kategorieë: Bekendes

Clint Eastwood: Van krag tot krag

Ouderdom is ’n wrede werklikheid en nie almal hanteer die jare lag-lag nie. Maar Clint Eastwood, ikon van die rolprentwêreld, akteur, regisseur en nou ook komponis, laat hom glad nie afskrik deur die jare wat saambondel nie. Sy lyf is nie meer wat dit was nie. Die wit hare is veertjierig, diep plooie lê in kepe oor sy gesig en daar’s ’n oumansblos op sy wange. En hy maak sy broek ’n ent bokant sy naeltjie vas. Hy lyk soos iemand se oupa. Maar onder die ruie wenkbroue blink sy blou oë vurig, intelligent en vol lewenslus. Uiteindelik sleur sy bruisende energie en wysheid jou mee. Hy het sewe kinders by vyf verskillende vroue. Clint was regisseur van die rugbyfliek Invictus wat in Suid-Afrika verfilm is. Dit vertel hoe oudpresident Nelson Mandela die Rugbywêreldbeker in 1995 gebruik het om Suid-Afrikaners as ’n volk saam te snoer. Morgan Freeman het die rol van Madiba vertolk en Matt Damon het Springbokkaptein Francois Pienaar se rugbystewels vol gestaan. Clint het onlangs met rooi rose gesels oor onder meer sy indrukke van Suid-Afrika en sy mense, en hoe optimisties hy oor dié land se toekoms is.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Hoe was dit om oudpresident Nelson Mandela te ontmoet?
Morgan (Freeman) ken hom al langer as die res van ons. Wanneer jy hom die eerste keer ontmoet, dink jy hy maak Morgan na, want Morgan het al sy aanwensels perfek reggekry. Dit verg werklik iemand met ’n superieure moraliteit om te doen wat hy gedoen het. Jesus het gesê “vergewe hierdie mense, want hulle weet nie wat hulle doen nie”. Mandela het letterlik dieselfde gedoen.

Hoe was dit om in Suid-Afrika te werk?

Die mense is baie professioneel. Die aktrise wat Matt Damon se vrou gespeel het, Marguerite Wheatley, was baie goed. Baie professioneel. Die meerderheid spelers en al die ekstras was Suid-Afrikaners. Hulle het ’n lewendige rolprentbedryf en die Suid- Afrikaanse crew kon nie beter nie. Die land en sy mense het my werklik beïndruk, maar hulle sal iets aan die geweld moet doen.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Hoekom speel rugby so belangrike rol in die fliek?
Mandela was by ’n kritieke punt in sy presidentskap. Hy het groot wysheid aan die dag gelê toe hy besluit om sport te gebruik om die nasie te verenig. Hy het ’n manier gekry om nasie trots aan te wakker. Hy het besef swart en wit sal as ’n span moet saamwerk om ’n sukses van die land te maak, en het rugby kreatief as ’n middel tot ’n doel gebruik.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Was dit moeilik om die rugbytonele uit te beeld?
Jy het glo oor en oor na videoopnames van die eindstryd gekyk. Die oud-Springbok Chester Williams was die afrigter van die akteurrugbyspelers. Hy wou seker maak ons speel regte rugby, dat niks daarvan nagemaak moes lyk nie. Dis ’n rowwe sport. Die ouens wat rugby speel, is ’n eie spesie. Jy maak deesdae naam as komponis en skryf wonderlike musiek vir rolprente.

Hoe doen jy dit?
Dit hang af. Soms kry ek die musiek in my kop nog voor ek aan die fliek begin werk, en ander kere gebeur dit met die verfilming. Vir Unforgiven het ek die musiek geskryf voor ek met die fliek begin het, want dit was die soort klank wat ek vir die rolprent wou hê. Vir Changeling het ek die musiek geskryf terwyl ons besig was met die redigering, en ek het die musiek bygesit soos wat ons gewerk het. Baie akteurs sukkel om hul eie regisseur te wees. Jy doen dit gereeld en baie goed. Het die proses verander sedert jy dit die eerste keer gedoen het? Ja, dit het verander. Ek het dit veertig jaar gelede die eerste keer gedoen en was moontlik toe ’n bietjie meer gespanne daaroor.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Hoe evalueer jy jouself?
As dit reg voel, dan is dit vir my reg. Ek gaan op my gevoel. Jy weet wanneer jy op die regte spoor is, of wanneer dinge nie werk nie.

Behoort jy aan ’n godsdienstige groep?
Nee. My ouers het baie rondgetrek en as kind was ek in baie verskillende kerke en skole. Uiteindelik het ek vir myself begin dink en besef jy kan spiritueel wees waar jy ook al is. Jy hoef nie aan ’n groep of kerk te behoort nie. Ek bewonder mense wat by georganiseerde godsdiens betrokke is. Maar ek dink ek sal dieselfde voel, of ek nou by ’n groep inskakel of nie.

Wanneer was die beste tyd in jou lewe?
Nou. Ek het nog nooit gewens ek kan die verlede terugkry nie. Almal sou seker wou teruggaan om die verlede se foute reg te stel, maar dis ’n blote fantasie. Niemand sal dit ooit kan doen nie. Ons moet vorentoe beweeg. Ek hou van my lewe soos dit nou is. Ek het ’n wonderlike vrou en gesin. Ek het geen klagtes nie. Jy het oorspronklik bekend geword as die naamlose karakter in Sergio Leone se cowboyflieks.

Hoe het jy die rol gekry?
Ek het in die televisiereeks RawHide gespeel en die Sergio Leone-vervaardigers kon nie iemand anders bekostig nie. Die eerste fliek het ’n begroting van $200 000 gehad, en hulle het my$15 000 aangebied. Dit was vat dit of los dit. Die akteur Rory Calhoun was ’n bietjie bekender as ek, maar hy wou $30 000 hê, toe los hulle hom en kies my. En toe moes hulle my vir al die ander flieks ook gebruik (lag). Jy vertolk dikwels die rol van ’n eensame man.

Wat weet Clint Eastwood van eensaamheid?
Net wat ek gehoor het. Ek weet nie of Clint Eastwood regtig enigiets weet nie. Maar ja, ek was ook al eensaam, soos die meeste van ons. Jy herken iets in elke karakter wat jy vertolk. Jy het dit self ervaar, of jy sien dit in die mense om jou. As kind was ek altyd die vreemde outjie in ’n nuwe klas omdat ons so baie rondgetrek het. Dit was moeilik om jou pad aanhoudend oop te veg in die sosiale struktuur van die skoolgrond. Miskien was ek toe ook eensaam.

Het jy oor sukses gedroom toe jy jonger was?
Almal droom en wil hul bes doen. Om ambisie te hê is belangrik, anders sou middelmatigheid die norm gewees het. Ek onthou toe ek aan Play Misty for Me gewerk het, het ek gedink as ek dit regkry, kan ek dalk eendag agter die kameras werk, want as ek 78 is, sal ek nie meer na myself op die skerm wil kyk nie (lag). En wanneer jy daardie ouderdom bereik, besef jy op ’n dag dat daardie gedagtes toe waar geword het. Dis goed om te kan terugkyk en te sê dit was ’n wonderlike reis.

Waarna sien jy uit in die toekoms?
’n Lang lewe sodat ek groen piesangs kan koop sonder om bekommerd te wees (lag). Om aan te hou werk en aan te hou groei. Ek hou van werk omdat ek elke dag nuwe dinge leer en dit maak my gelukkig. As ek ophou leer, sal ek seker nie lank hou nie. My raad is om aan te hou leer en om die proses te geniet. Wat regie betref, sal ek ’n nuwe onderwerp wil probeer, iets soos ’n ’n dilemma in ’n verhouding. As dit iets is wat jy kan leer, maak dit jou meer bewus.

Elke paar jaar is daar gerugte dat jy nie meer gaan toneelspeel nie.
Ek neem my kort-kort vas voor om op te hou. Daar is nie baie goeie rolle vir tagtigjarige mans nie. As daar ’n goeie rol kom, sal ek dit oorweeg, maar nie as ek net so gelukkig agter die kamera sal wees nie. As ek nooit weer voor die kamera verskyn nie, sal dit nie my hart breek nie.

Watter soort pa is jy?
Niemand is objektief oor homself nie. Ek dink ek is ’n goeie pa, maar jy sal dié vraag vir die kinders moet vra. Ek dink ek het ’n goeie verhouding met my kinders, maar ek sal nie sê dit was altyd so nie. Ek het nie beplan om ’n groot gesin te hê nie, maar op ’n dag besef jy jy het nou ’n gesin. Mettertyd word dit al belangriker en geniet die gesin voorrang. Toe ek jonk was, was ek desperaat om aan die werk te bly en moes boonop die hele wêreld vol werk, en ek was toe nie so ’n goeie pa soos nou nie. Nou kom my werk tweede. My dogter is die belangrikste mens in my lewe. Ek gaan kyk byvoorbeeld na al haar sagtebalwedstyde, ek doen alles, al lyk dit seker soms effe verspot. Haar maats se pa’s is heelwat jonger as ek. Maar dis pret. Ek dink wanneer jy my ouderdom bereik, waardeer jy alles meer.

Wat leer jy jou dogter van mans?
Ek is vreeslik lief vir haar, maar ek dink haar ma moet maar hierdie afdeling behartig. Ek wil net hê sy moet elke oomblik van haar kindwees geniet voor sy grootword. Kinders word deesdae so vinnig groot. Hulle word baie beïnvloed deur alles wat hulle op televisie sien. My vrou was ’n nuusaanbieder en sy het bedank omdat sy dit net nie meer kon vat om aand na aand van moord en doodslag en chaos te lees nie. Dit het haar depressief gemaak. Deesdae word kinders hieraan blootgestel. In die ou dae het die gesin saam gaan fliek, maar deesdae gaan fliek mense apart en boonop lyk sommige kinderflieks eerder asof dit vir volwassenes gemaak is.

Vertaal deur Hannelie Diedericks

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.