kategorieë: Bekendes

Melissa McCarthy: Vreesloos & vreugdevol

Melissa McCarthy sal ’n telefoonboek snaaks kan laat klink. Sy het in reekse soos Gilmore Girls en Samantha Who? haar buiging op televisie gemaak. In 2011 het sy ’n Emmy gewen vir haar rol in Mike & Molly, maar dit was in die Bridesmaids-fliek waarin sy die meeste aandag getrek en ’n Oscar-benoeming gekry het. Die rol het ook tot ’n string flieks gelei, onder meer The Heat saam met Sandra Bullock, Identity Thief teenoor Jason Bateman en St Vincent teenoor Bill Murray.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Sy is getroud met akteur Ben Falcone. Die twee het mekaar ontmoet toe albei lede van die teatergroep The Groundlings was. Hulle het twee dogters. Ben verskyn ook dikwels in klein rolletjies in haar flieks. In Spy is Melissa ’n kantoorwerker wat as ’n klandestiene spioen moet werk ná al die topagente se geheime identiteite ontbloot word. Jude Law, Jason Statham en Rose Byrne speel ook in die fliek en die regisseur is Paul Feig wat ook vir Bridesmaids verantwoordelik was.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Die geveg-toneel in die kombuis was baie snaaks. Het julle ’n waaghals gebruik?
Ons het dié stuk heel eerste geskiet. Ek het die toneel so bekyk en geweet ek moet laat waai! Dit was ’n woeste geveg, maar groot pret. Hulle het net een keer, in die toneel waarin ek van die rak af gegooi word, ’n waaghals gebruik. Verder was dit ek. Ek is daarvoor opgelei. Ek doen soveel van my eie waagtoertjies as wat hulle my toelaat – mense kom agter wanneer dit waaghalse is wat oorneem. Ek het ook besluit my karakter, Susan, hoef nie ’n vegter van formaat te wees nie. In daardie stadium was sy nie juis vol selfvertroue nie en ek het gedink as ek effens droogmaak, sou dit by die karakter pas. Maar dit was nogtans my eerste broodgeveg! (lag)

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Sou jy ’n goeie spioen wees?
Nee, glad nie, ek is ’n regte papbroek en is beslis nie spioen-materiaal nie. Ek is maar te bly daar is slim en dapper mense wat dit kan doen. Ek trek sommer van die pad af wanneer daar ligte agter my flits.

Die regisseur het ons vertel dat vroue beter spioene as mans is …
Ek glo dit. Ek het onder meer saam met ’n vroulike FBI-agent gewerk toe ek vir die rol voorberei het. Sy het gesê vroue is intuïtief – hulle kan situasies en emosies lees wat hulle goed te pas kom. Vroue kom gou agter wanneer die energie in die omgewing verander, of wanneer mense skielik angstig raak.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Hoe kies jy jou projekte?
Omdat ek ook aan die TV-reeks Mike & Molly werk, het ek elke jaar net ’n klein gaping waarin ek ’n fliek kan inpas. Op die oomblik is ek gelukkig genoeg om te kan kies aan watter prente ek wil werk. Ek sal byvoorbeeld ’n rol aanvaar wanneer ek ’n karakter raaklees waarvan ek hou en waarmee ek my kan vereenselwig. Ek verkies goeie stories waarin gewone mense in ongewone situasies beland, of wanneer iemand wat nie eintlik moet wen nie, dit wel regkry. Dis my soort rolle. En ek sal altyd instem wanneer Paul Feig (regisseur van Bridesmaids) betrokke is. Hy is ’n wonderlike en kreatiewe regisseur.

Hoe het jou opvoeding jou lewe beïnvloed?
Ek dink ons is die som van alles wat met ons gebeur. Ek was twaalf jaar lank in ’n Rooms-Katolieke skool. Dit het beslis ’n invloed op my lewe gehad. Wanneer ek ’n karakter speel wat die soort goed aanvang waarmee ek nooit in die werklike lewe sou kon wegkom nie, loer ek altyd of daar nie dalk ’n non agter my staan nie!

Jy het twee dogtertjies. Wat probeer jy hulle leer?
Ek probeer sover moontlik om hulle aan alles bloot te stel sodat hulle vir enigiets gereed kan wees. Ons gesels baie. Hulle is twee nuuskierige agies wat baie vrae vra! Ek probeer om hulle so eerlik moontlik te antwoord, maar soms moet ek maar erken dat ek nie weet nie en dan Google ons dit gou. Ek hoop ek rus hulle toe en gee vir hulle al die inligting wat hulle nodig sal hê om hul eie pad te stap. Ek wil nie vir hulle voorsê wat om te doen nie.

Jy is met akteur Ben Falcone getroud. Hoe is dit om met ’n Italianer getroud te wees?
Ons is regtig baie gelukkig. Hy is wonderlik en ’n fantastiese kok! Ons was nog nooit saam Italië toe nie, dis iets wat ons nog graag wil doen. Ons wil sien waar sy familie vandaan kom. Sy Italiaanse erfenis is vir hom baie belangrik.

Stem jy en Ben saam oor die kinders se opvoeding?
Ja. Vriendelikheid is die gulde reël in ons huis. Wanneer jy vriendelik is, maak dit nie saak watter leerstelling jy volg nie. Verder neem ons saam besluite oor sake wat die kinders ook raak.

In Spy verskyn jy teenoor Jude Law. Wat maak hom onweerstaanbaar?
Goeie genade! Daardie ou is moeilikheid! Ek het hom die eerste keer ontmoet toe ons aan die fliek begin werk het. Kyk, ek is mal oor my man, maar Jude Law … (lag) Dit was ’n uitdaging en dit het ’n paar dae geneem om aan hom gewoond te raak. Ek het myself heeltyd in die skande gesteek, want ek kon nie ophou bloos nie. Die grimeerkunstenaar het kort-kort vir my gesê, “ruk jou reg, almal kan sien hoe bloos jy”. Wat Jude so fantasties maak, is dat hy regtig slim is, en nog aantreklik en vriendelik daarby met ’n sterk persoonlikheid. En dan besef jy dat dié aantreklike man boonop ’n uitstekende akteur en werklik ’n goeie mens is.

Jy het altyd so baie energie. Hoe bly jy gesond?
Ek probeer om iets van alles te doen. Ek hardloop agter twee kinders aan, wat my fiks hou. Ek probeer onthou om my vitamiene te drink, hardloop weer agter die kinders aan en doen pilates wanneer ek kan. Verder hoop ek op die beste.

Volg jy ’n sekere dieet?
Dit hang af wat die dag behels. Ek gee nie baie aandag daaraan nie. Ek dink wat my gesond hou, is my man wat my baie laat lag en my wonderlike kinders. As jy gelukkig bly, bly jy gesond.

In die fliek het jy ’n klomp spioentoestelle gekry, maar het jy ’n gunstelingtoestel?
Dis moeilik om die iPad te klop. Jy kan flieks kyk, daarmee reis, foto’s neem, e-posse stuur en wat nog. Ek en my kinders kan daarop teken. Maar ek is ook mal oor gereedskap, soos ’n goeie boor. Iemand het eens ’n kramgeweer gehad, maar dis nou myne, want ek gebruik dit heeltyd. Wanneer jy daarop slaan, skiet daar krammetjies uit, maar jy moet met mag en mening slaan, amper soos Thor se hamer. Elke keer wanneer iets vasgesit moet word, gaan haal ek die ding, of dit nou gepas is of nie. Onlangs het iemand as geskenk vir my die kans gegee om na ’n werkswinkel te gaan waar ek kan leer om my eie meubels te maak. Ek sê nie ek is goed daarmee nie, maar dat iemand my gaan help om dit te doen maak my baie opgewonde.

Wat wil jy graag maak?
Ek weet nie, ek kan nie besluit nie. Dis hoekom ek ná al die maande nog nie gegaan het nie. Ek kry net prentjies van groot, ingewikkelde goed wat ek wil maak, maar hulle sê ek moet klein begin.

In die fliek is jy ’n vuilbek!
Ek is altyd jammer vir my ma en kinders wanneer ek ’n karakter speel wat baie vloek. Ek vloek nie regtig so baie nie. Iemand het my onlangs op straat voorgekeer en gevra hoekom ek so vreeslik vloek. Ek was saam met my ma en ek moes mooi verduidelik dat dit nie regtig ek is nie, maar my karakter. En my arme ma oor wie se lippe nog nooit ’n vloekwoord gekom het nie, het reg langs my gestaan. Ek hou daarvan om karakters te speel wat presies die teenoorgestelde is van hoe ek regtig is. Op die oomblik sien my kinders geen flieks waarin ek speel nie, want hulle sal nie toege-laat word om so te praat nie. Maar oor tien jaar sal ek in die moeilikheid wees wanneer hulle daarna kan kyk. En dan sal ek die skuld op die regisseur pak.

Is van jou vriende in die vermaaklikheidsbedryf?
Die meeste van my vriende kom uit my kollegedae. ’n Hele klomp van hulle is akteurs. Ek en Ben ken baie van hulle al sedert ons Groundlings-teater-dae. Ons hou daarvan om groot etes te hou en saam te kuier terwyl die kinders swem of die huis verwoes (lag).

Het jy ’n stokperdjie?
Ek is versot op antiekwinkels. Hoe vreemder die winkel, hoe gelukkiger is ek. Ek sal een of ander vreemde item raakloop en vyf minute later is dit die belangrikste ding in my lewe. Gister het ek vreemde ou kandelare onder ’n tafel gekry. Ek is letterlik hande-viervoet onder die tafel in. My oudste kind hou ook daarvan. Sy sal ’n plan van ons huis teken en sê: “Hier moet ’n hangmat wees, en die kandelaar moet hier hang.” My arme man is altyd in die minderheid wanneer dit by die goed kom.

Jou man het weer ’n rolletjie in die fliek?
Ja. Ek probeer om hom om te ry. In nog ’n toneel wat uitgesny is, jaag ek hom met ’n bromponie. Dit was so hittete of hy was platgetrap.

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

6 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

7 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

7 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

7 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.