kategorieë: Bekendes

Jane Fonda: ’n Ongewone lewe

Die woorde “ikon” en “legende” word dikwels in Hollywood gebruik, maar eers wanneer jy iemand ontmoet wat die beskrywing waardig is, besef jy hoekom hierdie woorde nodig is. Op 74 vertel Jane Fonda trots: “Ek is mal daaroor om ’n ouma te wees,” maar intussen versinnebeeld sy alles wat ’n mens met jeugdigheid vereenselwig. Dit lyk of sy hier en daar aan haar laat werk het, maar dis nie wat haar jonk maak nie. Dis haar lewensuitkyk. Haar energie is aansteeklik en dis suiwer sensualiteit wat uit haar straal. Haar stem is soos goeie rooiwyn, uitkenbaar en kalmerend, en diegene wat haar pa, Henry Fonda, onthou, sal daardie Fonda-klank in haar stem herken. Jane Fonda se lewe is nie gewoon nie. Etikette soos“sex kitten” en “anti-Amerikaanse aktivis” is om haar nek gehang; sy het twee Oscars gewen (vir Klute en Coming Home); sy is drie keer met baie invloedryke mans getroud: Die eerste keer met regisseur Roger Vadim wat haar Frankryk toe geneem en haar politieke uitkyk beïnvloed het. Hulle het ’n dogter, Vanessa. Haar tweede man, Tom Hayden, is ’n politikus en ’n aktivis. Hul seun, Troy Garity, is ook ’n akteur. Die derde keer was die omstrede TV-magnaat en die stigter van CNN, Ted Turner, aan haar sy. In die jare sewentig was sy bekend as ’n oefening-ghoeroe en meer onlangs as ’n Christen en ’n outeur. Sy het twee boeke geskryf: ’n outobiografie, My Life so Far en ’n memoir, Prime Time: Love, Health, Sex, Fitness, Friendship, Spirit – Making the most of your life. Om te sê dat sy gedrewe is, is ’n onderskatting. Haar pa was ’n emosioneel afwesige man en haar soeke na sy goedkeuring is waarskynlik die dryfveer agter haar ambisie.  In die fliek Peace, Love and Misunderstanding ondersoek Jane die tema van vergifnis. Dit vertel die storie van ’n vervreemde ma en dogter (Catherine Keener) wat ná die dogter se egskeiding weer bymekaar uitkom.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

In Peace, Love and Misunderstanding speel jy ’n hippie. Waar was jy tydens Woodstock?
Ek was nie deel van die Woodstock-generasie nie. In die jare sestig was ek met Roger Vadim getroud. Ons het in Frankryk gebly en ek het die beroemde konsert misgeloop. Ek het nooit hippieklere gedra nie. Ek moes by my medespeler, Catherine Keener, leer wat regtig ’n hippie is, watter musiek ek moet luister en watter dokumentêre ek moet kyk. Dit was pret om die karakter te speel omdat dit so anders is as wat ek in die verlede gedoen het.

Wat het jy oor die liefde geleer?

Sjoe, om liefde in jou lewe te hê is een van die belangrikste goed in ’n mens se lewe. Dit hoef nie seksueel te wees nie, maar dis ook lekker. Ek is gelukkig. Daar is baie liefde in my lewe, en heelwat kom van my vriendinne af. Ek het Los Angeles toe getrek om ’n nuwe knie te kry en toe kry ek ’n nuwe minnaar! Ek is op 74 gelukkiger as ooit. Dis nie wat ek verwag het nie. Ek het nooit gedink ek sal so lank lewe en so gelukkig wees nie. Ek dink mense word gelukkiger, meer ontspanne en ervaar meer vrede soos jy ouer word. Ek voel ook ouer en wyser. Ek was orals, het alles gedoen en dit oorleef. Niks het my ondergekry nie. Dit maak dit makliker om dinge wat skeefloop te hanteer. Ek het hard gewerk om ’n beter mens te word. Ek het uit my foute geleer. Ek dink die feit dat ek daarvoor gewerk het, is deel van my geluk.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Jou verhouding met jou pa in ag genome, hoe kry jy dit reg om jouself te aanvaar, ’n man in jou lewe toe te laat en steeds getrou aan jouself te bly?
Vroue se verhoudings met mans het heelwat te doen met die verhouding wat ons met ons pa’s het. Ek is geneig om te swig voor mans wat my laat glo ek is goed en reg soos ek is. Ek het nooit geglo ek is goed genoeg nie. Toe ek met Roger Vadim getroud was, het ek gedink ek moes iets reg gedoen het om hom aan my sy te hê. Wanneer Ted Turner vir my lief is, is ek oukei. As ek saam met Tom Hayden is, is ek nie dom nie (sy rol haar oë). Soos ek ouer geword het en ook danksy Ted Turner, want hy het my baie selfvertroue gegee, het ek nie meer ’n man nodig om my te vertel dat ek oukei is nie. Ek weet ek is oukei! En nou het ek ’n verhouding met iemand wat baie van die vorige mans verskil. Hy is baie vriendelik. Ek het hom nie nodig om myself as aanvaarbaar te beskou nie. Al wat belangrik is, is dat hy my liefhet en goed is vir my. Ek is baie bevoorreg dat ek so laat in my lewe so ’n liefde kan ervaar. Maar dit val nie in jou skoot nie; jy moet daaraan werk; jy moet gelukkig wees met wie en wat jy is. Dit het my baie lank gevat.

Jy het goeie selfdissipline. Hoe bederf jy jouself?

Ek is lief vir my martini’s (lag). Ek hou veral van lietsjie-martini’s. Af en toe sal ek ’n groot kaasburger eet. Ek probeer om dit nie te dikwels te doen nie – wanneer jy ouer is, neem dit langer om die balans in jou liggaam te herstel. Ek oefen steeds en danksy my oefenvideo’s assosieer mense my nog daarmee. Intussen is dele van my lyf al deur nuwes vervang! Ek kan heelwat van vandag se oefeninge glad nie meer doen nie! Ek het die bewegings vir ouer mense aangepas – ek weet daar is baie ander soos ek wat baat daarby sal vind. Ek het daarvan gehou dat my karakter in Peace, Love and Understanding ’n vrou is wat ouer is, ’n ouma, maar steeds baie jeugdig en sensueel is en voluit lewe.

En jy is ook ’n ouma …

Toe my eerste kleinkind twaalf jaar gelede gebore is en ek hom vashou, het ek vir die eerste keer verstaan wat intimiteit is. Ek het ’n liefde gevoel wat ek nog nooit vantevore gevoel het nie. Dit het my oopgebreek. Ek het dit nodig gehad. Dit was die seuntjie van my dogter wat ek by Roger Vadim gehad het. Roger het kort ná sy geboorte gesterf en dit was reg so dat daar iemand gebore is wat sy gene dra. Hy het voor sy dood sy kleinseun ontmoet. Nie almal het daardie behoefte aan kleinkinders nie, maar vir my het dit ’n tweede kans gegee.

Jy sê jy was nie ’n hippie nie, maar hoe was jy in jou jonger dae?

Ek het Indië toe gegaan in die jare sestig. Ek was eerder ’n aktivis as ’n hippie. My leuse was: “Wat kan ek doen om ’n verskil te maak?” Die armoede in daardie land het my geruk. Die hippies wou net ’n joint rook en niks doen nie. Ek wou by die Vredesmag aangesluit het, probeer help, maar ek was reeds 32 met ’n jong kind. Toe is ek terug Amerika toe en ek het ’n aktivis geword.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Het jy vrede gemaak met alles waaroor jy berou het?
Nie alles nie, maar wel ’n paar van die groot kwessies. Die grootste waaroor ek berou sal hê tot die dag dat ek doodgaan, is die foto wat van my op ’n lugafweerkanon in Noord-Viëtnam geneem is. Dit het die indruk gewek dat ek teen Amerika en ons soldate is, wat glad nie die geval is nie. Ek het nie gedink nie. Ek was baie emosioneel. Dit het op my laaste dag in Noord-Viëtnam gebeur. Ek het eers later besef wat die gevolge kan wees. Ek kan nou niks daaraan doen nie.
Meer onlangs, op my sestigste verjaardag, het ek besef dat ek nou besig is met die laaste toneel van my lewe. Daar was die eerste dertig jaar, die tweede dertig jaar en nou die laaste dertig. Almal weet die derde toneel is die belangrikste – in hierdie tydperk kom alles bymekaar en maak jy sin van jou lewe. Ek is nie bang vir doodgaan nie, maar ek het gesien hoe my pa gesterf het toe hy nog nie vrede gemaak het nie.

Nog een sou gewees het om teen die einde van my lewe nooit intieme liefde met ’n man te ervaar het nie. Dis anders as seks. Ek het dit ervaar, nou kan ek dit aftik. Ek was nie die beste ma vir my dogter nie. Ek was ’n aktivis toe sy jonk was en baie van die huis af weg. Een van my doelwitte in die derde toneel is om haar vergifnis te wen. In die nuwe prent moes my karakter ook deur haar dogter vergewe word. Ek dink dis een van die belangrikste dinge in die wêreld. As jy nie kan vergewe nie, kan jy nie gesond word nie.

En as ouma? Wat is jou gunsteling- moedersdag-herinnering?

Ek dink ek is ’n goeie ouma. Toe my eerste kleinseun gebore is, wou ek hom steel. Noudat ek ouer is, besef ek dat ek nie die energie het om weer ’n kind groot te maak nie. Ek weet nie hoe hierdie ouer mans in Hollywood dit regkry om op 75 nog met babas te woel nie. Ek en my tweede man, Tom Hayden, het ons kinders gevat en Robert Redford se huisboot geleen en op Cape Mead gaan ronddobber. My kinders het bo-op ’n koppie met klippe geskryf: “Ons is lief vir jou, Mamma.”

As jy terugkyk na al die flieks waarin jy verskyn het, wat val jou op en waarvoor sal jy onthou wil word?

Toe ek my memoirs geskryf het, het ek weer na almal gekyk. Dit was in sekere gevalle nogal pynlik (lag). Maar ek het nie ’n keuse gehad nie. Ek sal seker in sekere kringe as Barbarella onthou word. Of Barefoot in the Park of Julia. Maar ek dink my grootste rol was in On Golden Pond wat ek saam met my pa vervaardig het. Een van die beste flieks wat ek gemaak het, was Klute, waarvoor ek my eerste Oscar gewen het. My gunstelingrol was in The Dollmaker, wat baie min mense waarskynlik gesien het. Ek het ’n Emmy daarvoor gekry.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Jy is wel berese. Van watter land hou jy die meeste?
My eerste man (Vadim) was half-Russies. Ons was in 1962 in Rusland – destyds was ons nog die enigste Amerikaners daar. Ek het verlief geraak op die mense. Dit was altyd vir my vreemd dat ’n land soos Rusland kommunisties was – dis immers die mense van Tsjechof en Toegenef. Mistisisme. Dit het verkeerd gevoel. Ek het ’n fliek saam met regisseur George Cukor in die destydse Leningrad gemaak – Elizabeth Taylor en Ava Gardner het ook rolle gehad. Ek was drie maande in die middel van die winter daar. Toe ek met Ted Turner getroud was, is ons seker agt keer weer Rusland toe. Ek ken die land baie goed. Ek is ook mal oor Griekeland, Indië, Japan, China en Afrika. Dit gee ’n mens perspektief as jy reis. Ek kan nie glo dat daar politici is wat nog nooit die wêreld gesien het nie. Ek wens ek kon George Bush by ’n ete raakloop en hom saamnooi Afrika toe sodat hy kan sien watter uitwerking sy beleid op vroue gehad het. My lewe het in Egipte verander: Ted was betrokke by ’n projek oor bevolkingsaanwas en die uitwerking daarvan op die omgewing. Ek moes my kennis opskerp en in 1994 in Kaïro die VN se konferensie oor die kwessie bywoon. Niks was daarna meer dieselfde nie.

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

7 days Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.