Ons ma-en-dogter-kompetisie het vanjaar alle verwagtinge oortref. Met die meeste inskrywings nóg vir rooi rose se jaarlikse kompetisie, het ma’s en dogters van regoor die land hul harte, herinneringe en unieke stories met ons gedeel – wat ’n voorreg!
Elke inskrywing was ’n viering van ’n besonderse band, en die taak om finaliste te kies, was allesbehalwe eenvoudig. Ons beoordelaarspaneel het bestaan uit rooi rose se redakteur Anlie Janse van Rensburg; die veelsydige sanger, TV-persoonlikheid, fotograaf én grimeerkunstenaar, Willem Botha; die gerekende joernalis dr Elna Rossouw, asook die bekroonde modeontwerper Anél Botha.
Daar wag ’n onvergeetlike ervaring op die ma en dogter wat wen: ’n oormaak- en fotosessie deur Willem Botha, ’n ontwerper-uitrusting vir elkeen deur Anél Botha, ’n goue ring vir elk van Schermans, asook ’n geskenkpak vol skoonheidsprodukte van NUXE. Hul fotosessie sal boonop ook in ’n uitgawe van rooi rose verskyn! Die wenners sal in Maart aangekondig word.
Vandag maak ons die res van ons top-20-finaliste bekend.
Ma-en-dogter-kompetisie: Hier’s die eerste 10 van ons top-20-finaliste!
Hier’s die ander 10 ma-en-dogter-pare wie se stories ons harte geraak het.
Lynmari en Michelle Moore
Bloemfontein

“Dis die grootste kompliment wanneer mense vir my sê dat ek nes my ma lyk. Ons klink ook presies dieselfde en mense sukkel om ons uit te ken as ons oor die foon praat. Ek het selfs in haar voetspore gevolg en ‘n paramediese rigting as beroep gekies. Haar passie vir haar werk was so aansteeklik dat dit oorgedra is.”
Misha en Madelyn Kruger
Pretoria

“As ’n enkelma is elke tree wat ek gee, elke uitdaging wat ek oorwin, elke droom wat ek jaag, deurdrenk met haar naam. Misha is nie net my kind nie — sy is my wonderwerk, my vreugde, my anker en my aandete-gebed in mensvorm.”
Margaret en Jamoré Olivier
Vredefort

“Ons verstaan mekaar sonder baie woorde: sy weet wanneer ek ’n drukkie nodig het, en ek weet wanneer sy net stilte en ’n warm koppie tee nodig het. Ons lag saam oor klein goed, ons dra mekaar deur moeilike dae, en ons vier selfs die kleinste oorwinnings asof dit groot is.”
Corra-Mari en Paula Klaassen
Koster

“Ons hou mekaar by die Here se voete, ons bid vir mekaar, ons dra mekaar se laste saam, en ons dank saam vir elke seën — groot en klein. Hierdie geestelike eenheid maak dat ons nie net ma en dogter is nie, maar ook geloofsvriende, mekaar se steunpilare en mekaar se gebedskrag.”
Suzahn en Lara van Staden
Baltimore

“Ek sien so baie in my dogter wat ek wens ek gehad het! Haar hart vir mense maak dat myne sommer smelt en wil bars van trots! Ek verstaan nou my ma se woorde: ‘As jy n dogter het, het jy n vriendin vir die res van jou lewe.'”
Viola Wilson en Varene Wilson-Hammond
Roodepoort

“My ma het my nie net geleer hoe om ’n ma te wees nie, maar ook hoe om geduldig, liefdevol en sterk te wees. Sy is ’n ongelooflike ouma vir my dogter en stort dieselfde liefde en toewyding in haar as wat sy altyd aan my gegee het. Om haar met my kind te sien, het my waardering vir die vrou wat sy is, net verdiep.”
*Dit is met innige leedwese en hartseer dat ons verneem het van die afsterwe van Viola vanjaar. Ons innige meegevoel gaan uit na haar familie en geliefdes.
Naomi Boonzaier en Jonadrie Van Aardt
Pretoria

“Alhoewel my dogter net 23 is, het sy lewenswysheid wat baie volwasse vroue sal beny. Sy het al soveel bereik in haar kort leeftyd, en haar geloof en sagte hart laat my stom. Ek leer daagliks by haar, en sy by my. Al sien ons deesdae baie min van mekaar is ons in hart en siel gebind. Sy bevind haar oral oor die wêreld en ek toer saam in haar hart.”
Annelize en Shenelle du Plooy
Rustenburg

“Wat ons verhouding besonders maak, is dat my ma my altyd laat voel dat ek genoeg is. Sy het my geleer dat my waarde nie in my voorkoms lê nie, maar in wie ek is. Haar geduld, haar sagte woorde en haar onwrikbare geloof in my het my gehelp om stadig maar seker weer myself te vind.”
Theresa en Madison Pakulski
Kaapstad

“Een van ons mylpale waarop ons die trotsste is, is toe ons in 2017 saam as lewensredders gekwalifiseer het, ‘n simbool van ons gedeelde gees, spanwerk en vertroue. Ons gaan saam na musiekfeeste, dans sy aan sy en maak herinneringe wat ons minder soos ma en dogter laat voel en meer soos beste vriendinne wat die lewe in harmonie navigeer.”
Wilma en Melissa Naudé
Centurion

“Ons twee het al die jare saam in hospitaalgange deurgebring. Ons hoes saam en deel mekaar se emosies. Dit is ‘n lang pad sover. My dogter is absoluut my Joan of Arc en superhero!”
Lees ook: Ma-en-dogter-kompetisie: Hier’s die eerste 10 van ons top-20-finaliste!
