Met liefde gemaak: Angel Gowns vir babas wat kort voor of na geboorte sterf

Met liefde gemaak: Angel Gowns vir babas wat kort voor of na geboorte sterf deur Mariette Snyman. Foto’s verskaf

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“The Angel Gown Initiative (TAGI) is ’n klein maar diep betekenisvolle gebaar om ouers wie se baba voor of kort ná geboorte gesterf het, in hul droefheid te ondersteun,” sê Eric Elronde van Gordonsbaai, stigter en eienaar van TAGI. “Met die hulp van skenkings, vrywilligers en ander organisasies en weldoeners lewer ons span gratis, unieke ‘engeluitrustings’ aan hospitale, wat dit dan aan ouers besorg wat deur so ’n tragedie getref word.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Dit het alles begin toe Eric in 2017 ’n Facebook-boodskap gesien het waarin sy vriendin Chrismari Elsbury op soek was na iemand om haar trourok in angel gowns te omskep. Eric, ’n modeontwerper met sy eie couturier-besigheid, het Chrismari se trourok gemaak. Op die internet het hy op verskeie oorsese organisasies afgekom wat op engeluitrustings fokus, maar daar was niemand in Suid-Afrika nie. Eric het onderneem om angel gowns te maak uit Chrismari se trourok vir die Vredendal Hospitaal waar sy as verpleegster gewerk het. “Dit was baie spesiaal; ek is in 1985 in daardie hospitaal gebore, en die dokter wat my in die wêreld gebring het, het die eerste besending angel gowns in ontvangs geneem.”

Eric en Shiro – “ons ‘official quality controller’!”

Mense is aangegryp deur die werk wat TAGI doen. In 2018 is dit as ’n niewinsgewende en openbare voordeelorganisasie geregistreer, en gou het dit Eric voltyds besig gehou. TAGI omskep trourokke, formele aandrokke, materiaal en ander donasies in die mooiste klein rokkies en pakkies in vier groottes. “Elke uitrusting is uniek, nes elke ouer se baba vir hulle uniek is. Elkeen word met die hand gemaak, met katoen gevoer en met keurige detail versier.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Ons ontvang die trou- en aandrokke by ons kantoor in Gordonsbaai en ek ontwerp en sny die angel gowns. Ek probeer altyd om een rokkie soos ’n miniatuurweergawe van die oorspronklike  rok te laat lyk. Ek en ’n handjievol vrywilligers wat ek spesiaal opgelei het, doen die meeste handewerk, insluitend die kantwerk en versiering. Dan gaan dit na vrywilligers landswyd wat dit aanmekaar stik en afrond. Een van ons hoofborge is ’n koerier wat alles tussen ons en die vrywilligers vervoer sodat dit niemand iets hoef te kos nie.”

’n Trourok wat TAGI ontvang het om in ‘angel gowns’ te verwerk

Die ‘angel gowns’ wat uit die trourok gemaak is

“Wanneer die angel gowns terugkom, doen ons die finale kwaliteitskontrole  en verpak elke uitrusting met ’n handgeskrewe kaartjie van bemoediging. Dan word dit aan die hospitale besorg. Ons werk deesdae ook saam met DOSA doodsdoelas (bereavement doulas). Ons ontmoet nie self die ouers nie – ons beskou dit wat hulle deurmaak as ’n sacred space. Die engelrokkies word deur die hospitaalpersoneel en doelas wat opgelei is om die ouers te ondersteun oorhandig. Ons lewer net ons beste produk en beste diens, alles gratis.”

Lees ook: Só maak doelas die dood minder skrikwekkend

“Ons was van die begin af ernstig oor volhoubaarheid en het by enkele hospitale begin. Namate TAGI groei, betrek ons meer hospitale. Ons het kontrakte met twee groot hospitaalgroepe, maar kan nog lank nie in al die behoeftes voorsien nie. Ons kort geld en vrywilligers om die hele Suid-Afrika, Namibië en ander gebiede te kan bereik. Dit bly wonderlik dat vreemdelinge mekaar kan ondersteun oor kultuur-, geloofs- en ander grense heen.”

Meer inligting by www.tagi.co.za

Die TAGI-logo agter op elke uitrusting

Henry Joubert, vrywilliger by TAGI

Henry Joubert, visuele streeksbestuurder by ’n groot kettingwinkelgroep, is van jongs af vaardig met die naald. Hy het onder meer sy vrou, die RSG-omroeper Christelle Webb-Joubert, se trourok gemaak.

Lees ook: Henry Joubert: Fyn oog, warm hart

“Voor ek van TAGI bewus geword het, het ek vir meer as ’n jaar met ’n opdrag van God in my hart rondgeloop. Ek moes my talente tot God se eer gebruik, maar ek was onseker oor die spesifieke manier waarop ek dit moes doen.”

“Een Sondagaand vroeër vanjaar het ek op Kwêla ’n onderhoud met Eric Elronde, die CEO van The Angel GownInitiative, gesien. Ek was letterlik in trane, dalk as gevolg van die besef dat ek as pa so geseënd kan wees om my seuntjie, Lukas, groot te maak. Daar is soveel mense wat nie die voorreg het om ouers te wees nie.”

“Jy dink altyd jou werk moet jou doel in die lewe wees. Ek het altyd gereken as jy jou lewensdoel vind, gaan daar vuurwerke wees en trompette gaan blaas en jy gaan toegejuig word! Ek moes nederig besef dat jou doel nie net een ding is nie – dis baie dinge. My God het my baie talente gegee en ek is dankbaar daarvoor, maar vir te lank het ek nie al my talente gebruik nie.”

Henry met sy eerste besending engeluitrustings

“Die Dinsdag ná die uitsending het ek Eric gekontak en my beskikbaar gestel as vrywilliger vir The Angel GownInitiative. ’n Week later het ek my eerste pakkie ontvang. Eric stuur vir vrywilligers ’n stel rokkies om te maak as oefening voor hy vir jou die kosbare herwinde trouroklap stuur om aanmekaar te stik.”

“Toe ek die pakkie oopmaak en die rokkies sien, kon ek nie help om hartverskeurend te huil nie. Om die rokkies te sien skok jou omdat jy besef hoe klein hierdie babatjies is, en omdat jy daaraan dink dat hulle ouers hulle nooit gaan grootmaak nie. As vrywilliger het ek die voorreg om die ouers te help om die kosbare mensie te klee in ’n uitrusting waarin daar vir hulle ’n finale eerbetoning gedoen kan word.”

“Toe ek my eerste offisiële aflewering kry van ’n trourok wat geskenk is vir hergebruik, was ek opgewonde om te begin. Ek het gedink ek sou my Dinsdagaande aan TAGI afstaan; Dinsdagaande werk my vrou ’n aandskof tot 24h00 en sodra ek my seuntjie in die bed gesit het, begin ek met die engelrokkies.”

“Ek het ’n ritueel waar ek een rokkie op ’n slag klaarmaak , ’n kers opsteek, en bid. Ek dink aan die klein mensie wat die rokkie gaan dra, ek dink en bid vir die ouers wat nooit die geleentheid gaan kry om die baba groot te maak nie, en ek bid vir vertroosting vir hulle en vir die familie wat die klein mensie se heengaan betreur.”

“Die ervaring het my aan die dink gesit oor hoe die vroue moet voel wat die babas verloor het. Ek wonder of hulle die geleentheid kry om oor hulle verlies en rou  te praat.”

“Ek het die waarde van terapie aan my eie lyf gevoel en is vandag ’n groot voorstaander van terapie, veral as jy deur trauma gegaan het. Dus het ek met Eric gepraat oor die moontlikheid om ’n groep te begin waar ek en ’n paar vroue wat die trauma van die verlies van ’n baba verwerk, saam angel gowns kan maak as terapie. Dis tans nog net ’n droom, maar in geloof gaan ek dié droom  nog deursien.”

Kontak Henry Joubert op Facebook

Deel
Gepubliseer deur
Mariette Snyman

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

3 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

4 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

4 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.