kategorieë: Leef gesondGesondheid

My pad met Borskanker: Google, herhaling, metastase, vrese en vrede – deel 3

My pad met Borskanker: Google, herhaling, metastase, vrese en vrede – deel 3 versorg deur Salomé Delport

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

My pad met borskanker

Herhaling van borskanker bly die grootste vrees van elke kankeroorwinnaar. Google vertel jou graag die slegste nuus. Onthou om te kyk na elke aspek van jou pad met borskanker wat in jou guns tel. Dié sommetjie het Anita Nel gebring by hoop, geluk en vrede.

Lees ook Anita se ander twee plasings oor haar diagnose met borskanker en haar dubbele mastektomie en die bestraling hier. Sy het littekenweefsel ontwikkel; daarby is haar okselkliere verwyder, wat veroorsaak dat sy limfedeem lewenslank sal moet keer:

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

My pad met borskanker deel 1

My pad met borskanker deel 2

Ek google – en hoor van die herhaling van borskanker

Ná die my bestraling het ek werklik gelukkig gevoel. Ek het so goed gevorder, tot die punt waar die oorlog eintlik verby was. Ek kon die lewe as ‘n kankeroorwinnaar weer voluit in die gesig staar. Dit het gevoel of ek sterker was en meer selfvertroue gehad het as voor hierdie beproewing. Al het ek op daardie tydstip baie moeg gevoel, was ek ook verlig om aan die einde van die radikale ingrypings van my behandelingsplan te kom.

Eers ná my bestraling het ek vir die eerste keer uitgebreide navorsing oor ILK (infiltrerende lobulêre karsinoom, die spesifieke soort borskanker wat ek gehad het) begin doen.

Dit het hierdie gevoel van welwees meteens beëindig. ‘n Baie onlange navorsingsartikel het ‘n donkerder prentjie geskilder van die herhaling van borskanker en metastase van die tipe borskanker wat ek gehad het as waarop ek in daardie stadium gehoop het en wou glo. Dit het geblyk dat hierdie kanker gewoonlik aanvanklik vir vyf jaar “verdwyn” ná die eerste behandelingsintervensies, maar dat die waarskynlikheid van terugkeer of metastase binne 5-20 jaar tot 41% was. Oor die algemeen sou een uit drie pasiënte met ILK ‘n herhaling van borskanker hê.

Met ander borskankers word jy “genees” verklaar as die kanker nie binne vyf jaar weer verskyn nie. In teenstelling, is hierdie vorm van borskanker geneig om eers ná vyf jaar of langer terug te keer, volgens die artikel.

Wanneer dit terugkom, was dit boonop nie meer vroeë stadium borskanker nie, maar het dit dikwels muteer en figureer gereeld as metastatiese kanker in die bene, longe, eierstokke of elders, met ‘n baie sterker weerstand teen chemoterapie en bestraling teen borskanker.

Volgens die inligting wat in daardie artikel bespreek is, was my kanse om herhaling van borskanker of metastase te ervaar betreklik klein. Dit het by my opgekom dat wat ek die afgelope paar maande deurgemaak het, moontlik nie die oorlog was nie, maar bloot die eerste veldslag. En dat, as dit sou terugkeer, ek ‘n baie sterker, maar onbekende teenstander in die volgende rondte sou kon teëkom.

Lees ook: Madelein Rust maak haar hart oop oor haar stryd met borskanker

Die vrees in my kop op herhaling van borskanker

In ‘n bespreking op die facebook-groep waaraan ek behoort, het iemand vir my geskryf “Die vrees vir herhaling van borskanker / metastase verlaat ons nooit!”

Ek het weke lank tranerig en angstig gevoel en minder selfversekerd oor my vermoë om hierdie monster te beveg.

Ek het die artikel met my chirurg en ginekoloog bespreek. Hulle het gerusstelling gegee, maar ek het toe geweet dat daar geen behandelingsplan was om kanker uit my kop te verwyder nie. Die vrees sou altyd daar wees, op soek na tekens dat “dit” terug is.

Dis moeilik om my angs oor herhaling van borskanker met my geliefdes te deel

Dit was ook moeilik om hierdie angs te deel met my leër van ondersteuners wat dwarsdeur die proses ywerig aan my kant was, my arms hoog gehou het en elke sukses saam met my gevier het.

Dit het net nie reg gevoel om aan te kondig dat ek angstig en bang was vir die moontlike herhaling van hierdie vyand nie. Hoe kon ek terugkeer na hulle, bang ná so ‘n groot oorwinning? Hoe sou hulle reageer op ‘n nuwe aanslag op hul steunverlening?

Dit was moeilik om my angs aan iemand te verduidelik. Ek was weer terug by huil in die badkamer waar niemand my sien nie, en die nagte was lank en donker.

Dit was asof die werklikheid dat ek kanker gehad het my eers in die vierde maand vol in die gesig getref het. Dit was baie swaar en onverwags.

Dit was ook ‘n stryd wat ek alleen moes stry. Hoeveel voor my het gehoop dat daar in hul leeftyd ‘n kuur gevind sou word? Hoeveel voor my het gehoop dat hulle nie herhaling van borskanker sou beleef nie, of nie die metastatiese kaart sou trek nie? Hoeveel voor my wou leef, maar het die stryd verloor?

Ek sou moes aanvaar dat die vrees nooit sal verdwyn nie, maar dat daar aan die ander kant van die munt ‘n baie groot waarskynlikheid bestaan het dat hierdie plaag nooit weer na my liggaam sou terugkeer nie.

Somme help my vrede maak met my risiko op herhaling van borskanker

Ek het voortdurend gedink aan al die minderheidskaarte wat ek op hierdie reis getrek het:

Eerstens het ek die 1/8 (of 1/27, afhangende van watter statistieke jy glo) kaart getrek wat hierdie reis begin het.

Daarna trek ek die 1/10 kaart vir ILK, wat voorkom in die lobulêre kliere in teenstelling met die bors se buise en wat ‘n slegter uitkoms het en wat ‘n groter kans het om in albei borste te verskyn.

Dit het ook meer drastiese chirurgie nodig weens die tak-agtige groeipatroon as die veel meer algemene buiskarsinoom.

Ek het ook die kaart getrek vir die paar pasiënte met borschirurgie wat limfkoorde ontwikkel het.

Ek het gelukkig besef dat ek ook ‘n paar briljant positiewe minderheidskaarte getrek het – veral die een vir vroeë opsporing. ILK was ongelooflik moeilik om vroeg op te tel, aangesien dit dikwels nie op mammogramme of sonars verskyn nie.

Ek het ook die kaart getrek vir ‘n uitstekende chirurgiese resultaat.

En ek het nie die kaart getrek om chemoterapie te ontvang nie.

Ek het briljante mediese sorg en bestraling ontvang.

En ja, daar is vordering gemaak met die wetenskaplike insigte en behandelingsmetodes van kanker.

En as ek na die statistiek oor herhaling / metastatiese koers kyk, was daardie kaart ook in my guns.

Ek kies ‘n antidepressant

Ek het besluit dat ek hierdie diep hartseer nie langer wil ervaar nie en het ‘n afspraak met my huisdokter gemaak.

Sy het baie begrip gehad vir my ervaring en kommer oor herhaling van borskanker gesê dat dit heeltemal normaal was dat ek so voel noudat alles kalmer was na wat ek deurgemaak het. Sy het verduidelik dat ek in die veg-vlug-modus was tydens die proses, maar dat die werklikheid op dieselfde tyd, toe normaliteit weer ingetree het, ingeskop het.

Die endokriene behandeling wat ek ontvang het, het my direk in menopouse geplaas, wat die neerslagtigheid versterk het weens die fisieke effek op my liggaam. Sy het vir my ‘n ligte antidepressant voorgeskryf. Dit het baie gehelp.

Toe ek die somme maak, het ek tot die gevolgtrekking gekom dat die netto effek van my reis tot dusver positief en nie negatief was nie.

Ondanks die laagtepunte en die negatiewe faktore wat met hierdie kanker gepaardgegaan het, was ons gesin inderdaad sterker as tevore. Ek het op baie maniere sterker gevoel as voorheen en ek het eerstehands ervaar hoe ongelooflik wonderlik mense is om ander in nood by te staan.

Ek was voorheen die toonbeeld van onafhanklikheid, en het altyd beheer en vertroue uitgestraal, maar ek was werklik oorweldig deur mense se reaksie toe ek die teenoorgestelde geraak het en blootgestel en kwetsbaar gevoel het. Ek het dieper verbintenisse met kollegas, vriende, familie en God gemaak.

Ek het op ‘n ander manier na die lewe gekyk. Sommige dinge wat voorheen baie belangrik was, was nou minder belangrik, en omgekeerd.

Maar bowenal het ek hoop gehad.

Lees ook: 12 tekens wat wys dat jou antidepressante werk

Hoop, geluk en vrede … ondanks borskanker

Ná alles, kan ek onomwonde verklaar dat kanker absoluut verskriklik is.

Maar dit het my ook laat besef hoe ongelooflik gelukkig ek was – gelukkig dat dit vroeg ontdek is; gelukkig om soveel ongelooflike en wonderlik ondersteunende mense in my lewe te hê, en gelukkig dat ons sulke uitstekende mediese kundigheid en infrastruktuur het waar ek woon.

Paul en die vrou van Reach for Recovery het my gehelp om te verstaan dat kanker nie ‘n “straf” was as gevolg van iets wat ek gedoen het nie.

Ek het ook nie ‘n familiegeskiedenis van borskanker gehad nie.

Ek voel ook nie minder vrou omdat ek ‘n dubbele mastektomie gehad het nie. Ek word nie deur my borste gedefinieer nie.

Die diagnose is nie ‘n doodsvonnis nie, hoewel dit ‘n geweldige skok is en ‘n mens baie kwetsbaar laat, terwyl jy nie weet wat om te verwag nie en absoluut verwoes voel.

Ten spyte van die kanse op herhaling van borskanker, het dit vandag ‘n baie hoë oorlewingsyfer en die uitkoms van chirurgie is ook baie meer esteties as selfs ‘n dekade gelede, met wonderlike opsies vir rekonstruksie wat volgens wet in ‘n groot mate deur mediese fondse gedek moet word.

Daar is deesdae baie meer behandelingsopsies beskikbaar as vantevore en in die volgende paar jaar sal daar selfs meer vordering gemaak word.

Wat ek van my vrese vir herhaling van borskanker geleer het

‘n Dokter het my hierdie advies gegee: Die werklikheid is dat die meeste pasiënte se kanker nie terugkeer nie. Leef elke dag voluit asof jy vir ewig gaan lewe. Verwag die beste van die lewe, maar weet dat die lewe onvoorspelbaar is. Wees lief vir jou gesin en wees vinnig om te vergewe. Ons het net vandag. Gister is weg en môre kom nog.

Ek het geleer dat daar ‘n krag lê daarin om my swakhede te erken en die hulp en gerusstelling van die mense rondom my te aanvaar.

Ek het ook geleer dat om meer, vinniger, harder, beter te doen, nie altyd die beste is nie. Dit kan die genesingsproses werklik belemmer.

Ek het geleer dat mense miskien nie weet hóé om te help of te ondersteun nie, maar dat hulle bereid is om te leer, en dat daar waarde is vir almal om dit toe te laat.

Ek het ook geleer hoe belangrik dit was om myself, selfs al is dit net aanlyn, te omring deur ander op dieselfde reis, diegene wat reeds verder is, sowel as diegene wat pas begin het.

Ek wil ook hoop bring as jy een van die vroue is by wie borskanker gediagnoseer is. Dit is ‘n lang reis vir ons almal. Hoewel ons paaie verskillende draaie kan neem, werk ons almal saam om gesond, heel en kankervry te word.

Die eerste stap om borskanker te keer is ʼn mammogram

Die eerste stap in enige proses is altyd die belangrikste. Vir borskanker begin dit met ‘n mammogram. Ek hoop dat jy gereeld vir jou mammogram sal gaan.

Ons ís almal besig, en die items op die taaklys wat ons as vroue betrek, word so dikwels uitgestel.

Máár: hoe vroeër borskanker opgespoor word, hoe minder drasties is die ingrypings en hoe groter is die kanse op oorlewing.

‘n Mammogram is die een ding wat jy selfsugtig vir jouself kan gun sonder om skuldig te voel. Ek hoop regtig jy sal dit doen!

* Anita Nel is 49 jaar oud en is die hoofdirekteur: innovasie en sake-ontwikkeling aan die Universiteit Stellenbosch. Sy is getroud met Paul, en hulle het twee tienerdogters, Anja (15) en Emma (13). Hulle woon in Durbanville.

Lees ook die eerste aflewering van haar storie, My pad met borskanker, hier, waarin sy vertel van haar dubbelmastektomie

Lees ook hoe sy voorberei het op bestraling en hoe sy limfedeem en littekenweefsel

Deel
Gepubliseer deur
Salome Delport

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

2 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

3 days Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

3 days Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

3 days Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

3 days Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

3 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.