kategorieë: Verhoudings

Die chemie van die liefde

Ons is deur die He’s not that into You-gier, en baie dankie, ons weet nou wanneer Meneer se belangstelling te laag brand om verder ons tyd te mors. Maar It’s Raining Men, soos die 2006-liedjie dit uitjuig. Mans is volop. Dis die régte een wat skaars is. Maar dalk nie vir lank nie. Dr. Helen Fisher, ’n Amerikaanse sosioloog, het ná navorsing op 40 000 lede van Match.com met ’n interessante nuwe konsep vorendag gekom: jy moet net op die plek soek waar hy rondhang. Nou toe nou. Beteken dit jy moet bloot langs die rugbyveld rondstaan omdat drie dosyn mans daar rondhol? En seker maak jy kom by die sokker uit omdat mans van oor die hele wêreld hier saamtrek? Dalk. Maar haar teorie is darem baie meer genuanseer. Voor jy verder lees, doen die vier vraelyste en stel vas wie jy is sodat jy kan vasstel wie by jou pas sodat jy kan vasstel waar jy moet rondkyk vir daardie droomman wat jou voete onder jou gaan uitswiep – en jy syne.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-1'); }); document.write(''); }

Hoe werk dit?

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-6'); }); document.write(''); }

Helen verduidelik dat jy die eindtotaal is van jou ingebore temperament en die wedervaringe wat jou gevorm het. As dit by jou volmaakte pasmaat kom, is veral jou temperament belangrik – juis daardie deel wat geneties bepaal is. Navorsing wys gene werk in groepe saam om gedrag te beïnvloed. Die verband is so opvallend dat daar al van gedragsindrome gepraat word. Helen sê twee van ons hormone, estrogeen en testosteroon, en twee van ons breinchemikalieë, dopamien en serotonien, vorm waarskynlik die basis waarvolgens ons onbewustelik maar geneties, asof vooraf geprogrammeer, ons lewensmaats kies. En dis hoe eenvoudig dit is om jou droommaat op te spoor: al wat jy moet doen, is om te verstaan watter een van die vier jou voorkeur is en daaruit af te lei wie pas by jou. Daarna is jy toegerus om op geskikte plekke en met die regte lysie eienskappe in gedagte jou oë oop te hou. En letterlik jou oë oop te hou.

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-2'); }); document.write(''); }

Helen vertel dat ons reeds weet dat mense met meer groefies in die irisse (die gekleurde deel) van hul oë warmer en liefdevoller is, terwyl sterker lyne om die irisse met impulsiwiteit verband hou. Altwee geslagte sein ook hul estrogeen- en testosteroonvlakke op hul gesigte: vroue met hoë testosteroonvlakke en mans het kenmerkend sterk gedefinieerde trekke, soos ’n groot neus, prominente wangbene, growwe oogbanke en groot, breë voorkoppe. Net so kan jy estrogeenvlakke by vroue en mans skat: mans met hoër estrogeenvlakke en vroue het fyner velle, vol lippe, kleiner neuse en voller, ronder gesigte. Moeder Natuur weet niks van vraelyste en karaktertipes nie: sy het ons oë gegee om te sien. Die probleem is ons moderne lewenswyse, want ons werk en leef teen groot spoed verby mekaar. Dis waar Helen se vraelyste inkom: ’n vernuftige insig in jou psige vir ’n kortpad na die regte maat. En dit werk vir mans en vroue.

Terug by die vier stelsels. Hulle werk kortliks so:

'); googletag.cmd.push(function() { googletag.display('dfp-300x250-3'); }); document.write(''); }

Hoë dopamienvlakke word gekenmerk deur avontuurlus, energie, optimisme, spontaneïteit, impulsiwiteit, kreatiwiteit en entoesiasme. Helen noem hierdie mense die Avonturiers. Mense met hoë serotonienvlakke is kalm, sosiaal, tree oordeelkundig en verstandig op, is lojaal en respekteer reëls, orde, gesag en tradisies. Hierdie mense etiketteer sy as die Bouers.

Wat van hoë testosteroonvlakke? Die groep, die Direkteure genoem, is kenmerkend reguit, gefokus, logies, prakties en mededingend. Mense met hoë estrogeenvlakke  is tipies die helpers. Hulle is ook intuïtief, “web”-denkers, sosiaal, simpatiek, verbeeldingryk en verbaal en emosioneel ekspressief. Sy noem hulle die Onderhandelaars – en baie gewone mans val ook in die groep. Wie pas by wie? Moet jy en jou geesgenoot eenders of anders wees? Hier lewer Helen se navorsing ’n verrassing op, maar dit maak biologies sin. Bouers en Avonturiers verkies ’n lewensmaat presies soos hulle met dieselfde strewes. Direkteure en Onderhandelaars val in by “opposites attract”: die een neem die leiding en is logies, en die ander een val in en verskaf die “hart”.

Hul kuierplekke

Jy het die vraelysies deurgedraf, en jy weet nou wie is jy en wie by jou pas. Maar die kruks van die saak is waar om hom of haar te kry. Helen verskaf in haar boek ’n hele klomp leidrade wat ’n potensiële maat verklap, maar die maklikste twee is die woordeskat (hierbo) wat jou pasmaat tipies gebruik en die soort plekke waar jy hom/haar sal kry. En ja, dit is moeiliker om party op te spoor. ’n Notatjie: daar is nie ’n “beter” of “slegter” soort nie. Daar is rykes en armes, suksesvolles en onsuksesvolles, gawe en nare mense en so aan in elke groep. Dit gaan oor met wie jy die lekkerste gaan kliek vir ’n lewenslange gelukkige verhouding … en daarvoor hoef jy maar net te wees wie jy is. Waar om te kyk Waar soek jy jou bouer?

Dis maklik: hy/sy het vaste kuierplekke en roetines. As jy by vaste roetines hou, wees op die uitkyk vir ander mense wat ook gereeld daar is en knoop ’n geselsie aan. As jy hom nog nie raakgeloop het nie, beweeg jy moontlik in ’n te klein kring. Brei jou gebruiklike aktiwiteite uit en sluit aan by ’n klub, groep of span wat gereeld bymekaarkom vir gholflesse, aksiekrieket, wynwaardering of wynmaak … enigiets waarin mans belang stel. Dink aan jou vriende se familiegeleenthede, want vir bouers is familie belangrik. En rugby ís dalk net die regte plan, want bouers ondersteun tipies jare lank hul gunstelingspan. Hulle is ook bestuurders, kleinsakemanne en mense wat met syfers en finansies werk. Avonturiers loop mekaar van nature op hul avonture raak … of mis, want hulle is albei rondlopers wat dalk nie lank genoeg vashaak om in mekaar vas te loop nie. Die beste plan is om jou uit te leef en gereeld op nuwe plekke te kom, nuwe stokperdjies te takel – van naby-fotografie tot rotsklim en die skaarser sportsoorte soos roei en branderplankry, tot nuwe eetplekke en by nuwe klubs aansluit. En dan is daar die Sokkerwêreldbeker … die plek waar avonturiers van oor die wêreld hier gaan byeenkom. Hulle hou van variasie en is bemarkers, entrepreneurs, eiendomsontwikkelaars, in die vermaaklikheidswêreld, sportberoepe en ontwerp. Wat van direkteure? Hulle is ambisieuse mense; mense wat bestuur, hou van feite en konkrete dinge, maklik besluite neem, prakties is, met vertroue probleme oplos, masjinerie regmaak … en hulle hou van rang en aansien.

Hulle wil die baas én die slimste wees. Soek hom waar julle eers vriende kan wees, en veral in situasies waar hy uitblink, soos by die werk, akademiese instellings, intellektuele gespreksgroepe en organisasies waar hy leiding kan neem. Hulle hou van tegnologie, rekenaars, die wetenskappe, en is ingenieurs, uitvinders, tegnici, spesialiste en mense wat op hul eie werk. Onderhandelaars is mens-mense, en daarom sal jy jou onderhandelaar kry waar daar met mense gewerk word en waar mense in klein groepies byeen is sodat daar hope kans vir een-tot-een gesprekke is. Soek hulle by kerklike en private diensorganisasies en ondersteuningsgroepe; hulle is lede van groepe soos Vriende van Pilanesberg en Red die Kuilsrivier wat baie vrywillige ure bestee om die cheetahs, straatkinders, museums, mishandelde katte, Boesmantekeninge en Distrik 6 te red. Hulle is onderwysers, sielkundiges, dokters, verpleegsters, mentors … mense wat help.

Werk dit?

Ons het vier gewilde persoonlikhede gevra of dit vir hulle werk.

Pas jý by Hendrik?

Hendrik Cronjé, alias Lukas van 7de Laan, is tans sonder meisie. Sy profiel? Avonturier/ onderhandelaar. Wat jou sy perfekte pasmaat maak, mits jy ’n Avonturier/direkteur is, iemand vir wie avontuur ’n prioriteit is én dit beplan. Hierdie oud-Heilbronner is baie positief oor ’n maat met ’n avontuurlysie. “Sy sal saam met my nuwe plekke wil sien en interessante goed wil aanpak én sorg dat ons daarby uitkom.” Het dit vantevore so in sy verhoudings gewerk? Hy dink daar was net een Avonturier onder sy vorige meisies.

Die meeste was, te oordeel na sy terugvoer, Direkteurs en Bouers. Meisies met hope planne en ambisie maar gerig op hul loopbane en vriendekringe en nié op nuwe ervarings, die ongewone en onbekende nie. “Dit het juis nie gewerk nie omdat daar soveel dinge was wat ons tuis gehou het en gekeer het dat ons iewers heen kon gaan.” Miskien het dit met sy ouderdom te doen, erken hy soos ’n tipiese onderhandelaar wat te dierbaar is om selfs vorige meisies se gevoelens seer te maak. “Dalk sal ek teen dertig kans sien vir tuisbly.” Maar nou? Dis die middag voor ’n vakansiedag en Hendrik jeuk om weg te kom. Waarheen? Mpumalanga toe. Om wat te doen? Hy’t nog nie ’n plan nie. As iemand dit tog net wou reël.

Boertjie vir my!

Roxy Louw, ons mooiste branderplankryer en sportiefste model, sê die vraelys som haar baie raak op: sy’s ’n Avonturier/ direkteur. Haar aktiewe lewe pas haar soos ’n handskoen en haar sterk bestuurskant pas in by die feit dat sy, anders as baie modelle, nie ’n agent het nie. “Ek kan myself heeltemal goed genoeg organiseer. Niemand hoef dit vir my te doen nie.” Haar pasmaat is ’n Avonturier/onderhandelaar, en sy dink ’n Boerseun is perfek: iemand wat kans sien vir die uitdagings van ’n boerdery maar met ’n sagte hart vir sy diere … en vir haar. “My maat sal aanpasbaar moet wees.

Hy moet ’n Christen wees en so gemaklik met homself dat die kollig hom nie pla nie. En ek hou van ’n intelligen  te man wat graag gesels.” Maar inskiklikheid is ’n groot kwessie. “My vorige twee verhoudings het nie uitgewerk nie omdat ek baie vry moet kan wees vir surf en modelwerk, en net ’n baie flexible ou kan dit hanteer. Is daar ’n Boertjie op die toneel? “Nee, nog nie!”

“Dit werk vir ons”

Zetske van Pletzen en Altus Theart is geseënd met hope talent, goeie gene én mekaar. Dié glanspaartjie se profiele pas, maar kan die vonke soms spat? Altwee is hoofsaaklik Avonturiers, wat perfekte pasmaats is. Maar altwee se tweede profiel is ’n Direkteur – ambisieus, eerlik en onafhanklik … en ’n potensiële bron van konflik as dit by loopbaankeuses kom. In hierdie lewenstadium het elkeen sy eie ruimte, en behoort hul verhouding te vlot. Dit ís so, sê Zetske. En toe ons vra of dit so goed gaan dat daar trouklokkies lui, lag sy vrolik. Tipies Avonturier wat haar nie maklik gaan laat vaspen nie maar in haar noppies is met haar mede-avonturier.

“As ek nou terugdink aan my vorige verhoudings, was hulle harde werk. Met Altus val dinge gemaklik in plek. Ons het dieselfde verwysingsraamwerk: hy hou van ’n naweek by Boskop op quad bikes, en ek hou van ’n naweek by Boskop op quad bikes. En ons voel eenders oor ons werk. “Maar ek dink jy kan nie net ophou by die feit dat julle op ’n sekere vlak pas nie. Ons het byvoorbeeld onlangs die boek The Five Love Languages gelees, wat jou bewus maak hoe jy jou maat se behoeftes vervul op ’n manier wat vir hom werk.” ’n Antwoord so reg uit die mond van ’n volbloed-Direkteur.

Deel
Gepubliseer deur
Rooi Rose

Onlangse plasings

Geniet serums met African Extracts-rooibosvelsorg wat jou vel red

Dit bevat bio-aktiewe rooibos-antioksidante en alles van die jongste wetenskap om jou vel goed te…

1 week Gelede

Juanita du Plessis is terug met ‘n nuwe enkelsnit op haar verjaardag!

Juanita du Plessis, een van Suid-Afrika se mees geliefde sangeresse, is terug met ’n splinternuwe…

1 week Gelede

Vyf-vinnige-vrae-Vrydag met die musiekgroep Posduif oor hul nuwe album

Posduif, die gewilde Afrikaanse musiekgroep, het weer ons land se radiogolwe laat vlam vat met…

1 week Gelede

10 redes waarom jy die Mei-uitgawe van rooi rose móét lees!

Aanhouer wen Natasha Joubert is in 2020 as tweede prinses in die Mej Suid-Afrika-  …

1 week Gelede

Hoe om jou wit tekkies te was

Die meeste van ons is mal daaroor om ’n splinternuwe paar wit "sneakers" aan te…

1 week Gelede

As die onheil jou tref

Deur Anys Rossouw Mooiweerdae en onweer-dae kom en gaan in elke mens se lewe. Die…

1 week Gelede

Hierdie webwerf gebruik koekies.