

My ma het altyd haar eie klere gemaak,” onthou Marianne. “Sy het graag hoede gedra, en sy en my pa is albei lief vir mooi klere en kleure. Sy het ook kleintyd vir my die mooiste popklere
gemaak.

“My ma was die it-girl van haar tyd, en haar styl het beslis ’n invloed op my styl gehad. Ek was van kleins af blootgestel aan internasionale tydskrifte, en haar vriendinne het my toegelaat om deur hul kaste vol couture-klere te kyk vir idees.”

Die Van der Wats se oorsese reise het Marianne ook van jongs af met ander oë na mode laat kyk.

Haar ma het haar die vryheid gegee om te dra wat sy wou, maar was tog ingestel op gehalte. “Selfs as kind het ek Italiaanse skoene gedra.”

Ná matriek is Marianne Wits toe om te gaan kuns studeer, maar sy is daar weg met ’n honneursgraad in Afrikaans-Nederlands.

“Ek was nie juis lief vir verf op doek nie,” bieg sy. Sy het wel kunsgeskiedenis as vak geneem, en is tot vandag ’n groot kunsliefhebber en -versamelaar saam met haar man, Charles Bothner.

Kort ná matriek het Hannatjie daarop aangedring dat Marianne ’n kursus by ’n Hongaarse kleremaakster gaan loop. “Want as jy nie leer om jou eie klere te maak nie, gaan jy die res van jou lewe kaal rondloop,” het sy glo gesê. “G’n man sal ooit jou klere kan bekostig nie.”

Marianne se leermeester het haar blootgestel aan klere in die Europese styl, en was baie streng oor detail en fyn afwerking. ’n Nuwe wêreld het vir Marianne oopgegaan. Haar eerste skeppings is vertoon by ’n modeparade in ’n kerksaal vir haar ma se vriendinne.

Drie jaar later het sy haar eie boetiek in Johannesburg gehad, en heel gou was haar naam op die lippe van al wat ’n internasionale modekenner is.

“Klere is vir my ’n instrument waarmee ek mense kan bemagtig en kan help om goed te voel.”

Vir haar is mode iets wat ook die geskiedenis weerspieël.

Dit was ’n groot kompliment toe iemand eendag opmerk dat sy die een mens is wat moeiteloos van die ou na die nuwe Suid-Afrika kon oorgaan, ook wat haar werk betref.

Sy is nie ingestel op geleentheidsdrag nie, en het haar twee dogters ook geleer wat sy toegelaat is om te doen: Om nie die mode slaafs na te volg nie. “Ek sê altyd vir mense dat dit eerder jou styl is wat jou deurdra.”

Hannatjie op 93

Hierdie onderhoud met Hannatjie van der Wat het oorspronklik in die Junie 2015-uitgawe van rooi rose verskyn. Die onderhoud is deur Ilse Salzwedel. Foto: Hema Patel.

Foto: Hema Patel

Dis nie almal wat reuse- moderne skilderye kan skilder nie.

Tog is dit presies wat Hannatjie op negentig nog vir haar laaste groot uitstalling gedoen het.

As skilder was sy haar tyd ver vooruit. In ’n tyd toe min vroue verder studeer het, het Hannatjie kuns kom studeer in Johannesburg, wêrelde verwyder van haar grootwordjare op die familieplaas naby Greylingstad. Ná haar opleiding aan die Johannesburg School of Art, het sy ’n ruk lank skoolgehou voordat sy in 1948 met Koos van der Wat, ’n ginekoloog, getroud is. Hulle het drie kinders: Marianne Fassler, die bekende modeontwerper, en haar tweelingbroer Johan, ook ’n ginekoloog. Kosie, die jongste, is ’n oogkundige.

Haar werk was deurentyd in groot aanvraag onder kunskenners en galerye. Plaaslike eer was daar min, maar die Brasiliaanse Akademie vir Skone Kunste het haar in 1994 vereer met ’n Honoris Causa en in 1997 met ’n Grande Medalha da Honora, hul hoogste eerbewys.

“Man, jy moet jou nie doodskrik vir ouderdom nie. Dis net ’n getal,” vertel sy oor ’n keurige middagete wat sy voorberei het.

“Ek dink nie oor ouderdom nie en praat nie daaroor nie. Ek ktief wees as jy ouer word: stel elke dag vir jou doelwitte.” Haar lewe is interessant, daarvoor sorg sy. “Ons kinders woon naby ons en loer daagliks in. Ek is ook geseën met wonderlike kleinkinders en agterkleinkinders, en het heelwat vriendinne, baie van hulle jonger as ek. Jy is baas van jou lewe en as jy eensaam is wanneer jy oud is, dink ek jy het ’n groot aandeel daarin.

“Koos glo ook aan ’n aktiewe lewe en het tot twee jaar gelede – op negentig – nog weekliks vir Johan met operasies bygestaan. Ons was nie bang vir aftree nie, maar hoekom sal jy net rondsit? Jy kan ook net soveel reis, want eintlik is jou huis die nukleus van jou bestaan. Ons het besluit om net hier te bly waar ons al woon vandat die kinders klein is. Jy is op jou gelukkigste binne die versorgende kring van jou familie en in jou eie ruimte. As ons versorging nodig het, sal ons iemand aanstel wat ons hier kan versorg.”

Sy het ook onlangs met weeklikse gimnasiumsessies begin. “Dis ontwikkel vir ouer mense soos ek, en ek geniet dit vreeslik.”

’n Dag of wat voor ons onderhoud het sy haar versameling dokumentasie en korrespondensie aan die Universiteit van Pretoria oorhandig. Deeglik soos sy is, het sy alles uitsorteer.

“Nou weet ek my kinders gaan nie daardie moeilike taak hê nie.”

Sy het nie veel erg aan televisie nie – “daar is in elk geval altyd iets om te doen” – maar noudat Koos daagliks by die huis is, kyk sy soms ’n fliek saam met hom. “Ons lees elke dag koerant en lees
graag boeke. Ek is nie ’n enkele oomblik verveeld nie. Ek skilder nie baie op die oomblik nie, want ek het so baie goed wat my besig hou. Die bonus is dat jy saans doodmoeg in die bed klim en lekker slaap – sonder ’n slaappil.”

Hannatjie is filosofies oor die ouderdom. “Om oud te word is nie ’n straf nie. Dis ’n geweldige voorreg, ’n seën. Gebruik jou tyd. Kry ’n plan vir elke dag. Gee van jouself – hoe meer jy gee, hoe meer gaan jy ontvang.”

Sy weeg nog dieselfde as toe sy 67 jaar gelede getroud is.

“Ons hou van vrugte en groente en het nooit ’n oormaat vleis geëet nie. Ek drink nie wyn nie, en eet ook nie tussenin nie. Ek dink dit gaan maar oor balans.”

Sy glo aan ’n positiewe lewenshouding. “Almal se lewe bestaan mos maar uit ’n hooggety én ’n laaggety, en ons het moeilike dae en hartseer beleef. Maar as ek terugkyk, is ons so geseënd. Ek vrees niks – dit beteken nie ek dink nooit aan die toekoms en dit wat wag nie, maar wat sal dit help om bang te wees?”

Geloof maak die lewe vir haar makliker.

“Elke skip moet ’n anker hê. Dan gaan min dinge regtig verkeerd, en kan jy makliker aanvaar wat oor jou pad kom.”

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.