kategorieë: Ons menseBekendes

Laat jou werk vir jou praat!

Laat jou werk vir jou praat!Deur Zoë Salzwedel. Hooffoto: Leana Clunies-Ross

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Mila was nog ’n student toe sy ’n klein rolletjie in die bekende Ballade vir ’n Enkeling losgeslaan het. Kort daarna was sy in Binnelanders te sien, en aan die einde van 2015 het sy die rol as Malanie Schmidt in KykNet se gewilde mokumentêr (’n komiese dokumentêr) Hotel gekry. Mila het sedertdien ook die hoofrolle vertolk in Liewe Kersfeesvader, die hoogaangeskrewe Wonderlus en die kortfilm Vlugtig.  Nog nie heeltemal seker waarin jý haar op die kassie gesien het nie? Dalk miskien in Erfsondes, as bokser in Keeping Score op SABC of as Vicky in Alles Malan. Of dalk in die Silwerskermfees-kortfilms, Axis Mundi of Miemie (en die meteoriet wat haar definitief gaan tref).

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Hetsy as die Fransen Hotel se “vriendelike” kelnerin of as bokser in Keeping Score, van een ding is ons seker: Mila Guy staan vir niks terug nie! En daarom het Zoë Salzwedel gaan uitvind waarmee Mila haarself deesdae besig hou…

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Waarmee is jy tans besig?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Ongelukkig kan ek nog nie veel daaroor verklap nie, maar kan wel noem dat julle oor ’n maand of so my gesiggie meer gereeld op julle televisieskerms sal sien. En dan is ek hier rondom Junie/Julie se kant ook te sien in ’n lekker nuwe reeks, en hoewel ek ook nog niks hieroor mag sê nie, is ek vreeslik opgewonde om almal se reaksie hierop te sien.

Ons is absoluut mal oor jou karakter, Malanie, in Hotel. (Ons kan relate op soveel maniere!) Wat is vir jou die lekkerste deel van lewe gee aan dié karakter? En hoe het jy die karakter vir jouself “jou eie” gemaak?

Ag, ek is net so mal oor Malanie! Sy het definitief ’n baie sterk persoonlikheid en is glad nie ’n people pleaser nie – sy sê ’n ding nes dit is. Ek dink die feit dat sy sterk is maak dit veral lekker om haar te speel, want ek het nog nie regtig so ’n karakter gespeel nie. Ek voel so bietjie badass wanneer ek Malanie is.

Ek het Malanie my eie gemaak deur haar uniform en die badges wat sy daarop dra. Ek doen baie moeite daarmee. Maar ek dink wat dit vir my elke seisoen makliker maak om Malanie uit te beeld is die feit dat ons reeds vier seisoene van Hotel agter die rug het. Ek het haar al goed leer ken! Ek het in haar karakter ingegroei, en weet dadelik waarvoor sy ja of nee sal sê, wat sy geniet en waarvan sy nie hou nie … Om later die gesprek oor haar uitrusting met wardrobe te hê is dan net soveel makliker, want jy voel baie sterk wanneer jy in karakter is. Ek ken vir Malanie – beter as enige iemand anders.

Wat was vir jou die lekkerste deel van verfilming aan die vierde seisoen van Hotel?

Definitief dat Malanie ’n baie groter storielyn gehad het – alleen, nie noodwendig heeltyd saam met Danny (gespeel deur Schalk Bezuidenhout) nie. Dit was vir my regtig lekker om haar te sien in omstandighede waarin sy haarself nog nie voorheen bevind het nie, en aan Malanie lewe te gee in dié spesifieke omstandighede.

Sonder om enige geheime te verklap, wat is jou gunsteling-episode van dié seisoen van Hotel, en hoekom?

Beslis die musical episode! Dit was so lekker om bietjie laf te kon wees en regtig net te kan “speel” in dié absurde wêreld (wat Hotel eintlik reeds klaar is) en alles net ’n stap verder te vat.

Maar ek moet eerlik wees en noem dat ek die Survivor-episode nét so baie geniet het. Dit was vreeslik lekker (en opwindend) om ’n werklikheidsreeks soos Survivor (wat almal reeds ken) te vat en dit in ons wêreld (van Hotel) te omskep in iets heeltemal splinternuut. Dis net iets anders om ’n reeks wat jy self as jongmens op televisie gekyk en leer ken het, skielik in jou eie wêreld en die reeks waarin jy speel uit te leef en te ervaar.  Oe, en dit was so lekker om Nico Panagio as gas in dié spesifieke episode te hê en teenoor hom te kon speel. Hy is so ’n lekker mens!

Watter lewenslesse het Malanie (en Hotel) jou geleer?

Malanie is definitief iemand wat my geleer het om nie om te gee wat mense van jou dink nie. Jy hoef niemand te please nie, nét jouself en die persoon wat jy liefhet – in haar geval is dit Danny.

Die hele ondervinding van bou aan die storielyn van Hotel het my beslis geleer om my gut te vertrou. Ons skiet so vinnig aan elke toneel en episode dat jy dikwels net een of twee kanse het waarin jy alles 100% perfek moet hê. In sulke gevalle kan jy regtig net terugstaan en jouself, jou span en regisseur vertrou – ons is ’n baie sterk groep mense saam en gelukkig werk ons ook baie goed saam as span. Ons is almal boonop baie trots op dit wat ons doen en die werk wat ons lewer, so ek het beslis by Malanie geleer om my medespelers te vertrou en sáám te werk.

Wie is jou gunstelingkarakter in Hotel? En hoekom?

Definitief Ferdi! Ek dink hy is die gom van ons hele span. Dit is so lekker om James Borthwick in aksie te sien. Ek weet nie presies wat dit van hom is nie, maar elke keer as ek ’n episode van Hotel kyk, staan James net vir my uit. Die goed wat hy as Ferdie doen is so oulik en absurd. Mens voel maklik vir hom jammer of lag vir hom (en saam met hom) – hy neem jou deur al die emosies, en dít maak hom en sy karakter vir my baie spesiaal.

Het jy ’n droomrol?

Beslis! Ek wil baie graag eendag ’n sterk karakter speel wat heeltemal verskil van my as persoon. Ek wil voel hoe ek vir dié rol in iemand anders transformeer, amper asof ek myself in iemand anders se skoene en liggaam plaas. Iemand oor wie ek moet navorsing doen, aan wie ek regtig hard gaan moet beplan en bou…

Ek sal ook graag ’n rol wil speel waarin ek my voorkoms heeltemal moet verander – dalk iets soos my hare afskeer, kort sny of kleur. Ek weet nie, ek wil net ’n karakter vertolk wat glad nie ek is nie, sodat wanneer iemand my op die skerm sien hulle my amper nie herken nie. Kykers moet nie vir een oomblik wonder of dit ek (Mila) is wat nou voor hulle staan nie.

Mila was in Augustus 2019 ons pragtige voorbladgesig. Foto: Leana-Clunies Ross

Wat is jou motto in die lewe, en hoekom?

“Wees meer. Verskyn minder!”

Ek het hierdie woorde Desember tydens my vakansie in ’n boek gesien. Dit was ’n boek met ou tantes wat baie cool aantrek, en die woorde “Be more. Appear less” het dadelik my oog gevang.

Met die stand van sosiale media op die oomblik, het dit vir my belangrik geraak om nie die heeltyd vir mense te móét wys wat ek doen, waaraan ek werk, waar ek vandag vir middagete gaan eet of waarnatoe ek op pad is nie. Laat jou werk vir jou praat! Die woorde was definitief ’n groot eye opener. Doen meer in die wêreld – laat mense eerder dikwels jou naam hóór as jou gesig oral op sosiale media sién.

Ek is daarvan bewus dat sosiale media ’n uiters belangrike rol in ons elkeen se lewe speel, maar dit is vir my belangriker om aan ’n goeie naam en reputasie te bou as om voor te gee dat ek iets of iemand is wat ek nie noodwendig is nie. Ek het die besluit geneem om net myself te wees, want dit is goed genoeg. As jy getrou is aan jouself en eg, sal mense jou onthou sonder dat jy die heeltyd die wêreld aan jou bestaan moet herinner.

Jy’t onlangs vir jou ouers in Nieu-Seeland gaan kuier… Is dit nie vir jou moeilik om so ver van hulle te bly nie? En hoe ervaar jy dit om ná so ‘n vakansie terug te keer na Suid-Afrika?

Aan die begin was dit nie vir my moeilik gewees nie, dit het vir my soort van normaal gevoel – ek meen kinders trek tog gereeld weg van die huis af om te gaan studeer. Maar soos die lewe aangegaan het, en ek meer en meer begin werk het, het dit al hoe moeiliker geraak om so ver van my ouers af te wees (veral in ons industrie en boonop as vryskut). Elke kind wil tog dadelik opwindende nuus met hul ouers deel, soos wanneer ek hoor ek het ’n rol gekry of dat ek in ’n spesifieke episode iets cool gaan doen… Maar skielik moes ek besef dat ek nie altyd dadelik die nuus met hulle sal kan deel nie, want my ouers sit aan die anderkant van die wêreld en dít boonop in ’n ander tydsone. So as ek hulle nou bel gaan dit dalk tweeuur die nag in Nieu-Seeland wees, en maak ek hulle dalk onnodig skrik met ’n onverwagse laatnag-oproep. So ons kan nie altyd saam opgewonde wees oor ’n nuwe rol of saam vier aan goeie nuus nie. Dit voel asof ons min kere gelyktydig kan deel in die emosie wat ons op ’n spesifieke oomblik ervaar, en in daai opsig is dit nie altyd maklik of lekker nie. Mens soek soms dadelik jou ouers se raad oor iets, of jy wil dadelik oor iets met hulle praat, maar jy kan nie…

Dis altyd vir my baie lekker om by hulle te gaan kuier – veral vir ’n lekker, lang vakansie – want dis amper asof ons mekaar weer opnuut leer ken en van vooraf aan mekaar se geselskap gewoond moes raak. Maar ongelukkig hou dit ook net vir ’n paar weke en moet jy skielik weer terugkeer Suid-Afrika toe. Die eerste paar dae terug in jou eie spasie, huis en roetine is baie moeilik, want skielik moet jy jouself herinner om iets te doen en tref die gedagtes dat jy weer ver weg van jou ouers af is, gereeld. Ek weet hulle is daar, en nét ’n oproep ver, maar ek moet erken dat ek dikwels alleen voel so ver weg van hulle af. Ek moet ook erken dat ek altyd baie bly is om terug te wees in Suid-Afrika. Ek is baie lief vir dié land!

Wat is jou raad aan Suid-Afrikaners wat altyd nét die sleg in Suid-Afrika kan raaksien? Mense wat gereeld “die gras aan die anderkant as groener” sien en wat dikwels emigrasie oorweeg.

Sjoe, wel komende van iemand wat reeds in Suid-Afrika én ’n ander land (Nieu-Seeland) gewoon het, kan ek met eerlikheid sê dat Suid-Afrika werklik merkwaardig is. Ons natuurskoon is vreeslik mooi en uniek, ons groot verskeidenheid kulture is pragtig, ons mense is “warm” en vriendelik – ons help en ondersteun mekaar – en ons het heerlike kos en wonderlike tradisies. Jy sien gereeld mense wat lekker saam lag en gesels, en jy hoef nie ver te soek vir ’n vriendelike gesig of helpende hand nie. Ek ervaar Nieu-Seeland se mense nogal as bietjie koud, maar weer eens: dit kan ook net my ervaring wees.

Ek dink persoonlik dis altyd te maklik om te sê die gras is groener iewers anders, want elke land het maar sy eie probleme en moeilikhede. En ons moet ook onthou dat elke persoon anders is, so jý kan dalk werklik beter funksioneer iewers anders, maar ek is heel gelukkig hier in Suid-Afrika.

Ons moet ook nie altyd so krities wees op ons eie land nie. Ons het regtig baie om voor dankbaar te wees: spasie, goeie weer, pragtige natuurskoon, wonderlike diere en vriendelike mense.

                         “Laat jou werk vir jou praat!”

Hoe bly jy gemotiveerd en positief tydens krisistye soos dié waarin ons (en die wêreld) onsself tans bevind?

Sjoe, dis regtig ’n baie moeilike vraag…

Eerstens om te besef dat President Cyril Ramaphosa ’n goeie call gemaak het deur die 21 dae  inperking te roep. Sy beroep op Suid-Afrikaners om by die huis te bly en te self-isoleer is vir ons eie veiligheid. Kyk jy na die syfers van regoor die wêreld, besef jy net weer dat die insluiting regtig die beste keuse is vir ’n land met soveel mense. Om werklik te besef dat die President die nodige stappe geneem het om Suid-Afrikaners se beswil eerste te stel, help my baie om positief te bly.

Tweedens dink ek dis baie belangrik om vir jouself doelwitte te stel vir dié 21 dae – dinge waarmee jy jouself positief kan laat voel. Miskien wil jy dalk drie boeke lees in die volgende 21 dae, dalk wil jy ’n nuwe vaardigheid aanleer, of dalk elke dag 5 sinne van ’n nuwe taal leer. Selfs iets so eenvoudig soos om jou kas reg te pak, en dít as ’n doelwit aan te pak, kan baie vervullend wees. Dis goed om vir jouself realistiese doelwitte te stel en dié 21 dae te sien as ’n geleentheid waarin jy jouself kan herontdek (en verbeter) of kwaliteittyd saam met jou geliefdes en troeteldiere te spandeer. Neem die tyd, wees rustig en maak die keuse om te besluit wat jy in die volgende 21 dae wil bereik – ja, dis krisistye, maar ons kan beter aan die anderkant uitkom. Dis beslis ook ’n goeie manier om positief en gemotiveerd te bly.

#rrWenk: Loer gerus hier vir GRATIS blokraaie, woordspeletjies en raaisels wat jy kan aflaai.

Lees ook: 10 Dinge wat jy in jou klerekas tydens inperking moet doen

Laastens dink ek dit is ook baie belangrik om nie té veel tyd op sosiale media te spandeer nie. Platforms soos Twitter en Facebook is ’n plek waarop fake news maklik soos ’n veldbrand kan versprei, en jy jouself dalk onnodiglik angstig of gestres maak. Neem liewer die tyd wat jy op sosiale media sou gebruik en raak rustig in jouself en jou gedagtes. 

Lees ook: Hoe om positief tydens die inperking te bly en dit as ’n tyd vir heling en ontwikkeling te sien

Hoe hanteer jy teleurstellings in die lewe?

Ek is nie iemand wat sommer nee vat vir ’n antwoord nie. Ek probeer altyd iets leer daaruit, of terug te gaan en te vra “Oukei, maar hoe kan ek hierdie nee dalk in ’n ja verander – as ek enigsins kan. En as ek nie kan nie, waarop moet ek verbeter vir die volgende keer?”

Ek dink as mens val is dit ’n goeie ding om weer op te staan, jouself af te stof en te gaan kyk na die rede vir jou val – wat het ek verkeerd gedoen of hoe kan ek voorkom dat dit weer gebeur. Daar is altyd plek vir verbetering en kans vir groei.

Wat weet niemand van jou nie?

Ek is baie obsessief wanneer dit kom by my klere, want ek hou glad nie van kreukels nie! Ek het ’n klein stomertjie wat ek oral saam met my dra – maak nie saak waarheen ek die dag op pad is nie, hy is altyd by my. Ek kan nié met gekreukelde klere rondloop nie, want anders voel ek heeltyd vuil en slordig.

Maar ek moet byvoeg, dit pla my glad nie as ander mense se kleure gekreukel is nie – die obsessie geld slegs vir my eie klere. Ek dink eintlik al die vroue in my familie is so…

Is daar ’n spesifieke boek of film wat jou altyd sal bybly, en hoekom spesifiek dié een?

Ek sou nie sê dat daar een spesifieke boek is nie, nee. Beslis deeltjies uit verskillende boeke. Ek hou baie van biografieë (spesifiek oor mense in die vermaaklikheidsbedryf) en leer uit elke een wat ek lees iets nuuts.

Maar ’n film wat my altyd sal bybly en lief gemaak het vir dié industrie waarin ek myself vandag bevind is A Walk To Remember met Mandy Moore as hoofaktrise. Ek dink dit sal my altyd bybly want dit was die eerste keer wat ek gesien het hoe ’n jong aktrise – Mandy was slegs 17 jaar oud tydens die verfilming van dié fliek – haar so goed van haar rol gekwyt het. Jy het saam met haar gehuil en al haar pyn gevoel. Ek dink dit was die eerste keer wat ek gedink het “Wow, ek sal dit ook graag eendag wil kan doen.”

Dikwels wanneer ek na flieks/reekse kyk, word ek uitgedaag deur die akteur/aktrise se vermoë om soveel emosie by ander mense te kan skep, en voel ek terselfdertyd bang (“Sal ék dit ook kan doen?”) maar ook baie opgewonde, want ek sal dit graag wíl doen. En ek dink tydens A Walk To Remember was dit die heel eerste keer wat ek werklik besef het dat ek wil streef na ’n loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf.

Vertel ons van jou ander passies en belangstellings. Hoe ontspan jy?

Ek het baie plante in my huis – en met baie bedoel ek iets soos 42! Deur hulle te versorg ontspan ek. Dit laat my ook rustig voel wanneer ek by die huis instap en ek sien (en ruik!) al die plantjies in my ruimte.

Ek geniet dit ook om te lees en te gaan stap in die natuur.

Oe, wat nog?! Um, sing! Sing saam met Beer is altyd lekker. En beslis shopping, ek is mos maar mal oor Zara. En persoonlik dink ek mens vergeet sommer baie maklik van jou stres wanneer jy in ’n nuwe rokkie staan.

Ek wou nog altyd ’n hond hê en noem ook graag vir mense dat ek baie graag ’n hond wil hê, en dat ek enige tyd hulle honde vir hulle sal neem vir ’n stappie… (Haha!) So wanneer ek eendag ’n groot erf het, en gelukkig genoeg is om my eie hond te kan hê, is ek amper seker dat ek met al my vaardighede as ’n dog walker ’n baie goeie honde-ouer sal wees. So ek dink my liefde en passie vir honde gaan kan beslis ook in die belangstellings-kategorie geplaas word.

Watter woord of frase gebruik jy die meeste?

Die woorde “Agge nee!” gebruik ek vir alles! Wanneer ek oulik is, wanneer ek bly is, en self wanneer ek hartseer is gebruik ek graag “Agge nee!”

En laastens wil ons weet, wat is jou mees waardevolle besitting?

Definitief die kunsstuk wat ek ’n rukkie terug gekoop het. Dis ’n lieflike en baie kleurvolle skildery deur die talentvolle Amy Ayanda. Gaan loer gerus hier na haar werk.

Andersins is die mense om my ook my mees waardevolle besittings.

Deel
Gepubliseer deur
Zoe Salzwedel

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

5 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

5 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

5 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

5 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

6 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

6 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.