kategorieë: VerhoudingsJou lewe

My lewe met my man – en Aspergers

My lewe met my man – en Aspergers deur Mariette Snyman. Foto’s Pexels en Pixabay

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Ek en Tim is reeds dertig jaar saam,” vertel Milly Rose van Randburg. Haar man het dekades gelede uit Brittanje na Suid-Afrika geëmigreer.

“Toe hy sowat sewe jaar gelede met Aspergersindroom gediagnoseer is, het ek skielik baie dinge verstaan – ook hoekom ek deur die Here na Tim gelei is.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Tim en Milly het mekaar ontmoet toe sy supervisie gedoen het in die bank waar Tim ook gewerk het. “Ek was 32 en hy 26. Ek is parmantig, ek is nie iemand wat sukkel met woorde nie. Maar toe ek hom die eerste keer nader om oor sy werk te praat, was ek skielik stom. Ek het aangevoel iets is anders, maar glad nie geweet wat dit was nie.

“Agt jaar later is ek een aand na ’n afdelingspartytjie. Tim, wat naby my gebly het, het my ’n saamrygeleentheid gegee. Ons het aan die gesels geraak en ek kon aflei dit gaan nie goed met sy persoonlike lewe nie. Hy was toe nog getroud. Tim het gesê hy wou sy lewe uitsorteer, en dit het hy ook gedoen. Hy is geskei en het basies al sy besittings vir sy vrou en dogter gegee.

“Ek was voorheen getroud, maar my aangetrokkenheid tot Tim was anders. Tim was ‘my pad’. Ek het dit aangevoel, maar nie verstaan hoekom nie. Ek het net gewéét: as die Here jou op ’n pad sit, kan jy stry soos jy wil, maar wegkom gaan jy nie. Ons het in 1990 verloof geraak en is in 1991 getroud. Tim het by my in my woonstel kom woon.

Lees ook: Wat jy moet weet as jou maat Aspergers het

My lewe met my man – en Aspergers

“Ek wou hom sommer die eerste dag al uitskop. Hy het in die kombuis ingestap, begin skottelgoed was en my kombuis oorgevat. Ek is een wat dinge op my manier doen. My kombuis is my trots. Tog het ek besluit om terug te staan.

“In die negentigs het ons nog nie van Aspergersindroom geweet nie. Ek het die term eers in 2008 leer ken. Tim was ’n bankbestuurder en baie uitgaande met kliënte – wanneer hy probleme met kommunikasie ervaar het, het hy bloot gedrink om dit gladder te laat verloop. Kort ná hy by my ingetrek het, het ons eendag saam winkels toe gestap. Toe sê ek: ‘Weet jy, ek het grootgeword in ’n huis met alkoholisme. Ek hou nie van jou wanneer jy dronk is nie.’ Net daar het Tim opgehou drink, uit liefde vir my.

Lees ook: Aspergersindroom – om die onmoontlike te vermag

“Aan die begin was Tim se naels altyd tot in die lewe afgebyt, en hy het ’n velaandoening gehad. Namate hy in ons verhouding ontspan het, het dit verbeter. Ek het hom geterg en gesê dat mense sou sê sy vrou kyk nie mooi na hom as hy nie netjies lyk nie. Ek het aandag aan sy voorkoms gegee en ons het onder meer van sy báie dik bril ontslae geraak.”

Briljantheid en depressie

“Een ding van baie mense met Aspergers is dat hulle chronies depressief is. Vir hulle voel die wêreld uiters onvriendelik. Tim het altyd vir my gesê hy is pynlik skaam, en dan het ek gesê dis sommer ’n storie. Hoe kon hy dan voor ’n kamer vol mense staan en praat?

“Werksgewys was hy briljant. Om te kan fokus is mense met Aspergers se sterk punt. In 1998 het ons Engeland toe getrek, en Tim se werksreputasie het hom vooruitgeloop. Tog gaan dit oor sy kop wanneer ek met hom oor lewensgoed of filosofie gesels, en tale is ook nie sy ding nie.

“In Engeland het ek begin agterkom iets aangaande Tim is nie reg nie. Ek het baie met hom oor sy kinderjare gepraat, oor hoe hy grootgemaak is, en ek dink sy pa het ook Aspergersindroom gehad. Ek het die situasie stuk vir stuk begin uitpluis en vir hom gesê hy volg die voorbeeld waarmee hy grootgeword het, wat normaal is.

“Hy het gesê hy beleef nie emosies nie. Ek het hom gevra hoe hy op ’n paar moontlike emosionele situasies sou reageer, en ek het besef die antwoorde kom uit sy kop en nie uit sy hart nie. Ek het nie geweet waaroor dit regtig gaan nie, maar het besef iets is fout en wou hom graag help.”

Lees ook: Ons pad met outisme

My lewe met my man – en Aspergers

Eindelik ’n diagnose

“Terug in Suid-Afrika het ek deur die sameloop van omstandighede in ’n ander beroepsveld beland. Ek het meer onafhanklik geraak, en daarvan het Tim nie gehou nie. Hy het my voor ander mense begin afkraak. Op ’n dag het ek my voet neergesit en hom verbied om so met my te praat. Hy het glad nie verstaan wat ek bedoel het nie. Ek het gedink dis onmoontlik – hoe kon hy dan nie begryp nie? Nou weet ek ons ‘gewone’ mense dink in kleur, en mense met Aspergersindroom in wit en swart. Hulle brein sien en verstaan nie kleur nie, en gevolglik maak ons nuanses en skakerings hulle deurmekaar.

“Ek het besluit om die lewe vir myself lekkerder te maak en begin om dans- en pilatesklasse by te woon. Ek was vier aande per week uit die huis.

“Tim het begin google om agter te kom wat fout is met hom, maar hy kon slegs inligting oor shyness kry. Hy is na ’n sielkundige maar die man het hom net anti-depressante gegee. Dit het gehelp – die verbale aanvalle was nou minder – maar dit was nie genoeg nie.

“Ons het Kaap toe getrek. In ’n stadium het die bank waar hy gewerk het, hom gevra om terug te kom na Johannesburg. Ek het verkies om in die Kaap aan te bly en Tim het gependel. Op ’n dag e-pos hy my met ’n lang vraelys van ’n sielkundige wat vermoed het hy het Aspergersindroom. Ek is nie seker hoe hy met haar in aanraking gekom het nie, maar ek het die 284 vrae voltooi!

“Uiteindelik het ons ’n diagnose gehad. Dit het ons situasie handomkeer verander. Skielik het ek verstaan wat aangaan en kon ek daarvan sin maak. Die twee jaar wat ek meestal alleen in die Kaap was, het my gehelp om dit te verwerk. Ek het besef: dís hoe Tim is, en dís hoe ek my gedrag moet verander. Ek kry dit nie altyd reg nie – daar is dae wat ek hom met iets wil gooi! Maar baklei en aanval werk nie. Hy verstaan dit nie en dan kruip hy in sy dop. Ek moet my gevoelens oordeelkundig verwoord, en die tyd wanneer ek ’n boodskap wil oordra baie goed kies.

“In 2018 het ons teruggetrek na Johannesburg. Tim maak moeilik vriende en almal wat ons ken, ook ons familie, is hier. Tim het afgetree en ’n aanlynbesigheid met toestelle wat deur elektroniese seine van peste en plae ontslae raak, gekoop: www.pestrepellers.co.za

“Dit werk soos ’n bom, maar ek moes hom leer hoe om met kliënte oor die foon te praat. Ek sou sê: ‘Miskien nie so nie, eerder so …’

“Ek dink Tim is nou rustiger, en vir my is dit ook makliker. Hy is steeds op anti-depressante. Mense met Aspergersindroom het dikwels ’n gepaardgaande toestand, en vir hom is dit depressie. Elkeen se ervaring van die sindroom is uniek.

My lewe met my man – en Aspergers

“Dis ’n pad vol uitdagings – dit verg ontsettend baie geduld, en jy moet verby die ooglopende kan kyk. Jy moenie sommer aanvaar jy weet wat aangaan nie; jy moet wakker wees.

“Hou jou woorde en kommunikasie eenvoudig. Luister na wat jou maat sê, en glo hom! Mense met Aspergersindroom weet wie hulle is en sal dit vir jou vertel. En hulle is fyngevoelig. Ontmoet hulle waar hulle is.

“Ek kan nie sê ek is spyt oor hierdie pad nie. Ek is ’n mens wat luister wanneer die Goeie Vader my lei. Hy pas my ongelooflik goed op, daarom is dit vir my eintlik baie maklik om Hom te gehoorsaam – en dis my voorreg!”

Besoek gerus Aspergers & Autism Awareness South Africa op Facebook.

Deel
Gepubliseer deur
Mariette Snyman

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

5 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

6 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

6 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

6 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

6 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

6 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.