kategorieë: Ons menseBekendes

Laurika Rauch gesels oor haar loopbaan en lewe as kunstenaar

Laurika Rauch gesels oor haar loopbaan en lewe as kunstenaar deur Christiaan J de Swart. Hooffoto: Willem Botha

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Laurika se nostalgie

“As ek aan erfenis dink, dink ek aan dankbaarheid vir die opofferings wat my voorvaders gemaak het om vir ons ’n beter lewe en toekoms te gee. Erfenis en nalatenskap is vir my eintlik een begrip: haal die goeie uit die verlede en bou daarop die toekoms. Betaal vooruit – anders is daar nie beweging, groei en vloei nie. Erfenis beteken vir my die voorreg om in my moedertaal te kan werk en praat. Ek sien die wonder van musiek en die vermoë om musiek te maak as ’n deel van my erfenis. Kulturele erfenisse mag nooit ooit verdeling veroorsaak nie. Erfenis is my geboortereg, maar dit is ook my verantwoordelikheid,” sê die Afrikaanse musiek-ikon Laurika Rauch.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Die afgelope vier dekades verryk Laurika die Suid-Afrikaanse kultuurskat met tydlose liedjies. Al die musiek wat sy deur die jare opgeneem het, is nou op ’n versamelstel – Laurika Rauch – 40 Jaar – met ’n beperkte oplaag van duisend stelle beskikbaar. Dit is haar kreatiewe erfenis en tasbare nalatenskap. Laurika sê dit is haar laaste album wat op CD beskikbaar sal wees. Voortaan gaan sy slegs digitaal werk.

Dié stel bevat 14 van die albums – met inbegrip van Debuut en die 1983-album Jy is te dierbaar (wat nie meer in die handel beskikbaar is nie) uit haar omvangryke repertoire, en op die 15de album word die beste en mooiste liedjies van die ander albums byeengebring.

Ian Vos van Coleske Artists het ’n hele paar van die eerste CD’s uit die stel herbemeester – onder meer ’n Jaar in my lewe en Stuur groete aan Mannetjies Roux – en ’n nostalgiese varsheid en
moderne gehalte daaraan gegee.

Laurika is ’n vertolker by uitstek. Haar interpretasie van bekende werke in uiteenlopende genres, veral die kabaretskeppings van Jacques Brel, is eiesoortig. Sy slaag daarin om toeganklikheid en betekenis aan die eenvoudigste én ingewikkeldste tekste te gee.

Daarom is sy veral trots op haar werk op die verhoog. “Dit is waarvoor ek graag onthou sal wil word. Dis waar ek goeie liedjies kon vertolk en direk met my gehoor kon kommunikeer. Ja, daar is seker ’n paar dinge deur die jare wat my laat bloos, maar ek besef dat my oordeelsfoute én my suksesse alles deel uitmaak van die kleurpalet van my werk en lewe,” sê sy met ’n glimlag.

Laurika se talent is met sewe lewenslange bydrae-toekennings vereer. Sy en haar man, Chris Torr, en die skrywer van haar grootste treffers, soos “Stuur groete aan Mannetjies Roux”, “Die gang”, “Die mense op die bus” en “Hot Gates” – is onlangs by die Innibosfees vereer.

‘As jy die “flavour of the month” is, is almal lief vir jou, maar as daardie tyd verby is, kan net harde, toegewyde, vernuwende werk en ’n goeie repertorium jou loopbaan red’

Laurika se loopbaan in die vermaakbedryf het al in 1976 begin as aktrise by TRUK Speelwerk.

Laurika onthou daardie jaar. “1976 die jaar van die Soweto-onluste, toe swart leerders teen die gebruik van Afrikaans as onderrigtaal in skole betoog het. Baie lewens is verloor. In 1976 het ek my familie en vriende in die Kaap agterlaat en my in Johannesburg gevestig. Ek het nooit weer teruggekeer Kaap toe nie. Maar ek het baie geleenthede gehad om my kunstenaarskap uit te leef.”

In 1977, ’n jaar ná die koms van televisie, het sy aan die program Fyn net van die woord deelgeneem. Daarna het haar vertolking van Koos du Plessis se tydlose skepping “Kinders van die wind” vir die TV-reeks Phoenix en Kie gevolg. Dié reeks is in 1979 uitgesaai. Daardie jaar is haar eerste album, Debuut, ook uitgereik

Laurika sê sy het destyds nie die plaaslike musiekbedryf geken nie. “Daar was gevestigde kunstenaars soos Gé Korsten, Min Shaw, Virginia Lee, Jim Reeves en die Veenemans-susters. Ek kon my nie noodwendig met daardie musiek vereenselwig nie en het meer na Amerikaanse, Engelse en Europese musiek oor die radio of op plate geluister. Dit was nog die folk-era. Ek het rolprente en teater beter geken en het geen verwagtinge van die musiektoneel gekoester nie. Ek het net gekonsentreer op die werk wat voor my was, en daaruit het die geleenthede voortgevloei. Ek het meer geleenthede in my een lewe gehad as waarvoor ’n mens in drie lewens kan hoop. Ek beskou dit as ’n opperste voorreg om vandag nog te kan werk.”

Die Afrikaanse musiekbedryf het deur die jare heelparty veranderinge – met inbegrip van die Musiek-en-liriek-beweging – ondergaan. Sy was deel van daardie ingrypende veranderinge. “Daar was ’n aanpassing van viniel en kasset na CD en toe weer van CD na aflaaibare musiek, stroom – en weer viniel! In ’n stadium kon jy nie bybly by al die nuwe musiek‘bloed’ wat ingekom het nie. Maar dit was altyd vir my ’n verrassing en vars, én opwindend. Die verande-ringe het my nie gegooi nie. Die volgende fase gaan natuurlik virtuele musiek (en konserte) wees. Jy sal na ’n hele musiekvertoning met hologramme kan kyk en luister – in die privaatheid van jou sitkamer.”

Laurika het deur die jare daarin geslaag om relevant te bly, sónder om ingrypende metamorfoses te ondergaan.

Maar sy sê relevansie was nooit haar mikpunt nie. “Ek pak net gedurig nuwe dinge aan en werk dikwels saam met ander musikante. Ek het wonderlike uitnodigings gekry en altyd met elke uitnodiging tot sy eindpunt probeer loop. Die geheim vir relevant bly, is dan seker maar om die hele tyd te werk, aan te beweeg en tydlose liedjies te sing – want ek het niks anders gedoen nie.”

As ’n kunstenaar het sy ’n gefokusde, professionele benadering tot musiek. “Musiek behoort eg, onderleg, intelligent, oorspronklik, spontaan, skeppend, vernuwend, verrassend te wees … Ek kan aangaan. Daar is nie ’n resep nie. Ek weet wel wat musiek nié durf wees nie. Ek haal vir Nietzsche aan: If, however, music serves only as a diversion or as a kind of vain ostentation it is sinful and harmful.”

Sy sê daar is vereistes waaraan ’n musikant moet voldoen om geloofwaardig te wees. “Daar is baie, maar ek sal twee noem: Jy moet hard kan werk en baie opofferings maak – ook die mense om jou vir wie jy lief is en wat jou dra. Hulle offer baie op.”

Laurika meen daar is nie noodwendig ’n verskil tussen gehalte en kommersialisering en tussen kuns en vermaak nie. “’n Goeie kommersiële liedjie boet nie noodwendig aan gehalte in nie. Alles is kuns. Kyk en luister om jou. Sê vir my of daar een ding of stuk musiek is wat jy sien of hoor wat nie deur ’n kunstenaar geskep of ontwerp is nie? Kuns kan baie baadjies dra, en vermaak is een van hulle.”

Sy meen al daardie elemente kan in ’n suksesvolle eenheid versnit word. “Een van my vriende het ’n boodskap op sy profiel: You don’t know quite how, you just do – en die onderbou hiervan is natuurlik oefen, oefen, oefen (vra maar vir Gary Player: ‘The more I practice the luckier I get’).”

Perfeksie lei tot erkenning en welslae. “Erkenning, veral deur jou eweknieë in die bedryf, is belangrik. Almal markeer die pas saam en bied ’n maatstaf om vanaf weg te spring. Erkenning gee vir jou die selfvertroue om steeds voort te gaan en voort te bou op jou werk – in jou eie pas. Gewildheid en verkoopsyfers gaan gewoonlik gepaard met ’n versekerde inkomste – en niemand sal dít ooit van die hand wys nie!”

‘Daar is seker ’n paar dinge deur die jare wat my laat bloos, maar ek besef dat my oordeelsfoute én my suksesse alles deel uitmaak van die kleurpalet van my werk en lewe’

Laurika is opgewonde oor die verskeidenheid style in Afrikaanse musiek en die uiteenlopende behoeftes van musiekliefhebbers en –ondersteuners. “’n Sanger/komponis het op ’n keer gesê daar is twee strome in plaaslike ligte musiek: Die liedjieskrywer/sangers en die entertainers. Hy het gesê hy skaar hom by die liedjieskrywer/sangers. Hulle is vir hom interessanter. Hy het die vertolkers misgekyk. Daar is ’n plek vir ’n goeie vertolker ook en ’n vertolker val nie net in die vermaaklikheidskunstenaar-kategorie nie. Afrikaanse musiek is baie gesond en stel al lankal ons uiteenlopende gehore tevrede. Die nis-kunstenaars, die rockers, die liedjieskrywer-sangers, die alternatiewe kunstenaars, die vertolkers, die gewilde kunstenaars, die popsterre en nog baie meer. Hulle het almal ’n gehoor. Ons het sulke wonderlike gehore wat ons almal omarm en boonop bereid is om saam met ons te beweeg as ons ander goed wil probeer.”

Sy meen elke nuwe generasie het ’n manier om die leemtes of tekortkominge in musiek – “as daar is”– op ’n unieke wyse te vul. “Dit bly vir my verstommend om dit waar te neem. Daar is nuwelinge wat ’n groot bydrae maak om die landskap uit te brei, terwyl die ouer, meer gevestigde kunstenaars, stilweg aanhou, goeie werk lewer, hier en daar mentor en nuwe dinge aanpak. Dis ’n wen-wen situasie.”

Die musiekbedryf het sy eie politiek; iets waarvan sy nog al die jare weggeskram en nooit by betrokke geraak het nie. Maar sy het die afgelope vier dekades ’n kosbare waarheid besef. “Daar is meer as een soort liefde, om Joan Armatrading aan te haal. Tendense verander blitsvinnig en as jy nie bybly nie, raak jy agter. As jy die flavour of the month is, is almal lief vir jou, maar as daardie tyd verby is, kan net harde, toegewyde, vernuwende werk en ’n goeie repertorium jou loopbaan red.”

Laurika Rauch is die vergestalting van kreatiewe professionaliteit en deurwinterde talent.

Sy erken sy is geseënd. “Veral met ’n bietjie insig en intuïsie en ’n passie vir die oordeelkundige gebruik van my tyd. Seneca het gesê: ‘It is not that we have a short time to live, but that we waste a lot of it. Life is long enough, and a sufficiently generous amount has been given to us for the highest achievements if it were all well invested.’”

Kortliks, Laurika

Vreugdes: My geliefdes, musiek en boeke, diere, my vriende, my geestelike lewe, ons huis in Pretoria en die omgewing.

Ontsteltenisse: Onregverdigheid, misverstande, korrupsie, onreg teenoor kinders diere en weerlose mense.

Lewensleuse: Leef en laat leef. Temper worstelinge met vergifnis. Toe my loopbaan begin het, het ek gemeen ek gaan vir altyd lewe, maar ’n mens bereik ’n stadium in jou lewe wanneer jy probeer konsentreer op gehaltetyd saam met die mense vir wie jy lief is en wat vir jou lief is. Dan draai jy weg van situasies wat jou lewensvreugde steel.

Vir nog lekkerlees-onderhoude met plaaslike bekendes, loer hier

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 day Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

2 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

2 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

2 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

2 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.