kategorieë: Bekendes

Reese Witherspoon: Op ‘n nuwe pad

Die klein vuurbal, Reese Witherspoon, is bekend as Amerika se liefling, danksy haar wye glimlag en string romantiese komedies agter haar naam. Soetlief is sy wel, maar met ‘n innerlike sterkte wat deurgeskemer het in haar deurbraakrol, Legally Blonde in 2002. Op veertien het sy haar eerste rol in The Man in the Moon gekry, waarin sy ʼn tomboy gespeel het. Sedertdien was sy te sien in ligte flieks soos Sweet Home Alabama, maar ook ernstiger rolle soos Walk the Line. Haar nuwe fliek, Wild, is gebaseer op ʼn ware verhaal. Reese se karakter, Cheryl Strayed, is ʼn vrou met innerlike wroegings en roekelose gedrag wat ʼn staptog van meer as ʼn duisend myl alleen in die wildernis aandurf na haar egskeiding en haar ma se dood. Maar die rol het meer as net stap vereis – haar karakter is ʼn heroïenverslaafde en sy moes ook in naaktonele verskyn.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Hoe moeilik was dit om hierdie karakter uit te beeld?
Ek wil amper sê dat die fisieke gedeelte prettig was, maar so ver sal ek darem nie gaan nie (lag). Sommige dae was koud en reënerig en het alles soveel moeiliker gemaak. Aan die ander kant was dit fantasties om in die buitelug te werk. Die rol was baie interessant – Cheryl het geen ondervinding van so ’n rugsakstappery gehad nie en glad nie geweet wat sy aanpak nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Sou jy geweet het wat om in haar omstandighede te doen?
Glad nie. Die regisseur het nie toegelaat dat ek enige van die rekwisiete sien voor ons begin skiet nie. Teen die tyd dat jy die toneel sien waarin ek die tent probeer opslaan en dit uit frustrasie begin rondskud, was ek al drie uur lank daarmee aan die spook. Ek het regtig geen benul gehad van wat ek doen nie, maar nes Cheryl het ek met verloop van tyd geleer.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Hou jy daarvan om te stap?
Ek hou van die buitelug. Ek het in Tennessee grootgeword waar ons in die bos rondgehardloop het. Ek het altyd agter my boetie aangeloop. Ek was kleintyd ’n regte tomboy.

Was daar ’n stadium in jou lewe toe jy uitdagings moes oorkom en iets nuuts oor jouself geleer het?
Ja. Toe ek ’n ma geword het, het ek glad nie my eie tyd gehad nie. Dis een van die dinge waaroor Cheryl in die fliek praat, die feit dat vroue nie net hul lewe kan los om hulself te leer ken nie. Ek kon nie weke alleen in die woud bly om my vir die rol voor te berei nie, hoewel daar ’n tyd in my lewe was toe ek baie selfontdekkingsreise onderneem het. Ek dink dis belangrik dat ’n mens dit doen. Jy moet plekke verken waar jy nog nooit was nie. En jy moet dit alleen doen.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Hoe bly jy kalm wanneer jy onder groot druk is?
Ek drink graag chai-tee met sojamelk en ’n skeut espresso.

Cheryl het duisende kilometers geloop om persoonlike trauma te verwerk. Wat doen jy om jou hart en siel weer heel te maak?
Ek maak flieks daaroor (lag). Dis deel van my helingsproses om met ander fliekmakers oor my ervarings te praat en agter te kom hoe baie dit my help om by die karakter aansluiting te vind. Ek hou van stap en alleenwees. Wanneer ek ’n toespraak moet voorberei, gaan stap ek om na te dink oor wat ek wil sê.

Hoe gaan dit met jou kinders?
Hulle word nou groot. Ava is 15 en Deacon elf. Hulle is mal oor hul bababoetie. Dis so oulik om hulle in die rol van mentors en as ouer boetie en sussie te sien. Die baba is die baas van die plaas. Hy praat aanmekaar en is baie baasspelerig (lag). Ons almal doen net wat hy wil hê. Dis heerlik wanneer jy ouer kinders het wat kan help, want toe Ava gebore is, was ek maar 22 en ek moes alles alleen doen. My ma het ver van my af gebly. Nou voel dit asof Ava ’n tweede ma is wat na die baba kan kyk en hom kan bad.

Wat doen jul gesin graag saam?
Ons het uiteenlopende belangstellings. Ons hou daarvan om saam strand toe te gaan. Ava hou van rolskaats en Deacon van fietsry en gholf. Soms speel ons almal saam met hom gholf en die baba doen alles wat Deacon doen.

Die fliek handel oor emosionele pyn. Wat maak jy met emosionele pyn wanneer jy voortdurend in die openbare oog is?
Ek het al probleme gehad waarvan die publiek weet, en ander waarvan hulle nie geweet het nie. Jy besef maar niemand gaan jou kom red nie – jy moet jouself help. ’n Mens is eintlik alleen in die wêreld. Geen verhouding of baba kan jou lewe regmaak nie. Geen ma of pa gaan jou probleme oplos nie. Wat my regtig help, is om ’n boek soos Cheryl se biografie te lees. Dit het my lewe verander. Dit het my gehelp om idees te verwoord wat ek nie voorheen konuitdruk nie. Op die manier leer ’n mens hoe om innerlike krag te vind.

In hierdie fliek doen jy goed wat jy nog nie in ’n fliek gedoen het nie. Jy vloek, verskyn in naaktonele en is ’n heroïenverslaafde. Dit was dapper van jou en jou aanhangers sal verbaas wees om jou in so ’n rol te sien.
My aanhangers het saam met my grootgeword. Die vrou wat Legally Blonde gesien het toe sy twintig was, is nou 35. Sy het dalk kinders. Die mense wat Walk the Line gesien het, het al heelwat lewenservaring opgedoen. Ek glo die kykers wil saam met my ontwikkel. Ek is gelukkig dat ek so ’n kans kon kry. Ek moes vir my dogter verduidelik hoekom daar grafiese sekstonele en ander gewaagde temas in die fliek is. Ek wou die rol speel omdat Cheryl dapper genoeg was om haar hele storie te vertel, selfs die dele wat ek nie wou doen nie. Die fliek gaan nie net oor ’n meisie wat besluit het om eendag te gaan stap nie. Dis net nie daardie soort fliek nie.

Hoe klim jy terug in jou eie vel wanneer jy so ’n moeilike rol speel?
Hierdie keer was dit baie moeilik. Ek het elke naweek huis toe gegaan en op ’n naweek kon ek skielik nie ophou vloek nie! My man was so verbaas om daardie woorde uit my mond te hoor. Hy het gevra: “Wie is jy? Is jy Cheryl, want jy klink nie soos jouself nie.”(lag). Ek het ’n kant wat nie nonsens opvreet nie, maklik kwaad word en ’n bietjie bitter is. My man kon nie wag tot die rol verby is nie. Ek dink dis moeilik om saam met ’n akteur te leef, want ons neem ons karakters se persoonlikhede aan.

Jou voete was sedert Man on the Moon nog altyd stewig op moederaarde.
Ja, ek skryf steeds dankie-notas. Ek onthou die hele span se name. Ek dink dis net hoe ek grootgemaak is. Ek kry baie dinge gedoen. Ek is ’n ma, akteur en vervaardiger – dis drie voltydse werke. Hoe besiger ’n mens is, hoe meer kry jy gedoen.

Raak jy angsbevange wanneer jy nie iets gedoen kry nie?
Nee, ek dink mense is baie vergewensgesind as hulle weet dat jy besig is.

Saam met wie sou jy graag op ’n staptog wou gaan – jou gesin uitgesluit?
Daar is baie filosowe wat ek sou wou ontmoet. Dit sou wonderlik gewees het om saam met Eleanor Roosevelt te stap. Sy was so skerp en slim. Sy het ongelooflike goed gedoen wat ons land verander het. Elvis sou ook interessant gewees het. Hy was uiters talentvol en aantreklik!

Daar wys tans nog ’n fliek oor ’n stappende vrou. Dink jy vrouerolle is besig om te verander?
Die manier waarop vroue op die skerm uitgebeeld word, is besig om te verander. Daar is ook baie fantastiese TV-rolle vir vroue. Lena Dunham van Girls het die manier waarop vroulike seksualiteit beskou is, vir altyd verander. Mense is bereid om vroue in eerliker en egte rolle te sien. ’n Vrou is kompleks en veelsydig. Sy is nie meer net goed of sleg nie. Twintig jaar gelede het die vervaardigers in vergaderings gesê: “Sy kan nie vloek nie. Mense sal nie daarvan hou nie.” Vroue vloek. Hulle slaap rond. Hulle gebruik dwelms. Soms is hulle goeie ma’s en soms is hulle slegte ma’s. Ek dink akteurs word al dapperder.

Dink jy dit is veilig om so ’n staptog te onderneem?
Ek dink dit hang van die individu af. Daar is sekere plekke waar ek nie veilig voel nie. Cheryl het ook soms bang geword, maar ek dink die wildernis het haar banger gemaak as enigiets anders. Ek het haar op ’n keer gevra wanneer sy op haar bangste was. In die sneeu, het sy gesê. Sy was glad nie daarop voorbereid nie. Sy het gedink sy gaan dood van die koue. Sy moes dae lank sonder water klaarkom – al haar water het gevries.

Omdat jy ’n verantwoordelike ouer is, sal jy nie net die pad vat nie. Sou jy kon, waarheen sou jy gaan?
Ek sal my kinders saamvat! My man sal dalk nie wil gaan nie maar my kinders sal. Ek sal graag die John Muir-staproete wil probeer. Toe ons aan die prent gewerk het, het ons Mile and a Half gekyk. Dis ’n dokumentêr wat oor dié staproete handel. Dit het pragtig gelyk.

Jou dogter lyk nes jy. Wil sy ’n aktrise word?
Nee. Tot dusver stel sy glad nie daarin belang nie. Sy weet nog nie regtig wat sy wil doen nie.

Hoe oorkom jy jou vrese?
Vrees inhibeer ’n mens. Dit beheer jou. Ek was bang voor ek met hierdie fliek begin het. Ek was desperaat. Ek het almal gebel, selfs my prokureur, om my uit die fliek te kry. Ek het my vennoot gebel en gesê: “Ek hou nie daarvan om koud te kry nie, ek kan dit net nie doen nie.” Maar die uitdaging van akteur-wees lê in die doen van daardie goed wat jou bangmaak. Die flieks wat die moeilikste is om te maak, wat niks pret is terwyl jy daarmee besig is nie, het gewoonlik die beste rolle. Dié wat maklik en pret was, is die swakker flieks. Ek weet, want ek het al albei gedoen.

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.