kategorieë: Ons menseBekendes

’n Kroonprins vir Desiré Gardner

Klein James Christopher Gardner is ’n baie spesiale baba. En nee, dis nie nét omdat sy ma en pa so dink nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

“Ek en Chris wou kinders hê, maar nie nou al nie. Ons het gedink ons sal eers so oor ’n paar jaar probeer,” vertel Desiré Gardner. Maar toe hoor sy ná ’n roetine-ondersoek die skoknuus dat sy dalk nooit sal kan kinders hê nie.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

“Die dokter het gesê daar is kankeragtige selle in my baarmoeder, en dat hy dalk ’n groot deel sal moet wegsny. Dit sou beteken ek sou nie kinders kon hê nie.”

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Behalwe dié skoknuus was daar ook ander mediese probleme wat dit nog moeiliker sou maak om swanger te raak. Die ginekoloog het haar aangeraai om so gou moontlik swanger te word, of andersins haar lot te aanvaar as hy wel sou moes opereer.

Dié nuus sal vir enige jong vrou ’n groot skok wees, en dit was nie hoe Desiré en haar man, Chris, hul lewe saam voorgestel het nie. Hulle is onverwags gekonfronteer deur ’n groot, ingrypende besluit wat die res van hul lewe sou beïnvloed. Praktiese, logiese mens wat Desire is, wou sy hê Chris moes vir hulle ’n begroting opstel sodat hulle kon besluit of hulle in daardie stadium ’n baba sou kan bekostig. Daarna sou sy ’n tweede mening inwin.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Chris en Desiré is albei diep gelowig, en daarom was sy antwoord daardie aand vir haar ’n groot gerusstelling. “Hy het gesê hy kan nie ’n begroting opstel oor so iets nie, maar hy weet die Here sal vir ons sorg as dit Sy wil is dat ons ’n baba moet hê. Toe het ons saam besluit dat ek die Pil sou los en dat ons dan sal sien wat gebeur.”

Die tweede dokter wat sy gaan spreek het, het tot hul groot verligting gesê daar is geen kankeragtige vergroeisels wat ’n ope-rasie nodig maak nie, en dat die kankeragtige selle wat die vorige dokter gesien het by ’n sekere persentasie vroue voorkom. Hy het nie gedink so ’n radikale operasie is nodig nie, en ook nie dat sy nie swanger sou kon raak nie.

En toe is dit ook so. Twee maande later was Desiré swanger, ’n bietjie gouer as wat hulle aanvanklik beplan het. En natuurlik was die Gardners in ekstase.

Die draaiboekskrywers van Binneland moes blitsig ’n plan bedink om haar swanger-skap by haar karakter Daleen se storielyn in te werk. “Daleen het toe pas ’n baba gehad, en het kastig heel onverwags weer swanger geraak omdat sy verkeerdelik gedink het jy kan nie so gou weer ’n baba hê as jy borsvoed nie.”

Hulle is onverwags gekonfronteer deur ’n groot, ingrypende besluit wat die res van hul lewe sou beïnvloed

Ongelukkig verloor die arme Daleen toe haar baba ná ’n motorongeluk, en besluit om vir ’n ruk by haar ma te gaan aansterk. Dié wending het Desiré die kans gegee om kraamverlof te neem en rustig op klein James se geboorte te gaan voorberei.

Sy kan nie uitgepraat raak oor haar klein seuntjie nie. (En die hele rooi rose-span het ook behoorlik oor hom gekoer!) Moederskap, sê sy, is wat sy verwag het, en tog ook nie.

“Soveel mense vertel vir jou verskillende goed. Ek het my op die heel ergste scenario voorberei. En toe raak ek sommer dadelik verlief op hierdie mensie – ek het nie geweet so iets is moontlik nie. ’n Mens het mos maar net ’n ander soort liefde vir jou kind.”

Haar gesig kry ’n dromerige uitdrukking as sy oor haar seun praat. Byna asof sy nog nie kan glo sy is nou ’n ma nie. “Ek voel of ek hom nog altyd ken, asof ek hom nog altyd liefgehad het. Ek kan nie dink daar was ’n tyd toe ek hom nie geken het nie. ’n Mens kan nie anders as om die gevoel ’n ‘oerliefde’, ’n ‘primitiewe instink’, te noem nie, want skielik is daar hierdie mensie vir wie ek sal doodmaak as dit moet. Dit voel vir my steeds onwerklik om te dink hy het in my gegroei en mens geword.”

Met ons fotosessie is hy presies ’n maand oud, en die trotse ma en pa sien al klein bietjies van sy eie persoonlikheid by hul kleinman. Chris is ’n tipiese trotse pa, en baie betrokke. “Hy is so deel van alles,” vertel Desiré. “Hy word selfs snags wakker vir voedings, en sal ná die voeding windjies uitvryf al wil ek hom nie pla nie. Hy moet immers soggens werk toe gaan, en ek hoef eers weer oor ’n maand terug te wees by die werk.”

Maar Chris wil dit nie anders hê nie. “Ek het spesiaal gevra dat sy hom nie moet bad voordat ek saans by die huis kom nie,” vertel hy terwyl ons kyk wat ma en seun alles voor die kamera aanvang.

“Hy gee ook glad nie om om doeke om te ruil nie,” verklap Desiré. “En hy praat my moed in en vertel vir my hoe goed ek alles hanteer. Jy weet mos ’n mens voel so ’n bietjie ontoereikend as jy ’n nuwe baba het.”

Chris sê hy kyk ná hul seun se geboorte met nuwe oë na sy vrou. “Die hele geboorteproses was een van die mees emosionele tye van my lewe. Dit was wonderlik. Ek kan dit nie met enige ander ervaring in my lewe vergelyk nie.”

Hy vertel hoe ’n groot gedagte dit vir hom was dat Desiré so ’n volmaakte, pragtige mensie in haar liggaam kon laat groei. “Dis amper asof ek nie kon glo sy kon dit doen nie. Daar, reg voor my oë, het sy ver-ander van my vrou na die ma van my seun. Dit bly vir my magies, hierdie hele ding dat ons nou ouers is. Net vandag moes ek iets met die mediese fonds uitpluis, en net om te kan sê dis in verband met my seun, voel amper surrealisties.” Die Engelsman lag half verleë, maar duidelik ingenome.

Vir Desiré lyk klein James soos sy pa. Sy het nooit getwyfel dat sy ’n seuntjie verwag nie. “Snaaks, die oomblik toe ek besef ek is swanger, het ek instinktief geweet dis ’n seuntjie. My ma het altyd geglo ek sal net dogters hê, maar die eerste nag nadat ek haar vertel het ek is swanger, het sy gedroom dis ’n seuntjie. Sy het vertel sy het hom in die droom gesien en dat hy ’n bos donker hare gehad het en so oor sy skouer vir haar gekyk het. En toe hy gebore is, het hy wraggies hierdie lekker bos donker hare gehad wat nie een van ons ander ooit gehad het nie.”

Desiré se ma en naamgenoot is baie betrokke by haar kleinseun, en gaan ook bedags op stel na hom kom kyk wanneer die mooi mamma weer voltyds begin werk. “Ek is so bevoorreg dat ek steeds tyd saam met hom sal kan deurbring by die werk. Dink net hoe min ander mense het daardie voorreg.”

Vir haar is toneelspeel ’n passie. “Dis al wat ek ooit wou doen. In die werklike lewe is ek van nature ’n bietjie lomp, maar snaaks, as ek ’n karakter vertolk, verdwyn die lomp-heid. Dan kan ek daardie karakter word en enigiets doen wat van haar verwag word.”

Binneland is dié veelsydige aktrise se derde televisierol – sy was voor dit vir ’n paar weke in 7de Laan te sien. Fliekgangers sal haar onthou vir haar rol in Roepman in 2011. Sy is vroeër vanjaar vir haar spel bekroon met ’n SAFTA (South African Film and Television Awards) vir beste ondersteunende aktrise. Later vanjaar sien ons haar op die grootskerm in Wolwedans, gegrond op Leon van Nierop se destydse radiovervolgverhaal. En ons gaan haar op die radio hoor in die nuwe verwerking van die Wolwedans-vervolgverhaal wat Leon spesiaal geskep het om met die uitreiking van die fliek saam te val.

James is byna twee jaar ná hul troue op 31 Julie 2010 gebore. “Ons het mekaar hier op Binneland se stel ontmoet. Chris is ’n beligtingsregisseur, en het al hier gewerk toe ek in 2008 hier begin het. Ons was vir agtien maande eers net goeie vriende, en toe, op ’n dag, besef ons net daar is iets diepers hier.”

Hulle is albei oortuigde Christene, en wens vir hul klein prinsie net die heel mooiste dinge toe. “Ek wil hom net gelukkig sien,” sê Desiré. “Ek wens vir hom ’n gelukkige kindertyd sonder enige ernstige probleme toe. En ek wil hê hy moet ’n goeie mens wees, en die Here ken.”

Deel
Gepubliseer deur
Michelle Nortje

Onlangse plasings

Kokkedoor se inskrywings is oop! Is jy gereed om oor die kole gehaal te word?

Soos in die eerste aflewering van Kokkedoor Vuur & Vlam in 2023, moet deelnemers vanjaar…

6 hours Gelede

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

2 weeks Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.