Ons ma-en-dogter-kompetisie het vanjaar alle verwagtinge oortref. Met die meeste inskrywings nóg vir rooi rose se jaarlikse kompetisie, het ma’s en dogters van regoor die land hul harte, herinneringe en unieke stories met ons gedeel – wat ’n voorreg!
Elke inskrywing was ’n viering van ’n besonderse band, en die taak om finaliste te kies, was allesbehalwe eenvoudig. Ons beoordelaarspaneel het bestaan uit rooi rose se redakteur Anlie Janse van Rensburg; die veelsydige sanger, TV-persoonlikheid, fotograaf én grimeerkunstenaar, Willem Botha; die gerekende joernalis dr Elna Rossouw, asook die bekroonde modeontwerper Anél Botha.
Daar wag ’n onvergeetlike ervaring op die ma en dogter wat wen: ’n oormaak- en fotosessie deur Willem Botha, ’n ontwerper-uitrusting vir elkeen deur Anél Botha, ’n goue ring vir elk van Schermans, asook ’n geskenkpak vol skoonheidsprodukte van NUXE. Hul fotosessie sal boonop ook in ’n uitgawe van rooi rose verskyn! Die wenners sal in Maart aangekondig word.
Vandag begin ons om ons top-20-finaliste bekend te maak.
Hier’s die eerste 10 ma-en-dogter-pare wie se stories ons harte geraak het.
Elize Sands en Joanne Human
Swellendam

“My ma is my beste vriendin, my grootste aanhanger, maar ook my eerbaarste kritikus. Ons gesels elke dag, soms meer as vier keer. Ek deel alles met haar en sy met my. Ons kan baie lekker saam lag vir die simpelste goed en dan kan ons ook weer lekker baklei, maar nie vir lank nie.”
Estelle Kapp en haar dogters, Janine en Chanél
Vanderbijlpark

“’n Ma-en-dogter-verhouding word gesmee wanneer julle saam huil, saam bid, saam hoop, en saam juig. Dit is die krag van liefde wat nie opgee nie, en die lig van geloof wat nooit verdwyn nie.”
Elischa Eloff en Heila Dedekind
Pretoria

“My ma het my van kleins af gewys hoe om reg te kies, om sag te wees, en om sterk te staan. Ons verhouding is spesiaal omdat dit eerlik, warm en konstant is. Ek kan haar elke dag bel, alles met haar deel, en voel altyd veilig. Sy is nie net my ma nie — sy is my anker, my voorbeeld en my beste vriendin.”
Chriszelda Le Grange en haar ma
Klerksdorp

“Niks is ooit te veel vir my ma nie, sy is altyd daar en ek kan enige tyd op haar knoppie druk. Sy is die beste ouma vir my seuntjie en ons drie doen alles saam. Ons is nie net ma en dogter nie, maar ook beste vriendinne.”
Christelle en Salomy Jacobs
Brits

“Ons is beslis mekaar se grootste ondersteuners en vertrouelinge. Ek probeer my dogter die wêreld te laat sien en te verstaan, maar eintlik is sy die een wat my die lewe laat verstaan.”
Madeleen van den Berg en Charlize Odendaal
Wes-Kaap

“Dis vir ons ‘n voorreg om elke jaar ‘n hartsprojek saam aan te pak. Ons is albei busy bees, planners & operators en ‘n projek saam versterk ons band.”
Charl-Mari Lubbe en Elmarie van Wyk
Pretoria

“My moeder het my geleer om met sagter oë na die lewe te kyk. Sy herinner my daagliks daaraan dat ons die mooi moet raaksien, en dat selfs die moeilike tye waardevolle lesse dra.”
Chanel en Giselle Rautenbach
Krugersdorp

“Giselle het grootgeword in ’n huis waar ek nog self grootgeword en gegroei het. Dis dalk hoekom ons verhouding só spesiaal is — ons het saam geleer, saam geval en saam opgestaan. Terwyl sy haar potensiaal ontwikkel het en soveel dinge bereik het, het sy my gehelp vorm. Sy het my geleer wat liefde en volharding is.”
Carina en Minyonne Schutte
George

“Minyonne se werk op die skepe neem haar weg vir die grootste gedeelte van die jaar. Die tye wat sy wel by die huis is, maak ons op vir verlore tyd. Ons gaan doen line dancing (ritme of nie!), ons gaan proe wyn en pizza, ons gaan Sondae saam kerk toe, ons stap saam en ek kyk terwyl my enigste kind van ‘n hemelhoë brug afspring (en al wat jy kan doen is bid).”
Alicia van Niekerk en haar ma, Cecilia
Pretoria

“My ma is my voorbeeld van wat dit beteken om te oorleef met grasie, om te gee sonder om te tel, en om lief te hê sonder om terug te hou.”
Lees ook: Ma-en-dogter-kompetisie: Hier’s die res van ons top-20-finaliste!
