kategorieë: Leef gesondGesondheid

’n Tweede kans na ’n breinbesering

Op ’n herfsoggend in 1999 was Lindie Larney nog ’n lewenslustige, veelsydige tweedejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria. Daardie aand, ná ’n motorongeluk, het sy met ernstige breinbeserings in ’n waakeenheid gelê. Sy was in ’n koma, en haar geliefdes het gewonder of sy sou bly leef. Vir 14 lang weke het Lindie in ’n diep koma en post-komateuse toestand gebly. Toe sy huis toe kon gaan, was sy in ’n rolstoel en die een kant van haar liggaam was verlam. Sy moes van vóór af leer praat, loop, sit en emosie toon – asof die horlosie 19 jaar teruggedraai het.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Vandag, elf jaar later, lei Lindie – wonder bo wonder – ’n normale lewe. Sy is ’n administratiewe assistent by die Universiteit van Pretoria met ’n B.A.-graad agter haar naam, bly alleen en ry met haar eie motor rond.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Sy fliek en kuier graag, studeer deeltyds, kweek bonsai-boompies, is lid van ’n Bybelstudiegroep, tree soms op as tellinghouer vir gestremde krieketspanne en doen buikdanse. Om die lewe ná so ’n ingrypende gebeurtenis te hervat, verg buitengewone vasberadenheid.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

“Binne ’n jaar ná die ongeluk is ek terug universiteit toe. Vandag dink ek ek het meer moed as verstand gehad! Ek was in ’n rolstoel, my geheue was hopeloos, ek het dubbelvisie gehad en die volle gebruik van net een hand. My ma, Susan, het my elke dag universiteit toe geneem en tussen klasse rondgestoot.”

Vir haar eerste toets in biblioteekkunde het sy ’n “volle 7%” gekry. Dit was ’n skok, want sy was jare lank ’n toppresteerder.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

“Ek het besef ek kon nie meer soos voorheen op algemene kennis toets skryf nie. Vir my eerste toets in sielkunde 2 het dit my byna vier uur geneem om vyf eenvoudige Freud-feite te memoriseer. Ek moes die eerste keer in my lewe leer om te leer! Noem die leermetode en ek het dit probeer.”

Uit moedeloosheid wou Lindie haar studie staak. Haar ouers het gesê hulle sou haar in enige besluit ondersteun, maar as sy nie meer studeer nie, moes sy iets anders doen. “Nodeloos om te sê, het die studie voortgegaan. Êrens in die soeke na maniere om te studeer, het die feite begin insink, want vir my volgende biblioteekkundetoets het ek 72% gekry.” Ten spyte daarvan dat sy een nuwe hoofvak moes kies – die betrokke gebou was destyds nie vir rolstoele toeganklik nie – het sy haar graad met onderskeiding in verskeie modules verwerf.

“Dit klink dalk maklik, maar ek moes twintig keer harder studeer as ander studente. Studie het tot 80% van my tyd vereis. ”

Op my vraag wat haar laat deurdruk het, sê Lindie:

“Ek is nie ’n tou-opgooier nie. Ek glo jy maak die beste van ’n saak. As jy ’n koliekbaba kry, kan jy hom nie teruggee nie, of hoe? Dit geld ook my omstandighede”

Lees jy Nuwe lewe na ’n breinbesering, die praktiese en insiggewende boek wat Susan na aanleiding van hul ervaring geskryf het, besef jy watter deurslaggewende rol Susan en haar man, Lou, in Lindie se welsyn speel. “Ek haal my hoed vir hulle af, vir hoe hulle cope. Maar moenie dink hulle piep my op nie – hulle hanteer my soos ’n normale mens. Toe ons ’n keer in die Kaap was, het ons op die strand gaan stap. Sand is nié die stabielste oppervlak vir iemand soos ek wat moeilik loop nie, veral as die wind waai. Ek het ’n paar keer my balans verloor en ’n stuk strand gekoop, en hulle het gelê soos hulle lag! Ek wonder nou nog wat die omstanders van dié ouerliefde gedink het.”

In Lindie se stylvolle meenthuis hang ’n groot, geraamde montage van haar skoolloopbaanprestasies. In haar matriekjaar het sy die meeste balkies – twintig – op haar skoolbaadjie gehad, in al vyf kategorieë: kultuur, leierskap, sport, akademie en dienslewering. “Iemand het eendag gesê dis seker erg om met ’n botsing só baie te moes verloor. Haar opmerking het my verbaas, want die balkies en wapens was deel van ’n goeie verlede wat maar één deel van my lewe verteenwoordig.” Lindie voel sy het letterlik ’n tweede kans gekry.

“Ek het ’n vel wat kelloïed vorm, en die asemhalingsapparaat wat in die hospitaal in my kuiltjie gesit is, het ’n lelike letsel gelaat. My ouers wou dit deur plastiese chirurgie laat verwyder, maar ek wou nie. Vir my is dit die uiterlike teken dat die Here my nóg ’n kans gegee het om te leef. ”

En lééf doen Lindie met oorgawe. Sy het ’n passie vir olifante; hulle duik in talle gedaantes in haar huis en tuin op. Sy het ooglopend plesier aan mooigoed – klere, juwele en fyn porselein. Haar worshond, Poeksie, is kennelik die punt van haar hart. Maar dis haar ondeundheid wat my bybly. “Jy moet ’n goeie artikel skryf,” terg sy toe ek groet. “Dalk kry ’n baie belangrike vrou – my onbekende, aanstaande skoonma – dié uitgawe van rooi rose te lees!”

Geloof, hoop en liefde

As jy eers Susan Larney van Pretoria se huis en tuin onder oë gehad het, weet jy: dis ’n kreatiewe vrou dié. Sy toor met ruimtes en omskep die gewone telkens in iets besonders. Maar haar eintlike skeppingskrag lê in die manier waarop sy haar dogter se ongeluk in iets seënryks omvorm het sodat hoop en heling elf jaar later steeds uitkring om al meer mense te raak. “Die aand ná Lindie se ongeluk moes ons hoor dat daar ’n gat in haar kop was en dat sy ‘ekstensiewe, maar ekstensiewe breinskade’ het. Ons het niks geweet van ’n koma nie. Ons het gedink dit werk soos op TV, waar die pasiënt op ’n dag net wakker word. Nou weet ek ’n pasiënt ‘skrik nie wakker’ uit ’n koma nie. Jy stimuleer hom daaruit.” Susan en Lou het die maande wat Lindie in die hospitaal was, geleer hoe skaars praktiese, verstaanbare inligting oor die brein, hospitaalprosedures, medikasie, vlakke van herstel en stimulasie van die pasiënt is. “Jy het gewoon nie die tyd of energie om uitgebreide navorsing te doen nie, en ongelukkig het mediese personeel min tyd om met naasbestaandes hieroor te praat. Nuwe lewe na ’n breinbesering bevat die inligting wat ek destyds self so nodig gehad het, en ook ons persoonlike ervaring daarvan.”

Van dag een af het Susan moeite gedoen om Lindie te stimuleer, al was sy bewusteloos. “Die onbewuste is nie beseer nie en die bewuste moet gehelp word om weer daarmee te sinchroniseer. Sodra ek by die kamer inkom, het ek voor haar gaan staan en gevra of sy hou van die klere wat ek aanhet. Ek het byvoorbeeld gesê: ‘Jy onthou mos hierdie blou pakkie?’ en haar hand oor die lap laat gly. Die terapeute het my gevra wat my beroep is, omdat wat ek met haar gedoen het presies was wat hulle met haar moes doen. My antwoord was dat ek ’n ma en ’n huisvrou is en nie die antwoorde van stimulasie en oefeninge ken nie, maar ek ken die God wat al die antwoorde ken. Ek het daagliks vir die Here gevra om my te help sodat ek die beste vir my kind kon doen.” Toe Lindie haar oë begin oopmaak, het dit gelyk of sy niks sien nie. “Hulle noem dit ‘pop-oë’. Ek het onder meer ’n kombuishorlosie, ’n almanak en die name van geliefdes in Lindie se kamer opgeplak en dit met verloop van tyd gebruik om haar te oriënteer. Mense onderskat iemand in ’n koma of semi-koma. Lindie het op ’n keer ’n glasie lemoensap uit ’n verpleegster se hand geklap – die verpleegster het nie haar pasiëntekaart gelees waarop daar gestaan het sy is allergies vir vitamien C nie.” In Nuwe lewe na ’n breinbesering beskryf Susan die pynlik stadige herstelproses wat soms “met papierdun trappies vorder. Ek is dankbaar ek kon elke dag heeldag by Lindie wees. Jare lank het ek ’n groot geveg met die Here gehad omdat ons net een kind het. Ek het twee in vitro-bevrugtings gehad – tevergeefs. Met die ongeluk het ek besef as dit suksesvol was, het ek dalk ’n jong drieling gehad. Die Here weet wat goed is vir ons.

Ek het my lewe ’n paar jaar op die ys gesit, en nou sorg Lindie vir haarself.” Susan het na die naasbestaandes van breinbeseerdes begin uitreik. Dit het op die publikasie van haar boek en vrywillige werk in ’n Pretoriase rehabilitasiekliniek uitge- loop. Sy beplan om oggendseminare vir kantoorhoofde wat breinbeseerdes in diens neem en ander belangstellendes te hou. Sy is besig met ’n tweede boek oor die stimulering van breinbeseerdes – die oefeninge kan ook vir jong kinders en volwassenes met konsentrasieprobleme gebruik word – en het ’n “Emmer vir ’n Wenner” ontwerp wat benodigdhede vir eenvoudige oefeninge bevat. “Ek en Lou en Lindie het sóveel seën van die Here ontvang dat ek iets aan die gemeenskap wil teruggee.” Susan glo daaraan om realisties maar hoopvol te wees. “’n Breinbesering is nie die einde van alles nie. Dis net die einde van ’n sekere fase in jou en die beseerde se lewe. ’n Lewe met nuwe belangstellings, stokperdjies en vriende, opwinding en uitdagings kan ná ’n breinbesering volg, al is dit dalk nie presies dieselfde as voorheen nie. Dit bly nog ’n geleentheid vir jou en die beseerde om te kan leef en lief te hê.”

Wees ingelig

Min mense weet die volgende, skryf Susan in Nuwe lewe na ’n breinbesering: Ongeveer 150 000 mense doen jaarliks net in Suid-Afrika breinbeserings op. Breinbeserings sluit beroerte, motorbotsings, sportbeserings, aanrandings, skietvoorvalle, amperverdrinkings en breinkanker in. Harsingskudding is ’n klein breinbesering. Moontlike gevolge van ’n breinbesering is bewusteloosheid, geheueverlies en -probleme, persoonlikheidsveranderinge, verlamming, swak spierkoördinasie, abnormale prikkelbaarheid, sigversteuring, konsentrasieprobleme, ewewigversteuring, spraakprobleme, gemoeds- en gedragsprobleme, epilepsie en vervlakking van die intellek. ’n “Vegetatiewe toestand” beteken bloot dat laer breinfunksies soos die hartklop, dermkanaalwerking en asemhaling steeds aan die gang is. Denke, emosies, gevoel, bewegings, en so meer word deur hoër breinsentrums beheer. Omdat medici steeds betreklik min van die brein weet en dit moeilik is om vas te stel waar daar oral skade is, is hulle dikwels huiwerig om naasbestaandes hoop te gee. Dit neem twee jaar tot lewenslank vir ’n pasiënt om optimaal te herstel, en die verloop en duur van die herstelproses is onseker. Hoe ernstiger die besering en hoe langer die beseerde in ’n koma was, hoe waarskynliker is dit dat sy een of ander langtermynongeskiktheid sal oorhou.

’n Komapasiënt gaan deur 8 vlakke van herstel

1 Geen reaksie.
2 Veralgemeende reaksie. Die pasiënt reageer op sommige stimuli, maar nie konsekwent en doelgerig nie. Hy kreun byvoorbeeld as sy gesig afgespons word.
3 Gelokaliseerde reaksie. Die pasiënt reageer meer konsekwent op algemene stimulasie en kan dalk eenvoudige opdragte uitvoer soos om sy oë toe te maak. Om die oë oop te maak en met die hand te druk, is net ’n basiese refleks. Al is die oë oop, is daar nog geen visuele waarneming nie.
4 Deurmekaar – rusteloos of aggressief. Die pasiënt gaan oor van onder- na ooraktief en kan skree, slaan of die buise probeer uittrek. Sy kan ook deurmekaar praat. Haar behoefte verander van stimulasie na struktuur.
5 Deurmekaar – ontoepaslik. Die pasiënt lyk wakkerder en kan redelik konsekwent op eenvoudige enkelopdragte reageer. As jy sê “Groet vir ouma”, kan hy sê: “Hallo Ouma”, maar hy kan ook ontoepaslik en oënskynlik ongeskik reageer.
6 Deurmekaar – toepaslik. Die pasiënt voer eenvoudige opdragte konsekwent korrek uit en kan onthou hoe om roetinetake soos eet, aantrek en bad uit te voer. Geheue oor onlangse gebeure is nog swak, wat die aanleer van nuwe dinge moeilik maak. Haar reaksies kan robotagtig voorkom.
7 Outomaties – toepaslik. Die pasiënt kom op die oppervlak normaal voor en kan roetinetake outomaties, met min of geen verwarring, uitvoer. Tog is die geheue nog aangetas en is daar swak oordeel, verminderde probleemoplossingsvaardighede en beperkte insig. Vir sy eie veiligheid is toesig nodig.
8 Doelgerig – toepaslik. Geheue oor die verlede is goed, maar onlangse gebeure mag nog vaag wees. Sy kan nuwe dinge aanleer, maar nie so vinnig en soveel as voor die besering nie. Sosiale, emosionele en intellektuele vermoëns keer dikwels nie heeltemal terug nie, maar is goed genoeg dat die persoon in die meeste sosiale situasies kan funksioneer. Die evaluering van haar werkvermoë en heropleiding in ’n ander rigting kan nodig wees.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Leer jou breipatrone beter verstaan

Ons deel breilesse uit ons argiewe.

16 hours Gelede

Gebruik oogomlyner vir langer wimpers

Nie almal is geseënd met lang wimpers óf weet hoe om vals wimpers aan te…

19 hours Gelede

My ma se appeltert

20 hours Gelede

5 lekker hoemoes-resepte

Hou jy van hoemoes? Dan sal 13 Mei vir jou ’n belangrike datum wees. Dié…

2 days Gelede

Is dit hoekom jy maagpyn het?

Waar pyn jou maag? Die presiese plek waar jy die pyn ervaar, kan aandui wat…

5 days Gelede

Hoe om jou dogter groot te maak om sterk en vol selfvertroue te wees

In ons moderne wêreld, waar die uiterlike voorkoms blyk om al hoe belangriker te word,…

5 days Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.