kategorieë: Bekendes

Liefde anderkant bloedsweet

Skoonheidskoninginne is nie sinoniem met modder, sweet en uiterse temperature nie. ’n Krisis is ’n haarkleur wat skeefloop. Nie ’n asma-aanval wat jou op die vyfde dag van die Absa Cape Epic-bergfietswedren in die mobiele kliniek laat beland nie – net om die volgende dag weer op die fiets te spring en die res van die amper 800 km lange bergfiets-wedren klaar te maak nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Vanessa Haywood ken die wêreld van skoonheidskompetisies en hoe om voor ’n kamera te blom – sy was immers ’n finalis in die Mej. Fiksheid- sowel as die Mej. SA-kompetisie (2000).

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

’n Talentsoeker kon haar nie miskyk nie en van toe af het modelkontrakte haar wêreldwyd laat reis.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Maar in 2009 het sy die boerpot geslaan met die vroulike hoofrol in die fliek District 9. Dié toekomsprent van die Suid-Afrikaner Neill Blomkamp was ’n wegholsukses by die loket, het vier Oscar-benoemings gekry en meer as $210 miljoen verdien. Vanessa was Wikus van der Merwe (Sharlto Copley) se vrou, Tania, in die fliek wat hom in Johannesburg afspeel. Sy was daarna ook in prente soos Sweet Shop, Blood Diamond en Hey Boy te sien.

Drama is in Vanessa se bloed. Sy was op vier al in ’n teater-produksie op die verhoog. Ná skool het sy met diplomas in bemarking en besigheidsbestuur in haar sak drama gaan swot.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Dit was net die regte agtergrond vir haar werk as aanbieder van Groen (kykNET), Top Billing (SABC3), AgriTV (SABC1), Superdance (e.tv) en Wildlife Video Cast (Asia).

“Dit was ’n baie opwindende tyd in my lewe, maar dit is ’n wisselvallige beroep en ek wou graag by ’n positiewe bedryf betrokke wees.

“Iewers het ek ook begin voel iets skort – ek het my sport gemis. Ek het terselfdertyd besef dat ek nooit my ideale lewensmaat onder akteurs en modelle gaan ontmoet nie en meer by sport betrokke geraak.”

Sy het op skool provinsiale kleure vir netbal en atletiek gekry, maar tussen haar studie en internasionale modelwerk deur was daar nie veel tyd vir oefening nie. Hierdie plaasmeisie uit Mpumalanga kry toe ’n bergfiets en begin naweke deelneem. “En ek was reg: dis ’n sport-soort wat plesierige mense aantrek en ek het wonderlike vriende gemaak.”

Tog was dit nie onder die bergfietsgemeenskap waar sy haar hart se punt sou raakloop nie. Sy het die wêreldberoemde SA veldhardloper van Gobi-woestyn-faam, Ryan Sandes, in 2010 by die Knysna-oesterfees ontmoet waar sy die “Big Five” vir liefdadigheid gedoen het. Dit was ’n behoorlike geval van liefde met die eerste oogopslag.

Hulle is sedertdien bymekaar en het onlangs met ’n blinkblou tanzanietring verloof geraak: “Ons beoog om aan die einde van 2014 te trou,” vertel Vanessa met blink oë.

Dié aktrise en aanbieder is deesdae bekender as semi-professionele bergfietsryer. Sy en Ryan het albei ’n passie vir sport, maar hoe maak twee sulke aktiewe mense wat boonop twee verskillende sportsoorte beoefen, tyd vir mekaar? Veral as die een Ryan is wat hoeka op al sewe vastelande aan ultra-veldwedlope deelneem én die eerste atleet ter wêreld is wat al sewe gewen het! (Sien sy spoglysie onder.)

“Gelukkig werk ons albei van die huis af en kry ons mekaar deur die dag te siene, want ek is maar altyd aan die gang,” vertel Ryan wat tussen oefensessies en ’n besoek aan die biokinetikus tyd afknyp vir die onderhoud én ’n groot bord kos wat hom aan die gang moet hou.

“Ek hardloop gewoonlik tussen 12 en 25 uur per week en bestee nog vyf uur aan krag- en ander oefening.” Vanessa bestuur op haar beurt haar eie maatskappy, Blue Fox Marketing and Media Solutions, waardeur sy fietsry- en sportbyeenkomste saam met borge bedryf.

Ryan neem wêreldwyd deel en as hy lank weg moet wees, gaan Vanessa saam. “Ons probeer om nooit langer as drie weke weg van mekaar te wees nie.”

Daar bly nie veel tyd vir ontspanning oor nie, maar hulle gaan stap gereeld met hul hond, Thandi, en oefen so nou en dan saam. En hoewel albei baie kompeterend is, is ’n oefensessie iets wat hulle vir die pret saam doen. Hulle laat dit nooit in ’n wedloop ontaard nie, verseker hulle my laggend.


Ons motiveer mekaar

Hulle is altwee baie gefokus en gemotiveerd en ook mekaar se grootste ondersteuners – albei ken die leefstyl en die uitdagings en verstaan wat die ander een deurmaak. Veral as dinge moeilik raak.

Vanessa vertel hoe sy so byna-byna in die vorige Absa Cape Epic-bergfietswedren tou opgegooi het.

“Ek het gedog ek gaan dood en kon net nie meer nie.”

Sy het ná ’n asma-aanval in die mobiele kliniek beland en die volgende dag haar bewussyn in die wedren verloor toe sy weer ’n paar aanvalle gehad het.

“My krag was óp! Ek kon net nie verder nie. Maar toe Ryan sê hy het as ’n verrassing my ma na die eindpunt laat vlieg, het ek darem met nuwe ywer weggespring, hoor!”

Beste vriende

“Ons het dieselfde soort persoonlikheid – opgee bestaan nie vir ons nie. Omdat ons so eenders is, verstaan ons mekaar. Boonop is ons mekaar se beste vriende. Hy is die eerste mens wie se raad ek oor enige probleem sal vra. Dis vir ons belangrik om dinge saam te doen en ons is ’n goeie span, maar dis net so belangrik dat elkeen sy eie ruimte met sy eie belangstellings het,” sê Vanessa.

Hoewel sport nog altyd deel van haar lewe was, was dit Ryan wat haar oortuig het om vir die Absa Cape Epic-bergfietswedren in te skryf. (Sy het al twee voltooi.)

Sport en -uitdagings het haar lewe gevorm. In 2011 moes sy weens ’n nekbesering wat sy in die proses opgedoen het, haar aan die Survivor “Plebs and Celebs”-wedren onttrek.

“Dit was die ongelooflikste ervaring: Dit het my laat besef hoe sterk my gees is en hoe lank ek kan uithou en aanhou. Sy sê sy gebruik altyd weer hierdie insig om haar te motiveer wanneer sy ’n groot uitdaging aanpak.

Sy is lid van Ryan se ondersteuningspan vir ultra-wedlope en weet intuïtief hoe om sy gees weer sterk te kry.

Die jaar 2013 was Ryan se annus horribiles. Hy het die eerste keer in die ses jaar wat hy internasionaal deelneem, met hardnekkige beserings gesukkel.

Dis ’n frustrasie wat Vanessa maar alte goed verstaan en sy weet hoe om hom moed in te praat.

“Ek is gewoonlik vreeslik chilled maar op die oomblik is ek nie die maklikste ou om mee saam te leef nie,” sê Ryan met ’n verleë glimlag toe ons ná sy onsuksesvolle Leadville 100 Mile Trail Run gesels. “Hierdie skielike gesukkel met beserings frustreer my geweldig.”

Aan die ander kant is wedrenstres weer iets wat hulle heeltemal verskillend hanteer, vertel Vanessa.

“Ek raak opgewen voor ’n groot wedren terwyl Ryan afgetrokke word namate hy al hoe meer op die wedren fokus en die verloop daarvan visualiseer.”

Maar met die troue wat vir die einde van die jaar beplan word, is daar uitdagings van ’n ander aard waaraan daar gedink moet word.

“Ja, ons sal baie graag kinders wil hê. Maar uithourenne gooi jou hormone deurmekaar – my lewe sal eers rustiger moet word.”

Toe ek ná die onderhoud huis toe ry, bly ek wonder of die babas uit die Haywood-Sandes- genetiese poel ooit vir ’n oomblik stil gaan sit …

Ryan Sandes die atleet

Ryan Sandes (die uitspraak is “sands”) was sewe jaar gelede ’n finale jaar-student in bourekenkunde toe sy pelle hom by die Knysna-oesterfees uitdaag om die halfmarathon te hardloop. Maar die 21 km was vol en hy moes maar vir die marathon van 42 km inskryf. Dié het hy in ’n blitsige 3 uur 16 sek. voltooi. Met byna geen oefening nie.

Wat hom die meeste verbaas het, was dat hy dit so baie geniet het … Kort daarna het hy veldhardloop “ontdek” en sedertdien was daar geen keer aan hom nie. Tans word hy gereken as een van die heel beste ultra-hardlopers op die planeet en hy is die eerste ultra-veldhardloper ter wêreld wat al ’n wedloop op al sewe kontinente gewen het.

Lees meer op sy blog: www.ryansandes.com

Ryan se oorwinnings

2008: Racing the Planet Gobi Desert Race (Asië); Racing the Planet Sahara Desert Race (Afrika)
2009: Jungle Marathon Amazon (Suid-Amerika)
2010: Racing the Planet Atacama Desert Race (Suid-Amerika); Racing the Planet Antarktika The Last Desert Race (Antarktika); PUFfeR Trail Run (Afrika)
2011: Leadville Trail 100 (Noord-Amerika); Racing the Planet Nepal (Asië)
2012: Vibram Hong Kong 100 Ultra Trail Race (Asië); North Face 100 (Australië); Solomon Skyrun (Afrika)
2013: North Face Transgrancanaria (Europa).

Kyk by www.racingtheplanet.com

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.