kategorieë: OuerskapJou lewe

Word jou kind geboelie?

Word jou kind geboelie? deur Mariette Snyman. Foto: monkeybusinessimages/istock images

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Word jou kind geboelie?

“Boelie” kan gedefinieer word as optrede wat iemand skaad en hulpeloos laat voel omdat die boelie meer mag het.

Geen gemeenskap is gevrywaar nie; dit gebeur tuis, in skole, werkplekke en ander omgewings en raak alle ouderdomme, van kleuters tot bejaardes.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Hierdie vorm van geweld kan emosioneel wees, fisiek, verbaal, of op sosiale media voorkom. Die een wat boelie sowel as die een wat geboelie word, ervaar ’n gebrek aan selfvertroue en kwetsbaarheid, hoewel dit soms agter grootdoenerigheid verskuil word. Party kinders dien wonde toe; ander trek hulle terug. Om die teiken te probeer beskerm en die boelie te straf het selde die gewenste uitwerking. Albei kort hulp.

“Die ideaal sou wees om boeliegedrag uit die staanspoor te voorkom deur alle kinders te bemagtig,” sê Alicia Thomas-Woolf, uitgewer, skrywer, sanger en liedjieskrywer van Johannesburg.

“’n Kind met diepgesetelde selfvertroue vind dit nie nodig om iemand te boelie nie, en word ook nie maklik ’n teiken nie. As kinders van kleins af kan leer om powerful te voel, sal die landskap anders lyk.”

Alicia het die bul by die horings gepak en ’n beweging aan die gang gekry wat kinders van selfs net drie jaar innerlik kan versterk.

“Vier jaar gelede het Lize*, ons doodgelukkige, driejarige dogtertjie, oornag in ’n angsbevange kind verander. By die kleuterskool het twee ander driejariges haar geboelie deur haar sosiaal uit te sluit. Kort voor lank was sy so getraumatiseer dat sy naar geword het in die klas.

“Troos en mooipraat wou nie help nie. Lize se juffrou het empatiespeletjies met die kleintjies gespeel, maar empatie skop eers in op vyf jaar. Ek het begin nalees en met terapeute gaan praat om ’n oplossing te kry – ek wou my gelukkige kind terughê! Tot my ontnugtering was daar géén praktiese hulpmiddel wat Lize kon help om haar emosies te hanteer en haar balans te herwin nie.

“Afgesien van ’n liedjieskrywer en sanger is ek ook ’n NLP-fasiliteerder. Neurolinguistiekprogrammering help mense onder meer om pynlike ervarings suksesvol te herinterpreteer. Dit verg lang sessies, en ’n driejarige kan skaars tien minute lank konsentreer!

“Ek het die ingewing gekry om ’n liedjie te skryf wat in werklikheid ’n kort NLP-proses is. Die woorde is gekies om kinders te oortuig dat hulle ’n superpower het, naamlik om slegte gevoelens te laat verdwyn en stérk te voel. Die liedjie gaan gepaard met NLP-bewegings en power poses wat volgens navorsing jou testosteroonvlakke verhoog en kortisolvlakke verlaag indien jy minstens twee minute lank daarmee volhou. Hierdie hormoonverandering laat jou onmiddellik meer selfversekerd voel.

“Ek het my musiekvervaardiger gebel. Met sy hulp was die ‘Powerful Song’ dieselfde dag gereed om vir Lize te speel. Lize het geesdriftig saamgesing en ‘gedans’ en op die plek 70% beter gevoel.

Maar die volgende dag was sy weer bang om skool toe te gaan.

“Ek het besluit om ’n gepaardgaande prenteboek te skryf met ’n hoofkarakter wat geboelie word en dan leer om haarself te handhaaf. Omdat dit veilig is om te luister terwyl Mamma ’n storie voorlees, sou Lize haar met die hoofkarakter kon vereenselwig sonder om bedreig te voel.

“Ek het besluit om die boek op NLP-beginsels te grond. Lize moes dierekarakters vir die storie uitdink. Die aand toe my man tuiskom, was die storie oor Kitty – ’n katjie wat geboelie word – klaar geskryf. Ek het dit vir Lize en haar jonger boetie voorgelees en ons het die liedjie gesing en die bewegings uitgevoer. Van pure opgewondenheid wou nie een van die twee gaan slaap nie!

“Die volgende oggend op pad skool toe het ons in die motor na die ‘Powerful Song’ geluister. Lize was nou ’n ander kind, in so ’n mate dat die skoolhoof wou weet wat die ommekeer bewerkstellig het. Die hoof wou al die kinders hierdie ‘behandeling’ gee!

“Dit het twee jaar geneem om die boek, Powerful, persklaar te kry. Elke aspek moes weldeurdag wees, van die lettertipe, spesiaal ontwerp om disleksiese leesfoute te verminder, tot die kleure van die illustrasies. Die karakters sluit diere, reptiele én insekte in om dit duidelik te maak dat enigiemand ’n boelie of ’n teiken kan wees.

“Powerful wys kinders dat boelies enige eienskap kan kies om op te pik, veral as dit ‘anders’ is, soos ‘jy het maar net hoewe’. Objektief beskou, is dit meestal ’n gewaande tekortkoming. Die werklike rede hoekom boelies op iemand fokus, is omdat hulle ’n maklike teiken is. Die boek laat ruimte vir die voorleser om ’n kind se eie ervarings in te sluit, en beklemtoon dat powerful mense ander met respek behandel en mededeelsaam is.

“Die ‘Powerful Song’ het ’n aansteeklike deuntjie, eenvoudige woorde en baie herhalings. Die bewegings help kinders om die emosies waartoe boelie lei – bad, sad, scared and mad – met hul hande uit hul liggame te haal, dit klein te maak, en doer ver weg te gooi. Hoe geesdriftiger die volwassene saam lees, sing en dans, hoe beter. Ouer kinders kan die Powerful-proses gebruik om jonger kinders te leer om sterk te staan.”

Hoe gaan dit nou met Lize?

“Uitstekend. Die geboelie het opgehou die oomblik toe sy met haar innerlike krag in voeling kom. Dis my droom dat die Powerful-beweging nie net in huise nie maar ook in skole vastrapplek kry. Dit spoor kinders én volwassenes aan om daagliks hul superpower te gebruik!”

*skuilnaam

Meer inligting vir ouers, onderwysers, terapeute en skole (ook die ‘Powerful Song’) by www.powerful.rocks

’n Omvattende projek

Project Brave Heart is uit liefde en begrip gebore,” sê Maiveen Boehme van Kaapstad, ’n sakevrou met 25 jaar ervaring in verskeie velde.

“As kind is ek geboelie, en albei my dogters het op skool deurgeloop. ’n Seun het in ’n stadium een van hulle geboelie. Dit was traumaties. Ons het ’n proses gevolg om dit saam met die skool uit te pluis. Nadat alles afgehandel is, het ek die seun by die skool raakgeloop. Hy het my gegroet. Ek was so seer vir my kind dat ek hom nie teruggegroet het nie. Hy het my weer gegroet. Toe sê ek vir hom: ‘Ek skuld jou niks.’ Al het dit jare gelede gebeur, onthou ek vandag nog sy verslae uitdrukking. Ek het daar en dan besef hy was maar net ’n kind wat ’n reusefout begaan het, en as ek vir mý kind ’n ma kon wees, kon ek ook ’n ma-figuur wees vir kinders wie se ouers eenvoudig nie belang stel nie. Dit het die saadjie vir Project Brave Heart geplant.

“Mense vra dikwels hoekom ons projek se naam nie die woorde ‘anti-boelie’ insluit nie. Ons is nie anti-enigiemand nie. Ons het empatie vir die teiken én die boelie. Boelies word nie so gebore nie; hul omstandighede en ander faktore lei daartoe dat hulle ander boelie (sien brokkie hieronder). Die boelie en teiken ervaar albei emosionele trauma.

“Boeliegedrag is ’n wydverspreide sosiale probleem wat net getakel kan word deur meer bewustheid, begrip en wedersydse aanvaarding te kweek – op voetsoolvlak. Dis ons visie om in skole, werkplekke en gemeenskappe ’n veilige omgewing te help skep waar alle partye met vrymoedigheid hul storie kan vertel en genesing kan ontvang. Daarom is ons slagspreuk Where the heart is free to change. Die teiken moet die boelie kan vergewe, en die boelie moet sy of haar optrede kan verander.”

Hoe beplan Project Brave Heart om Suid-Afrikaners se harte en denke aan te raak?

“Ons plaas die klem op die positiewe. Die antwoord op die boelie-probleem is dat mense met nuwe oë na hulself en mekaar sal kyk, en hulself en mekaar sal aanvaar vir wie en wat hulle is. Daarom het ons ’n omvattende program vir volwassenes in die werkplek en leerders in skole ontwikkel. Ons lewer nie net ’n ‘vertoning’ by skole nie, maar ondersteun die skole waar ons werk heeljaar.

“Ons het ’n aanlynkursus beskikbaar wat ouers, onderwysers en belangstellendes kan voltooi. Ons stel ook professionele mense soos prokureurs, sielkundiges, maatskaplike werkers en lewens-
afrigters aan om hul dienste per streek aan te bied.

Ons is baie opgewonde om die tweede Brave Heart-dag in Mei 2020 te vier. Ons vra dat mense daardie dag blou dra, vir vergifnis, en rooi, vir liefde. Ons wil graag hê almal moet #BRAVE wees om te kan opstaan teen boeliegedrag, ook namens dié wat dit dalk nie kan regkry nie. Daarom vra ons: #RUBRVE? Saam met die Brave Heart-dag kom die #BRAVECommunity; ons is voortdurend op soek na brawe onderwysers, brawe hoofde, brawe maatskappye, brawe sportsterre, brawe vermaaklikheidskunstenaars, en so meer wat ons visie deel. Wanneer iemand moeite doen om ’n mede-Suid-Afrikaner te help, stel ons hulle aan as ’n #BRAVEHero (vra meer inligting aan by info@projectbraveheart.co.za)

“Op www.projectbraveheart.co.za verkoop ons aanspeldharte. As jy die hart dra, beteken dit jy sal nie toelaat dat iemand geboelie word nie. Die opbrengs word aangewend in skole, om onderwysers en ander lede van die publiek op te lei en ons netwerk uit te brei sodat ons meer ondersteuning kan verskaf.

“Ons vat graag hande met ander niewinsgewende organisasies soos Corlea Botha se genadesakprojek. Die sakke wat ons kry, gee ons vir vroue wat mishandel word en in nood is.”

Wat beteken die projek vir Maiveen?

“Dit het my lewe handomkeer verander. Ek het elf jaar lank ’n florerende onderneming gehad maar dit in 2018 verkoop om my voltyds aan Project Brave Heart te wy. Ek en my span stap die ongelooflikste pad. Ons sien hoe kinders en volwassenes na genesing en liefde smag. Sedert Oktober 2018 het ons meer as dertig gesinne bygestaan.

“Dis ons ideaal om kinders van alle ouderdomme te help om veerkrag te ontwikkel, hul sosiale vaardighede uit te bou en te besef wanneer hul eiewaarde aangetas word.”

Meer inligting by www.projectbraveheart.co.za of facebook Project Brave Heart of www.instagram.com/projectbraveheart

Moontlike oorsake van boeliegedrag

“Om vas te stel of iemand geboelie word, moet daar gefokus word op die uitwerking van die gedrag op die teiken eerder as op die boelie se optrede. Soms lyk gedrag nie soos tipiese boeliegedrag nie, maar ervaar die teiken dit wel so,” sê Maiveen Boehme, stigter van Project Brave Heart.

“Teikens kan geboelie word op sosiale, finansiële, sielkundige of fisieke gebied en ten opsigte van ouderdom, ras, status, seksuele oriëntasie of geslag (gender).

“Navorsingsresultate wys dat meisies meer dikwels kuberboelieteikens is. Boeliegedrag deur seuns is meer direk, soos om iemand te beledig of te stamp, en boeliegedrag deur meisies meer indirek, soos om iemand te beskinder of uit te sluit.

Eksterne dryfvere sluit in:

  • Die kind is ook geboelie
  • Is angstig en onseker
  • Jou kind is vermaaklik
  • Is desperaat om aandag te kry – selfs negatiewe aandag
  • Voel ander beskik oor iets wat hulle nie het of verdien nie
  • Aap gedrag op TV of sosiale media na
  • Het met mishandeling grootgeword en is gereeld aan geweld blootgestel
  • Het beheer oor hul ouers en word ondersteun, ongeag hul optrede

Interne dryfvere sluit in:

  • Eksterne lokus van kontrole – die perspektief dat alles wat met hom of haar gebeur iemand anders se skuld is
  • Swak selfbeeld, wat met depressiewe geneigdheid kan saamgaan
  • Narcisme – “alles gaan net oor my en ek is in alle omstandighede reg”
  • Psigopatie – ’n algehele afstomping en ’n inherente behoefte om ander leed aan te doen
  • Bipolêre persoonlikheidsversteuring
  • Anti-sosiale persoonlikheidsversteuring

*Let wel: Interne faktore kan slegs deur ’n psigiater of sielkundige gediagnoseer word.

Vir nog ouerskapraad, loer hier

Deel
Gepubliseer deur
Catherine Schenck

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.