kategorieë: Bekendes

Liefde soos ’n kalandar

Daar is net een manier om na ‘n kalander te kyk. Jy lê plat op jou rug en kyk teen sy ruwe stam op, op, op … tot waar die son skadubeelde met die takke teken. As jy die Knysnabos ken, weet jy dit. Met ‘n bosreus moet jou kyk by die wortels begin en ophou waar die nuwe loof uitbot.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Rolprentmaker Regardt van den Bergh ken dié geheim al sedert hy in die laat jare tagtig die rolprentweergawe van Dalene Matthee se Kringe in ‘n Bos in Knysna se digte woude verfilm het. Hy het nie toe geweet watter betekenis die woud nog eendag in sy lewe gaan hê nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die skadu van ’n reuse-kalander is die plek wat hy twintig jaar later uitgesoek het om die nuwe liefde in sy lewe kans te gee om te begin groei.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Ek het onder Dalene Matthee se bekende bosreus op my rug vir haar lê en wag. In my hand was ‘n ronde klip wat ek by die Jubilee Creek daar naby uitgesoek het. ‘Kom lê hier in die waai van my arm,’ het ek haar genooi. Ons het saam opgekyk. Toe hou ek die klip na haar uit en sê: ‘Hierdie is die verbond van ons liefde. Sal jy met my trou?’”

Hy was vrek bang. Nes ‘n skoolseun wat die eerste keer kys gevra het, beken die Suid-Afrikanse rolprentlegende een koue oggend langs ‘n knetterende kaggelvuur in Johannesburg. Kort-kort vat hy liefdevol aan die vrou langs hom se arm. Clara Joubert. ‘n Gesig wat byna twee dekades gelede volksbesit was as Hess van die TV-reeks Orkney snork nie. Binnekort word sy Mev. Van den Bergh. Hulle het in Johannesburg kom trourok pas by die ontwerper Abigail Betz.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Sy gaan vir my ‘n lunch-nommertjie aanmekaarslaan,” vertel die donkerkop met die pikswart oë wat Regardt se toekomsplanne kom befoeter het.

“Ek was van plan om my lewe as vrygesel te slyt. Ek het selfs my huis gebou soos ‘n bachelor dit sou beplan. Vir my gerief. My planne was klaar gemaak: Ek wil moewies vir die Here maak tot ek doodgaan. Alleen. Daar was nie voorsiening vir weer lief word vir iemand nie.”

Regardt was in die tagtigerjare met die aktrise Jana Cilliers getroud en hulle het twee dogters wat ook deesdae aktrises is, Lika en Leán. Uit sy vorige huwelik het hy ‘n aangenome seun, Dawid. Clara is vier jaar gelede van haar man geskei. Regardt het Clara se seuns, Lomo (21) en Joubert (20), plegtig ingelig dat hy vir hulle ma lief is en nooit hulle plek in haar lewe sal neem nie. Sy dogters is ook in hul skik, “half verlig,” spot hy, dat Pa liefde gevind het.

Regardt en Clara het mekaar jare gelede vlugtig by oudisies ontmoet, maar sy het twee jaar gelede met hom op Facebook genetwerk en gevra hy moet haar in ag neem wanneer hy oudisies vir sy volgende fliek doen.

“Toe kontak hy my nadat ek op Facebook vertel het hoe snaaks die kinders vir wie ek op Jeffreysbaai by Uitvlucht skoolgehou het op my vertelling van die wederkoms van Jesus gereageer het. Hy het belowe om vir my sy DVD Gospel According to Matthew te stuur om vir die kinders te wys. Daarna het ons lekker begin gesels op Facebook en later per foon. Veral die middernagskof tussen halfeen en twee in die oggend toe ek B.Ed. deur Unisa begin studeer het. Van 10 September 2011 af was daar nie een dag wat ons nie gepraat het nie.”

Sy sê sy het aan die begin op Regardt se Facebook-profiel na sy ouderdom geloer en gedink: O vrek, hy is te oud vir my! Regardt het ook met meer belangstelling na haar foto’s en inskrywings begin kyk. “Haar oë praat met ‘n mens. Ek het begin besef hier is nou ‘n wonderlike vrou wat iets in die gemeenskap wil terugploeg.”

Clara was die afgelope vier jaar graad R-onderwyseres vir kinders wat baie diep in haar hart gekruip het.

“Ek glo nie aan toeval nie en glo ek het met ‘n doel by Uitvlucht beland. Ek het niks van skoolhou geweet nie en eers net tydelik uitgehelp. Die tydelik het permanent geword en ek het ná my egskeiding ‘n genesingsproses daar beleef. Soms spot ek dat selfs die klippe om die skool saam met die lewe vir my sag geword het. Dit was die grootste leerskool van die lewe.” Sy is baie trots dat sy darem “een van die dae” op vyftig uiteindelik graad gaan vang.

“By Uitvlucht het ek geleer wat werklik saak maak in die lewe. Die harde werklikheid tref jou as jy met minderbevoorregte kinders met onder meer fetale alkoholsindroom en maatskaplike probleme werk. Ek en my kollegas wou regtig ‘n verskil aan hul lewe maak.”

Naas Orkney snork nie 1,2 en 3 was sy op TV te sien in Swart kat en Grondbaronne en onlangs ook in ‘n kameerol in Vloeksteen wat Regardt geregisseer het. Onder haar verhoogwerk die afgelope twintig jaar tel baie kinderteaterstukke, poppekas-vertonings, feesproduksies soos Stukkend, Hoe en waarmee oorleef mens dit, die komedie Kniediep in die warmwater en die kabaret Ella sê goodbye wat sy self geskryf het.

Sy het onlangs by Uitvlucht bedank en ‘n rol losgelaan in die TV-reeks Vlug na Egipte wat deur Paul C. Venter geskryf is en by Hanover verfilm is. Sy speel ‘n stadsma wat saam met haar gesin na die platteland verhuis. Die reeks word later vanjaar gewys.

“Ek het lank gesukkel om weer my voete as aktrise te vind en gaan vir eers die skoolhou los en op rolle konsentreer,” vertel Clara terwyl Regardt tussenin vertel hoe lekker hulle saam gaan moewies maak as hulle eers getroud is. “Ons het reeds ‘n DVD-reeks genaamd Kalossie vervaardig en sien uit na die volgende. Ons sien ook uit daarna om gewone dinge te doen, soos saam lê en lees, flieks kyk, kos maak … ” babbel die man vir wie Clara eens bangerig was omdat hy “die bekende Regardt van den Bergh is”.

Ná maande se gesels op Facebook het Regardt Clara se agent gebel en haar nommer gekry.

“Ek het sy nommer reeds op my foon gehad en byna my kar omgegooi toe ek op my selfoonskerm sien dis hy wat bel! Ek moes stop so het ek gebewe. Ek het kort voor dit vir hom geskryf hy is ‘die dokter van my hart’. Toe hy bel, was al wat ek kon uitkry: ‘Is dit my shrink?’”

Vir Regardt was die ontluikende gevoel vir Clara vreemd omdat hy so lank enkelloper was en geen poging aangewend het om weer saam met iemand te “loop” nie.

“Ek was soms bewerig. Vrek bang vir vroumense. Ek het God gevra om my kwetsbaar te maak vir dié ding. Ek het dan reeds klaarheid gehad met my alleenheid. ‘n Soort gemak en selfsug. Toe kom Clara. Nou besef ek hoeveel mooi goed ek beleef het sonder om dit met iemand te deel. Ek het maklik my tent alleen iewers gaan opslaan.”

Soos twee tieners wat die liefde ontdek, het hulle die moed bymekaargeskraap om “op neutrale terrein” in Knysna te gaan koffie drink.

“Regardt het van die Kaap gery en ek van Jeffreysbaai net om te gaan koffie drink. Lekker mal. My maag was behoorlik op ‘n knop.”

Die emosionele band wat reeds daar was, is verstewig. Ná die aanvanklike ongemak het hulle geweet dis verby.

“Die sagtheid wat ek van die begin in haar gesien het teenoor die kinders van Uitvlucht was daar die oomblik toe sy haar donkerbril afhaal. Sjoe, dis glad nie hoe ek my oudag beplan het nie. Ek was smoorverlief.”

Hy is nou opgewonde oor ‘n “nuwe visie, dimensie en opwinding in sy lewe”. ’n Bonatuurlike vrede het oor my gedaal toe ek met die gedagte vrede gemaak het. Dit was lekker om weer geliefd te voel.”

Vir Clara was die gedagte om ‘n tweede keer te trou eers ‘n storm van emosies.

“Met ‘n tweede huwelik deurdink en wroeg jy oor dinge. Ek was gister byna naar toe ek trourok moes gaan aanpas. Weer trou, was ‘n moeilike ding om aan gewoond te raak. Ons kom albei met bagasie in die verhouding in.”

Die lekkerste van haar verhouding met Regardt is dat hulle nooit ophou gesels nie, vertel sy.

“Ek dink dis ‘n fout wat ‘n mens in jou huwelik maak. Jy kommunikeer al minder en leef later verby mekaar. My en Regardt se verhou ding is verfrissend en daar is ‘n volwasse wysheid. Ons siele verstaan mekaar,” sê sy voor Regardt haar weer onderbreek. (Hulle doen dit speels en gereeld.)

“Ons weet ons sal saam kan oud word. Ek het baie oor die saak gebid en die Here het my emosioneel hiervoor voorberei,” vertel die man wat so be-noud was om Clara te vra om vas met hom uit te gaan.

“Ek het haar ge-SMS en gevra ‘Sal jy met my uitgaan?’ Toe skryf sy terug: ‘Ek sal daaroor dink.’ Ek het onmiddellik geantwoord ‘Dis ‘n goeie datum!’ waarop sy laat weet ‘Ja, Regardt, ek sal.’ Toe SMS ek ‘Ek sal wag tot jy onomwonde ja sê.’ En Clara antwoord: ‘Ja!!!’ Toe SMS ek terug ‘Jippeee!! Ek’s gekys!’ Dit was ‘n kinderlike gespot.”

Clara sê sy het onlangs vir ‘n vriendin vertel Regardt laat nie vlinders in haar maag dwarrel nie. “Dis soos helikopters wat opstyg!”

Dis lekker om weer liefde te vind, besin sy. “’n Mens maak langs die pad baie foute waaroor jy spyt is, maar ons nuwe liefde wys jy kan weer ‘n tweede kans kry om gelukkig te wees. Ná my egskeiding het ek in my eerste eie huis bordjies met die woorde ‘geluk’ en ‘vrede’ opgehang en ek het dit uiteindelik gekry. Ek moes langs die pad leer om vrede te maak en myself te vergewe vir ‘n paar goed. Nou sien ek uit na nuwe horisonne en ek het weer drome.”

Sy beken sy is een van daardie mense wat haar oor als bekommer. (Regardt beaam dit met groot gebare.)

“Ek het vir ‘n vriendin vertel hoe groot die ding van die liefde en die troue vir my is om te verwerk. Sy het my die ou raad gegee dat ek dit moet takel soos jy ‘n olifant sou opeet: stukkie vir stukkie.”

Nou sien sy uit na die troue wat sy as “nie veel van ‘n event nie” beskryf.

“Ons gaan rustig saam met vriende en familie in ‘n restaurant in Knysna trou en kuier.”

Clara sien uit om baie van Regardt se wysheid te leer en hy spot dat hy haar gaan leer hoe “opwindend” dit vir hom is om seëls te versamel.

“Uggggh” rol sy haar oë, maar sy sien uit daarna om saam met hom te kook.

“Hy maak van kook ‘n feestelike geleentheid. Ek het onlangs vir hom ‘n regte sjefsmes gegee.”

Op die mes is gegraveer dat dit van “Kanini” kom. Dis Regardt se troetelnaam vir haar na aanleidingvan die liedjie “Slaapkanini” wat sy graag vir die Uitvlucht-kinders gesing het.

“Reken, sy het gedink dit is ‘Slaapkanini’ en nie ‘Slaap pikanini’ nie! Dis hoekom ek haar nou ‘Kanini’ noem,” sê hy en lag lekker. Vir hom was Clara se ervaring by Uitvlucht so treffend dat dit hom geïnspireer het om ‘n gelyknamige draaiboek te skryf oor ‘n vrou wat genesing bring en vind toe sy by ‘n plaasskooltjie gaan skoolhou.

“Die storielyn groei en ek raak al meer opgewonde daaroor. Ek het nog altyd ander mense se stories verfilm en sien daarna uit om my eie storie te verfilm.”

(Naas Circles in a Forest het hy onder meer die Boetie-flieks, Angus Buchan se Faith like Potatoes, Hanna Hoekom en die internasionaal bekroonde rolprent Tornado and the Kalahari Horse Whisperer verfilm.) Die ander nuwe hartstorie wat hy eersdaags op film gaan vaslê, is ook een uit sy pen. The Lamb is ‘n rolprent oor ‘n Joodse gesin se perspektief oor Jesus se kruisiging en Regardt hoop om dit volgende jaar met internasionale finansiering in Namibië saam met Desert Star Productions te verfilm.

“Ons sou al vanjaar begin het, maar nou hoop ek op volgende jaar,” vertel die man wat na die lewe deur ‘n rolprentkamera se lens kyk.”

Regardt maak nie net rolprente nie maar waag sy hand aan gedigte ook. Hy het ‘n gedig geskryf oor daardie dag toe hy en Clara onder die kalanderboom gelê het. Daarin vertel hy van die wortels wat hulle met krag saamvleg.

“Onwankelbaar staan hy daar, jaar na jaar, terwyl storms kom en gaan en kom en gaan … ” Lui sy gedig wat afsluit met: “En dan ontwaak ons soos een mens in die ontsag van sy majesteit. Onwrikbaar staan ons een-wees soos ‘n baken ver bo tyd, ‘n kalanderboom van liefde standvastig in die ewigheid.”

Hulle beplan om gereeld onder Daleen se boom te gaan lê. Sodat dit hulle altyd kan herinner dat as die liefde se wortels stewig in die aarde geanker is, sal daar altyd nuwe botsels in die son oopvou.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

7 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

7 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.