Kweek só respek deur Anys Rossouw. Foto’s: pexels

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Respek is ’n tweerigting-ding

Mense behandel ander soms openlik en blatant sonder respek. En dit gebeur dikwels ook onder die radar op subtiele, manipulerende maniere. Iemand sal dalk sy oë rol, subtiel wegdraai, jou nie ’n kans gee om te praat nie, of nie jou vrae beantwoord nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Ouer mense en mense in gesagsposisies éis dikwels respek van jongeres, of van mense wat volgens hulle in ’n ondergeskikte posisie is. Maar respek is ’n tweerigtingding. Mense wat dit gee, ontvang dit gewoonlik ook. Dis baie makliker om geld te verdien as om ander se respek te verkry. Die meeste mense verloor soms beheer en kan in ’n onbewaakte oomblik iets sê of doen wat oneerbiedig is.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Wanneer iemand sonder respek optree, sê dit meer van hom as van die ontvanger. Nege uit tien keer het dié mens ’n probleem, ’n slegte dag, of swak kommunikasie- of emosionele vaardighede.

Daar is ook mense met min selfvertroue en selfrespek wat bevrediging daaruit kry om ander nie met respek te behandel nie. Daar was dikwels in hul ouerhuise min respek vir mekaar, of hulle is as kinders sonder respek behandel, en dis die patrone wat hulle aangeleer het. Maar daar is wel kere wanneer mense gesoek het na wat hulle kry. Daarom is dit tog nodig dat ’n mens hand in eie boesem steek en bepaal of jou optrede nie daartoe lei dat ander jou nie respekteer nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Hoogs sensitiewe mense voel dikwels dat ander hulle nie met respek behandel nie, hoewel die meeste ander mense dit hoegenaamd nie so sal beleef nie.

Lees ook: Hoe om jou kind respek te leer

Kweek só respek

Is jy dalk oorsensitief?

  • Is jy geneig om enige vorm van kritiek persoonlik op te neem, selfs wanneer iemand net ’n ander mening as jy het?
  • Word jy daarvan beskuldig dat jy oorreageer?
  • Bekommer jy jou oor wat ander van jou dink, of is jy geneig om jou met ander te vergelyk?
  • Is jy sensitief en raak jy maklik emosioneel ontsteld of angstig?
  • Gee jy om vir ander en het jy baie empatie? En verwag jy presies dieselfde optrede van hulle?
  • Sukkel jy om negatiewe emosies, gedagtes of gebeure te verwerk?
  • Vrees jy verwerping, en lees jy dit soms in situasies waarin ander dit nie so bedoel het nie?

Mense wat té gaaf is, sal dikwels toelaat dat ander hulle oneerbiedig behandel. Dit gebeur ook met mense wat in ’n posisie is waar iemand anders mag oor hulle het.

Werklike respek gee mense wedersyds die vryheid om hulself te wees, hul mening te lug en besluite te neem sonder vrese dat dit negatiewe gevolge vir die verhouding sal inhou. Mense sal dikwels ander se gebrek aan respek verdra en selfs die ander een se optrede rasionaliseer omdat hulle nie kans sien vir konflik of verwerping nie.

Lees ook: Sensitief, sensitiewer, empath – is jy een?

Kweek só respek

Tekens dat jy nie met respek behandel word nie

  • Enige vorm van mishandeling, geweld of misbruik.
  • Iemand anders beheer en bepaal wat jy doen, hoe jy dit doen, of selfs wat jy mag dink en glo of nie.
  • Verkleinerende en vernederende opmerkings, dikwels ook voor ander mense.
  • Daar is nie respek vir jou tyd nie. Hulle kom laat, daag nie op nie, of verander planne op die nippertjie sonder om ’n verskoning of ’n verduideliking aan te bied.
  • Hulle luister glad nie. Hulle val jou in die rede, of bly doof vir jou wense en behoeftes.
  • Dis vir jou moeilik om nee te sê, en jy doen dikwels dinge wat jou laat voel dat jy misbruik word.
  • Jy doen ander se sleurwerk sonder waardering of erkenning van hulle kant af.
  • Mense verwag gunsies van jou sonder dat hulle ooit iets vir jou sal doen.
  • Jy bly liewer stil om die vrede te bewaar en laat toe dat ander jou kortaf en sonder respek behandel.
  • Ander se wil en wense kom bo jou eie. Jy sorg eers vir ander en kom dikwels nie by jou eie dinge uit nie.
  • Jy laat ander toe om hul idees aan jou op te dwing, al voel en dink jy anders daaroor. Daar is min of geen begrip en empatie vir jou gevoelens, voorkeure of afkere nie.
  • Hulle neem jou persoonlike ruimte oor en vertel vir jou wat jy behoort te doen, of nie te doen nie.
  • As iets skeef loop, trek hulle hul skouers op en jy kry al die blaam, ook vir hul foute.
  • Hulle doen en sê dinge agter jou rug ten koste van jou.
  • Hulle is oneerlik, verneuk jou en vertel vir jou leuens.
  • Wat jy ook al doen, is nooit goed genoeg in hul oë nie. Jy kry meestal kritiek en min waardering.

Wat ons gee, is wat ons ontvang. As jy ander ignoreer en oor onbenullighede baklei, kan dit daartoe lei dat ander jou nie respekteer nie – dieselfde geld as jy ander toelaat om jóú so te behandel. Dis belangrik om te weet wat jou instinktiewe reaksie in moeilike omstandighede is: Veg jy, vlug jy, of vries jy? Dit kan aan die wortel lê van hoe ander jou hanteer.

Lees ook: Lewe jy saam met ’n beheervraat? Hier is raad

Kweek só respek

Gedragspatrone wat daartoe kan lei dat mense jou nie met respek behandel nie

  • Jy is onseker van jouself en glo nie in jouself nie. Jy maak verskoning vir wat jy ook al doen.
  • Jy is té gaaf en altyd die minste. Jy sukkel om nee te sê en doen maar dinge vir ander wat hulle self behoort te doen. In die proses laat jy toe dat ander jou goedheid of gebrek aan grense misbruik.
  • Wanneer jy probeer om álmal tevrede te stel, of om een mens áltyd tevrede te probeer stel, sal dit vir seker daartoe lei dat ander mettertyd jou goedheid gaan misbruik.
  • Jy praat te veel oor jouself, jou kinders, vriende of werk. Enige gesprek draai jy na iets wat jy beleef, gesien of gedoen het.
  • Jy kan moontlik spog, immer dink jy weet beter, of ’n meerderwaardige houding hê. Min mense koop dit, of het enigsins waardering of bewondering daarvoor – dit ontlok juis die teendeel en lei tot ’n gebrek aan respek.
  • Jy is oorkrities op jouself en op ander. Jy fokus met negatiwiteit op potensiële probleme of foute.
  • Jy gee nie vir ander erkenning of waardering vir hul bydrae nie.
  • Jy wil altyd jou sin hê en kan nie kompromieë aangaan nie.
  • Jy hou jou op ’n afstand en deel niks oor jouself nie. Jy het ook nie tyd, belangstelling of empatie vir ander en hul persoonlike probleme en omstandighede nie.
  • ’n Geslote en afwysende liggaamshouding kan negatiwiteit uitstraal.
  • Jy verloor jou humeur en raak te maklik kwaad.
  • Mense voel dat jy hulle vir jóú foute kwalik neem.
  • Jy is altyd reg en die res is verkeerd.

Selfrespek en selfwaarde bepaal en rig jou waardes en interaksie met ander: die respek wat jy gee en die respek wat jy ontvang. Dit bepaal of jy gaan toelaat dat ander jou sonder respek behandel of nie. Jy kan mense nie dwing om jou te respekteer nie, maar jy kan weier dat hulle jou oneerbiedig behandel. Jy kán leer om op maniere op te tree wat daartoe sal lei dat ander jou respekteer. Dis ’n uitdaging om jouself en jou manier van interaksie te verander, maar dit kan ’n groot verskil maak in die wyse waarop mense jou hanteer.

Dis dikwels die maklikste om op kort termyn maar ander se gedrag te verduur. Die probleem is dat dit op lang termyn die patroon word waarop mense jou behandel. As dit reeds die patroon is, is dit moeiliker om dié gedrag om te draai, maar dis beslis steeds moontlik.

Lees ook: 10 dinge wat alle goeie bestuurders weet

Kweek só respek

Maak seker ander behandel jou met respek

  • Praat altyd met respek van mense en behandel hulle met die grootste respek.
  • Luister werklik na ander sodat jy empatie vir hul situasies sal hê. Hulle moet ervaar dat jy omgee en in hulle glo. Fokus op hul sterk punte.
  • Hou jou woord en doen wat jy belowe het.
  • Raak bewus van waar en wanneer jy toelaat dat ander jou domineer of nie met respek behandel nie.
  • Besluit wat jy verwag hoe ander jou moet behandel, asook wat jy gaan sê en doen indien dit nie gebeur nie. Visualiseer en oefen in privaatheid hoe jy kalm maar selfgeldend gaan optree.
  • Gebruik jou lyftaal met die soort selfvertroue wat respek sal afdwing: kyk hulle vas in die oë, lig jou skouers sodat jou lyftaal ferm en regop, maar oop is. Moenie jou arms vou of jou liggaam wegdraai nie.
  • Doen moeite om mense se name te leer ken en hulle op hul name of titels – as dit van toepassing is – aan te spreek.
  • Stel werklik belang in die mens oorkant jou en vra vrae oor dinge wat vir hulle belangrik is.
  • Sorg dat jy op die hoogte bly in die veld waarin jy beweeg. Lees, doen navorsing en woon kursusse by. Maar moenie soos ’n wysneus ’n mening probeer gee oor iets waarvan jy nie baie weet nie.
  • Spreek liewer waardering uit as om verskoning te vra. Vermy daardie ou cliché “Jammer om jou te pla … ” en begin liewer met ’n konsidererende: “Het jy ’n oomblik, ek wil jou graag iets vra?” Jy kan dan die gesprek met ’n waarderende “Dankie vir jou tyd” afsluit, pleks van ’n verskonende “Jammer dat ek soveel van jou tyd in beslag geneem het”. Moet ook nie vir die geringste dingetjie verskoning vra nie, veral nie wanneer jy nie eens werklik iets verkeerd gedoen nie.
  • Wees versigtig wat jy op sosiale media plaas. Dit moet ander se respek vir jou verhoog.
  • Fokus op positiewe dinge en vermy dit om negatief te wees, of te kerm en te kla.
  • Vermy rassistiese of seksistiese grappies.
  • Moenie ander veroordeel of afmaak nie. Beskou jou en ander se standpunte as ’n perspektief en nie as die absolute waarheid nie. Gee ander die ruimte van ’n eie geloof en probeer sy standpunt verstaan, sonder om afstand van jou eie te doen. Moenie jou standpunte aan ander probeer opdwing nie. Dis belangriker om gaaf en innemend as reg te wees.
  • Doen moeite om na jou gesondheid, gewig, fiksheid, versorging en voorkoms om te sien. Trek eerder netjieser aan – dit straal energie en selfvertroue uit en laat ander voel dat jy hulle en die geleentheid ag.
  • Neem die inisiatief en betrek ander daarby. Gee dan grootmoedig vir die ander erkenning vir hul bydrae.
  • Stel die voorbeeld wat jy van ander verwag.

Kweek só respek

Hoe gemaak met mense wat jou nie met respek behandel nie?

  • Moenie mense konfronteer, of e-pos- of ander boodskappe stuur terwyl jy kwaad of ontsteld is nie.
  • Maak seker dat jy kalm, rasioneel en in beheer van jouself is. Dan kan jy jou woord selfgeldend en duidelik doen, maar sonder enige aggressie. Kommunikeer eerder as om te konfronteer of te blameer. Ander moet weet waarom iets vir jou problematies of belangrik is.
  • Vermy beskuldigings en fokus die gesprek op oplossings. “Wat moet gebeur en wat kan ons doen om die situasie beter te maak?”
  • Stel duidelike grense, maar net grense wat jy bereid is om te handhaaf en wat ander vir seker sal respekteer en daarby hou. Hulle moet weet wat jy bereid is om te doen, en waarom.
  • Sê duidelik “nee!” wanneer iets jou nie pas nie; “nee!” as dit nie vir jou goed sal wees nie; “nee!” as jy nie genoeg tyd het nie, asook “nee!” as dit nie jou taak of verantwoordelikheid is nie.
  • Stel jou voorneme duidelik: “Ek wens ek kon jou help maar ek het nie genoeg tyd nie,” of “Dis nie deel van my posbeskrywing nie. My doel met die gesprek is om ’n oplossing te kry.”
  • Wees grootmoedig. Erken wanneer jy verkeerd was en bied jou verskoning aan. Mense waardeer dit.
  • Maak seker dat jy gehoor word, selfs al ignoreer mense jou, of val jou in die rede: “Verskoon my, ek was nog besig om te sê … ” “Gee my asseblief gou die geleentheid om my sin klaar te maak.” “Net ’n oomblik, ek wil graag duidelik maak wat ek daarmee bedoel.” Maar nie: “Jammer, ek was nog besig om te praat” nie. “Jammer” laat dit klink of jy verkeerd was.
  • Gebruik handgebare. Lig jou hand sodat mense kan sien dat jy nog iets wil sê.
  • Hanteer probleme met mense met respek en in privaatheid sodat hulle nie voor ander verneder voel nie.
  • Gee vir mense ’n agterdeur sodat hulle nie ervaar dat hulle aansien verloor nie. Sê liewer: “Ek dink hier was ’n misverstand …” pleks van ’n beskuldiging: “Jy het nie …” Maar sê jou sê.
  • Volg jou gesprek met ’n e-pos-boodskap op waarin jy duidelik en kalm alles waarop daar besluit is, saamvat en uiteensit sodat daar later ’n bewys is van julle ooreenkoms of gesprek.
  • Gee waar moontlik erkenning vir die ander een se bydrae en spreek jou waardering daarvoor uit.

’n “Jammer dat ek leef”-houding, asook oormatige trots of meerderwaardigheid ruïneer ewe veel mense se reputasie en verhoudings. Almal het ’n behoefte aan erkenning, waardering en respek. As jy dit ruimhartig gee, ontvang jy dit meestal ook in oorvloed.

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

7 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

7 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.