kategorieë: Ons menseBekendes

Lindie Strydom: ’n oop hand en ’n oop hart

Elke joernalis het ’n lysie van gunsteling-glanspersoonlikhede. Onderhoude met hulle is nooit moeilik nie, want jy kan hul warmte en opregtheid aanvoel. Hulle is nie arrogant nie, is hartlik, baie tegemoetkomend met hul tyd, reageer altyd op jou boodskappe of e-posse en doen moeite om dinge vlot te laat verloop.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Lindie Strydom is so ’n mens. Die bonus is dat ’n mens weet lesers is ook mal oor haar. Wie kan dan nou vir Karin van Egoli vergeet? Karin was gaaf, warm, vrolik en geanker al was die spul Edwardse besig met watse gekonkel ook al. Net so is Lindie. Wat verklaar hoekom kykNET-kykers so bly was om haar weer op die kassie te sien as aanbieder van DKNT Gospel, en nou ook van Geloof, Hoop en Liefde.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Ons almal se gunsteling-girl next door was terug in die kollig! Met ons fotosessie vergaap ons span ons aan haar natuurlikheid voor die kamera. Ook aan haar rustigheid en onopgesmuktheid – ’n skaars eienskap in ’n bedryf waar die ego’s soms taamlik groot kan raak.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Wat is haar geheim?

PASSIE, kom jy gou agter. Vir God, vir haar gesin, vir haar werk en vir die lewe. Dit, vertel sy oor middagete, is die dinge wat haar geanker hou. Al haar verskillende rolle op haar lewensverhoog is vir haar belangrik. Of dit nou is om vrou te wees vir Sakkie of ma vir haar kinders, en of dit hom afspeel voor die TV-kameras of aan die toebroodjies smeer by ’n sopkombuis, sy glo dit is die dinge wat God vir haar op aarde leen. Sy moet teruggee deur dit alles so goed moontlik te doen.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Dis deel van my dissipelskap – my manier om sy Koninkryk uit te bou.”

GELOOF Haar geloof, vertel sy, is waar alles in haar lewe begin. Sy was in haar Egoli-loopbaan ook baie openlik daaroor. “Vir my man, Sakkie, en die kinders is dit belangriker dat ek moet lief wees vir die Here as wat dit is dat ek vir hulle moet lief wees, want hulle weet dis waar ek my rustigheid, vervulling en geluk kry.

“’n Mens is soveel minder afhanklik van jou gesin vir jou geluk as jy dit by die Here kry, en jy kan hulle soveel meer bied.”

Oor Sakkie, met wie sy nou nege jaar getroud is, kan sy nie uitgepraat raak nie. “Ai, hy is vir my só goed! Maar ja, ek dink dis veilig om te sê ek kan hom meer bied as wat ek van hom verwag omdat ek Glo. Aanvanklik het ek gedink hy is die antwoord op my selfbeeld-probleme. Natuurlik het dit gehelp dat hy onvoorwaardelik lief is vir my, maar ek moes leer dat my geluk in ’n konstante gesprek en reis met die Here lê.”

HAAR MAN SAKKIE Terwyl ons deur Melville ry op soek na ’n eetplek om die onderhoud te voer, vertel sy dat sy in hierdie buurt gewoon het toe sy en Sakkie die eerste keer uitgegaan het. “Ons eerste afspraak was by Questionmark. En die tweede een by Full Stop.”

En, skater sy, toe wéét sy: hierdie is bedoel om te wees. Sy het Sakkie by die kerk ontmoet. “Ek onthou toe ek hom die eerste keer gesien het. Hy het met sy rug na my toe gestaan, en ek het vir my vriendinne gesê ‘daar is my trouman. Ek kan al klaar ons mooi krulkop-kindertjies sien’. En ek het nie geweet hy het krulhare nie, want sy hare was in daardie stadium afgeskeer.”

By hom het sy al so baie geleer, vertel sy. “Hy is ’n ongelooflike eerlike man, ook oor sy eie foute, en hy het ’n wonderlike manier om ’n situasie te ontlont.”

’n Huwelik is vir haar ’n vennootskap, en sy erken dat sy die laaste jaar of twee ook aan haarself moes werk. “Ek het die Here gevra om my ambisie ’n bietjie te tem. Om heeltyd die wêreld te probeer verander kan ’n mens nogal insluk. Dis die verskil tussen aktrise wees en wat ek nou by Helpende Hand doen. By Egoli het ons elke dag ’n episode klaargemaak, en die volgende dag weer iets nuuts begin en klaargemaak. ’n Mens voel so half jy het vandag iets bereik.”

By die vakbond Solidariteit se Helpende Hand-afdeling, waar sy die afgelope twee jaar skakelbeampte is, is die werk nooit klaar nie omdat die menslike nood daagliks vererger, en die krisis bly nie noodwendig op jou lessenaar agter as jy huis toe gaan nie.

“Dit kan ’n mens nogal depressief maak. Maar ek moes besef dat my gesin nie daaronder mag ly nie. Dit gaan die heel slegste getuienis wees as ek my werk goed doen, maar my gesin afskeep.”

Hoe het sy balans gekry?

“Ek moes leer prioritiseer. Ek moet myself gedurig afvra wat is belangrik, wat is dringend, en wat is belangrik én dringend. Nou voel dit vir my ek werk vinniger, meer gefokus.”

Sy moes ook ’n ander belangrike ding leer: om “nee” te sê. “Gelukkig werk ek saam met mense wat soms sommer namens my sê ‘laat ons net ’n bietjie dink daaroor voor ons na jou toe terugkom’, want anders sal ek steeds te veel dinge aanpak.”

Sy en Sakkie het in die afgelope jaar besluit om ter wille van hul gesinslewe af te skaal. “Hy het van werk verander om ’n bietjie uit die korporatiewe boot te klim. Dit was ’n groot stap, maar het fantasties uitgewerk. Ons kinders blom. Ons gesin is regtig op ’n wonderlike plek.”

MA-WEES “’n Ma bepaal die atmosfeer in ’n gesin en ’n pappa gee rigting. Saam moet hulle ’n toekomsvisie hê en die waagmoed om te sê ‘kom ons probeer dit’. Ek glo dis goed as ’n mens jou ’n bietjie stretch, en jy moet dit vir jou kinders ook leer. Solank hulle weet dat hul ouers steeds vir hulle lief sal wees al misluk hulle.”

En ja, soos sy lank gelede vir haar vriendinne voorspel het, hulle hét toe pragtige krulkoppe, en Lindie geniet die drie pragtige kleuters se uiteenlopende persoonlikhede.

“Paul is vyf, ’n perfeksionis en baie gesteld op regverdigheid. Die tweeling Nina en Hugo verskil hemelsbreed. Hugo is onafhanklik, baie rustig en sien op na sy ouboet. Nina weer dink sy is net so oud en net so groot soos Paul, en staan nie ’n tree vir hom terug nie. Sy het ’n sterk mening wat sy gráág lug en is baie expressive as dit kom wat sy voel.”

Sy hou van die voortdurende uitdagings van ma-wees. “Dit beweeg mos in seisoene, en elkeen het sy eie, unieke uitdagings. Elke kind moet byvoorbeeld anders gedissiplineer word. Gelukkig het ek vir Sakkie. Hy is baie hands on, en ’n goeie klankbord vir my belewing en hantering van ouerskap. Ons is nogal gesteld daarop om voor die kinders as ’n eenheid op te tree. As ons dalk oor ons benadering verskil, praat ons dit eenkant uit, maar voor hulle is ons ’n verenigde front. Ek dink dis baie belangrik.”

Ouerskap, dink sy, leer ’n mens algehele onselfsugtigheid. “As jy trou, betree jy bloot die eerste vlak van onselfsugtigheid. Jy moet leer om ’n begroting te deel, ’n huis te deel. Maar ouerskap! ’n Mens gee so lank sonder enige beloning. Van jouself, jou tyd, jou hart. Maar as die belonings eers begin kom … ”

VRIENDINNE Die geloofspad en lewenspad, vertel sy, stap jy soveel makliker as jy geestelike mentors het. En dié het sy gekry in haar twee beste vriendinne. Aktrise Adriana Faling het vir ’n rukkie saam met haar in Egoli gespeel, en Faith Durie werk saam met haar by Helpende Hand.

“Hulle is albei ’n bietjie ouer as ek, en ook ’n bietjie langer getroud. So, hulle is my mentors en my accountability-vriendinne wat sorg dat ek deurvoer wat ek moet in my lewe. ’n Mens het goeie vriendinne nodig.”

Hulle inspireer haar op verskillende maniere. “Albei het mooi huwelike en pragtige kinders. By Faith leer ek oor balans. Sy kry die balans tussen gesin en werk so mooi reg. Werk bly op kantoor. Ek is geneig om die dinge van my werk saam te sleep huis toe, al is dit net in my kop. By Adriana leer ek weer hoe ’n ongelooflike rol ’n ma in haar kinders se lewe speel. Sy is voltyds ma, en dit inspireer my weer op ’n gans ander manier. Ek verstom my aan haar geduld en sagtheid met haar kinders!”

GESONDHEID Dis vir Lindie ’n Godgegewe geskenk.

“As jy gesond is, kan jy soveel meer vir die wêreld bied. Ek en my gesin is in daardie opsig baie geseënd. Ek kan nie eens onthou dat een van my kinders vanjaar al antibiotika nodig gehad het nie. En dis nie asof ek hulle hande vol vitamiene voer nie.”

Sy glo ’n mens móét jou gesondheid koester. “Hoe anders kan jy doen wat jy gestuur is om te doen? Hoe anders gaan jy van jouself kan gee as dit nodig is, of doen wat gedoen moet word om sy Koninkryk op aarde uit te bou?”

Lindie en Sakkie deel ’n liefde vir oefen. “Ons wil volgende jaar by die Irene-hardloopklub aansluit. Hulle oefen op die Irene-melkplaas, so ’n mens is nog na aan die natuur ook terwyl jy fiks word.”

Naweke gaan die Strydom-gesin graag saam gim toe. “My kinders is mal daaroor en verbeel hulle hulle oefen ook regtig.”

HAAR BEDIENING Sy sien haar motiveringspraatjies as haar persoonlike bediening en ’n manier om sy Liefde te verkondig.

“Dis my filosofie dat jy voluit moet gaan met dit wat God vir jou gee. Hy het my deur Egoli ’n platform gegee waarop ek met vroue kon praat by geleenthede soos vroue-oggende. Toe ek weg is by Egoli, was ek nogal nuuskierig om te sien of my platform ook gaan verdwyn as ek nie meer Karin is nie.”

Sy het die glans en lewe in die kollig van Egoli feitlik onmiddellik verruil vir haar rol as skakelbeampte by Helpende Hand, die maatskaplike arm van Solidariteit. En as jy haar al in aksie gesien het, sal jy weet dat sy nie bang is om haar hande vuil te maak om die werk gedoen te kry nie. Deur Helpende Hand het haar lewe ’n nuwe fokus gekry, en haar platform is groter gemaak.

“Ek voel ek kan waarde toevoeg deur dit wat ons probeer om vir mense te doen. Om vir hulle te leer. Dit het my so geïnspireer dat ek selfs volgende jaar begin met ’n reeks werkswinkels oor sosiale betrokkenheid, juis om mense te help met die ‘hoe’ daarvan. Ek glo baie mense wil ’n verskil maak, maar weet nie waar om te begin nie.”

HELPENDE HAND By hulle het sy al so baie geleer, vertel sy met blink oë. Soos om met liefde te gee, iets wat nie altyd ewe maklik is nie.

“Liefde is soms nogal tough om te gee, maar ander kere kan jy jou in die mens wat voor jou staan se skoene indink. Soms is die liefde wat ’n mens moet gee opofferend, want dis al hoe mense die Bron van jou krag kan sien.

“In 1 Kor. 13 lees ons van geloof, hoop en liefde. Vir my is dit eenvoudig. Jy kies geloof, en kry hoop as geskenk. Deur liefde kan jy iemand aanmoedig om geloof te kry – en daarmee saam hoop.”

Al is haar ampstitel dié van skakelbeampte, sien sy haar rol eintlik as dié van ’n bemoediger. “Elkeen van ons het ’n ander gawe. Party is doeners, ander cheerleaders, ander wys die pad aan en los die bakens. Ek sien myself as ’n doener, maar ook as ’n bemoediger. Danksy my wegkomkans een maal per week om DKNT Gospel te gaan opneem, kan ek ’n bietjie wegkom van die hartseer en armoede, en kan ek met nuwe entoesiasme teruggaan om my kollegas te ondersteun.”

Die projekte onder die armes op grondvlak is die naaste aan haar hart, maar die afgelope twee jaar het sy besef sy is gelukkig nogal aanpasbaar. “Ek kan die skakelwerk doen en na ’n donateur gaan om ’n voorlegging te doen vir ’n skenking. Maar ek kan ook veel meer as dit doen danksy ’n wonderlike span mense wat my ondersteun en by wie ek voortdurend leer.”

By dr. Danie Langner, hoof van Helpende Hand, leer sy heeltyd. “Hy gooi my konstant by die spreekwoordelike diep kant in. Gelukkig weet ek dat jy gereeld iets moet doen wat jou eintlik half bang maak omdat jy nie weet of jy dit kan doen nie, want anders is ons geneig om in die rustigheid van ons eie klein boksie vas te val. Danie het my geleer om my grense ’n bietjie te verskuif, en hoe meer ek dit doen, hoe meer kom ek agter, kán ek doen.

“So het hy my vroeër vanjaar vriendelik verplig om ’n groot kongres oor sosiale entrepreneurskap toe te spreek. Eers toe ek begin voorberei, besef ek dat ek eintlik twaalf jaar lank baie kreatief oor my toekoms moes dink. By ’n sepie is dinge nie noodwendig konstant nie – jou rol kan enige dag uitgeskryf word.

“Daarom het ek allerhande klein projekte aangepak vir ’n ekstra geldjie én om op terug te val as dit nodig sou word. Dit het my laat besef elke mens het meer as een dimensie, en baie meer as een talent.”

Sy het geleer dat sy in wese ’n doener is.

“Ek kyk na die probleem en begin dadelik wonder hoe ons dit kan oplos.”

Daarmee saam het sy ’n wonderlike ontdekking oor haarself gemaak. “Ek word, deur die genade, nie lamgelê deur die probleme en slegte situasies wat ons daagliks moet uitpluis nie. Ja, ek sien die swaarkry, die honger, en ja, ek huil soms. Maar gelukkig kan ek my trane afvee en dan iets daaraan probeer doen.”

Sy glo jy moet jou talente gedurig slyp. “Jou lewe bestaan uit verskillende seisoene – jy gaan iets dalk nie in hierdie stadium van jou lewe gebruik nie, maar hou dit lewendig vir wanneer ’n ander seisoen aanbreek en jy dit dalk weer nodig kry. ’n Mens weet nooit wanneer kom jou dag nie. Ek is meer vervuld vandat ek dit besef het en doen. Onthou, as iets in jou bloed is, moet jy dit leef en doen.”

Haar lewensmotto kom uit Prediker. “Daar iewers skryf Salomo: ‘Dien God, doen wat gedoen moet word en geniet die lewe. Dit sal jou vir die res van jou lewe besig hou.'”

Deel
Gepubliseer deur
Nicole Kemp

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.