kategorieë: Reis

Leeuwêreld: Weltevrede Leeuplaas, Heilbron

“Our passion is our wild animals,” lui Weltevrede Leeuplaas se strooibiljet. Dis nie leë woorde nie. Sit jy by die gesellige kroegtoonbank in Nico en Karen Roets se ruim restaurant met hulle en gesels, spreek hulle liefde vir diere uit hul stories én die manier waarop hulle dit vertel.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Karen het meer diere met die hand grootgemaak as wat sy kan onthou – van die allerkleinste krimpvarkies tot skopsuiltjies en jagluiperd-welpies. Dit beteken dat sy dikwels nagte wakker moes bly om die lyfies melk te gee. “Party drink elke drie en ‘n half uur – nie eens my kinders het dit aan my gedoen nie!“

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Dié diere word onwaarskynlike maats; die Leeuplaas-fotoalbums wys meerkatjies, honde en leeuwelpies in die soort gesellige samesyn wat jy met die Tuin van Eden sou verbind.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Karen en Nico se liefde vir diere is wyd bekend, wat beteken dat ongewensde of hawelose diere van oral aangedra word. Dis nou behalwe vir dié wat hulle aankoop, soos die wildsbokke en swartwildebeeste vir teel en jag.

Wat jy daar kan sien

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Op Leeuplaas is daar op die oomblik nege leeus, van wie party witleeus is. “Hulle is nie albino’s nie, maar geel leeus met wit pels soos wat mense soms blond is. Hulle ouers en nasate is nie noodwendig wit nie.” Vir my is daar iets magies aan dié leeus, veral die maanhaar – ‘n indrukwekkende dier.

Chica, die mak rooikat, verwelkom jou as jy in die omgewing van die swembad bly. Sy spring ewe kontant in jou kar! Jy kan haar by jou laat slaap ook as jy wil, “mits jy die oggend skoonmaak waar sy mors,” maan Karen.

Afgesien van die ander rooikatte, is daar hiënas, wildehonde, Kanadese wolwe, bobbejane, bakoorjakkalse, woestynvosse uit Algerië, rooijakkalse, vaalboskatte, tierboskatte, stokstertmeerkatte, ystervarke, skilpaaie, gevlegte ooruile, reuse Kaapse gevlekte ooruile, skopsuiltjies, nonnetjiesuile, rooivalkies, fluiteendjies, mandaryn-eende, emu‘s, miniatuurbergbokkies, en pensvarke. Die meeste van dié diere is op hok of in kampe.

En dan is daar die jagluiperds. Juba, wat nou in ‘n kamp is om te teel, het jare lank hondmak tussen die besoekers gebly en selfs saam met jou op jou bed kom lê.

Hierdie diere kan almal op die “Leeuloop“ bekyk word. Dis ‘n begeleide toer van ‘n uur teen die spotgoedkoop prys van R50 per volwassene en R40 per kind onder 12. “Ons wil graag hê dit moet bekostigbaar wees vir Suid-Afrikansers,“ sê Nico. Daar kom ook gereeld skool- en ander groepe na die plaas.

Onder die wild tel blesbokke, swartwildebeeste, takbokke, rooihartebeeste, sebras, springbokke, rooibokke, waterbokke, gemsbokke en volstruise. “Dis almal vlaktediere,“ verduidelik Stefan Roets, ons gids op die wildrit wat sy werk duidelik geniet. “Koedoes aard byvoorbeeld nie hier nie.“

Een dier waarvan ek glad nie geweet het nie, is die ouvolk of sungazer. Dis ‘n reptiel wat vir my op die foto‘s na ‘n drakie uit ‘n Chinese legende lyk, maar hulle is inheems en kom in die Vrystaat, dele van die Noord-Kaap en van Gauteng voor. Hulle is ‘n bedreigde spesie. Jy het ‘n permit nodig om hulle aan te hou. Omdat ons in die winter op Weltevrede was en hulle besig was met hul winterslaap, het ons ongelukkig nie een gesien nie.

Die eerste leeu

Nico het op hierdie stuk grond grootgeword, en aanvanklik hier geboer sonder dat hy en Karen eens gedink het aan die toerismebedryf. Hy het wel van mielies oorgeskakel na beeste en skape, en toe na wild vir jagdoeleindes. Wanneer het hulle hul eerste leeu gekoop?

“Tien jaar terug,“ vertel Karen. “Nico het gebel en gesê hy het vir my ‘n verrassing. Hy het vir my ‘n leeu gekoop, ‘n wyfie. Dit was vir my die wonderlikste gebaar, en hy is nie eens vreeslik romanties nie!“ Nico lag net ondeund. Hulle het nie geskikte hokke gehad nie en het die wyfie eers by bure met leeus laat oorstaan.

“Jy moet ‘n hektaar grond vir jou eerste leeu toespan, en daarna ‘n halwe hektaar vir elke bykomende leeu,“ verduidelik Nico. “Hulle kort beweegruimte. Jy moet ook die vermoë hê om hulle te kan voer. Om ‘n permit te kry, moet jy jou finansiële state wys!’

As ons nie skenkings van die boere in die omgewing kry nie, sal ons nie kan oorleef nie. As ‘n bees byvoorbeeld siek word of seerkry, bring hulle die dier vir ons om te slag. Ons het geleer as ons die vleis 72 uur vries, dood dit die meeste skadelike bakterieë. Met al die vleiseters op die plaas gaan ons deur twee beeste per week!“

Nico-hulle behoort aan die SA Rooftelersgenootskap en werk omsigtig wanneer hulle leeus, of ander diere, aankoop. “Ons móét leeus aankoop om die bloedlyne gesond te hou.“

Nadat die Roetse leeus aangeskaf het, het mense eenvoudig opgedaag om te kom kyk. “Ons het besef die leeus is ‘n lokmiddel en toe al meer begin konsentreer op die gasvryheidsbedryf. Ons hobby het ons hooffokus geword.“

Daar is chalets van verskillende groottes op Leeuplaas (wat eintlik drie plase beslaan), keurig ingerig met ekstras soos swaaie en klimrame vir kinders. Die chalets werk hoofsaaklik met sonkrag. Die hoofaantrekkingskrag is die restaurant, waar klein welpies tussen die tafels speel indien die huidige werpsel nog klein genoeg is en die kontak met mense by hul geaardhede pas.

Hoe kry Nico en Karen die leeuwelpies so mak? “Ons waarsku mense altyd hulle is net so mak soos wat jy ‘n leeu kan kry – hulle bly wilde diere. Ons is baie versigtig wanneer mense en veral kinders met die welpies speel. Daar is ook streng reëls op die Leeuloop en jy kom op eie risiko op die plaas.“

Die leeuwelpies word op twee weke van die ma weggeneem om hulle met die hand groot te maak sodat hulle mense gewoond is. “Die ma treur net sowat ‘n dag oor hulle,“ sê Nico. “Dis natuurlik nie lekker om te sien nie.“

Mense kan verskillende opinies oor hierdie gebruik hê. Wat my egter sal bybly, is die opregte liefde vir diere wat uit Nico, Karen en hulle personeel straal. Die hartseerstories oor diere wat doodgaan of mekaar soms doodmaak wanneer instink oorneem, sny baie diep. In die restaurant staan Seun, ‘n geliefde maanhaarleeu wat aan bosluiskoors dood is en agterna opgestop is.

My mooiste herinneringe aan Leeuplaas, behalwe vir die staptog waartydens ek my kon verkyk aan die manier waarop die vier maande-oue leeuwelpies op hulle sagte pantoffelvoete loop, is die naggeluide. Op ‘n yskoue wintersaand, snoesig onder die komberse, is dit Afrika-musiek waarvoor ek spesiaal sal teruggaan na Leeuplaas.

Leeuplaas 082 823 1038, nroets@telkomsa.net of nroets1@carfone.net – sien ook www.lionfarm.co.za

Leeuplaas bied konferensies, funksies en troues aan en kan tot 150 persone met gemak akkommodeer (met plek vir ‘n dansvloer).

Ander aktiwiteite:
Kleiduifskiet, wildritte, 4×4 ritte, visvang, jag, dagbesoekers welkom.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

7 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

7 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.